|
Opsomming
Vryheid van die pers is in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se grondwet van 1858 gewaarborg. Vervolgings vir beweerde laster, ook van regeringslede, is ingevolge die gemenereg gehanteer. Die voorkoms van uiters skerp kritiek van regeringslede het aansienlik toegeneem nadat die jong Eugène N. Marais in Oktober 1890 die redakteur van die Pretoriase koerant Land en Volk geword het. In Mei 1893 het Marais die destydse president, Paul Kruger, daarvan beskuldig dat hy ’n onregmatige eis vir reiskoste ingedien het vir ’n amptelike reis wat hy en die staatsekretaris na en van Colesberg onderneem het. Marais is daarvan beskuldig dat hy die President belaster het, en is gearresteer en op borgtog van £50 vrygelaat. Marais het die President uitgedaag om hom die geleentheid te gee om sy getuienis voor die hof te bring. Tydens die verhoor in Oktober 1893 is Marais ten spyte van die aggressiewe aard van sy hoofberig onskuldig bevind op grond daarvan dat sy bewering van diefstal in die openbare belang gemaak was. Die hof het terselfdertyd bevind dat Kruger nie te blameer was nie, omdat hy nie van die eis bewus was nie. Marais het die hof se uitspraak as ’n oorwinning vir die vryheid van die pers beskou. Intussen is ’n konsepwet op die pers egter in Junie 1893 deur die uitvoerende raad voor die Volksraad gelê. Die menings in die Volksraadsdebat oor so ’n maatreël was wyd uiteenlopend en die strekking daarvan is na ’n komitee verwys wat in Augustus 1893 ’n konsepwet voorgelê het. Die wet is goedgekeur, maar heftig deur sommige persorgane in die Republiek veroordeel. Dit was die heel eerste perswet in die ZAR en die eerste wet in Suid-Afrika wat die vryheid van die pers ingeperk het. Die omstandighede rondom hierdie wet werp belangrike lig op Paul Kruger en die destydse regering se sienings omtrent die pers en op die universele kwessie van die vryheid van die pers.
Trefwoorde: Eugène N. Marais; Land en Volk ; laster; lojale kritiek; Paul Kruger; persvryheid; Perswet; regeringsadvertensies; subsidiëring van koerante; Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR)
Abstract
Paul Kruger and the press in the ZAR, 1890–1895
President Paul Kruger of the South African Republic had a rather strained relationship with the press. Because his political thinking was dominated by the maintenance of the Republic’s independence he regarded criticism from the press on aspects of his policy and the tenor of his administration with great suspicion. This was the case even though freedom of the press was guaranteed in the constitution of 1858. Kruger’s distrust of the press was not only confined to the English-language newspapers but extended also to critical Dutch papers such as Land en Volk, of which the young Eugène N. Marais took over the editorship in October 1890.
Kruger’s poor relations with the press had, however, existed long before that. One of the reasons was the subsidisation of certain newspapers by means of advertisements for which a sum of money was included in the annual estimates of expenditure. Government advertisements were allocated to certain papers in return for their support of government policy. One of the beneficiaries of this policy of the government was The Press and its Dutch counterpart De Pers, which had been founded in 1889 by A.H. Nellmapius with the specific aim of supporting the Kruger government. This infuriated the other Transvaal newspapers. The practice of allocating advertisements was not only fiercely criticised by other newspapers but was also denounced in the First Volksraad. Accusations of bribery and corruption were often made against the government in this regard. Fuel was added to the fire by revelations made by the first editor of The Press in a letter published in Land en Volk about special favours to the paper shown by the president and his officials. Kruger and his conservative supporters in the Volksraad nevertheless vehemently defended the practice of allocating advertisements and actually used the argument that there has to be a pro-government paper to prop up his government.
When Kruger was challenged by Eugène Marais in his paper about a claim he and the secretary of state had submitted for travelling expenses after an official visit to Colesberg in the Cape Colony in 1893 the tension between him and the press increased dramatically. The accusation that this was an unwarranted and illegal claim was disputed by Kruger and Marais was accused of libel. The resulting court case was a turning point in Kruger’s relations with the press. Marais was acquitted of libel because the charge in the warrant for his arrest was not fully proved. At the same time the court found that Kruger was not aware of the claim submitted and was therefore not to be blamed, and that although the article in Land en Volk left much to be desired it had been written in the public interest.
The president responded by having a strict new press law drafted which provided for fines for certain press actions as well as a prison sentence of a year without the option of a fine for the use of cartoons to belittle someone. A fierce debate took place on the proposed law in die First Volksraad during which strong opinions were expressed. There was a strong feeling that the bill should have been published first according to the constitution because a press law had never existed in the Republic before, all libel cases having been judged according to the common law. The more conservative members of the Raad felt strongly about unbridled attacks in the newspapers on policy and persons, but it was pointed out by progressive members that the proposed law was radical in that it would stifle freedom of expression in the Republic. Kruger, however, spoke strongly in favour of it and was supported by state secretary Leyds. Before the bill was put to the vote it was pointed out by one of the progressive members, R.K. Loveday, that it was no good to suppress the voice of the press and that proper criticism was good for the country and society. He was supported by Lucas Meyer, the member for Vryheid, who argued that the Transvaalers loved their freedom and that the proposed act would limit their very freedom of expression. However, the conservative members won the day and got their way.
Some of the articles of the act were adopted with rather small majorities, but the act was finally adopted and became operative late in 1893. It was the very first attempt in South Africa to muzzle the press since Lord Charles Somerset had closed down newspapers in the Cape Colony n the 1820s.
The press law was condemned outright by all the English-language newspapers in the Transvaal except the Standard and Diggers’ News and the Kruger propaganda organ The Press, as well as by Land en Volk, but De Volksstem defended it on the grounds that there was far too much licentiousness in the Transvaal newspapers in writing about official policy and government members. The Star declared that in a country which professed to be republican such a law was unimaginable and pointed out that when the press does its duty towards the public it is essential to sharply criticise the policies and actions of public figures because they occupy positions which affect the wider public. The Transvaal Advertiser used the opportunity to remind its readers that Kruger had narrowly beaten Piet Joubert in the presidential election earlier that year and that he therefore had reason to penalise the journalists whose criticism had nearly cost him the election.
Kruger obviously regarded the government’s right to govern and the independence and very existence of the state as one and the same thing. That is why he virtually saw strong opposition to and criticism of the government as treason against the Republic. Kruger’s attitude towards the press was therefore attributable to a phenomenon which one finds even in the case of modern democratically elected governments, namely an incapacity to distinguish between the state on the one hand and the government of the day on the other. Kruger’s strong belief in the right of the Republic to govern itself according to the wishes of the voters and his own insights and to maintain its independence at all costs was bolstered by his religious belief in the original Transvaal inhabitants as God’s own people.
Keywords: Eugène N. Marais; government advertisements; Land en Volk; libel; loyal criticism; Paul Kruger; press freedom; Press Law; South African Republic (ZAR); subsidisation of newspapers
1. Inleiding
President Paul Kruger het nie ’n oop en hartlike verhouding met die pers in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gehad nie. Hy het haas enige kritiek op regeringsbeleid en -optrede in die tydgenootlike koerante met die grootste agterdog bejeën en dit trouens feitlik as ’n aanval op die Republiek se onafhanklikheid beskou. Kruger se houding teenoor die pers blyk duidelik uit ’n opmerking van hom in Augustus 1893 tydens ’n Volksraadsdebat in verband met ’n beoogde perswet. By daardie geleentheid het hy die argument gebruik dat koerante mekaar beїnvloed om lasterlik te skryf en dat die land sodoende gedemoraliseer word.1
Artikel 19 van die Grondwet van 1858 het die vryheid van die pers gewaarborg. Dit het gelui: “Vrijheid van [de] drukpers is toegestaan, mits de drukker en uitgever verantwoordelijk blijven voor al de stukken die eerschennis, beleediging of aanranding van iemands karakter bevatten” (Eybers 1918:366). Die woorde “eerschennis, beleediging of aanranding” wat hier gebruik is, word in Engels as “libel, insult or defamation” deur Eybers weergegee. In die Engelstalige pers was kritiek op aspekte van die Kruger-bewind se beleid vroeg reeds algemeen, maar vanaf 1890 het skerp aanvalle op die Kruger-regering ook meer gereeld in die Nederlandstalige pers voorgekom. Dit was veral die geval nadat Eugène N. Marais die redakteurskap van die koerant Land en Volk in Oktober 1890 oorgeneem het (sien Heydenrych 2014).
Wanneer redakteurs of eienaars van koerante in die ZAR wel vervolg is oor iets wat hulle gepubliseer het, is dit kragtens die gemenereg ingevolge die wet op laster gedoen. In 1893 is egter ’n perswet deur die Volksraad aanvaar wat groot ontevredenheid onder koerantredakteurs uitgelok het. Terwyl die wetsontwerp onder bespreking was, het die Transvaal Advertiser verontskuldigend en verontwaardig verklaar: “Up to this time (die einde van Julie 1893) not one English newspaper has been convicted of treason towards the State, and all prosecutions instituted by the Government have signally failed when matters have been carried so far as to proceed to trial.”2 In Mei 1893 is Eugène N. Marais, die redakteur en eienaar van die koerant Land en Volk, egter daarvan aangekla dat hy die President belaster het, en die verloop en uitslag van daardie saak het beslis ’n groot rol gespeel in die regering se besluit om ’n perswet te aanvaar. Die gevolglike Perswet van 1893 was die eerste poging van owerheidsweë in Suid-Afrika om beperkings op die pers te lê sedert lord Charles Somerset in die twintigerjare van die 19de eeu koerante in die Kaapkolonie summier gesluit het.
Dit is opvallend dat D.W. Kruger (1961, 1963) in sy tweedelige biografie van Kruger wel van die streng perswet, nr. 26 van 1896, melding maak, maar nie van die wet van 1893 nie, en dit is ook die geval in die meeste algemene geskiedenisse en persgeskiedenisse. Wet nr. 26 van 1896 is die maatreël ingevolge waarvan die koerant die Critic in daardie jaar vir ses maande verbied is om te verskyn en ’n verbod ook die volgende jaar op The Star van Johannesburg ingestel is (Marais 1962:129–31). Hierdie optrede van Kruger se regering het hom in botsing met die koloniale kantoor van die Britse regering gebring.
Die perswet van 1896 en die optredes van Kruger se regering ingevolge daarvan kan grootliks verklaar word in terme van die krisisatmosfeer wat ná die Jameson-inval aan die einde van 1895 in die Republiek geheers het en die regering se vrees vir verdere bedreiging van die staat se onafhanklikheid. Die doel van hierdie bydrae is om aan te toon dat daar reeds vóór 1895 spanning tussen Kruger en die Transvaalse pers bestaan het, en daarom sluit hierdie bespreking van Kruger se verhouding met die pers in 1895 af.
President Paul Kruger se outokratiese regeringstyl, sy gebrek aan formele opvoeding en sy geloof in die goddelike sanksionering van die Transvaalse volk se onafhanklikheid het veroorsaak dat hy die pers in die ZAR met groot wantroue bejeën het. Hy het koerante se ware rol beskou as dié van handlangers van die staat wie se lojaliteit verkry kon word deur hulle finansieel te beloon. Die gebeure tussen 1890 en 1895 wat hierna bespreek word, sal hopelik hierdie interpretasie bevestig.
2. Faktore wat Kruger se verhouding met die pers bepaal het
2.1 Die subsidiëring van sommige koerante
Een van die faktore wat die verhouding tussen die Krugerregering en die pers nadelig beїnvloed het, was die regering se subsidiëring van sekere koerante deur staatsadvertensies vir publikasie aan hulle toe te ken (Gordon 1970:87). Dit het advertensies van openbare veilings en ander amptelike kwessies ingesluit. Daar was jaarliks ’n pos van £6 000 (later verhoog na £7 000) in die begroting vir hierdie uitgawe wat groot bespreking in die Eerste Volksraad en in die pers uitgelok het. Die groot beswaar daarteen was dat die toekenning van advertensies selektief toegepas is en die indruk gewek het dat die regering sommige koerante sodoende omkoop om hom te steun. Eugène Marais, die jong uitgesproke redakteur van Land en Volk, het in Julie 1892 inderdaad blatant in ’n hoofberig onder die opskrif “De schandelijke omkooping” na hierdie praktyk van die regering verwys. Hy het die subhoof “Ses duisend voor de Presidents verkiezing” daarby gevoeg omdat dit toe minder as ses maande voor die presidentsverkiesing van 1893 was.3 Daarmee het hy geїnsinueer dat Kruger deur middel van die toekenning van regeringsadvertensies aan sekere koerante hulle steun wou bekom om te verseker dat hy vir ’n verdere termyn van vyf jaar as president herkies sou word.
Figuur 1. Die mashoof van The Press.
Drie jaar later het die Transvaal Advertiser insgelyks in die volgende veroordelende trant na die regering se advertensiebeleid verwys: “For many years past the Kruger Government, incited thereto by Mr. Leyds, have arrogated to themselves the right to act with public advertisements as if they were special vehicles designed for the bribery and corruption of a certain number of papers which cannot be called anything else but characterless and unprincipled.”4
Hoewel sommige waarnemers heftig kapsie daarteen gemaak het dat die staat in werklikheid die goedgesindheid van die betrokke koerante “gekoop” het, het Kruger en sommige van sy ondersteuners in die Volksraad die praktyk met hand en tand verdedig. Tydens die Volksraadsdebat van 20 Julie 1892 omtrent die begrotingspos vir advertensies het een lid geargumenteer dat dit niks meer as billik is dat die regering vir die plasing van die advertensies betaal nie, en A.D.W. Wolmarans, ’n vurige ondersteuner van Kruger, het die bewering dat die regering in sekere koerante advertensies plaas om deur hulle verdedig te word, met minagting verwerp.5 By ’n latere geleentheid het W.J. Leyds, die staatsekretaris, ook die stelling in die Eerste Volksraad gemaak dat die regering verplig was om die Nederlandstalige koerante in die ZAR deur middel van advertensies te ondersteun, anders sou hulle ten gronde gaan.6 Hy het bygevoeg dit sou “karakterloos” van die regering wees om koerante te ondersteun wat na sy mening “teen de belangen van het land gaan”.
Lucas Meyer, die lid vir Vryheid, het by dié geleentheid egter daarop gewys dat die feit dat die Britse regering The Times van Londen finansieel ondersteun, nie beteken dat die Republiek se regering iets soortgelyks moet doen nie en dat dit boonop in stryd met die grondwet is. Terselfdertyd het R.K. Loveday, die lid vir Barberton, heftig beswaar gemaak teen die beginsel dat die regering advertensies aan sommige koerante toewys “om de courantschijvers op hun hand te krijgen”. Hy het gewaarsku dat dit misbruik in die hand werk en verklaar dat De Pers in Pretoria in 1890 en 1891 onderskeidelik bedrae van £2 165 en £2405 deur middel van advertensies verdien het en dat die bedrag in die eerste vyf maande van 1892 alreeds meer as £700 beloop het.7 Hy het bygevoeg dat dié bedrae korrek is, omdat hy dit van die staatstesourier se kantoor verkry het. Loveday het die toeken van advertensies aan De Pers veroordeel en na dié blad verwys as “een courant net opgericht door een concessionaris om zand in de oogen der burgers te strooien”.8 Loveday het tydens die debat ook Kruger se woorde by ’n vorige geleentheid aangehaal “dat wij de couranten moesten ondersteunen die ons verdedigen”. Land en Volk het later Kruger se standpunt tydens die debat dat hy “couranten moest betalen om voor de regering te schrijven” as ’n “onrepublikeinsche leer” veroordeel.9
Kruger het egter sy standpunt teen die einde van die debat soos volg gestel: “Er moet een courant zijn om onze zaken aan de gansche wereld bekend te maken. Elk een verdedigde de zijne, moet de Staat ook niet hare zaken verdedigen tegenover zooveel misvattingen en verkeerde voorstellingen van zaken. Ik kan niet tegen een courant zijn als hij zijne opinie schrijft, maar er moet een zijn die onze zaken bekend maakt.”10 Die begrotingspos is uiteindelik met 15 stemme teen agt goedgekeur.11 Die Transvaal Advertiser se kommentaar op Kruger se standpunt was: “There can be little doubt that the President expressed his sincere convictions when he advocated the system of subsidising those newspapers which supported him and his Government […] Mr. President Kruger has acknowledged that his scheme of government cannot be carried out without the aid of a purchased press.”12
Toe sommige van die progressiewe raadslede met syfers vorendag kom om aan te toon hoe skeefgetrek die situasie met betrekking tot die toewysing van advertensies is, het dit Kruger net in sy standpunt gesterk. Daar is aangevoer dat die grootste Nederlandstalige koerant in die Republiek, De Volksstem, die vorige jaar £370 ontvang het en ’n klein plaaslike koerantjie in Soutpansberg, die Zoutpansberg Review, £327. Land en Volk het inderdaad later na die Zoutpansberg Review verwys as ’n Kruger-orgaan wat ’n gedeelte van die begrote bedrag ontvang om die Krugerregering op te hemel.13 R.K. Loveday het ook beweer dat een koerant – ongetwyfeld De Pers – in 1892 £2 076 gekry het van die £4 660 wat bestee is; dus, volgens hom, byna die helfte van die hele bedrag.14
In 1893 het De Pers £2 250 vir advertensies ontvang en De Volksstem ’n bedrag van £1470,15 en in 1895 het drie koerante in Pretoria na bewering altesaam £7 234 deur middel van advertensies verdien.16 Dit was waarskynlik De Volksstem, De Pers en The Press. Gordon wys daarop dat De Volksstem se redakteur in Oktober 1895 openlik erken het dat hy voorkeurbehandeling in verband met die toekenning van advertensies ontvang, maar terselfdertyd ontken het dat dit sy beleid beїnvloed. Hy het geargumenteer dat baie regerings sekere koerante finansieel ondersteun en dat dit nie so immoreel is as wat beweer word nie (Gordon 1970:88). Die geldigheid van dié argument is egter twyfelagtig. Dit is ondenkbaar dat ’n wydgelese koerant soos De Volksstem wat finansiële steun van die regering van die dag ontvang die versoeking sou kon weerstaan om sy weldoener redaksioneel te ondersteun.
Die feit dat ander regerings koerante in ruil vir hul steun beloon, beteken ook nie dat dit moreel korrek is nie. Trouens, De Volksstem-redakteur, F.V. Engelenburg, se uitsprake in hierdie verband bevestig bloot dat dele van die pers in die ZAR hoegenaamd nie vry was nie. Dit word bevestig in ’n brief van iemand met die skuilnaam Een opregte Ezel in Land en Volk in Januarie 1893, terwyl die presidentverkiesing nog aan die gang was. Die skrywer kon dalk Eugène Marais self gewees het, omdat hy dikwels van skuilname gebruik gemaak het. Wat egter opval, is dat die brief onder meer sê dat iemand van Heidelberg by ’n sekere stempunt onder die mense rondgeloop het met De Volksstem “om aan hun leugens voor te lezen en te doen geloven”.17 Hoewel Land en Volk openlik vir Piet Joubert, Kruger se sterkste opponent in die verkiesing, gesteun het, weerspieël hierdie bewering tog hoe algemeen dit aan die ander koerante bekend was dat De Volksstem aktief propaganda vir Kruger se herverkiesing en vir die Kruger-regering in die algemeen gemaak het.
Kruger se uitsprake in die Volksraad in 1893 tydens die bespreking van ’n wetsontwerp op die pers het verder sy opvattings omtrent die pers bevestig. Hy het gesê hy sou nie meer staatspresident kon bly indien hy ’n koerant sou ondersteun “die zou trachten het land te ondermijnen en als het ware als landverrader handelde”. Hy het byvoeg dat dit vir hom slegs gaan oor die staat en sy onafhanklikheid en nie die persoon nie. Later het hy hierop voortgeborduur deur te sê: “[D]e staat moet worden verdedigd en wie zou dat doen indien de staat daartoe geen courant had. In andere staten worden zulke couranten sterk ondersteund. Het zou toch niet goed zijn indien geen enkel nieuwsblad de staat verdedigde, en er vrij spel gelaten werd aan de vyanden van den staat.”18 Dis opvallend dat Kruger hier na die staat verwys en nie na die regering nie. Dis ’n onderskeid wat hy dikwels nie gemaak het nie.
Argumente teen die toewysing van advertensies aan sekere begunstigde koerante het Kruger nie van stryk gebring nie en hy het trouens versoek dat die begrote bedrag na £7 000 verhoog word en herhaal: “Maar om een courant Gouverments advertenties te geven die tracht tweedragt in het land te brengen, en welke courant dus ondersteund zou worden van Gouverments wege, zou ZHEd. nooit kunnen doen, want dan zou hy een verrader en vijand van zijn land gaan ondersteun, en dan was hij niet waard om langer zijn ambt te bekleeden.” Hy het aangevoer dat ’n mens nie sou kon sê dat die bedrag geld aan twee of drie koerante gegee word om die staat te verdedig nie, “maar men kan toch niet verwachten de couranten dit zouden doen zonder ondersteuning”.19 Dit kom neer op ’n erkenning dat ’n koerant wat die regering steun, finansieel beloon moet word.
Afgesien van De Volksstem en plaaslike blaadjies is ook aan De Pers advertensies toegeken. Onderaan die banierhoof op De Pers se voorblad het trouens dié woorde verskyn: “Authorised to publish all Government notices”.20 Gevolglik is De Pers deur sommige Volksraadslede met groot afkeer bejeën, en ook baie lede van die publiek en die redakteurs van die ander Transvaalse koerante het vyandig teenoor die blad gestaan. Die antipatie het ook gespruit uit die feit dat dié weekblad en sy Engelse weergawe, The Press, in 1889 op die been gebring is deur die spekulant en nyweraar A.H. Nellmapius (Suid-Afrtikaanse Biografiese Woordeboek – hierna afgekort as SABW – IV 1981:427). Hy was ’n groot vertroueling en ondersteuner van Kruger en sy uitdruklike doel met die blad was om Kruger se politiek te steun. Ná Nellmapius se dood in 1893 het die mynmagnaat J.B. Robinson die twee koerante gekoop (SABW, I 1976:910). Hy was ook ’n geesdriftige ondersteuner van die President. Sowel De Volksstem as Land en Volk het De Pers as die algemeen erkende orgaan van die regering beskou (Gordon 1970:xvii). So groot was die afkeer van die propagandistiese aard van De Pers dat ’n briefskrywer in die Transvaal Advertiser selfs na die koerant verwys het as “The Kruger concessionaire sheet”.21
Inligting verskaf deur die eerste redakteur van De Pers en The Press, B. Gluckstein, in twee briewe wat in Januarie 1893 in Land en Volk verskyn het, het die bevoordeling van dié koerante en die agterdog bevestig en die wantroue teenoor De Pers verder aangeblaas.22 Gluckstein vertel in die eerste brief dat hy deur Nellmapius versoek is om ’n nuusblad “in de belangen van het Gouvernement” op die been te bring. Hy het ingestem op voorwaarde dat hy die regering slegs op die breë politieke beginsel van die verdediging van die staat se onafhanklikheid en met inagneming van die belange van alle dele van die publiek sou ondersteun. Daarom het hy die reg voorbehou om die regering te kritiseer indien sy optrede nie die hele volk tot voordeel strek nie, of indien dit in die algemeen nadelig vir die staat se belange was. Aanvanklik het alles goed verloop en daar was geen poging om aan Gluckstein voor te sê wat hy mag skryf nie. Hy het egter na ’n ruk uitgevind dat valse en eensydige inligting tot sy beskikking gestel is ten einde Kruger se regering in ’n goeie lig te stel. Die vernaamste bronne van beriggewing was volgens hom eerstens die President self, by wie se woning hy dikwels inligting aangevra het, die staatsekretaris W.J. Leyds, wat hom dikwels van nuus voorsien het, en Nellmapius. Hy het tot die slotsom gekom dat die redakteur van De Pers nie ’n bevoegde joernalis moes wees nie, maar iemand wat geen gewete besit nie en, soos hy dit stel, iemand “die niets om gaf om te liegen en te bedriegen op instruksies zijner meesters”. Tydens ’n hofgeding wat ná sy ontslag aanhangig gemaak is, het dit geblyk dat verskeie konsessiespekulante belange in die blad gehad het en dat hulle Nellmapius van geld voorsien het. Hy het bevestig dat die koerant ook jaarliks geld van die regering ontvang het wat gedeeltelik vir regeringsadvertensies betaal is en dat dit na sy mening bo enige ander koerant bevoordeel is.
Die “kliek” van konsessionarisse, soos Gluckstein dit noem, het uiteindelik besluit om van hom ontslae te raak en Leo Weinthal, ’n steendrukker, wat toe in die staatsdiens was, is in sy plek aangestel. Gluckstein het selfs beweer dat staatsamptenare vir sowel De Pers as die staat werk en die koerant gevolglik as Kruger-orgaan gebruik om sy kandidatuur in die veldtog om die presidentsverkiesing te bevorder en sy teenstanders swart te smeer. Valse gerugte oor Piet Joubert, Kruger se vernaamste opponent in die presidentsverkiesing, het volgens Gluckstein by De Pers hul oorsprong gehad en is deur die kliek van konsessionarisse gefabriseer. Weinthal was ook korrespondent van die Johannesburgse blad Standard and Diggers’ News en was die Pretoriase korrespondent van die nuusagentskap Reuters.
In sy tweede brief het Gluckstein beweer dat Weinthal inligting wat hy van sekere informante na aan Kruger en van Reuters ontvang het, aan ander Transvaalse koerante gestuur het, onder meer aan Standard and Diggers’ News in Johannesburg wat Kruger gesteun het. Gordon haal trouens korrespondensie van 1899 uit die Leyds-argief aan wat klinkklaar bewys dat Standard and Diggers’ News finansieel deur die regering gesteun is (Gordon 1970:88), en dit was lank voor 1899 alreeds die geval (Cutten 1935:63). Gluckstein verwys ook na samespanning in die Republiek wat verhoed het dat sekere bedrogkwessies openbaar gemaak word. Hy het in hierdie verband onder meer gevra waarom die konsessionaris Edouard (of Edward) Lippert, die houer van die omstrede dinamietkonsessie, nie vir smokkelary gearresteer word terwyl hy dinamiet onwettig onder die benaming “guhr impregné” invoer nie, en waarom aan Frikkie Eloff, die President se skoonseun, onwettige konsessies toegeken word. Boonop het hy gesê dat die koerante onder die invloed van die kliek daagliks meer word en noem in dié verband koerante op die platteland soos Zoutpansberg Review en Middelburg News.
Gluckstein het weliswaar ’n grief teen Nellmapius gehad en hy mag wel oordryf het, maar daar moes ’n kern van waarheid gesteek het in wat hy gesê het omtrent die rol van konsessionarisse in verband met sekere koerante in die Republiek, omtrent die ontstaansgeskiedenis van De Pers en The Press en oor die bevoordeling van sommige koerante. Hy het immers uit persoonlike ondervinding by De Pers gepraat en waarskynlik dinge openlik by die naam genoem waaroor andere gehuiwer het om te praat. Sy bewerings is ook nooit van owerheidsweë ontken nie. Sy twee briewe in Land en Volk gee dus ’n rare kykie in die binnewerkinge van die pers in die ZAR en beklemtoon die feit dat daar druk op sommige koerante geplaas is om Kruger te steun en sy beleid en optrede goed te praat. Dat die President hulle sou steun deur onder meer toe te sien dat advertensies aan hulle toegeken word, was dus hoegenaamd nie vergesog nie.
2.2 Land en Volk, Kruger se reisrekening en die lasterklag teen Eugène Marais
In die loop van 1893 het ’n konfrontasie tussen Kruger en die redakteur van Land en Volk, Eugène Marais, voorgekom wat uiteindelik ernstige implikasies vir die vryheid van die pers in die ZAR gehad het. Marais is naamlik daarvan aangekla dat hy Kruger belaster het en die kwessie het uiteindelik in die hof gaan draai. Die aangeleentheid is kortliks in Heydenrych (2014) behandel, maar dit is nodig om hier ’n bygewerkte weergawe daarvan te gee, omdat dit in die konteks van die president se verhouding met die pers van beslissende belang was.
Op 11 Mei 1893 het ’n hoofberig in Land en Volk verskyn wat groot opspraak verwek het en daartoe gelei het dat Paul Kruger die redakteur en eienaar van die koerant, Eugène Marais, vir laster gedagvaar het. Marais was een van Kruger se felste kritici en het alreeds met Kruger gebots nog voordat hy op 19-jarige ouderdom in Oktober 1890 redakteur van Land en Volk geword het.23 Terwyl hy in 1889 deeltyds verslaggewer en rubriekskrywer vir die Transvaal Advertiser was, het hy naamlik toevallig tydens ’n pouse in die Volksraad die voorsitter iets hoor sê wat hy gepubliseer het en in ’n rubriek kommentaar op gelewer het. (Du Toit 1940:25–8; Nienaber-Luitingh 1962:21). Hy is gevolglik ’n ruk lank op voorstel van die President toegang tot die persgalery in die raad geweier.
Figuur 2. Eugène Marais (links) saam met J. de V. (Jimmy) Roos nadat hulle as vennote die koerant Land en Volk in 1891 oorgeneem het.
Marais was oortuig dat hy, as die enigste redakteur van ’n koerant in die ZAR wat ’n gebore Transvaler was,24 by uitstek die reg gehad het om lojale kritiekte lewer op wat hy as gebreke van die Kruger-bewind gesien het. Hy het naamlik in dié verband neergesien op De Volksstem se redakteur, F.V. Engelenburg, ’n Nederlander van geboorte, wat kort ná sy aankoms in Suid-Afrika in 1889 redakteur van dié koerant geword het (SABW, I 1976:288), en ook op Leo Weinthal, redakteur van De Pers en The Press vanaf 1893, wat in 1887 van Port Elizabeth na die Republiek verhuis het (SABW, I 1976:910). In regeringskringe, en veral van die kant van Leyds, die invloedryke staatsekretaris, is mense wat in die Kaapkolonie hul opvoeding gehad het – soos die geval met Eugène Marais was – met agterdog bejeën, omdat hulle van “Engelsgesindheid” verdink is (Swart 2003:78–9). Hierdie faktore, gekoppel met Marais se volgehoue en uitgesproke kritiek, het ’n belangrike rol gespeel in die lastereis wat teen hom ingestel is.
2.2.1 Die aggressiewe aard van Eugène Marais se kritiek teen Kruger
Marais se botsing van 1893 in die hof met Kruger het ’n lang aanloop gehad. Daar is alreeds verwys na die konfrontasie met Kruger voordat hy in Oktober 1890 redakteur van Land en Volk geword het, maar as redakteur het sy uitgesprokenheid en onkonvensionele joernalistieke styl hom opnuut ongewild by die President gemaak. Sommige van sy aanvalle op Kruger het ’n baie persoonlike kleur gehad en kon as beledigend opgeneem word. Hier volg ’n paar voorbeelde van hierdie soort neerhalende kritiek.
Vroeg in 1891 het hy Kruger genadeloos gekasty omtrent die sogenaamde spaaiderskandaal van 1890–91. Toe Kruger weier om die aanvaarding van spaaiders as geskenke deur Volksraadslede vir hul ondersteuning van die Selati-spoorwegkonsessie in die Volksraad te veroordeel, skryf Marais onder ’n skuilnaam sarkasties in Land en Volk: “Di President […], almal seg: Ja di Raadslede het di persente (sic) aangeneem, mar hulle het ni hulle stem daarvoor verkoop ni.”25 Hy haal selfs ’n Bybelvers uit Prediker aan om Kruger by te kom; in die Afrikaanse Bybelvertaling van 1983 lui dit: “’n Omkoopgeskenk vernietig die goeie oordeel” (Prediker 7:7b).
In verband met die toekenning van ’n konsessie aan Kruger se skoonseun en private sekretaris, Frikkie Eloff, noem hy The Press “De Engelsche uitgave van de Pest [sy bynaam vir De Pers],Joodsche orgaan van ZHEd. den Staatspresident en van den heer Eloff”.26 Dié opmerking spruit uit die feit dat Leo Weinthal, die redakteur van De Pers, van Duits-Joodse afkoms was. Nog ’n opmerking oor die Eloff-konsessie lui: “Over het algemeen, wat kan men verwachten van een President die zijn eigen volk van zich verstooten heeft en zijn vertrouwen aan Joden en vreemdelingen geschonken heeft. Voorwaar een fraaie President voor eene Republiek wier vrijheid met bloed gekocht werd.”27
Toe Kruger in 1892 sy eie salaris van £8 000 in die Eerste Volksraad verdedig, skryf Marais: “Dingen zijn al zoo verregaande in deze Republiek op het oogenblik dat het het land beter zou betalen Mnr. Kruger liever £16 000 per jaar te betalen op voorwaarde dat hij aftree as President, dan £8 000 per jaar om zijne diensten voort te zetten.”28
Oor die aanklag van gekwetste majesteit teen die eienaar van die Transvaal Advertiser skryf Marais uitdagend: “Waarom laat ZHEd. toch niet den editeur van Land en Volk arresteeren? Hebben wij dan niet meer gezegd dan de Engelsche courant gewaagd had?”29
Nadat Kruger by geleentheid in die Volksraad beweer het hy is beledig en uit die raadsaal gestorm het – iets wat meermale gebeur het – skryf Marais: “De burgers worden echter moeg van dit soort toneel.”30
Omtrent die aanstelling van Nederlanders in belangrike staatsposte skryf hy: “Wat help dit om in harnes (sic) te bly vir die Suid-Afrikaanse saak, terwyl Paul Kruger hemself omring met Hollanders – die eenigste waaragtige vyande van di Repubiek?”31 En nog venyniger was sy opmerking: “(M)aar nu heeft hij [Kruger] een lot dronklap Hollanders die best schrijven wanneer zij in de ‘Horrors’ zijn, en een lot Jooden voor baasen die steelen waar zij kunnen bijkomen.”32
Voordat Kruger as wenner van die presidentsverkiesing van 1893 aangewys is, skryf Marais: “Wij moeten aantoonen en bewijzen waarom Paul Kruger vandag onwaardig is langer President van de Zuid-Afrikaansche Republiek te blijven.”33 En ná die verkiesing het hy verskeie kere bewerings van bedrog gedurende die stemproses gemaak en sonder meer beweer dat Piet Joubert die verkiesing sou gewen het indien dit eerlik en regverdig deurgevoer was34 en elke onwettige stem vir Paul Kruger uitgegooi was.35
Bostaande is slegs sommige van die veroordelende kommentare van Eugène Marais op Kruger se presidentskap. Dit was dus nie ’n verrassing toe Marais al in April 1893 beweer het dat Land en Volk se kritiek tot veel bespreking in die uitvoerende raad aanleiding gegee het en dat sy posisie as redakteur onseker was omdat hy aangekla kon word nie.36 Die aanklag het kort hierna gekom as gevolg van kritiek op Kruger in Land en Volk.
2.2.2 Die onmiddellike aanleiding tot die hofgeding en die uitslag
Die gebeure wat onmiddellik aanleiding tot die regsgeding gegee het, het soos volg verloop. Op 11 Mei 1893 het ’n hoofberig in Land en Volk verskyn waarin skerp kritiek gelewer is op ’n eis wat vir ’n amptelike reis deur president Kruger en staatsekretaris Leyds na Colesberg en terug ingestel is.37 Hulle het naamlik vroeg in April per trein Colesberg toe vertrek om die Britse hoë kommissaris, sir Henry Loch, vir samesprekings daar te ontmoet. Die Kaapse spoorlyn deur die Oranje-Vrystaat na Pretoria was al sedert September 1892 in werking en hulle het per spesiale trein gereis wat deur die Kaapse regering tot hul beskikking gestel is. Hulle het dus geen reiskoste gehad nie, maar desondanks het die eis ook ’n item vir die huur van ’n rytuig en perde bevat.38 Dit was wettig vir regeringslede wat in amptelike hoedanigheid reis om eise vir reiskoste in te dien, maar dit was bekend dat daar dikwels van sulke eise misbruik gemaak is. Volksraadslede het byvoorbeeld op een rondreis verskeie plekke en gemeenskappe besoek, maar vir reiskoste na elke plek en terug geëis. Die Transvaal Advertiser het met verwysing na dié praktyk sinies opgemerk: “Thus are ‘travelling expenses’ daily manipulated throughout the State, and no one seems any the wiser.”39
Die eis vir Kruger-hulle se reis is ná hulle terugkeer by die ouditeur-generaal ingedien, maar hy het aanvanklik geweier om dit uit te betaal. Dié amptenaar het dit na die President toe geneem en hom daarop gewys dat hulle per trein gereis het en dat die eis vir rytuig en perde onreëlmatig was. Kruger het geantwoord dat hy niks daarvoor wou hê nie, maar slegs geregtig was op die toelae van £2 per dag wat die wet toelaat.40 Kort nadat Kruger-hulle teruggekeer het, het ’n hoofberig op 11 Mei 1893 in Land en Volk verskyn waarin Eugène Marais dié vraag in verband met die eis gestel het: “Wat nu kan men dat noemen? Is het niet een poging tot bedrog? […]. Was het niet eene poging van den heer Kruger en Dr. Leyds of hun gemachtigden om onder valsche voorwendsels geld van den Staat te krijgen?”41 Marais het ook daarop gewys dat Kruger en Leyds in die Kaapkolonie die gaste van die Kaapse regering was “en gedurende al dien tijd hebben zij geen enkele sixpence voor reis of verblijfkosten uit hun eigen sak betaald”. Hy het bygevoeg: “Nu komt bij ons de vraag op: wanneer zullen die menschen tevrede zijn? […] [D]e President had een salaris van achtduizend pond per jaar en dan moet er nog eene poging zo als deze aangewend worden om een paar pond uit den staat te krijgen.”42
’n Paar weke ná die verskyning van die hoofberig is Marais daarvan beskuldig dat hy Kruger krimineel belaster het. Hy is gearresteer en op borgtog van £50 vrygelaat.43 W.J. Fockens, die sekretaris van die Eerste Volksraad, het alles wat in die artikel gesê is, bevestig, behalwe die suggestie dat Kruger van die onregmatige gedeelte van die eis bewus was. Marais het daarom voorgestel dat slegs Leyds in die geval van die Colesberg-reis as skuldig beskou moet word en verklaar dat hy ander getuienis het van gevalle waar nog groter bedrog gepleeg is waarvan Kruger wel moes geweet het. Die vervolging het egter geweier om hom die geleentheid te gee om hierdie dinge in ’n ope hof te bewys.44
Op 20 Julie 1893 het Marais in ’n hoofberig gekla dat die saak nog in die lug hang; as Kruger egter tevrede is om te berus by wat oor hom in verband met die eis gesê is, sal hy ook tevrede wees. Hy waarsku egter: “Wij zullen nooit stil blijven. Nogmaals dagen wij den heer Kruger uit om met zijn zaak voort te gaan.” Hy beweer ook dat hy nog verdere dinge kon bewys, indien nie in die hof nie, dan in Land en Volk. Dan vra hy Kruger om hom die geleentheid te gee om sy getuienis voor die hof te bring.45
Die saak het egter steeds gesloer en uit frustrasie het Marais die oorspronklike hoofberig op 10 Augustus 1893 woordeliks herhaal. Saam daarmee het hy ’n brief van 1 Augustus 1893 gepubliseer wat aan die President gerig was. Hy het hom beroep op sy burgerskap as gebore Transvaler en die President aan die aantyging in die redaksionele artikel van Mei herinner. Hy het daarop gewys dat die saak voor die landdros van Pretoria sou dien en dat die enigste twee getuies vir die vervolging aangehoor is. Die saak is egter uitgestel om hom in staat te stel om sy getuienis in orde te kry. Hy het beweer dat hy onmiddellik die name van sy getuies aan die vervolging oorhandig het en dat die saak syns insiens binne ’n week afgehandel kon gewees het, maar dat hy sedertdien nog niks daaromtrent verneem het nie. Hy het aangevoer dat dit sy verdere loopbaan sou belemmer indien hy sou toelaat dat daar ’n klad op sy naam bly. Hy het Kruger gevolglik versoek, “indien gij eenig gevoel van eer bezit”, om aan die staatsprokureur opdrag te gee om hom in die geleentheid te stel om sy getuienis voor die hof te bring en sy verdediging aan die publiek bekend te maak. Hy het bygevoeg dat dit ook in die president se belang was om die saak af te handel.46 Kruger het egter nie op hierdie brief gereageer nie.
Op 17 Augustus skryf hy weer uitdagend: “Zal het volk nu niet iets doen om uit te vinden of Land en Volk een leugenaar is of niet? Kan een vrije volk zulk een perzoon [soos Kruger] aan zijn hoofd verdragen …?”47
Vroeg in Oktober 1893 het die saak uiteindelik voor landdros Schutte van Pretoria gedien. Afgesien van die ouditeur-generaal is 15 ander getuies gedagvaar, die meeste van hulle amptenare wat Kruger al by geleentheid op sy reise vergesel het. Vrae is ook aan hulle gestel omtrent ’n reis van Kruger na Vryheid die vorige jaar ten einde die prosedures met betrekking tot uitgawes in geval van sulke reise vas te stel.48
Op 12 Oktober 1893 is uitspraak gelewer. Landdros Schutte het verklaar dat twee kwessies ter sprake was. Die eerste was of die woorde deur Marais in die artikel van Mei 1893 Land en Volk gebruik lasterlik was. Tweedens, indien dit lasterlik was, met watter doel dit geskryf is. Die woorde, het hy bevind, was wel skerp, maar indien op die verklarings van die ouditeur-generaal en andere gelet word, was die President nie te blameer nie. Die rekeninge is sonder sy opdrag of medewete uitgemaak en is deur die staatsekretaris gesertifiseer. Land en Volk se beskuldiging het na sy mening dus eerder op die departement wat die eis moes hanteer as op die President persoonlik betrekking gehad. Hy het bevind dat wat die reis na Vryheid betref, die President sy rekening volgens die wet ingestuur het en slegs twee perde wat tydens die reis gekoop is, moes nie in die rekening gewees het nie.
’n Meervoudige bevinding was dus volgens die landdros nodig. Eerstens was die President persoonlik nie van die rekeninge bewus nie en hy is dus nie te blameer nie. Tweedens is die beskuldiging in die lasbrief vir Marais se inhegtenisneming ook nie ten volle bewys nie. Derdens, hoewel die koerantartikel veel te wense oorlaat, is dit in die openbare belang geskryf, dus was dit nie ’n persoonlike aanval op die President nie. Daar was ook nie genoegsame gronde in die beëdigde verklarings of in enigiets wat in Land en Volk verskyn het, om die beskuldigde te laat arresteer nie. Marais is dus onskuldig verklaar.49
Figuur 3. Die berig met die opskrif "Onskuldig” in Land en Volk
Nodeloos om te sê, was Marais hoog in sy skik met die hof se uitspraak. In ’n hoofberig het hy in ’n spesiale uitgawe van Land en Volk daarna in vetdruk die subhoof “Onskuldig” gebruik.50
Die Transvaal Advertiser se redakteur het daarop gewys hoe belangrik die uitspraak vir die pers in die ZAR was en verklaar: “This is not the first time that Government has failed in its endeavour to muzzle the Press of this Republic or destroy the influence which it legitimately exercises over the people.” Hy het die aanklag van gekwetste majesteit teen Marais beskryf as hoogverraad, wat in die meeste lande beskou word as die ernstigste moontlike misdaad teen die staat en wat normaalweg in die hoogste hof van ’n land verhoor word. In die Republiek word hierdie aanklag egter in ’n laer hof deur ’n landdros verhoor, wat as bewys dien dat dit as ’n mindere oortreding beskou word. Etlike gevalle van gekwetste majesteit het die voorafgaande klompie jare in die Republiek voor landdroste gedien en deurgaans is die aanklagte laat vaar as gevolg van die bevinding van ’n jurie of omdat die voorondersoek nie voldoende prima facie-getuienis opgelewer het om die aanklag te substansieer nie. Dit dui daarop dat dié klag alte maklik in die ZAR uit vrees vir kritiek in die pers aanhangig gemaak word.51
Nog voordat die uitspraak van die hof bekend was, het ’n nuwe bedreiging vir die vryheid van die pers egter sy verskyning gemaak.
3. Die aanneming van die Perswet en die reaksie daarop
3.1 Die debat oor die wetsontwerp in die Eerste Volksraad
Terwyl die hofsaak teen Marais nog aan die gang was is ’n konsepwet op die drukpers in Junie 1893 deur die staatsekretaris namens die uitvoerende raad voor die Eerste Volksraad gelê met die versoek dat dit onmiddellik goedgekeur word weens die dringende noodsaaklikheid daarvan.52 Dit was getitel “Conceptwet tot regeling van laster en smaad in publiek geschrift”. Uiteindelik het dit in die omgang as die Perswet bekend geword.
Daar kan weinig twyfel bestaan dat Eugène Marais se ongebreidelde kritiek op die Kruger-bewind die aanleiding tot die aanneming van die wetsontwerp was. Dit is nie toevallig dat die uitvoerende raad op 27 Mei 1893 besluit het om die wetsontwerp na die Volksraad te verwys nie. Dit was net 16 dae ná die gewraakte oorspronklike berig in Land en Volk omtrent die reisrekening verskyn het. Marais het trouens self in ’n kort hoofberiggie ná die goedkeuring van die wet onder die opskrif “Hou-jou-bek-wet” geskryf: “De wet is natuurlijk op Land en Volk bedoeld […].” Hy het bygevoeg dat hy die gevangenis as meer eervol sal beskou “dan door gedurig stilzwijgen een zedelijke leugenaar voor zijn eigen volk te worden”.53 ’n Week later skryf hy: “De heer Kruger heeft ook goede grond om tegen de drukpers te zijn, zooals voldoende zal blijken uit de zaak tegen den Editeur van Land en Volk ingesteld.”54 Nadat die wet aangeneem is, publiseer hy die teks van die wet met dié opmerking daarby: “Hier is de Wet zooals door de Kruger meerderheid van de Eersten Raad aangenomen om Land en Volk te doen zwijgen.”55 Standard and Diggers’ News het ook beaam dat die wet die gevolg van Marais se uitgesproke kritiek was deur ná die aanneming daarvan te skryf: “Between the lines one reads special legislation for Land en Volk, and the youthful Eugene N. will have to mind his p’s and q’s.”56
Tydens die bespreking van ’n moontlike wet op die pers in die Eerste Volksraad in Junie 1893 was daar uiteenlopende menings. Verskeie lede het die dringendheid van so ’n wet beklemtoon. Die voorsitter het daarop gewys dat alle konsepwette volgens die grondwet drie maande voor die behandeling daarvan in die staatskoerant gepubliseer moet word, maar dat hierdie bepaling nie hoef nagekom te word as die kwessie waaroor dit handel baie dringend is nie. Wat die wenslikheid van so ’n wet betref, het J. de Clerq, die verteenwoordiger vir Middelburg en een van die konserwatiewe lede, verwys na die “onredelijke en lasterlijke courant geschrijf” wat onmiddellike bespreking noodsaak. Hy is gesteun deur Jan Lombaard, nog ’n groot Kruger-ondersteuner, wat aangevoer het die wet is dringend noodsaaklik, want “het is schandalig zooals in sommige nieuwsbladen te keer gegaan [word]. Leugen en laster worden schaamteloos verspreid […].” In reaksie hierop het C.B. Otto, die lid vir Zeerust, die grondwet aangehaal, wat bepaal dat die vryheid van die pers toegelaat word solank eienaars en redakteurs aanspreeklikheid aanvaar vir wat hulle geskryf het, en dat ’n basiese reg van die volk deur die beoogde wet aangetas sou word. Hy is gesteun deur Paul Maré, die lid vir Soutpansberg, wat ’n heftige aanval op die voorgestelde wet gemaak het. Maré het die kwessie as gewigtig bestempel, “want deze wet is bedoeld als beperking van de vrije uiting der meening in openbaar geschrift”.57 Carl Jeppe, die lid vir die Johannesburgse goudveld, het verklaar dat hy nie kon insien waarom daar met hierdie saak soveel haas moet wees nie en dat die heersende omstandighede geen gegronde rede is om van die publisering van die wetsontwerp drie maande voor die tyd af te wyk nie. Die voorsitter het egter volgehou dat hy die wet as dringend noodsaaklik beskou.58 En in ’n brief in die Transvaal Advertiser het iemand dadelik verklaar: “The Krugerites have now in their wisdom determined to throttle the press.”59 Dis egter opmerklik dat die Volksstem ten gunste van so ’n wet was, want in ’n redaksionele artikel verklaar die redakteur dat daar ’n behoefte aan so iets is omdat dit “tegen beleediging en laster” gemik was.60 Hy voeg by: “Er is in den laatste tijd heel wat in onze couranten geschreven dat, hetzij waar maar onnodig, hetzij schadelijk voor publikatie was.”
Nadat ’n mosie die volgende dag voorgestel is dat die wetsontwerp in oorweging geneem word sonder die vereiste voorafgaande publikasie in die Staatskoerant, het die paar lede wat Manfred Nathan noem “the noble half-dozen” (Nathan 1941:75) daarteen gestem. Hulle was R.K. Loveday, L. de Jager, Lucas Meyer, Carl Jeppe, Paul Maré en S.W. Burger. Die mosie is egter aanvaar.61
In die debat daarna het Kruger die mening uitgespreek wat alreeds hier bo genoem is, dat die “lasterlijke onwaarheden” wat deur middel van die drukpers versprei word, daarop bereken is om die volk te demoraliseer. Die een publikasie hits die ander aan “en het is vreeselijk zooals velen zich in publiek geschrift vergeten” en ’n einde moet hieraan gemaak word. Die wet is geensins bedoel om die werklike vryheid van mening en kritiek aan bande te lê nie, het Kruger gesê, maar om die verspreiding van “schandelijke leugen en lastertaal” teen te werk, en geen fatsoenlike koerantredakteur sal beswaar maak om hom aan hierdie wet te onderwerp nie.62
Leyds het Kruger gesteun deur daarop te wys dat daar memories was wat versoek dat die wet op kriminele laster verbeter word. Die bestaande wet op laster, het hy beweer, is heeltemal onvoldoende. Die hoogste boete vir kriminele laster is £50 en gevangenisstraf kan slegs in hoogs uitsonderlike gevalle opgelê word. Die regering beskou die wet dus as noodsaaklik.63
Loveday het sy standpunt herhaal dat die wetsontwerp eers aan die volk voorgelê moet word deur dit te publiseer. Hy het daarop gewys dat nie net die dienende president en sy regering nie, maar ook Piet Joubert in die aanloop tot die presidentsverkiesing belaster en swartgesmeer is deur daardie gedeelte van die pers wat gesubsidieer word.64
Die algemene strekking van die konsepwet is egter met ’n groot meerderheid goedgekeur. Dit is daarna na ’n gekose komitee van drie lede vir nadere ondersoek verwys. Al drie komiteelede was sterk Kruger-ondersteuners, naamlik A.D.W. Wolmarans, J. Lombaard en J. de Clerq.65
Die komitee het uiteindelik in Augustus 1893 ’n konsepwet voorgelê wat in oorleg met die regering opgestel was.66 Die konsepwet het uit vyf artikels bestaan, waarvan die eerste twee redelik onskadelik was. Dit het bloot vereis dat ’n skriftelike beëdigde verklaring vir elke koerant by die kantoor van die staatsekretaris ingedien word wat die naam van die koerant, die redakteur, die uitgewer en eienaar verstrek. Die naam van die uitgewer moes ook aan die einde van elke koerant verskyn en ’n kopie van elke uitgawe moes aan die staatsekretaris gestuur word. Artikel 3 het verwys na stukke in koerante wat oproer verwek of op “seditie (muiterij) of eerschennis, beleediging of aanranding van iemands karakter” neerkom en waarvoor die drukker en uitgewer verantwoordelik is. Artikel 4 het gehandel oor die belastering van iemand se naam “door ten laste legging van een bepaald feit” met die doel om die persoon te benadeel. Artikel 5 het betrekking gehad op die verspreiding en tentoonstelling van “teekeningen of afbeeldingen” wat iemand se karakter benadeel. By die eerste twee artikels is ook ’n geldelike boete van hoogstens £25 of tronkstraf van hoogstens twee maande vir oortreding van die artikel voorgestel, by artikel 3 tronkstraf van hoogstens 12 maande sonder die opsie van ’n boete, by artikel 4 ’n boete van hoogstens £150 of gevangenisstraf van hoogstens ses maande. In die geval van Artikel (5) is slegs tronkstraf van een jaar sonder die opsie van ’n boete voorgestel.67 Dit was dus ’n streng wet wat bedoel was om laster in geskrifte strafbaar te maak.
Tydens die debat in Augustus oor die konsepwet in die Eerste Volksraad het die meerderheid lede dit gesteun. Daar is egter deur sommige lede op swakhede in die konsepwet gewys. Paul Maré het byvoorbeeld opgemerk dat daar oorvleueling met ander wette sal wees omdat oproer en sedisie alreeds kragtens ander wette strafbaar was en dit nou ook in hierdie wet die geval is. Twee lede het beginselbesware geopper. R.K. Loveday het aangevoer dat dit nie baat om die stem van die pers te onderdruk nie en dat behoorlike kritiek baie goed vir ’n land is. Hy het aangevoer dat as die wet aangeneem word soos bewoord, daar ’n koerant oorkant die landsgrens in die Vrystaat of elders opgerig en oor die land versprei sou word met meer lasterlike dinge as wat alreeds in die pers voorkom. Hy het ook nogmaals daaraan herinner dat die raad volgens die grondwet nie ’n wet mag maak sonder om die wetsontwerp vooraf te publiseer nie. Hy het daarop gewys dat daar ook ná die anneksasie in 1877 ’n poging was om so ’n wet te maak, maar dat die volk van een end van die land tot die ander daarteen gekant was.68 Lucas Meyer, die lid vir Vryheid, het aangevoer dat die wet ’n ingrypende inbreuk op die regte van die volk maak en dat die volk hul vryheid so lief het dat die beoogde wet juis hul vryheid van uitdrukking en mening sal beperk. Hy het toegegee dat ’n aantal memorialiste so ’n wet versoek het, maar was van mening dat die oorgrote meerderheid van die volk niks daarvan weet nie en dat die wetsontwerp daarom eers gepubliseer behoort te word.69 Kruger het tydens die debat gesê so ’n wet was lankal nodig en dit hoef ook nie meer voor die publiek gebring te word nie, want “Elk weet uit zijn natuur dat hij geen laster mag schrijven, maar de een noodzaakt de ander er toe, waarom zal de Raad de wet dan uitstellen?”70
Die wet is uiteindelik binne dae goedgekeur. Nietemin is sommige artikels met baie klein meerderhede aangeneem. Artikels (1) en (2), wat die minste omstrede was, is wel met 17 stemme teen ses aangeneem, maar artikel (3) met 13 stemme teen tien, artikel (4) met 12 stemme teen 11, en artikel (5) met 11 stemme teen tien.71 Die lede wat in die derde lesing teen die aanneming van die wet gestem het was Schalk Burger, G. de Jager, L. de Jager, Paul Maré, Lucas Meyer, Carl Jeppe en R.K. Loveday.72
Figuur 4. Die teks van die Perswet
3.2 Perskommentaar op die Perswet
Dit is veelseggend hoe uiteenlopend die verskillende koerante op die wet gereageer het. Die drie koerante wat Kruger in die algemeen gesteun het, naamlik De Volksstem, Standard and Diggers’ News en The Press, het geen beginselbesware daarteen gehad nie. Reeds in Junie 1893, nadat die moontlikheid van so ’n wet die eerste keer bespreek is, het De Volksstem in ’n buitengewoon lang hoofberig so ’n maatreël “tot bestrijding van beleediging en laster” verwelkom.73 Die hele artikel handel egter oor laster teen individue en dit verwys na “het recht van een individu om in het openbaar kritiek uit te oefenen over de daden of gedragingen van een ander individu” en nêrens kom die reg van kritiek op regeringsbeleid en -optrede ter sprake nie. Nadat die wet aangeneem is, het De Volksstem se redakteur dit verwelkom omdat dit syns insiens sou lei tot “de beteugeling der bandeloosheid die ook in ons land enkele persorganen kenmerkt”. Dié opmerking was ongetwyfeld op Land en Volk gemik. Na De Volksstem-redakteur se mening was die Volksraad geregverdig en verplig om afsonderlike en streng strawwe vir oortredings van “laster, belediging, smaad, hoon of oproer en dergelijke misdaden” in ’n nuwe wet goed te keur, selfs al was dit volgens die gemenereg strafbaar. Hy kan dus nie saamstem met die meerderheid van die ander redakteurs wat moord en brand skree oor die wet nie. Sy enigste kritiek was gerig op die swak bewoording van die wet en dat daar gepraat word van die drukker, die uitgewer, die verantwoordelike uitgewer en die eienaar van ’n koerant sonder om duidelik tussen hierdie persone se hoedanighede te onderskei, en hy kon nie begryp waarom in sommige gevalle net één van hulle aanspreeklik is en in ander gevalle hulle almal nie. Hy stel byvoorbeeld met betrekking tot artikel (1) die vraag wie by oortreding daarvan gestraf moet word – die redakteur, of die uitgewer of die eienaar of eienaars, of almal tegelyk? Uit ’n regstegniese oogpunt beskou hy die wet gevolglik as ’n totale mislukking. Die bedoeling van die wetgewer kan hy volkome begryp, maar die uitvoering daarvan in terme van formulering laat veel te wense oor.74
Standard and Diggers’ News het hom aan die kant van De Volksstem geskaar deur in ’n uiters kort hoofberiggie te verklaar: “The amended Press Law, passed in the Raad yesterday, will – thank the stars – not operate unpleasantly on reputable journals.”75 Met dié woorde het hy hom ook van Land en Volk gedistansieer.
The Press het ná die aanneming van die wet twee keer gereageer. Die redakteur, Leo Weinthal, het grappenderwys opgemerk dat in sekere kringe verwag word dat hoofartikels in die volgende paar maande vanuit die tronk geskryf sou word. Hy het egter bygevoeg dat ’n vooraanstaande regsgeleerde hom verseker het dat daar swakhede in die wet is en dat “any good driver can steer a Zeederberg coach through the new act without even scratching the paint”.76 In sy volgende uitgawe het dié koerant wel beweer dat daar lankal ’n behoefte aan ’n streng lasterwet bestaan en dat joernaliste sonder inagneming van die waarheid oor dinge en mense skryf.77 The Press het wel kritiek op die bewoording van sommige artikels in die wet gehad, maar was van mening dat die wet nie juis ’n uitwerking op fatsoenlike koerante sou hê nie. Artikel 5 is wel vir kritiek uitgesonder en is deur The Press as belaglik bestempel omdat dit die gebruik van tekeninge of prente om iemand se eer aan te tas – wat die koerant noem “mild political cartoons” – onderhewig maak aan ’n vonnis van hoogstens een jaar gevangenisstraf sonder die opsie van ’n boete.
Die Transvaal Advertiser, The Star en Land en Volk het egter skerp teen die wet te velde getrek. Die Advertiser se redakteur het in sterk taal ernstige bedenkinge oor die wet uitgespreek. Reeds in Junie 1893, toe die konsepwet na ’n komitee van drie lede verwys is, het die Advertiser die beginsel van ’n perswet soos volg veroordeel: “The object of the measure introduced by the Executive was to put an end to the free discussion of public affairs, and to surround the President and the Executive with a sanctity which it would be highly penal to question […] It is not the fault of the press if it, in pursuance of public duty, should be constantly finding fault with the Government, if the Government gives occasion for such frequent censure.”78 Dié koerant beskryf dit as “a law by which it becomes more dangerous for a writer to give utterance to the truth than it is for one who habitually strays from the verities. In a country which professes to be republican in its form of government, and where the fundamental law provides for the expression of opinion within certain well defined limits, the passing of a law which is contrary to such principles and such legality shows that the title of ‘South African Republic’ is a misnomer.” Die blad het daarop gewys dat geen joernalis wat sy sout werd is, die private karakter van mense in die publieke oog aanval bloot om hulle aan te val of uit nyd nie. Wanneer die pers sy plig teenoor die publiek nakom, is dit egter nodig om die beleid en optrede van mense in prominente openbare posisies skerp te kritiseer juis omdat hulle ampte beklee wat die belange van die breë gemeenskap raak. Nou wil dit voorkom asof dit die hoofdoel was van die raadslede deur wie se stemme in die Volksraad die wet aangeneem is, om hulself teen ongunstige kritiek te vrywaar. Die Advertiser verwys dan na A.D.W. Wolmarans, die leier van die konserwatiewe element in die Eerste Raad (SABW I 1986:878), wat in die Volksraad melding gemaak het van ’n onbelangrike redakteur – klaarblyklik ’n verwysing na Eugène Marais – wat iemand se karakter sou afgekraak het. Hy weerlê egter hierdie argument deur te skryf: “Well, it is rather difficult to understand how an insignificant person can destroy the character of another man unless he has some good grounds for the charges he brings against him.” Die koerant kom ook vir Kruger by omdat hy die demoralisering van die bevolking toeskryf aan die koerantskrywers en maak die afleiding dat hy dalk rede het om die koerante te penaliseer omdat hulle kritiek hom byna in die presidentsverkiesing vroeër daardie jaar sy amp gekos het.79 Dit was ’n afleiding wat die teiken getref het, want Kruger is die eerste keer in drie verkiesings (1883, 1888 en 1893) met ’n ongewoon verkleinde meerderheid van slegs sowat 850 stemme uit ’n totaal van nagenoeg 15 000 verkies en die pers se kritiek op hom het beslis hierin ’n belangrike rol gespeel.
Die Transvaal Advertiser verklaar sonder meer: “As the law now stands it is really a law for the protection of rascality.” Dit stem baie ooreen met Eugène Marais se skerp kommentaar in Land en Volk: “De nieuwe wet […] is niets anders dan een maatregel om schurkerij te beschermen.”80 Die Advertiser voeg by dat die bedoeling met die wet klaarblyklik is om geoorloofde en geregverdigde kritiek op openbare ampsdraers en openbare maatreëls te voorkom. Die redakteur het met die sterk bewoorde stelling afgesluit dat die wet beteken dat skurkagtigheid ongesteurd gelaat moet word, terwyl diegene wat ter wille van die land en die mense waag om ’n waarskuwende stem te laat hoor aan boetes en tronkstraf blootgestel word. “Such is the republicanism of the patriots of the Transvaal, and such is the penalty to be inflicted upon those who, with honest single-mindedness, seek to prevent the form of government to become despotic.”
The Star het ewe sterk teen die Perswet uitgevaar.81 In ’n lang hoofberig het dié koerant omtrent die aanneming van die Perswet deur die Volksraad gesê: “What it has done is to make a most material alteration in the Grondwet, as approved and re-affirmed by the authority of the President three years ago …” en daarna die bewoording van Artikel (19) van die Grondwet in Engels aangehaal. Wat die Volksraad nou gedoen het, was volgens The Star om feitlik daardie artikel van die Grondwet te herroep en dit te vervang met “a law the difficulties and oppressiveness of which are rather antediluvian than Russian”.82 Wat meer is, het die hoofberig voortgegaan, is dat die Volksraad daardie artikel herroep het op ’n wyse wat totaal indruis teen die gees van die grondwet self en in verontagsaming van die onskendbare beginsels van wetgewing. Dit was ’n verwysing na die feit dat die wetsontwerp nie gepubliseer is voordat dit in die raad behandel word soos die grondwet vereis nie. Lucas Meyer, het The Star gesê, het wel die ongrondwetlike aard van hierdie optrede beklemtoon deur aan te voer dat die voorgestelde wet soveel inbreuk op die vryheid van die publiek sou maak dat dit absoluut noodsaaklik was om dit aan die publiek bekend te maak voordat dit aanvaar word. Die koerant noem die name van R.K. Loveday, Carl Jeppe en Lodewijk de Jager wat dieselfde beswaar geopper het en “in fact the necessity for first of all submitting the law to the burghers was apparent to all but the scanty majority in whose eyes Mr Kruger can do no wrong”. Ook die haas waarmee die Volksraad die wet aan die einde van die sitting deurgejaag het, is veroordeel. “This is the broad fact to be kept in view,” het die koerant voortgegaan, “that in contriving, or seeking to contrive a muzzle for the press, the bare majority in the First Volksraad have not been antagonistic merely to the outspoken uitlander, but have been seeking to restrain freedom of opinion and freedom of discussion among what may certainly be regarded as the more intelligent half of the original burghers of the Republic.”
The Star het ook kommentaar gelewer op die groot trefwydte van die wet wat betref die aanspreeklikheid wat geplaas word op almal betrokke by die publikasie van ’n koerant, naamlik die drukker, die uitgewer, die verantwoordelike redakteur en die eienaar. Die koerant het daarop gewys dat sommige koerante deur sindikate besit word en vra dan die vraag of elke lid van ’n sindikaat wat ’n koerant besit, aanspreeklik is vir alles wat die koerant publiseer, en as ’n boete dan ingevolge die wet gehef word, of dit dan op elkeen van die eienaars afsonderlik van toepassing is of op al die eienaars gesamentlik. Die koerant het ook daarteen beswaar gemaak dat selfs die publisering van ’n feit of feite kragtens artikel 4 van die wet verbied word. Volgens hierdie koerant het dit beteken dat ’n publieke persoon in skandalige en korrupte transaksies betrokke mag wees en sy invloed in die Volksraad mag verkoop terwyl ’n koerant dit nie bekend mag maak nie. The Star se redakteur kom tot die gevolgtrekking dat sommige van wat hy die “sacred thirteen” noem, dit wil sê die lede wat ten gunste van die wet gestem het, nie werklik verstaan wat hulle gedoen het nie. Hy wys daarop dat hulle probeer het om ’n wet te maak wat oneindig strenger is as die een waarkragtens Jan F. Celliers tydens die Britse besetting ná die anneksasie van 1877 opgesluit is (SABW II 1986:130) en dat almal weet dat dit een van die onmiddellike oorsake van die uitbreek van die oorlog van 1880–81 was.
The Star sluit af met dié wrang en afwysende stelling: “And this is liberty and Republicanism as interpreted under the regime of the President who has succeeded in inducing a bare majority of the original burghers of the State to elect him to a third term of office.” Dit was ’n verwysing na Kruger se veel kleiner meerderheid in die presidentsverkiesing vroeër daardie jaar.
In die eerste uitgawe van Land en Volk nadat die wet aangeneem is, het Eugène Marais daarop gewys dat die gemenereg in alle lande ter wêreld voldoende voorsiening vir alle gevalle van laster maak. Kragtens die gemenereg bly elke koerantskrywer verantwoordelik vir alles wat in sy koerant verskyn, en indien hy lasterlik skryf, kan hy krimineel of siviel vervolg word. Die waarheid self is ook laster, skryf hy, tensy die skrywer kan bewys dat hy die beskuldiging in die openbare belang gemaak het. Hy beskryf die nuwe wet as “eene onderduimsche poging om het strafbaar vir eene courant te maken indien zij eene beschuldiging maakte tegen een ambtenaar, al word de beschuldiging in de publiek belang gemaakt. In de nieuwe wet is er geen sprake van publiek belang. De beschuldigde zal dus niet eens opgeroepen worden om te bewijzen of hij wel in de publieke belang geschreven heeft.” Dit sou dus voortaan enige amptenaar vry staan om diefstal en omkopery te pleeg sonder dat die breë publiek daarvan te hore kom. In ’n laaste taai klap na die regering skryf hy: “De vrijheid door onze vaderen in de Grondwet voor de drukpers vasgesteld bestaat niet meer […] Een poging zal gemaakt worden om onzen staat op een fondament van geheimhouding en leugens op te bouwen – de staat die in den heiligsten strijd ooit door onze vaderen gevestigd werd. Het feit echter dat de poging gemaakt is geworden toont ten duidelijkste waar de Kruger Regeering heen gaat […] De Kruger Regeering gaat sterven en de teekens toonen hoe geweldig haar dood zijn zal.”83
Ná die aanneming van die perswet van 1893 het botsings tussen die persorgane en die President en hofgedinge in verband met laster selde voorgekom. Dit was waarskynlik die gevolg van die streng boetes en die moontlikheid van tronkstraf waarvoor die perswet voorsiening gemaak het. Ten einde vervolging vry te spring was redakteurs verplig om meer dikwels van briewe aan hul koerante onder skuilname eerder as redaksionele kommentaar gebruik te maak om die regering te kritiseer (Swart 2003:77). In September 1894 is die redakteur van De Volksstem, F.V. Engelenburg, wel aan kriminele laster skuldig bevind en ingevolge die nuwe wet ’n boete van £5 of sewe dae tronkstraf opgelê.84 Dit was na aanleiding van ’n berig in De Volksstem waarin beweer is dat die lede van die pokkekomitee in Johannesburg £800 van die openbare fondse aan drank bestee het en dit opgedrink het.85 Marais het oor die bevinding van die landdros geskryf: “Gelukkig is men er nog niet in geslaagd om een ‘precedent’ te maken van Land en Volk.”86 Koerantredakteurs het ná die aanneming van die perswet ook versigtiger geskryf. In hierdie verband het Marais in Desember 1894 vertel dat daar tydens ’n publieke byeenkoms by Ermelo aan Kruger gevra is waarom Land en Volk nie vervolg word indien hy onwaarhede versprei nie. Die president het geantwoord dat hy nie aan die staatsprokureur kon opdrag gee om die redakteur te vervolg nie, omdat hy so versigtig skryf dat die wet nie toegepas kan word nie. Marais se reaksie hierop was: “De waarheid is altyd zoo voorzichtig dat de wet niet toegepas kan worden.” Hy het bygevoeg hy hoop om dit spoedig aan die President in ’n geregshof te bewys.”87
4. Slotbeskouing
In die 19de eeu was die subsidiëring van sekere koerante deur regerings ter wille van hulle steun nie ongewoon nie. Dit het selfs in die Britse kolonies gebeur. Wat opval omtrent die verskynsel in die ZAR, is dat dit so openlik plaasgevind het en selfs in die wetgewende liggaam verdedig is. Etlike van die uitsprake van Kruger en Leyds en hul konserwatiewe ondersteuners in die Eerste Volksraad in debatte wat hier bo aangehaal is, toon dat hulle vas oortuig was dat die regering sy taak na behore kon verrig slegs as daar een of meer koerante was wat hom ondersteun. Dit is verstaanbaar in die lig van Kruger se eie denkraamwerk. Hy was ’n produk van die Groot Trek en het dikwels in sy openbare toesprake na die Trek verwys, omdat die onafhanklikheidstrewe wat daaruit voortgevloei het, sentraal in sy denke gestaan het. Dit was sy selfopgelegde taak om die verkreë onafhanklikheid van die Republiek te bewaar en enige middel wat daartoe sou meewerk aan te wend. Dit het die pers ingesluit, selfs al moes ’n gedeelte daarvan finansieel beloon word om die regering te steun.
Ná die ontdekking van goud aan die Rand en die toestroming van duisende buitelanders het die konteks waarbinne Kruger se regering opgetree het, ingrypend verander. Nie net is die landelike lewenswyse verdring nie, maar die nuwe inwoners het ook spoedig hul eie koerante tot stand gebring. Hierdie nuusblaaie het krities teenoor Kruger se ouwêreldse regering gestaan, en hul aandrang op stemreg vir die nuwe inkomelinge het die situasie gekompliseer. Min van hierdie blaaie se lesers het die stemreg besit en in 1890 is die verblyfkwalifikasie daarvoor tot 14 jaar verhoog. Kruger se poging om die Uitlanders se griewe te bowe te kom deur die instelling van ’n Tweede Volksraad in 1890 het hulle ook nie bevredig nie, want hoewel hulle lede vir dié liggaam kon verkies, was sy magte beperk tot bespreking van mindere sake en aangeleenthede wat die goudmyngemeenskap raak. Die Uitlanders het in werklikheid polities magteloos gevoel (Marais 1962:52–3) en kritiek teen die Krugerregering se beleid ten opsigte van stemreg vir die Uitlanders was redelik algemeen in die Engelstalige pers. Toe daar boonop ’n bloedjong koerantredakteur in die persoon van Eugène Marais in Oktober 1890 op die toneel verskyn en Kruger se regering links en regs oor aspekte van sy beleid en ’n reeks sogenaamde skandale in die binnelandse politiek aanval, het dit net een te veel vir die President geword. Hy het besluit om paal en perk aan die kritiek te stel en die pers se vryheid van uitdrukking deur middel van ’n perswet te smoor. Uiteindelik was dit, ironies genoeg, nie Engelstalige koerante se kritiek nie, maar ’n Nederlandstalige blad se aanvalle op Kruger wat direk tot die aanneming van die wet gelei het.
Kruger se houding teenoor die pers in die algemeen is waarskynlik korrek opgesom in ’n beriggie in die Eastern Province Herald wat in die Transvaal Advertiser opgeneem is. Dit lui onder meer: “The one redeeming feature about Mr. Kruger is that he believes in and fears the newspapers […] Mr. Kruger seems to forget, moreover, that to subsidise a newspaper is a useless waste of money unless the fact is kept secret.”88
Die Transvaal Advertiser het waarskynlik die spyker op die kop geslaan toe hy ná die goedkeuring van die nuwe perswet opgemerk het dat Kruger van ’n verwarring van idees gebruik maak om die ware kwessies wat in die Republiek op die spel was, te verberg. Die koerant het vervolg: “Messrs. Kruger and Leyds were determined to make the Raad and the general public believe that the Krugerian government and the independence, or existence, of the State were interchangeable terms, in fact, inseparable. Mr. Kruger’s argument, or assertion, was that all opposition to his and Mr. Leyds’ embroidered tactics was incipient treason against the Republic.”89 Na dié koerant se mening was Kruger se houding omtrent die pers dus toe te skryf aan ’n verskynsel wat selfs by moderne demokraties verkose regerings voorkom, naamlik ’n onvermoë om tussen die staat en die regering van die dag te onderskei. Die denkfout lei daartoe dat alle kritiek op die owerheid as dislojaal en potensiële verraad beskou word.
Omdat die Republiek se onafhanklikheid so sentraal in Kruger se denke gestaan het, sou die aantasting daarvan in sy oë feitlik heiligskennis wees. Dit blyk daaruit dat hy soms in toesprake na die “Godsvolk” verwys het. Dit was veral die geval in sy Geloftedagtoesprake, ook bekend as Paardekraaltoesprake. In die toespraak van 16 Desember 1891 noem hy byvoorbeeld sy toehoorders prontuit “Volk van God”,90 en in 1896 se toespraak verklaar hy: “God heeft u de vrijheid gegeven en gij heeft mij gekozen als hoof van den Staat.”91 Teen hierdie agtergrond moet Kruger se beskouings omtrent die pers gesien word. Boonop is hy in sy siening omtrent die pers gesterk deur eendersdenkendes soos Leyds en konserwatiewe Volksraadslede, asook deur De Volksstem, De Pers en Standard and Diggers’ News, wat hom sterk ondersteun het. Sy siening het lynreg gebots met dié van ’n progressiewe raadslid soos R.K. Loveday dat behoorlike kritiek goed vir ’n land is. Kruger het egter nie alle kritiek as behoorlik beskou nie, veral nie die soort kritiek wat Eugène Marais gelewer het nie.
Ironies genoeg was Eugène Marais se kritiek niks anders as lojale verset nie. Hy was die enigste koerantredakteur in die ZAR wat ’n gebore Transvaler was en het F.V. Engelenburg, die redakteur van De Volksstem, by geleentheid die “pas gearriveerde Hollander” genoem.92 Transvalers wat in die Kaapkolonie hul opvoeding ontvang het, soos die geval met Marais was, het juis die voortou geneem in die opposisie teen Kruger (Marais 1962:16). Die kwessies waaroor Marais Kruger se administrasie gekritiseer het, soos die aanstelling van Nederlanders in die staatsdiens, die toekenning van die spoorwegkonsessie van 1884 aan die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatschappij (NZASM), die President se nepotisme, sy steun op vertrouelinge buite die regering, soos Nellmapius en Sammy Marks, korrupsie en knoeiery in die staatsdiens wat hy goedgepraat het, sy outokratiese neigings, sy humeurige uitbarstings tydens Volksraadsdebatte93 en les bes sy bevoordeling van sekere koerante ter wille van hul steun, het Marais as patriotiese Transvaler dwars in die krop gesteek en sy kritiek het Kruger skynbaar mateloos geїrriteer. Boonop was Eugène Marais maar 19 jaar oud toe hy redakteur van Land en Volk geword het en het Kruger dit waarskynlik as verwaand van Marais beskou om hom so aggressief aan te val.
’n Faktor wat ook ’n rol gespeel het, was dat Marais en Kruger in meer as een opsig teenoorgestelde pole was. Marais was goed opgevoed en wel ter tale en kon selfs Latyn lees (J.L. Marais 2009:80); hy was goed belese en het boonop ’n ondersoekende gees en ’n redelik ruim verwysingsraamwerk as gevolg van sy opvoeding gehad. Daarteenoor het Kruger min formele opvoeding gehad en was hy, hoewel intelligent, gewoond aan wat Manfred Nathan noem “the old patriarchal or paternal system of administration” (Nathan 1941:236) wat kritiek nie goed hanteer het nie. Daarby het Marais geglo dat die pers ’n rol as gewete van die staat moes speel, en het hy reeds in Julie 1891, toe hy en Jimmy Roos Land en Volk oorgeneem het, verklaar: “Wij behooren tot het volk der Republiek en het zal onze ernstige poging zyn om in alle zaken de stem van het volk weer te geven.”94 Kruger sou egter nie bekend gewees het met die begrip en rol van die “Fourth Estate” soos Edmund Burke die pers al in 1787 genoem het nie. Marais was jonk en idealisties en het bloot sy gewete gevolg wanneer hy enige van die kwessies hier bo genoem genadeloos aan die kaak gestel het, terwyl Kruger polities konserwatief was en nie van die kritiek van ’n Nederlandstalige koerant soos Land en Volk gehou het nie. Dit was dus net ’n kwessie van tyd voordat hulle in die hof kragte sou meet en Kruger daarna deur middel van wetgewing as‘t ware wraak sou neem. Marais was in die negentigerjare van die 19de eeu ’n koerantman wat deur die idee van lojale verset in sy joernalistiek gemotiveer is, terwyl dié begrip vir Kruger vreemd was.
Dit is wel waar dat Land en Volk se redaksionele styl onverfynd was. Gordon beskryf dit as “loud, tasteless and brash” (1970:xvii). Die vroeër aangehaalde voorbeelde van kwetsende uitsprake wat Marais gemaak het, illustreer dit. Kruger het alreeds in April 1891, ses maande nadat Marais die redakteurstoel oorgeneem het, verklaar Land en Volk het “geen ander doeleinde nie as om verdeeldheid onder die volk te bring”.95 Dit was egter eers in 1893, toe Eugène Marais hom vanweë die reisrekening van diefstal beskuldig het, dat Kruger en die uitvoerende raad besluit het om wetgewing teen daardie soort joernalistiek in te stel. Dit moes ongetwyfeld ook vir Kruger se waardigheid ’n gevoelige knou gewees het toe Marais in die verhoor omtrent die reisrekening deur landdros Schutte van laster vrygespreek is. Dit was waarskynlik die strooi wat die kameel se rug gebreek het in die besluit om wetgewing teen persvryheid aan te neem. Heel waarskynlik was die gevoel van Kruger en sy uitvoerende raad ook dat die uitslag van ’n verhoor in verband met laster volgens die gemenereg te onseker was en te veel van die landdros se interpretasie afgehang het. ’n Perswet sou dus groter sekerheid in geval van moontlike lasterverhore bied, omdat spesifieke strawwe daarin vervat is.
Wanneer oor Kruger se verhouding met die pers geoordeel word, moet ook in aanmerking geneem word dat sy beperkte opvoeding en sy verwyderdheid van geestestrominge in Europa en die Westerse wêreld dit onmoontlik vir hom gemaak het om te weet dat vryheid van spraak en van uitdrukking ’n gevestigde begrip was wat alreeds deur Plato bepleit is. Hy sou ook nie kennis gedra het van die stryd om die vryheid van die geskrewe woord oor eeue heen, “the principle that a man should be free to publish his opinions at will”, soos William M. Clyde dit stel nie (1934:ix). Sy kennis van persvryheid was beperk tot gebeure in die twee Britse kolonies, die Kaap en Natal, en in die Oranje-Vrystaatse Republiek, waar ernstige botsings tussen die owerheid en die pers selde voorgekom het, en tot die Britse pers wat dikwels die Britse sendelinge in hul kritiek op sy regering ondersteun het. Boonop maak Brian Winston oor die vryheid van uitdrukking die stelling dat die pers die reg het om aanstoot te gee. Hy stel dit pertinent dat “[F]reedom of expression can only be said to exist if it encompasses a right to offend. The right to offend is the right of expression’s touchstone, just as the right of expression is the touchstone to human rights in general” (2012: xiv). Hy wys ook daarop dat Benjamin Franklin al in 1731 gesê het dat indien alle drukkers vasberade was om niks in druk te laat verskyn voordat hulle seker was dat dit niemand sou aanstoot gee nie, daar bitter min gepubliseer sou word.
Die feit dat Eugène Marais se menings in Land en Volk vir Kruger aanstoot gegee het, behoort dus nie as regverdiging te gedien het vir die aanneming van ’n perswet nie. Marais het bloot gebruik gemaak van “the right to offend”. In elk geval het niks wat tot in 1893 in Land en Volk geskryf is, en allermins die bewering dat Kruger-hulle onregmatig geld vir reiskoste geëis het, ooit die onafhanklikheid of die belange van die staat bedreig nie. Kruger het dit egter as ’n persoonlike belediging gehanteer. Hy was veels te liggeraak en sou wyser gewees het indien hy dit benede homself geag het om so heftig op kritiek te reageer. Dit was ’n swakheid van hom om kritiek en opponerende menings in die Volksraad as persoonlike beledigings te beskou en in sommige gevalle die raadsaal woedend te verlaat.96
Dit is ironies dat die spanning tussen twee patriotiese Transvalers soos Paul Kruger en Eugène Marais tot die inperking van die pers gelei het. Aan die een kant was daar die ou president van die Republiek wat enige kritiek op die regering en op hom as staatshoof as dislojaal en onpatrioties beskou het; aan die ander kant ’n jong idealistiese en ewe patriotiese Transvaalsgebore koerantman wat vanuit die oogpunt van sy medeburgers die regering en die President se handelinge beoordeel het en oortuig was dat Kruger soms hul belange versaak. Daarom het hy in Julie 1891 verklaar: “Wy zullen dus in de gelegenheid zyn om zonder aansiens des persoons aan het volk bekend te maken alles dat wy achten verkeerd te zyn of tegenstrydig met de grondbeginsels van ons Republiek en het goed recht van het volk.”97 Kruger en Marais het elk sy eie definisie van patriotisme gehad en by Marais het dit gepaard gegaan met ’n onwrikbare geloof in eerlikheid, deursigtigheid en openheid, wat syns insiens soms by Kruger ontbreek het. Uiteindelik het hierdie twee feitlik onversoenbare beskouings gelei tot die aanneming van die perswet in 1893 om die vryheid van die pers te beperk.
Die spanning tussen die regeringshoof en die pers wat in die 21ste eeu in Suid-Afrika gereeld kop uitsteek, is dus geensins nuut nie. Soos meer as ’n eeu gelede die geval was, met ’n konserwatiewe staatshoof wat kritiek van die pers as onpatrioties en bykans onaanvaarbaar beskou het, is daar tans groot wantroue teenoor die pers vanuit regeringsgeledere. Dit is dalk te verstane in die lig van die huidige regering se beroep op sy struggle-geskiedenis en sy rol as bevrydingsbeweging dat hy nie wil hê dat sy vryheid aan bande gelê word deur ’n kritiese pers nie. Paul Kruger het homself ook beskou as vryheidsvegter wat jaloers moes waak oor die Transvaalse volk se eer en vryheid, en vandaar die perswet se aanneming. Die “vierde stand” waak egter ewe jaloers oor sy eie vryheid en glo dat hy die plig het om te kritiseer. Spanning tussen die pers en die regerende party in ’n demokrasie is dus feitlik onvermydelik.
Die ongemaklike verhouding tussen Paul Kruger as staatshoof en die pers in die ZAR bewys dat daar niks nuuts onder die son is nie. In die apartheidsbedeling het drakoniese wette eweneens tydens die laaste dekades en ’n half van die Nasionale Party se bewind op die wetboek verskyn, terwyl dieselfde stryd rondom die vryheid van die pers wat in Kruger se tyd gewoed het, besig is om hom tans in Suid-Afrika af te speel. Skerp kritiek teen die huidige regering en die huidige staatshoof in die pers lok van tyd tot tyd heftige reaksie van regeringskant uit, gepaard met dreigemente om die pers aan beperkings te onderwerp, onder meer deur die instelling van ’n mediatribunaal. Regeringslui in ’n demokrasie vind dit soms moeilik om met ’n kritiese pers saam te leef. Die “vierde stand” beklee egter ’n onmisbare plek in enige demokratiese samelewing, en hoe minder demokraties die regering, hoe meer sal hy die pers verwens en probeer inperk en stilmaak. Daarom het die outokratiese regeerstyl van Paul Kruger dit uiters moeilik vir hom gemaak om die kritiese pers van sy tyd te aanvaar.
Bibliografie
Boeke en tydskrifartikels
Clyde, W.M. 1934. The struggle for the freedom of the press: from Caxton to Cromwell. Londen: Milford.
Cutten, T.E.G. 1935. A history of the press in South Africa. Kaapstad: National Union of South African Students.
Du Toit, F.G.M. 1940. Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Amsterdam: Swets en Zeitlinger.
Eybers, G. von W. 1918. Select constitutional documents illustrating South African history, 1795–1910. Londen: G. Routledge & Sons.
Gordon, C.T. 1970. The growth of Boer opposition to Kruger 1890–1895. Kaapstad: Oxford University Press.
Kruger, D.W. 1961. Paul Kruger. Deel 1. Johannesburg: Dagbreek Boekhandel.
—. 1963. Paul Kruger. Deel II. Johannesburg: Dagbreek Boekhandel.
Marais, J.L. 2009. Die invloed van die Boland op die werk van Eugène N. Marais. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, 23(1):77–89.
Marais, J.S. 1962. The fall of Kruger’s Republic. Oxford: Oxford University Press.
Nathan, M. 1941. Paul Kruger: his life and times. Durban: Knox Publishing.
Nienaber-Luitingh, W. 1962. Eugène Marais. Kaapstad: Human & Rousseau.
Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (SABW),Deel I, W.J. de Kock (red.) 1976 (2de druk), RGN; Deel II, W.J. de Kock en D.W. Kruger (reds.) 1986 (2de uitg.), RGN; Deel III, D.W. Kruger en C.J. Beyers (reds.) 1977 (1ste uitg.); Deel IV, C.J. Beyers (red.), 1981 (1ste uitg.), RGN; Deel V, C.J. Beyers en J.L. Basson (reds.),
1987: RGN.
Swart, S. 2003. “An irritating pebble in Kruger’s shoe” – Eugène Marais and Land en Volk in the ZAR, 1891–1896. Historia, 48(2):66–87.
Winston, B. 2012. A right to offend. 2012. Londen, New York: Bloomsbury.
Koerante
De Volksstem (Mikrofilm), Oktober 1890 – Augustus 1893.
Land en Volk (Mikrofilm), Januarie 1890 – Desember 1895.
The Transvaal Advertiser (Mikrofilm), Oktober 1890 – Desember 1895.
The Star (Mikrofilm), Oktober 1890 – Augustus 1893.
The Press (Mikrofilm), Junie–Augustus 1893
The Standard and Diggers’ News (Mikrofilm), Junie–Augustus 1893.
Argivale bronne
Notulen Eerste Volksraad, 1890–1893.
Verslae van debatte in die Eerste Volksraad in De Volksstem, 1890–1893.
Eindnotas
1 De Volksstem, 23 Augustus 1893, “Eerste Volksraad, Dinsdag 22 Augustus 1893, De Perswet”.
2 Transvaal Advertiser, 29 Julie 1893, hoofberig.
3 Land en Volk, 23 Julie 1892, “De schandelijke omkooping”.
4 Transvaal Advertiser, 2 Oktober 1895, hoofberig.
5 De Volksstem, 23 Julie 1892, “Eerste Volksraad. Woensdag 20 Julie. Advertensies £6000”; Land en Volk, 23 Julie 1892,, “De schandelijke omkooping”
6 Land en Volk, 9 November 1893, “De Advertenties”.
7 De Volksstem, 23 Julie 1892, “Eerste Volksraad. Woensdag 20 Julie. Advertensies £6000”.
8 De Volksstem, 20 Julie 1892, “Eerste Volksraad. Woensdag 20 Julie. Advertensies £6000”.
9 Land en Volk, 21 Julie 1892, “Aan het volk”.
10 De Volksstem, 23 Julie 1892, “Eerste Volksraad. Woensdag 20 Julie. Advertensies £6000”.
11 De Volksstem, 23 Julie 1892, “Eerste Volksraad. Woensdag 20 Julie. Advertensies £6000”.
12 Transvaal Advertiser, 29 Julie 1893, hoofberig.
13 Land en Volk, 20 September 1894, “Een Kruger orgaan”.
14 Notulen Eerste Volksraad, 1893, Art. 930, bl. 290.
15 Land en Volk, 3 Oktober 1893, “De omgekochte couranten”.
16 Transvaal Advertiser, 2 Oktober 1895, hoofberig.
17 Land en Volk, 23 Januarie 1893, “Nellmapius gift voor Zwakken”.
18 Notulen Eerste Volksraad, 1893, Art. 930, bl. 290.
19 Notulen Eerste Volksraad, 1893, Art. 930, ble. 291–2.
20 Ek gebruik hier die Engelse weergawe van die blad se woorde, maar woorde met dieselfde strekking het ook op die voorblad van die Afrikaanse weergawe verskyn.
21 Brief van “Anti-Humbug” in Transvaal Advertiser van 12 April 1893 onder die opskrif “Krugerite Bluff”.
22 Land en Volk, 12 en 19 Januarie 1893, “De Pest! Wat zij is. Door den oprichter beschreven” en “De geschiedenis der ‘Pers’. door den stichter verhaald”.
23 Vgl. in hierdie verband die berig “Twee verjaarsdagen” in Land en Volk van 11 Oktober 1894 waarin hy sê dat dié koerant op 10 Oktober 1890 die eerste keer onder die redaksie van “een geboren Transvaler” verskyn het, waarmee hy met trots na homself verwys.
24 Vgl. in hierdie verband sy uitspraak in Land en Volk van 7 Julie 1891 in die berig “Aan di volk van di Z.A. Republiek”, toe hy saam met Jimmy Roos die koerant oorgeneem het.
25 Land en Volk, 7 April 1891, “Alweer di spiders”.
26 Land en Volk, 9 Januarie 1893, “De water konsessie”.
27 Land en Volk, 16 Maart 1893, “Wat voor een President”.
28 Land en Volk, 21 Julie 1892, “Ons Presidents salaris”.
29 Land en Volk, 2 Februarie 1893, “Gekwetste Majesteit”.
30 Land en Volk, 7 Junie 1892, “President word kwaad”.
31 Land en Volk, 3 Maart 1891, “Hans se brief”.
32 Land en Volk, 21 Julie 1892, “De omkooping”.
33 Land en Volk, 2 Februarie 1893, “Zijn persoonlijkheden af te keuren?”.
34 Land en Volk, 23 Februarie 1893, “Het Tweede Congres”.
35 Land en Volk, 2 Maart 1893, “Rechtvaardigheid of oproer”.
36 Land en Volk, 6 April 1893, “Weg met Land en Volk”.
37 In die uitgawe van Land en Volk van 11 Mei 1893 ontbreek hierdie hoofberig en sekere ander gedeeltes op die mikrofilm. Dit word duidelik aangetoon dat dit nie verfilm kon word nie omdat dit uit die koerant verwyder is. In die verslag oor die hofsaak wat later gevolg het, word egter verskeie kere na die berig in die uitgawe van 11 Mei 1893 verwys. Omdat die hofsaak daaromtrent so lank gesloer het, het Eugène Marais dit woordeliks in die uitgawe van 10 Augustus herhaal. Vir die bewoording van die berig word dus hierna na die een van 10 Augustus 1893 verwys.
38 Transvaal Advertiser, 10 Mei 1893, “Something like a President”.
39 Transvaal Advertiser, 12 Julie 1893, “Travelling expenses”.
40 Transvaal Advertiser, 5 Oktober 1893, “The Land en Volk case”; Land en Volk, 5 Oktober 1893, “Staat vs. Land en Volk”.
41 Land en Volk, 10 Augustus 1893, “Kruger’s rekening”.
42 Land en Volk, 10 Augustus 1893, “Kruger’s rekening”.
43 Land en Volk, 10 Augustus 1893, “Kruger’s rekening”.
44 Land en Volk, 10 Augustus 1893, “Kruger’s rekening”.
45 Land en Volk, 20 Julie 1893, “Onze zaak”.
46 Land en Volk, 10 Augustus 1893, “Kruger’s rekening”.
47 Land en Volk, 17 Augustus 1893, “De ‘Land en Volk’ zaak”.
48 Transvaal Advertiser, 5 Oktober 1893, “The Land en Volk case”.
49 De Volksstem, 14 Oktober 1893, Landdrosthof te Pretoria. De Staat vs. ‘Land en Volk’. Uitspraak”; Standard and Diggers’ News, 14 Oktober 1893, “Eugene comes up smiling”; Transvaal Advertiser, “The ‘Land en Volk’ case”; The Star, 12 Oktober 1893, “The ‘Land en Volk’ case”.
[50]Land en Volk, Spesiale Editie, Donderdag 15 Oktober 1893, “Land en Volk zaak, Onskuldig”.
51 Transvaal Advertiser, 12 Oktober 1893, hoofberig.
52 De Volksstem, 10 Junie 1896, “Eerste Volksraad, Woensdag 7 Junie”.
53 Land en Volk, 8 Junie 1893, “Hou-jou-bek-wet”.
54 Land en Volk, 15 Junie 1893, “Vrijheid van de drukpers”.
55 Land en Volk, 24 Augustus 1893, “De ‘Land en Volk’ Wet”.
56 Standard and Diggers’ News, 23 Augustus 1893, “What we think. The press law”.
57 De Volksstem, 10 Junie 1893, “Eerste Volksraad, Woensdag 7 Junie”.
58 De Volksstem, 10 Junie 1893, “Eerste Volksraad, Donderdag 8 Junie”.
59 Transvaal Advertiser, 8 Junie 1893, “Original correspondence. The press law”.
60 De Volksstem, 6 Junie 1893, Redaksioneel.
61 De Volksstem, 10 Junie 1893, “Eerste Volksraad, Donderdag 8 Junie”.
62 De Volksstem, 10 Junie 1893, “Eerste Volksraad, Donderdag 8 Junie”.
63 De Volksstem, 10 Junie 1893, “Eerste Volksraad, Donderdag 8 Junie”.
64 De Volksstem, 10 Junie 1893, “Eerste Volksraad, Donderdag 8 Junie”.
65 Notulen Eerste Volksraad, 1893, Art. 288.
66 De Volksstem, 23 Augustus 1893, “Eerste Volksraad”.
67 De Volksstem, 23 Augustus 1893, “Eerste Volksraad”.
68 Notulen Eerste Volksraad, 1893, art. 273, bl. 128.
69 De Volksstem, 23 Augustus 1893, “Eerste Volksraad”.
70 De Volksstem, 23 Augustus 1893, “Eerste Volksraad”.
71 Transvaal Advertiser, 23 Augustus 1893, hoofberig.
72 De Volksstem, 26 Augustus 1893, “Eerste Volksraad, Woensdag 23 Augustus”.
73 De Volksstem, 13 Junie 1893, “Strafbare beleediging”.
74 De Volksstem, 26 Augustus 1893, “De Pers Wet”.
75 Standard and Diggers’ News, 23 Augustus 1893, “What we think. The Press Law”.
76 The Press, 23 Augustus 1893, “The new libel law”.
77 The Press, 24 Augustus 1893, hoofartikel.
78 Transvaal Advertiser, 9 Julie 1893, redaksioneel.
79 Transvaal Advertiser, 23 Augustus 1893, hoofberig.
80 Land en Volk, 31 Augustus 1893, “De Pers Wet”.
81 The Star, 23 Augustus 1893, “To be muzzled”.
82 The Star, 23 Augustus 1893, “To be muzzled”.
83 Land en Volk, 31 Augustus 1893, “De Pers Wet”.
84 Land en Volk, 13 September 1894, “De Volksstem-Zaak”.
85 Land en Volk, 30 Augustus 1894, “De Staat vs. De Volksstem”.
86 Land en Volk, 20 September 1894, “Hou-jou-smoel wet”.
87 Land en Volk, 20 Desember 1894, “De President en ons”.
88 Transvaal Advertiser, 15 September 1894, “Transvaal Newspapers”.
89 Transvaal Advertiser, 2 Oktober 1893, hoofberig.
90 De Volksstem, 22 Desember 1891, “Feestviering te Paardekraal”.
91 De Volksstem, 19 Desember 1896, “Dingaansdag”.
92 Land en Volk, 1 Junie 1893, “De Presidents-kiezing”.
93 Sien in verband met al hierdie kwessies “Eugène N. Marais as redakteur van Land en Volk, 1890–1896”.
94 Land en Volk, 7 Julie 1891, “An di Volk van di Z.A. Republiek”.
95 Land en Volk, 14 April 1891, “De Natalse Spoorwegfeeste”.
96 Sien vir voorbeelde in hierdie verband bl. 934 van “Eugène N. Marais as redakteur van Land en Volk, 1890 tot 1896”.
97 Land en Volk, 7 Julie 1891, “An di Volk van di Z.A. Republiek”.
The post Paul Kruger en die pers in die ZAR, 1890–1895 appeared first on LitNet.