
Foto: Jesse Kramer
The curious incident of the dog in the night-time: Theatre on the Bay het vandeesweek heropen met dié toneelstuk, na ’n opknappingsprojek wat etlike maande geduur het.
Die teks van The curious incident of the dog in the night-time, gebaseer op die boek van die Britse skrywer, Mark Haddon wat in 2003 publiseer is en as teks verwerk deur Simon Stephens speel in April 1998, meestal in Swindon, Wiltshire en ook in Londen, Engeland af. Die sosiale agtergrond is ’n gemiddelde gesin in ’n middelklaswoonbuurt: pa Ed is ’n verhittings-ingenieur en Christopher is 15. Hy beskryf homself as ’n “wiskundige met effense gedragsprobleme”. Volgens Ed het Christopher se ma, Judy, twee jaar vantevore aan ’n hartaanval gesterf.
Die storie wentel rondom die misterieuse - en op die oog af sinnelose - dood van die hond van die Boones se bure, Wellington, en Christopher se ondersoek na die moordenaar. Dit sluit sy onwentelinge in die wêreld in: mense moenie aan hom vat nie, hy vermy sekere kleure en sekere kos en sukkel met metafore en vergelykings, omdat mense nie regtig sê wat hulle bedoel nie, maar met ompaaie praat.
Christopher is die buurvrou se hoofverdagte en toe hy ’n polisieman wegstamp en aangekla word vir aanranding, word ’n waarskuwing aan hom uitgereik met vervolging, sou dit weer gebeur. Sy pa verbied hom om die saak verder te ondersoek en boonop sy neus uit ander mense se sake te hou. Maar Christopher se nuuskierigheid en strewe na geregtigheid maak dit vir hom baie moeilik om sy pa se wense te gehoorsaam.
Soos sy ondersoek “vorder”, hou hy sy wedervaringe in ’n boek by.
In die rolverdeling is Kai Brummer, Ashley Dowds, Jenny Stead, Lesoko Seabe, Kate Normington, Liz Szymczak, Dylan Edy, Nicholas Ellenbogen, Genna Galloway en Clayton Evertson.
Hoewel daar nooit direk na Christopher se toestand verwys word nie, het die boek destyds verwys na Asperger-sindroom, hoogswerkende outisme of Savant-sindroom. Dele van die verhaal word deur Christopher se skooljuffrou, Siobhan, voorgelees. Soms kan jy ook verbeel dat sy meer as sy juffrou is, eerder ’n verbeeldingsmaat wat hom in moeilike situasies tot kalmte lei.
Die skrywer Mark Haddon het destyds in ’n onderhoud genoem dat hy nie ’n spesifieke sindroom aan Christopher wou toedig nie, want hy wou nie ’n etiket om sy nek hang nie. “Want soos met meeste mense met ’n gebrek, is dit nie noodwendig hul belangrikste of uitstaande eienskap nie ... Dis nie ’n boek oor ’n seun met Asperger’s nie, dis ’n boek oor ’n jong wiskundige wat ’n paar gedragsprobleme het.”
En hiermee moet ek heeltemal saamstem. Die toneelstuk is nie ’n studie van ’n sindroom nie; dit gaan regtig oor ’n jong seun se ondersoek. Aanvanklik oor wie die hond met ’n tuinvurk doodgesteek het - en later oor leuens en selfontdekking en uiteindelik die kortstondige hoop vir die toekoms en versoening.
Dat die storie deur sy oë gesien word, is waarin die sukses van die aanvanklike boek en nou ook die toneelstuk lê. Natuurlik is daar voor- en nadele daarin om die boek vooraf te lees, want jy weet wat om te verwag, maar dit was steeds verfrissend om te sien hoe dit aangebied is.
Ek het tydens die vertoning gedink die klimaks van wie die hond doodgemaak het, het effe verdwyn in die mallemeule van gebeure en dat dit in die boek groter aandag geniet het. Maar in retrospek dink ek nou dat dit my eie ervaring van die boek is: dat dit die breë trekke van die boek is wat ek na 15 jaar onthou en dat die onthulling oor die hond se moordenaar vir my met die eerste aanhoor, natuurlik ’n groot skok was.
My enigste kritiek, oftewel kommentaar, op die toneelstuk is dat ek dit effe te lank gevind het. Ek glo dit sou ewe treffend gewees het, al was dit 20 minute korter. Die onderwerp is gewigtig en die meelewing met hierdie seun wat op sy eenvoudigste gestel, die wêreld as ’n baie verwarrende plek ervaar, is emosioneel uitputtend op die gehoor.
The curious incident of the dog in the night-time is die wenner van die Olivier- en Tony-toekennings vir beste toneelstuk.
Ek was mal oor Mark se boek en het dit verskeie male gelees en ook vir vele vriende aanbeveel. Die boek het 17 literêre pryse gewen, waaronder pryse in Japan, Holland en Italië; die Whitbread Boek-toekenning vir beste roman en boek van die jaar; ook die Commonwealth Writers prys vir die beste eerste boek en The Guardian Kinderfiksie-prys. Dis in 44 tale vertaal.
Tina Driedijk se kostuums en stel en beligting deur Gareth Hewitt Williams, was heeltemal anders as die vaal agtergrond van middelklas Engeland wat ek verwag het, en het ’n hele nuwe dimensie aan die storie gegee.
Simon Stephens kon geen maklike taak gehad het om dit in ’n toneelstuk te verwerk nie, want dit het destyds kophou en weer lees geverg, om by Christopher se super-skerp brein by te hou. Die toneelstuk word aangebied as ’n stuk binne ’n stuk en sorg hier en daar vir ’n goedige applous en gelag, wat die spanning van die ernstige situasie effe verlig.
Die oorspronklike musiek deur Charl-Johan Lingenfelder is slim vervleg met die storielyn en dis eers as jy by die teater uitstap, wat jy besef hoeveel dit tot die storie en atmosfeer bygedra het.
Kai Brummer se vertolking van Christopher was só oortuigend en realisties, dat ek half op my senuwees was, omdat mens jou later inleef in sy gedrag en half asem ophou as iets gebeur wat moontlike konflik kan veroorsaak.
Ashley Dowds wat die rol van sy pa vertolk het, en Jenny Stead wat die rol van sy ma vertolk het, se frustrasie en moedeloosheid met die situasie en hul onvermoë om hul seun te koester en teen hulle vas te druk in swaar tye, is hartverskeurend. Hul woede jeens mekaar ook eerder ’n magteloosheid teenoor die omstandighede.
Dis toneelspel op sy beste, wat nie op rekwisiete leun om te oortuig nie.
The curious incident of the dog in the night-time
Met: Christopher Boone, Kate Normington, Lesoko Seabe, Dylan Edy, Nicholas Ellenbogen, Ashley Dowds, Clayton Evertson, Genna Galloway, Liz Szymczak en Jenny Stead.
Deur: Gegrond op die boek deur Mark Haddon, verwerk deur Simon Stephens
Musiek: Charl Johan Lingenfelder
Regisseur: Paul Warwick-Griffin
Stel en kostuums: Tina Driedijk
Theatre on the Bay: 22 September tot 3 November; Montescasino Teater: 7 November tot 2 Desember
Kaartjies deur Computicket of Theatre on the Bay se kaartjieskantoor, (021) 438-3301 of Pieter Toerien se Montescasino kaartjieskantoor, (011) 511-1988.
The post <em>The curious incident of the dog in the night-time</em>: ’n unieke kyk vanuit ’n unieke brein appeared first on LitNet.