Graag vestig ons u aandag op die Akademiepryse wat in 2019 vir toekenning oorweeg word. Kandidate vir enigeen van hierdie pryse kan tans by wyse van volledig gemotiveerde voorstelle genomineer word. Die volgende geld ten opsigte van die voorstelle:
➢ Die voorstel moet duidelik motiveer waarom die bepaalde kandidaat/instansie vir die bepaalde bekroning voorgestel word. Daar moet ook duidelik aangetoon word watter spesifieke publikasies/bydraes as bekronenswaardig beskou word.
➢ Dit moet verkieslik in Afrikaans wees.
➢ Dit moet deur ’n voorsteller en ’n sekondant onderteken wees.
➢ Die volle name van die kandidaat, asook van die voorsteller en sekondant, en hulle telefoon- en selfoonnommers, adres en e-posadres moet verskaf word.
➢ Die voorstel moet gesteun word deur die nuutste curriculum vitae en publikasielys van die kandidaat, indien van toepassing.
➢ Die grootste mate van vertroulikheid moet gehandhaaf word. Onder GEEN omstandighede mag die kandidaat daarvan bewus wees dat hy/sy vir ’n prys genomineer word nie. Dit het al in die verlede gebeur dat daar by potensiële kandidate verwagtinge geskep is wat vir die betrokke kandidaat en vir die SA Akademie groot verleentheid veroorsaak het.
➢ By die toekenning van pryse is die Akademieraad se besluit finaal. In die geval van ’n nominasie wat nie suksesvol was nie, sal GEEN korrespondensie of gesprekke ná toekenning gevoer word nie – nie met voorstellers nie en ook nie met kandidate nie.
Reglemente vir die onderskeie pryse is op aanvraag beskikbaar.
Die finale sluitingsdatum vir voorstelle is 31 Januarie 2019, behalwe waar andersvermeld.
Pryse beskikbaar vir toekenning in 2019:
GEESTESWETENSKAPPE
Stalsprys
Die Stalsprys vir Geesteswetenskappe word jaarliks toegeken vir ’n hoogstaande publikasie of ’n reeks van hoogstaande publikasies, by voorkeur, maar nie uitsluitlik nie, in Afrikaans. Verder word dit toegeken vir individuele of gesamentlike wetenskapsbeoefening en/of die lewering van individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskapsbeoefening gemaak word. Spanprestasie of bydrae tot spanprestasie, multi- en interdissiplinêre navorsing, goeie implementerings- of evalueringsnavorsing kan ook in berekening gebring word. Werk wat voor die bekroningsjaar gelewer is, sal vir die bekroning in aanmerking geneem word. Die volgende vakgebiede kom in 2019 aan die beurt:
- Stalsprys vir Geskiedwetenskappe (Geskiedenis, Kultuurgeskiedenis, Argeologie, ens.)
- Stalsprys vir Sosiologie; Antropologie; Kriminologie
- Stalsprys vir Filosofie en Etiek; Toekomskunde; Algemene Wetenskapsleer en Algemene Navorsingsmetodologie
- Stalsprys vir Politieke Wetenskap
- Stalsprys vir Ekonomie
Ds Pieter van Drimmelenmedalje
Aktiwiteite soos Bybelvertaling, teologiese handboeke in Afrikaans vir gebruik deur universiteitstudente, gepubliseerde preekbundels, godsdiensonderwys en die skryf, vertaling, toonsetting en bywerking van Afrikaanse Psalms en Gesange kom vir die prys in aanmerking. Die persone wat vir hierdie toekenning in aanmerking geneem word, is predikante, professore, onderwysers en skrywers. Die medalje kan meer as een keer aan ’n persoon toegeken word.
Totiusprys vir Teologie en die studie van die grondtale van die Bybel
Die prys kan toegeken word vir ’n hoogstaande publikasie of ’n reeks van hoogstaande publikasies in Afrikaans oor die Christelike teologie of die studie van die grondtale van die Bybel. Daar moet spesifiek aangedui word watter publikasie(s) vir bekroning aanbeveel word en daar moet gelet word op voortgesette produktiwiteit. Die prys kan slegs een keer aan ’n persoon toegeken word.
Gustav Prellerprys vir Literatuurwetenskap en Letterkundige Kritiek
Die prys is al om die drie jaar beskikbaar vir literatuurwetenskaplike werk in Afrikaans, met inbegrip van letterkundige kritiek. Alle bydraes van kandidate op die terrein, ongeag wanneer dit gelewer is, kom in aanmerking.
NP van Wyk Louwmedalje
Die medalje is driejaarliks vir toekenning beskikbaar aan ’n kandidaat vir skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe, wat as ’n wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die geesteswetenskappe beskou kan word. Die bydraes moet verkieslik in Afrikaans wees. Die prys word beskou as die bekroning van buitengewone prestasie, normaalweg van volgehoue aard. Dit kan slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.
Frans du Toitmedalje vir Bedryfsleiding
Die medalje word driejaarliks vir bedryfsleiding toegeken. Die volgende geld by die oorweging van ’n kandidaat:
- Skeppende bydrae tot die Suid-Afrikaanse bedryfslewe;
- Volgehoue uitbouing oor ’n lang tydperk van die terreine waarop hy/sy werksaam is;
- Leierskap op die bepaalde terreine en besieling om die gebiede verder te ontwikkel.
- Die prys word as ’n kroon op ’n lewenstaak beskou en kan slegs een maal aan ’n kandidaat toegeken word.
DF Malanmedalje
Die medalje word as ’n besonder hoë onderskeiding beskou en word alleen toegeken aan persone wat werk van die hoogste gehalte ter bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur gelewer het. Die prys is elke drie jaar beskikbaar vir toekenning.
CL Engelbrechtprys vir Afrikaanse Taalkunde
In 2019 kan die prys toegeken word vir ’n gepubliseerde werk in Afrikaans oor die Afrikaanse taalkunde (boek, saamgestelde boek) in die vyf kalenderjare wat die prys voorafgaan, dus vir ’n boek wat in 2014, 2015, 2016, 2017 of 2018 verskyn het. Die prys kan meer as een keer aan dieselfde skrywer of taalkundige toegeken word.
Protea Boekhuistoekenning vir die beste gepubliseerde geskiedeniswerk in Afrikaans
Die prys roteer soos volg:
- 2019 vir ’n gepubliseerde boek.
- 2020 vir ’n M-verhandeling.
- 2021 vir ’n D-proefskrif.
In 2019 kom gepubliseerde boeke in geskiedenis of kultuurgeskiedenis wat in 2016, 2017 of 2018 verskyn het, in aanmerking. Werk wat reeds die Protea-prys as ongepubliseerde verhandeling of proefskrif ontvang het, kom nie weer in aanmerking nie.
Keerdatum vir nominasies: 15 Januarie 2019
KUNSTE
Hertzogprys vir Prosa
Alle Afrikaanse prosawerk van hoogstaande gehalte wat in die drie kalenderjare wat die bekroning voorafgaan (2016, 2017 en 2018) verskyn het, kom vir dié toekenning in aanmerking.
Eugène Maraisprys
Die Eugène Maraisprys word toegeken vir ’n eerste of tweede bellettristiese publikasie in Afrikaans. Die prys is jaarliks beskikbaar en kan net een maal aan ’n bepaalde skrywer toegeken word.
Scheepersprys vir Jeugliteratuur
Die prys word driejaarliks toegeken vir ’n werk in Afrikaans in enige genre (gepubliseer in 2016, 2017 en 2018) vir tieners en jong volwassenes en kan meer as een keer aan dieselfde persoon toegeken word.
Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur
Die prys word toegeken vir enige literêre werk in die kategorie kinderliteratuur, d.w.s. die groep lesers van 7 tot 12. Die prys word driejaarliks toegeken vir werk, gepubliseer in 2016, 2017 en 2018. Dieselfde skrywer mag die prys meer as een keer ontvang.
Erepenning vir Televisiedrama in Afrikaans
Die erepenning word driejaarliks aan ’n regisseur toegeken vir ’n televisiedrama in Afrikaans (waarby dramareekse ingesluit is). Werke wat uitgesaai is deur alle uitsaainetwerke in die drie kalenderjare wat die bekroningsjaar voorafgaan (2016, 2017, 2018) kom in aanmerking.
Erepenning vir Rolprentkuns in Afrikaans
Die Akademie se erepenning is bedoel as erkenning, binne die doelstellings van die Akademie, vir besondere prestasie op terreine wat nie suiwer letterkundig of wetenskaplik is nie. Die Erepenning vir Rolprentkuns in Afrikaans kom driejaarliks aan die beurt en word toegeken aan ’n regisseur of vervaardiger van ’n rolprent.
Erepenning vir Visuele Kunste
Die visuele kunste word jaarliks bekroon en sluit o.a. die volgende kunsvorme in: skilderkuns, beeldhoukuns, argitektuur, weefwerk, keramiek, mosaïek, fotografie, advertensiewese en animasie-rolprente.
Huberte Rupertprys vir Klassieke musiek
Die prys kan jaarliks toegeken word. Instrumentaliste wat klawerinstrumente (bv. klawerbord, klavier, orrel); blaasinstrumente (bv. fluit, trompet); of strykinstrumente (viool, ens.) bespeel, kom in 2019 in aanmerking vir die prys.
Deleen Bekkerprys vir beste draaiboek vir ’n TV-drama in Afrikaans
In 2019 word die prys toegeken vir die beste draaiboek vir ’n TV-drama in Afrikaans. TV-draaiboeke (hetsy ’n enkel drama of een episode uit ’n reeks) wat in die voorafgaande drie jaar (2016, 2017 en 2018) gebeeldsend is, kom in aanmerking vir toekenning.
NATUURWETENSKAPPE EN TEGNOLOGIE
MT Steynprys vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese Prestasie
Dit is een van die belangrikste eerbewyse van die Akademie vir leierskap op die hoogste vlak op die gebied van die natuurwetenskap en die tegnologie. Die prys is ’n kroon op ’n lewenstaak en kan net een maal aan ’n persoon toegeken word. Slegs Suid-Afrikaanse burgers kom in aanmerking vir dié prys. Die MT Steyn-prys word jaarliks toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskap en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang. Die medalje kan jaarliks toegeken word.
Die suksesvolle kandidaat se kennis van Afrikaans moet sodanig wees dat hy/sy die prystoekenningseremonie in Afrikaans kan begryp en die aanvaardingstoespraak in Afrikaans kan lewer.
Goue Akademiemedalje vir Natuurwetenskaplike Prestasie
Die medalje word toegeken vir verdienstelike werk op die gebied van die natuurwetenskap, tegniek of geneeskunde. Waar die Havengaprys toegeken word vir oorspronklike navorsing en publikasies, word die Goue Akademiemedalje toegeken vir hoogstaande werk van praktiese uitvinding (of toepassing) en vernuf gebaseer op wetenskaplike en/of proefondervindelike grondslag. Die medalje kom driejaarliks aan die beurt en kan meer as een keer aan dieselfde persoon/instansie toegeken word.
Die suksesvolle kandidaat se kennis van Afrikaans moet sodanig wees dat hy/sy die prystoekenningseremonie in Afrikaans kan begryp en die aanvaardingstoespraak in Afrikaans kan lewer.
Havengaprys
Die Havengaprys word jaarliks toegeken vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied. Die nodige vereistes by die beoordeling van kandidate is eerstens navorsingspublikasies en tweedens bewys van die bevordering van Afrikaans. Ander prestasies in belang van die wetenskap sal ook in aanmerking geneem word. Die prys kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word. In 2019 kom die volgende vakgebiede aan die beurt:
- Havengaprys vir Lewenswetenskappe (vir navorsing op lewende materiaal, uitgesluit die mens) (bv. Landbou, Biologie, Veeartsenykunde, ens.)
- Havengaprys vir Gesondheidswetenskappe (Geneeskunde, Tandheelkunde, ens.)
Erepenning vir Natuurwetenskap en Tegnologie
Hierdie erepenning word toegeken op die terreine wat nie reeds ondervang is deur ander bekroningsgebiede binne die Fakulteit nie. Dit word slegs toegeken vir werk van hoogstaande kwaliteit en word net in uitsonderlike gevalle toegeken.
Senior Kaptein Scott-gedenkmedalje
Die medalje kan driejaarliks toegeken word aan enige bioloog in suidelike Afrika wat uitmuntend in sy/haar werksveld presteer het. Wetenskaplike werk van meer toegepaste aard en van voortreflike gehalte wat die status van die biologiese wetenskappe bevorder het deur bv. hoogstaande navorsing, onderwys of bestuursleiding, kom hiervoor in aanmerking. Dit kan óf vir ’n enkele uitstaande bydrae óf vir ’n voortgesette bydrae oor ’n lang tydperk op die gebied van die omgewingsbiologie toegeken word.
Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (Plantkundige Wetenskappe)
Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling ingedien by ’n Suid-Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad, om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe. In 2019 kom plantkundige wetenskappe aan die beurt. Keerdatum vir nominasies: 15 Januarie 2019
Elektroniese nominasies kan gestuur word na: linda@akademie.co.za
Let wel: Handtekeninge van die voorsteller en sekondant moet ingeskandeer word op die motiveringsdokument.
Nominasies per gewone pos:
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Vir aandag: Linda Brink, Privaatsak X11, Arcadia, Pretoria, 0007.
Nominasies per koerier:
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Vir aandag: Linda Brink, Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria, 0083.
The post Uitnodiging vir nominasies: SA Akademiepryse 2019 appeared first on LitNet.