Ankers vir vandag
Skrywer: Nadine Blom
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 978-0-7963-2077-3
Die bekende sangeres Nadine Blom ken kollig en applous, maar ook die donkerte van kritiek, onreg, jaloesie, verontregting.
In Ankers vir vandag deel sy sommige van hierdie persoonlike ervarings, asook insigte wat sy deur swaarkry verwerf het. Sy skryf eerlik en onopgesmuk. Haar getuienis en deurleefde woorde versterk die boek se geloofwaardigheid.
Ankers vir vandag laat die klem op twee soorte ankers val: dié wat ’n mens daarvan weerhou om geestelik te kan groei en ander wat jou stewig vashou wanneer die lewe se storms woed. Elke geloofsanker wys heen na God, die vaste anker wat onwankelbaar en ewig is.
In haar inleiding sit sy haar drie temas duidelik uiteen: God se onwrikbare liefde vir sy kinders; ankers wat losgelaat moet word; ankers waaraan gelowiges in gehoorsaamheid moet vashou.
In die eerste afdeling, “Vashou-ankers”, waarsku die skrywer teen ankers waaraan ’n mens verkeerdelik vasklou, byvoorbeeld vrees, teleurstelling, bitterheid, verwerping, wraak. ’n Mens reken dat die emosies wat hiermee gepaard gaan, geregverdig is, maar dit rem jou terug en beperk geestelike groei. Sy benadruk die feit dat hierdie ankers tyd neem om te lig, omdat ’n mens se eie persepsies moet verander. Eers dán kan die Heilige Gees met sy genesingskrag die plek van dié ankers inneem.
Die skrywer besef dat die loslaat van ankers nie ’n eenmalige proses is nie. Sy gee dwarsdeur die boek riglyne oor hoe om ankers wat jou aftrek, te lig. Vir my is dit ’n pluspunt dat sy nie kitsantwoorde probeer verskaf nie.
Teenoor die ankers wat losgelaat moet word, stel Blom die stewige ankers wat keer dat die storms jou oorweldig.
Die afdeling “Vashou-ankers” bied ’n omvattende verskeidenheid ankers waaraan ’n gelowige daagliks kan vashou. Geloof. God se krag. God se wil. Woorde wat lewe. Stilwees. Vergifnis. Wysheid. Gebed.
Die hoofstukke is netjies en logies uiteengesit. Elke hoofstuk word aan ’n bepaalde geloofsanker gewy. Dit word gerugsteun deur ’n aantal Skrifgedeeltes en ’n gebed aan die einde van die hoofstuk.
Die gebede getuig van ’n innige, persoonlike verhouding met die Here. Die gebed op bl 19 ontroer: “Ek besef dat U nie ’n mens is nie. U is almagtig, alleswetend en alomteenwoordig. Gee my tog goddelike kennis, wysheid en insig sodat ek in donker tye nie in U twyfel nie, maar eerder onthou hoe U my gedra het. Ek het U lief. Amen.”
Die skrywer se taalgebruik is sober. Haar formulering is duidelik en beheers. Dit is egter tog jammer dat sy hier en daar ’n Engelse woord of uitdrukking gebruik waarvoor daar ’n geskikte Afrikaanse eweknie is. Op bl 69 kon “faith in action” gewoon “geloof in aksie” gewees het, sonder dat die seggingskrag ingeboet word. Dieselfde geld vir “musical” wat in plaas van die mooi Afrikaanse woord “musiekblyspel” gebruik word.
Op ’n paar plekke in die teks is die metafore nie weldeurdag nie. In die hoofstuk “Drie lewenspilare”, wat oor geloof, hoop en liefde handel, skryf Blom (bl 152): “Hou vas aan hierdie ankers [geloof, hoop en liefde] in jou lewe.”
Ten spyte van hierdie skryfjakkalsies oortuig Ankers vir vandag. Dis ’n boek wat met vrug gelees en herlees kan word.
The post <em>Ankers vir vandag</em> deur Nadine Blom: ’n resensie appeared first on LitNet.