Middel-Desember is die wenner van die PC Hooft-prys vir 2016 aangekondig: die Surinaamse skrywer Astrid Roemer (Paramaribo, Suriname, 1947). Dit was ’n groot verrassing, eerstens omdat Roemer uit sig verdwyn het en tweedens omdat hierdie literêre prys – beskou as die belangrikste literatuurprys binne die Nederlandse literatuurgebied (Vlaminge kom nie in aanmerking nie) – na ’n skrywer uit Suriname of die Karibiese gebied gaan. Dit word geïnterpreteer as meer as net die bekroning van ’n individuele skrywer, maar ook as erkenning van die Nederlands-Surinaamse literatuur. Baie kritici voel dat laasgenoemde sterker geweeg het in hierdie toekenningsbesluit as die kwaliteit van Roemer se werk self. Hieroor woed tans ‘n vurige debat binne literêre kringe in Nederland.
Die PC Hooft-prys is in 1947 ingestel. Dit was die jaar waarin die 300ste sterfdag van Pieter Corneliszoon Hooft* (1581–1647) herdenk is. Tot 1955 is die prys toegeken vir spesifieke werke, maar sedertdien het dit ’n oeuvreprys geword wat jaarliks wisselend aan prosa, essayistiek en poësie toegeken word. Hierdie keer was prosa aan die beurt. Onlangse wenners van hierdie kategorie was oa AFTh van der Heijden (2013), Charlotte Mutsaers (2010), JMA Biesheuvel (2007), Cees Nooteboom (2004) en Gerrit Krol (2001). Die onafhanklike jurie verskil van jaar tot jaar en die prys word toegeken om en by 21 Mei, die sterfdag van Hooft.
Ook in 1991 was daar verbasing oor die besluit van die jurie. Dit was die jaar toe die prys aan Elisabeth Eybers en haar oeuvre van Afrikaanse poësie toegeken is. Vanaf 1961 was sy woonagtig in Nederland, waar sy ook burgerskap gekry het, maar tog het sy steeds in Afrikaans bly skryf. Met die toekenning van hierdie prestigieuse prys was dit duidelik dat Nederland Eybers as hul eie omarm het (soos wat binne die beeldende kuns ook met Marlene Dumas die geval is).
Die bestuur van die PC Hooft-prys het die gewoonte om die gekose wenner telefonies te kontak om die keuse bekend te maak en te verneem of die betrokke skrywer bereid sou wees om dit te aanvaar en persoonlik die oorhandiging by te woon. Hierdie keer, met Roemer, was laasgenoemde veral ’n saak van besorgdheid. Bekend as ’n kontroversiële en provoserende persoonlikheid, daag Roemer nie altyd op by geleenthede wat rondom haar en haar werk georganiseer word nie. Tog het sy verheug bevestig dat sy die prys aanvaar en teenwoordig sal wees by die uitreiking. “Zo’n prijs is een acceptatie van wat ik doe en ben. Het is troostend.”
Sy gaan wel die prys opdra aan haar Nederlandstalige kollega-skrywers uit die Karibiese gebied met wie sy ‘n besondere verwantskap voel, skrywers “die het zeer moeilijk hadden of hebben, zoals Bea Vianen, Edgar Cairo, Anil Ramdas en Frank Martinus Arion”. Op hierdie wyse laat sy blyk dat dit vir haar nie net om ’n individuele bekroning gaan nie, maar ook om die erkenning van die Surinaamse literatuur, wat haar na aan die hart lê.
Die jurie, wat hierdie keer uit Karin Amatmoekrim, Sander Bax (voorsitter), Toef Jaeger, Edzard Mik en Pauline Slot bestaan het, was getref deur die vaardige wyse waarop politieke betrokkenheid en literêre eksperimentering by Roemer hand aan hand gaan en dat dit by haar lei tot romans wat beide skerp en relevant bydraes lewer tot die publieke debat.
Die jurieverslag wys ook op haar komplekse literêre verbeeldings van die geskiedenis van Suriname. ‘n Voorbeeld hiervan is die roman Was getekend: “Het is een geschiedenis die voor velen in Nederland nog tamelijk onbekend is, buiten de steekwoorden ‘slavernij’ en ‘Decembermoorden’, maar die onlosmakelijk met ons land verbonden is, en daarmee ook, middels het unieke oeuvre van Roemer, met onze literatuur.”
Net so moeilik en gekompliseerd as die verhouding tussen Nederland en Suriname is ook Roemer se haat-liefde-verhouding met beide haar land van herkoms en die land waar sy sedert 1966 as vrywillige balling haar toevlug geneem het. “Tuis” is vir haar ’n komplekse en steeds veranderende begrip. So keer sy byvoorbeeld in die vroeë sewentigerjare terug na Suriname, maar toe sy vanweë ’n geskil by die skool waar sy as onderwyseres werksaam was ontslaan word, word Nederland nogmaals haar toevlugsoord. Aan die begin van hierdie eeu keer sy ’n paar keer vir korter of langer periodes terug na Suriname. Haar werk – verhalende prosa, poësie en toneelwerk – is deurspoel met die tema van ontworteling in beide fisiese en mentale manifestasies. Vanuit hierdie buitestanderposisie konfronteer sy die Surinaamse geskiedenis op ’n manier wat, soos sy self sê, nie moontlik sou wees vir iemand wat permanent daar woon nie.
Maar haar verlange na Suriname en na haar moeder – daar is dikwels ’n oorvleueling tussen die twee – bly haar by.
het duel met de wind is als spiegels
die breken het zoeklicht
naar god
om de nacht te ontmaskeren zijn schepen
verbrand
en de regen rent naakt achter mij
waar jij doolt waait op het stof
het verstopt onze nadagen
het heult met de zon
wij liggen verankerd – mijn moeder
mijn voet is zeewaardig en
de bruggen staan open en
de zeilen staan bol
wij zijn niet afgedreven – geen ogenblik
gehavend zijn wij
wend niet het gezicht af – mijn moeder
ook ik ben stukgewaaid maar
afstand krimpt en er is geen ruimte zonder
jou
(Noordzeeblues, 1985, bl 32)
Een vir een, vanaf haar debuut, Neem mij terug Suriname (1974) – later herskryf as Nergens ergens (1983) – tot by die drieluik Gewaagd leven (1996), Lijken op liefde (1997) en Was getekend (1998) getuig haar romans van ‘n uitgesproke politieke betrokkenheid. So speel die genoemde trilogie (haar mees bekende werke) af teen die agtergrond van Suriname ná onafhanklikheid en staan in die teken van die “bloeddoortrokken verwantschap” tussen Nederland en sy voormalige kolonie. Roemer skroom nie om harde kritiek uit te spreek teenoor Surinaamse toestande en wantoestande nie, ook nie teenoor die militêre diktatuur van die weermagleier Bouterse, nog altyd geen vriend van Roemer nie. In 2001 is hierdie drie romans in een band gepubliseer as Roemers Drieling. Die Duitse vertaling van Lijken op liefde is bekroon met die Duitse LiBeratur Prys.
Roemer se werk bars van emosie en passie. Woede kom ook dikwels voor. Michiel Kempen (www.dbnl.org) wys byvoorbeeld dat haar bundel Sasa Mijn Actuele Zijn (1970), wat veral gaan oor swart-wees, swart-voel, en die belewing van négritude, vir Roemer deel is van ‘n “eeuwenlange, trieste geschiedenis van de zwarte mens in Suriname, én van de weg die Suriname nog wachtte”. Hy voeg toe: “Poëzie was geen vrijblijvend woordspel – is dat voor Roemer nooit geweest – maar was een deel van de strijd, de inzet van de dichteres met de middelen die haar ter beschikking stonden. Die overtuiging werd met een felheid beleden waarin geen plaats was voor nuanceringen. Haat was in verschillende gedichten tastbaar aanwezig.”
jullie met je zedige hoofden
je kalme walsen
je rokkostuums
je zwarte sleeën
je betaalde liefdes
je stijve lichamen
je nuchter verstand
je miljarden
jullie willen wij uitmoorden
(Sasa: Mijn Actuele Zijn, 1970, bl 36)
Benewens haar politieke betrokkenheid is daar ook in haar werk ‘n prominente fokus op vroulike identiteit. In die gefragmenteerde “Over de gekte van een vrouw” (1982) gaan sy pertinent die stryd aan met machismo en rassisme. Geen wonder dat Roemer toegeëien is as feministiese skryfster met ‘n groot aanhang onder lesbiese lesers nie.
Die laaste paar jaar was Astrid Roemer spoorloos. Met ’n kat, ’n skootrekenaar en ’n rugsak het sy die wêreld ingetrek. Dit was die dokumentêrmaakster Cindy Kerseborn wat Roemer letterlik herontdek het. ’n Soektog wat Kerseborn onder andere na die Skotse Eiland Skye gevoer het, het uiteindelik geëindig in ‘n Gentse klooster, waar sy Roemer opgespoor het. Sedertdien het Kerseborn ’n reeks aktiwiteite rondom hierdie skryfster georganiseer en ’n dokumentêre film gemaak, De wereld heeft gezicht verloren, waarvan die première op 7 Desember verlede jaar in Amsterdam was. By hierdie geleentheid het Roemer ook nie opgedaag nie. Tog het sy aan Cindy Kerseborn ‘n sms gestuur met ’n boodskap aan die gehoor wat teenwoordig was: “Zijn vooral heel lief voor elkaar.”
Nou is dit ’n saak van geduld om te sien of Astrid Roemer wel op 19 Mei by die Letterkundig Museum in Den Haag sal opdaag om die lofrede aan te hoor en die prys (wat ’n geldbedrag van €60 000 insluit) in ontvangs te neem.
* Wie was PC Hooft?
PC Hooft (Amsterdam 16 Maart 1581 – Den Haag, 21 Mei 1647) was ‘n geskiedkundige, digter en dramaturg. Hy word beskou as ‘n eksponent van die renaissance in Nederland en het humanistiese idees aangehang. Sy vorming het aan die Universiteit van Leiden, waar hy in die regte studeer het, momentum verkry. Uitsonderlik was dat hy aan geen kerk behoort het nie en ook ten tye van die Tagtigjarige Oorlog onpartydig was in die stryd tussen die Katolieke en Protestante. In 1610 trou hy met Christina van Erp, en na haar dood in 1627 met Leonora Hellemans. Hooft was regter, drost van Muiden en balju van die Gooiland en het 40 jaar in die Muiderslot gewoon. Omdat dit vir hom daar te stil en afgesonderd was, het hy mense wat (soos hy) belangstelling in die literatuur gehad het, uitgenooi om soms daar te kom bly. Hierdie kring het begin bekendstaan as die Muiderkring. Hooft het veral sy toneelstukke gebruik om sy staatkundige idees te versprei. Sy bekendste stukke is Geeraerdt van Velsen (1613), oor die moord op graaf Floris V, en Baeto (1617), oor die rol van die Batawe by die totstandkoming van Nederland. Hy het ook liefdesgedigte geskryf; sy bekendste werk in dié opsig is Emblemata amatoria (1611). (Bron: www.pchooftprijs.nl)
The post Astrid Roemer: Onverwagse wenner van die PC Hooft-prys 2016 appeared first on LitNet.