Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van AgriSA, gesels met Naomi Meyer oor die uitdagings wat die ergste droogte in 30 jaar meebring.
Hallo Omri. Jy is verlede jaar aangestel as uitvoerende direkteur van AgriSA – van harte geluk. Is dit ‘n baie warm stoel waarin jy sit gedurende een van die warmste tye wat die land nog geken het?
Ja, dis ‘n lekker warm stoel vol uitdagings en geleenthede. Dis die ergste droogte in 30 jaar en ons sal mooi moet kophou, byhou en kalm bly. Ek geniet die uitdagings baie; dit gee my energie om met landbouers te werk en die sektor te verteenwoordig. Die plaas is in my bloed, wat kan ek sê.
‘n Droogte maak ons almal – boere of te nie – bewus van ons afhanklikheid van die natuur, of hoe? Wat maak hierdie droogtetoestand (of hierdie El Niño) anders as vorige droogtes waarvan jy weet? Of is dit nie noodwendig so anders nie?
Lees ook: |
---|
• Sewe lesse wat #PennySparrow my leer |
• 1925 se droogte |
Ja, dis interessant. In my navorsing het ek ‘n grondige studie gedoen van die wêreld se grootste risiko’s, en ‘n watertekort, oftewel ‘n droogte, is die nommer 1-risiko met die grootste impak op mens en dier. Ons is absoluut afhanklik van die natuur, en dit sal toenemend so wees met klimaatverandering wat altyd daar sal wees. Die droogtetoestand is soortgelyk aan die 1984-droogte wat skaal en omvang betref. In 1992 was daar ook ‘n redelik groot droogte wat die staat destyds R3 miljard gekos het. Kenners sê dit gebeur om en by so elke 22 jaar.
Daar is altyd hoop, het jy onlangs in die media gesê. Wat beskou jy as hoop vir boere? En vir verbruikers?
Ons het al erger oorwin, en ek glo in ons mense en ons vermoë om deur moeilike tye te kom. Ek glo ook in God wat ons die krag en wysheid sal gee om die regte dinge te doen. Die boere moet weet ons is nie alleen nie – Agri SA, die Suid-Afrikaners, sal alles doen om te probeer help. Saam en net saam kan ons hierdeur kom.
Om realisties te wees: ons almal sal die effek van hierdie hittetoestand vanjaar ekonomies voel. Waarop moet mense hul voorberei?
Voedselinflasie is ‘n werklikheid, en ek dink ons ekonomie gaan baie nadelig hierdeur geraak word. Met die stand van die rand en die wêreldekonomie lyk dinge nie rooskleurig vir Suid-Afrika nie. So ek dink ons sal maar almal ons skoenveters moet vasmaak en inspring om ‘n verskil te maak. Ons gemaksone is nie meer daar nie, en die spel het alreeds verander.
In ‘n tyd van krisisbestuur is dit seker moeilik om verby die probleme te kyk, maar wat is jou kort-, medium- en langtermynvisie vir die land se boerdery- en landboubedryf?
Korttermyn: Ons sal die droogte oorwin en ons produsente sover moontlik in besigheid hou. Die geleentheid om nuwe, of vernuwende vennootskappe en planne te maak in dié tyd moet ons nie ontsien nie.
Mediumtermyn: Ons land gaan sy sokkies moet optrek, ons gaan moet leierskap toon, en die basiese goed reg moet begin doen. Sonder ekonomiese groei en die vrye mark gaan ons nêrens heen nie. Ons moet die klimaat skep vir gesonde verandering en ons hou by weldeurdagte beleidsbepalings en -strategieë.
Langtermyn: Ons moet kwaliteit boaan ons prioriteite stel – kwaliteit in alles: mense, vervaardiging, ekonomie, ens. Ek sal graag eendag in ‘n Suid-Afrika wil leef waar ras nie meer in ons besluite leef nie. Noem dit utopie, maar in geen ander Afrikaland het dit nog gebeur nie. Ons gaan dit moet laat gebeur.
The post Omri van Zyl oor El Niño, voedselinflasie en velkleurbeheptheid appeared first on LitNet.