Dis 'n nuwe jaar en dis tyd om nou al kennis te neem van die hersieningsvraestelle op LitNet. Hier is gratis vraestelle om af te laai.
Amanda le Roux, oudwiskundeonderwyser, deel ook aan die begin van die jaar ook haar ervarings van wiskunde. Wiskundebegrip is soms belangriker as wiskundepunte.
*****
Kinders se persepsie van wiskunde is baie belangrik. As dit aangebied word as iets wat onthou moet word, ervaar hulle wiskunde as "a bag of tricks" en nie as iets wat jy kan uitredeneer nie. Die eintlike gaping is dan dat te veel kinders nie wiskunde neem nie – hulle los dit vroeg. Ek sou wou hê dat kinders wiskunde sien as iets wat sin maak. Ongelukkig is daar te min onderwysers in ons land (laerskool sowel as hoërskool) wat werklik wiskunde verstaan. Verstaan is nie dieselfde as "kan doen" nie …
Kortliks: Jean Piaget, die bekende Switserse epistemoloog en sielkundige het 'n teorie oor die aard van wiskundige kennis geformuleer. Daar is drie tipes kennis: sosiale (konvensionele) kennis wat jy net deur transmissie kan opdoen – jy kan dit nie self uitwerk nie. Voorbeelde is die name van getalle, hulle simbole ens. Dit is die soort kennis wat jy moet onthou.
Dan is daar fisiese kennis, wat jy opdoen agv interaksie met die omgewing en goed wat jy fisies kan manipuleer (byvoorbeeld: jy kan, as jy tellers tel, sien dat 5 meer is as 3, ens).
Die belangrikste soort is logies-wiskundige kennis, wat jy kan uitredeneer. As jy kan tel, kan jy self uitvind hoeveel 5+3 is en jy kan insien dat 5+4 een meer is as 5+3. Dit vereis egter "verstandwerk" en nie bloot memorisering nie.
Baie onderwysers verskraal alle wiskundige kennis tot sosiale kennis, met ander woorde dit wat jy uit jou kop uit moet ken. Kinders moet ook gehelp word om getalfeite te leer ken – deur planne te maak. Ek kan byvoorbeeld (ten spyte van 'n graad in wiskunde en 100 jaar ervaring as onderwyser) nooit onthou hoeveel 9x7 is nie. Ek redeneer dit dus uit: 10x7 is maklik, en 9x7 is 7 minder as 70.
Ek het ook 'n aksie teen "name gee" vir metodes soos "treinsomme". Nou onthou die kinders die naam, maar fokus nie op die metode wat (vir die kind persoonlik) sin maak nie.
Ook hierdie voor-, na- en tussengoed, soos watter getal lê tussen 6 en 8, of 3 kom voor ____ of 7 lê tussen ______ en _________.
Hoe kan jy sê watter getal voor 8 kom? Niemand weet nie … Hierdie soort benadering maak kinders se koppe toe vir breuke.
Watter getal is tussen 6 en 8? Daar is 'n oneindige aantal getalle tussen 6 en 8.
Die wat is egter in die nasionale kurrikulum so hoe geskryf (dink ek) en dit word deur vakadviseurs aan onderwysers deurgegee. Dit is dus moeilik om te "beveg". Skole en ouers is net in uitslae geïnteresseerd.
'n Paar jaar gelede was daar op die voorblad van Die Burger 'n berig oor 'n kind wat 100% vir matriek gekry het. Hy is gevra oor sy geheim en sy antwoord was: werk ou vraestelle uit. Met ander woorde, solank ons eksamenstelsel sodanig is dat kinders afgerig kan word, sal die situasie nie verbeter nie. Probleemoplossing is nog nie belangrik genoeg in ons skole nie.
Besef Suid-Afrikaners dat ons beste kinders se prestasie in die internasionale toetse ooreenkom met die swakste kinders s'n in bv Singapoer? Dit ontstel my.
Amanda le Roux
The post Wiskunde is nie "a bag of tricks" nie appeared first on LitNet.