Die matriekuitslae 2015 is bekend. Die ontleedmesse werk oortyd. Almal het ‘n mening: die regering, die media, beheerliggame, onderwysunies, akademici, sosiale media. Veral die blameerspeletjie word oortyd gespeel. Ek het ook `n mening. Daar word vinger gewys, aangeval. Ook verdedig. Soos ek ewe voorbarig ook gaan probeer doen. Aanval en verdedig.
Vir wat ek nou hier gaan kwytraak, is dit dalk nodig om so ’n bietjie persoonlike agtergrond te verskaf (en ek wil nie wintie wees nie!): Ek was vir meer as 40 jaar betrokke by die onderrig van wiskunde op skool. Uitsluitlik vir leerders van minderbevoorregte skole. Die 40 jaar sluit in: Die eras voor gedifferensieerde onderwys, toe gedifferensieerde onderwys (SG en HG), daarna uitkomsgebaseerde onderwys (UGO), later Nasionale Curriculumverklaring (NKV) en deesdae die Kurrikulum-assesseringsbeleid verklaring ( wonder watter prof het die naam uitgedink?), CAPS. Van graad 1 tot by graad 12. Ook `n draai gaan maak op die Noordkaapse en nasionale paneel van eksaminatore (eksterne matriekeksamens).
Tussen alles deur het 7 x 9 steeds 63 gebly. Met `n verskil. Die reaksie van leerders op die vraag wat 7 x 9 is, het oor die jare verander en is baie insiggewend. Sommige sal (veral deesdae) na `n sakrekenaar gryp, ander sal op hul vingers tel, maar, vir my die mees tragiese, kom voor wanneer jy gekonfronteer word met `n teenvraag van `n hoërskoolleerder: Is dit nie 56 nie, meneer? Is dit nie? Hierdie laaste reaksie gee my koue rillings. Dit getuig onder andere van `n gebrek aan die mees basiese hoofrekene maar erger nog; onsekerheid en `n gebrek aan vertroue. Meer as `n keer is dit hoërskoolleerders wat so reageer. Is dit nie meneer ...? As akademici, die gewone (dikwels oningeligte) publiek, die media en veral die naweekkoerante alewig die gehalte van onderwys en die vermoë van ons leerders afkraak, moet daar mos onsekerheid en twyfel oor hul vermoëns inkruip.
Hoekom kan baie van ons leerders deesdae nie selfversekerd (reg of verkeerd) reageer op die vraag wat 7 x 9 is nie? Raai wat sal die media, akademici en oningeligtes sê: dis die onderwyser se skuld. Die onderwyser, altyd die onderwyser. Ek laat my nie vertel vandag se onderwysers is swakker as my laerskoolonderwyser van meer as 40 jaar gelede nie. Ook nie die leerders met al hul vaardighede met die tegnologie nie. Onderwysers word opgelei deur akademici. Akademici is medeverantwoordelik vir die opstel van die vak – en skoolkurrikulum. As die onderwysers droog maak, dan kan hul opleiers nie hul handjies in onskuld was nie. As die “een minister, een kurrikulum” (EMEK)-sindroom waaraan ons onderwys die afgelope twee dekades blootgestel is, daartoe lei dat ons leerders nie sonder meer weet wat 7 x 9 is nie, moet die (mede) opstellers van die kurrikulum, dws die akademici, medeverantwoordelikheid dra.
In kort: akademici staan sentraal in die ontwikkeling (of agteruitgang) van ons onderwysstelsel en moet hul verantwoordelikheid erken. Hul mis te graag die massiewe balk in hul eie oë. Die EMEK veroorsaak onsekerheid by leerkragte en skep onstabiliteit in die onderwysstelsel. Jy kan darem nie wragtag elke tweede jaar heropgelei word in nuwe leermateriaal, `n groot deel waaraan jy op skool self nie blootgestel is nie. Skepties wonder ek hoeka of die nou veelgeroemde CAPS nog in 2020 in die rondte gaan wees. UGO en NKV is ook op hul tyd hoog aangeprys ...
Die blameerspel is weer in volle swang na die matriekuitslae en die vingers word dikwels na die onderwysers gewys. Die eintlike droogmakers is dikwels die grootste vingerwysers. In kort: lei die onderwysers reg op, staak die gewoonte van vanaand te loop slaap en môreoggend op te staan met `n nuwe kurrikulum in jou kop.
Mense (onderwysers) wat van nature onverantwoordelik en lui is, studeer nie suksesvol vir minstens 16 jaar van hul lewens nie, waarvan minstens 4 op tersiêre inrigtings is nie. Daar mag loodswaaiers, soos in enige ander beroep, in die onderwysberoep wees, maar ek reken hulle is in die minderheid. Daar is dikwels baie ander eksterne faktore waaroor onderwysers min of geen beheer het nie, wat die gebrek aan kwaliteit-onderrig tot gevolg het. Behalwe vir die kurrikulum-manewales van akademici en die owerhede en oormatige rompslomp wat jou maklik 20 uur per dag besig kan hou, is daar ook nog die (gedwonge) rol van plaasvervangende ouer, borg van arm leerders, trooster van mishandelde (wat verkragtings insluit) leerders, beraders van leerders wat aan bendegeweld blootgestel is ensovoorts. Ek los maar die jongste gier van van die outomatiese vordering (ongeag...) van leerders wat reeds `n graad in `n fase herhaal het.
Die feit dat ons leerders nie altyd sonder meer weet wat 7 x 9 is nie, is nie noodwendig die onderwysers se skuld nie.
The post Matriekuitslae: die onderwyser se skuld appeared first on LitNet.