2016 het afgeskop soos ’n wilde perd wat bloots gery word, met #PennySparrow en #RacismMustFall in Suid-Afrika, #Y’alQaida en #VanillaISIS in Amerika en seksuele aanvalle op vroue deur georganiseerde groepe mans in Duitsland. Die gemene deler in al hierdie voorbeelde is dat ras die pot laat oorkook het.
Die KwaZulu-Natalse eiendomsagent, en haar skynbare oorbluftheid oor die wyse waarop haar Facebook-pos mense verkeerd opgevryf het, asook die absolute toondoofheid wat sy openbaar, het beslis in Suid-Afrika ’n heel nuwe gesprek oor ras begin, en nie altyd op ’n positiewe manier nie.
Hier is die lesse wat ek uit die voortslepende debakel leer:
1. Rasseoordeel is gendered.
Penny Sparrow is nie die enigste persoon wat die afgelope ruk rassistiese stellings op sosiale media gemaak het nie. Sy’s nie eens die enigste een wat oor swart gebruikers op strande gal afgegaan het, of swart mense met diere vergelyk het nie. Sy is egter die enigste persoon wie se telefoonnommers, huisadres, identiteitsnommer, werksbesonderhede en meer bekend gemaak is met ’n blanko uitnodiging vir mense om haar te kontak en te intimideer – ’n uitnodiging wat met soveel entoesiasme opgeneem is dat sy en haar dogter polisiebeskerming moes aanvra. Die dogter, wie, sover ek kon agterkom, nie self enige stellings op sosiale media gemaak het nie, en ook nie by haar bly nie, se besonderhede is ook gepubliseer.
Die ander wat hulle rasse-oordeel uitgeblaker het, was oorweldigend mans. Die openbare reaksie teenoor hulle was nie naastenby so fel nie.
Dit laat die vraag: Is die ou dubbele standaard waar mans heelwat meer vergewe word as vroue, nog steeds aan die werk? Was Penny Sparrow geteiken soveel omdat sy ’n vrou is as wat sy rassistiese uitlatings maak? Is vroue nog steeds makliker teikens as mans, en is dit die rede vir die hatigheid?
2. Dié wat die felste oordeel uitspreek oor rassisme, se eie rassistiese onderrokke begin na ’n rukkie uitsteek.
Die taalgebruik, en die haat wat oorgekook het, het dit duidelik gemaak dat diegene wat Penny Sparrow die felste oordeel, gerus maar hand in eie boesem kan steek en hulle eie rassisme en seksisme moet ondersoek. Dreigemente om al wat wit is dood te maak, het begin kop uitsteek. Een persoon het selfs ’n foto geplaas waar hy met ’n vuurwapen staan, gereed om eiehandig die land van wittes te reinig.
Aan die ander kant van die spektrum was dié persone wat probeer om ’n intelligente, gelykmatige ontleding van die situasie te doen. Jy hoef egter nie ver te lees om agter te kom dat daar basiese aannames oor die meerderwaardigheid van een groep, of die inherente minderwaardigheid van ’n ander groep, voorveronderstel word nie.
3. Sosiale media het ’n “Here be trolls”-waarskuwingsteken nodig.
Soos die armes sal die trolls altyd met ons wees. Dis ’n feit soos ’n koei. Die manier waarop die troll mob-mentaliteit egter aangesteek het in hierdie geval, was skrikwekkend, iets soortgelyk aan ’n mediese epidemie met geen beskikbare teenmiddel nie.
4. Wit rassiste word vinniger en feller veroordeel as rassiste van ander kleure.
Rassisme is rassisme is rassisme is verkeerd. Dit behoort voor die hand liggend te wees. Maar as ’n swart man belowe om wittes uit te roei, is daar dié wat hom cheer en dié wat stilbly. As ’n wit man belowe om swart mense uit te roei, is die hel los en word daar siviele aksies, kriminele klagte, politieke druk en veel meer ingespan vinniger as wat jy “Orania” kan sê.
5. Intelligensie en logika is omgekeerd eweredig aan die graad van vooroordeel wat mense openbaar.
Rassiste sukkel met spelling en basiese sinskonstruksie. Beteken dit rassiste is subintelligent? Of is hulle bloot so haastig om hulle vitrioel te deel dat spellcheck by die venster uitgegooi word? Ek weet nie, en ek moet bieg dat ek nie regtig omgee nie. Rassiste kan nie spel nie, en wat hulle probeer oordra is in elk geval nie die energie werd om hulle woorde te probeer ontsyfer nie.
Rassiste sukkel met basiese logika. Een Facebook-pos wat my letterlik sprakeloos gelaat het, beweer dat daar minder rassisme tydens apartheid was. Penny Sparrow het haar Facebook-pos probeer verdedig deur te kenne te gee dat apies oulik is, en sy’s ’n diereliefhebber – skynbaar onbewus van hoe ver haar rassistiese onderrok uithang.
6. Rassisme, wit bevoorregting en magtelose swart woede is oral.
Drie keer in die afgelope twee dae het ek gesien hoedat ’n wit persoon ’n tou ignoreer, na die voorpunt stap en indruk by ’n konsultant wat besig is met ’n swart kliënt, want hulle kan nie wag nie. Die onderliggende boodskap is duidelik dat hulle tyd en hulle sake belangriker as enigiemand anders s’n is, en dit word gedoen met die outomatiese aanname dat dit in orde is om inbreuk te maak op ander se ruimte. Die woede wat in elke geval deur die res van die tou gegaan het, was tasbaar. Maar niemand het iets teenoor die wit persoon gesê nie.
Daai magteloosheid verklaar dalk hoekom dit makliker is om iemand oor die internet of telefonies aan te val, want daar is nie aangesig-tot-aangesig-interaksie nie.
7. Ek is siek en der dagen sat vir rassisme.
Ek kan nie begín om te verduidelik hoe siek ek daarvoor is nie. Ek is moeg daarvoor om die heeltyd te moet hoor van wit mense dat hulle so skuldig voel en wroeg oor die voordele wat hulle wit velle bring (nie dat hulle sleg genoeg voel om afstand te doen van daai voordele nie).
Ek is moeg daarvoor om te hoor hoedat swart mense dink die lewe skuld hulle iets omdat hulle lank swaar gekry het en gebuk gegaan het onder apartheid.
Ek is moeg daarvoor dat mense nie bereid is om mekaar die voordeel van die twyfel te gee en te probeer om eerlik met mekaar in gesprek te gaan nie. Was dit Rumi wat gesê het: “Out beyond rightdoing and wrongdoing is a field. Let’s meet each other there”? Hoekom is dit so moeilik?
Ek is moeg daarvoor dat mens jou nie kan draai in hierdie land sonder dat iemand jou moet herinner aan jou kleur nie. Want dis mos nie moontlik om net mens te wees in Suid-Afrika nie; jy’t ’n rassequalifier nodig sodat almal presies weet in watter boksie jy tuishoort.
En dít maak my gatvol.
The post Sewe lesse wat #PennySparrow my leer appeared first on LitNet.