“Revd Canon Mpho Tutu ties the knot” was die oënskynlik low-key opskrif van die eerste koerantberigte wat die troue van aartsbiskop emeritus Desmond Tutu se jongste dogter aankondig. Nêrens in die aanvanklike berigte word daar enigsins gewag gemaak van die feit dat sy ’n vrou trou nie.
Die paartjie is op 30 Desember 2015 getroud, en die eerste berigte het eers laatmiddag die 31ste, dus op die vooraand van ’n langnaweek, begin verskyn. Ek weet nie of die tydsberekening toevallig was nie, maar dit het gehelp sorg dat die meeste koerante eers op Maandag 4 Januarie reaksie kon plaas – ou nuus, dus.
Dis opmerklik dat die nuusberigte baie subtiel haar kerklike titels, en waarskynlik daarmee saam haar morele gesag, beklemtoon. Canon is ’n eretitel en gesagsposisie wat net aan senior lede van die kerk toegeken word, en is normaalweg ’n aanduiding dat die titelhouer die ondersteuning van beide haar kollegas en die topstruktuur van die kerk geniet.
Die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika, waaronder Suid-Afrika val, laat nie hulle priesters toe om met iemand van dieselfde geslag te trou, of selfs in verhouding te wees nie. Die amptelike posisie is baie duidelik: die kerk het geen probleem met homoseksuele priesters nie, solank as wat hulle selibaat bly.
Interessant dus dat eerwaarde Tutu, alhoewel sy alreeds sedert 2011 in Suid-Afrika woonagtig is, nooit gelegitimeer is as priester in hierdie kerkprovinsie nie. Sy het verkies om gelegitimeer te bly in Washington DC, waar priesters wel toegelaat word om in die huwelik te tree met ’n lewensmaat van dieselfde geslag. Interessant, want sy was in 2011 nog getroud met haar man, Joseph Burris.
Alhoewel sy nooit formeel tot hierdie provinsie toegelaat is nie, preek sy gereeld in St George’s-katedraal in Kaapstad, die setel van die kerkprovinsie. Sy’s ’n gewilde en dinamiese spreker, en mense daag in groot getalle op om na haar te luister. Voordat die nuusberigte verlede week verskyn het, was daar nooit eers ’n fluistering dat sy gay mag wees nie – in sigself uitsonderlik, gegewe die lewendige bostelegraaf onder priesters.
Homoseksualiteit is al vir meer as 30 jaar een van die mees omstrede twispunte in die Anglikaanse Kommunie wêreldwyd. Net die toelating van vroue as priesters en biskoppe het naastenby dieselfde hewig gepolariseerde reaksie beleef. In beide debatte is Afrika tradisioneel meer konserwatief, en Noord-Amerika aansienlik meer progressief. Die Skandinawiese lande was egter nog altyd die res van die wêreld voor. Terwyl Noord-Amerika stry en baklei en Afrika kop-in-die-sand in ontkenning lewe, het hulle rustig voortgegaan om homoseksuele priesters te legitimeer.
Die jonger Tutu se bande met beide Suid-Afrika en Noord-Amerika gaan vermoedelik ’n spanning meebring wat tot nog toe nie plaaslik gesien was nie. Alhoewel sy in die VSA studeer het, het sy die ongewone stap gedoen om ook ’n jaar lank die College of Transfiguration, die Anglikaanse Kweekskool in Grahamstad, by te woon. Haar pa is ’n geliefde, alhoewel omstrede, leiersfiguur, nie net in die Suid-Afrikaanse kerk nie, maar ook dwarsoor die wêreld. Sy is egter ook uit eie reg gewild, wat in alle waarskynlikheid die verloop van die gaydebat in Suid-Afrika sal beïnvloed.
Die Arch, soos wat aartsbiskop emeritus Tutu alom bekend staan, is jare lank reeds uitgesproke daaroor dat hy ’n voorstander van gayregte is. Hy word byvoorbeeld gereeld aangehaal dat hy gedurende 2013, by die aanvang van ’n VN-inisiatief om gayregte te ondersteun, gesê het: “I would not worship a God who is homophobic and that is how deeply I feel about it. I would not want to go to a homophobic heaven.”
Hy het diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie vergelyk met die euwels van apartheid.
In sy bediening as biskop en aartsbiskop het hy egter nie altyd dieselfde houding gehandhaaf nie.
In 1985–86, terwyl hy biskop van Johannesburg was, is een van sy senior priesters en protégé, Merwyn Castle, onder die destydse ontugwetgewing gearresteer omdat hy homoseksuele praktyke uitgeleef het. Tutu het hom dissiplinêr verhoor en hom toe na ’n afgeleë Oos-Kaapse dorpie verplaas sodat hy oor sy drange kon besin. Van ondersteuning en genaakbaarheid was daar geen sprake nie.
In 1994, dus feitlik tien jaar later, gedurende die Arch se termyn as aartsbiskop, is eerwaarde Castle benoem en daarna verkies as biskop. Die Arch het dit egter ’n voorwaarde van sy bevestiging gemaak dat hy selibaat sou bly, in ooreenstemming met die kerk se voorskrifte. Weer eens is dit glad nie die optrede van ’n visionêre leier nie, vermoedelik omdat gayregte nie op daardie stadium vir hom ’n prioriteit was nie.
In Rabble-rouser for peace: An authorised biography, verduidelik die Arch dat hy sedertdien tot ander insigte gekom het en besef het dat die wyse waarop hy opgetree het, verkeerd was en nie strook met wat God van hom verwag nie. Hy het toe vergifnis van biskop Castle gaan vra en verkry. Hy het dus sy Damaskus-ervaring gehad lank voordat sy eie kind in ’n gayverhouding betrokke geraak het.
Dit was egter tot nou toe onduidelik of hy ook van mening verander het oor die selibaatheidsaspek. Ek reken egter daar kan met veiligheid aangeneem word dat hy sy dogter se troue ondersteun en dus van mening is dat gay priesters hulle seksualiteit ten volle behoort uit te leef.
In ’n 2014-onderhoud met Christiane Amanpour is Mpho Tutu gevra wat sy oor homoseksualiteit preek. Haar antwoord, veral met die voordeel van terugskouing, was insiggewend: “I say we can’t preach love and hate at the same time. We as human beings have tried, over the ages, to legislate love. We’ve said that people of different races shouldn’t be married ... As we discovered that it was impossible to legislate love between people of different races, it is impossible to legislate that people of the same gender not love each other.”
Natuurlik kan liefde nie gereguleer en deur wette vasgelê word nie. Die Anglikaanse Kerk is egter ’n ruk lank al onder geweldige druk om een of ander besluit te neem oor menslike seksualiteit. Daardie druk is deels omdat die kerk, as deel van die Anglikaanse tradisie, voortdurend die kanale vir dialoog oophou en in effek alle partye gelukkig probeer hou.
Die knoop wat Mpho Tutu verlede week deurgehaak het, kan die gesprek rondom menslike seksualiteit met rasse skrede vorentoe stuur, of dit heeltemal tot stilstand ruk. Net die tyd sal leer watter van die twee dit is.
The post Mpho Tutu se troue: die laaste strooi wat die gaykameel se rug breek? appeared first on LitNet.