So tussen die weerligstrale en donderwolke wat nou en dan rondom die gekibbel oor die voortbestaan van Afrikaans op die kampus van die Universiteit Stellenbosch na die bodem borrel, het die hiernamaals verlede jaar gemaai onder die groot bome in die Afrikaanse wingerd.
André P Brink, wie se ma ’n nooi van Bedford was en in wese Oos-Kaaps is, is eerste tot groter toerekenbaarheid opgekommandeer. In Februarie terwyl hy en sy vrou, Karina Szczurek, op ’n terugvlug van Amsterdam na Kaapstad oor Brazzaville in die Kongo gevlieg het, is Brink meteens deur die groot hand van die Meester weggeraps. Brink, ’n Sestiger (“die skrywersbende wat Afrikaans ‘oopgeskryf’ het”) en deel van ’n heroïese generasie Afrikaanstalige skrywers – soos Breyten Breytenbach, Adam Small, Abraham de Vries en andere – het in sy lewe as skrywer medemenslikheid as literêre en sosiale konstruk bevorder, uitgebou en begrond. Weliswaar tot ergernis van die apartheidsregering.
Nou, terwyl die “Afrikaanse vuiste” nog hoorbaar klap, het nog ’n Sestiger, Chris Barnard – gedagtig aan die woorde van die skrywer Dolf van Niekerk – “die wese van skryfwerk as eensame ambag” verlaat.
Net toe die storms in die Afrikaanse wingerd hier in die vervelige nuustydperk – tussen Krismis en Nuwejaar – waarna ons met “joernalistieke bloed” as komkommertyd verwys, ook ’n stilte wou neem, is nog ’n kolos in dié wingerd ontwortel. Randall Wicomb, wat wydsbeen oor die twee “wit en bruin” hoofstrome van die Afrikaanse taal gestaan het, het gesalaam.
In die voorwoord in die onlangs vrygestelde Kleur: my lewe, my lied, die (outo)biografie wat Wicomb saam met Amos van der Merwe geskryf het, verwys Adam Small na “die tweeslagtigheid van Wicomb se wit-bruin-grootword”.
Ek as ’n geselekteerde resensent van dié (outo)biografie deur Johan Coetzee van die uitgewery Naledi is weliswaar onverhoeds betrap met die skielike – om Breytenbach se woorde hier te betrek – “lepel in die dak te wil steek” van Wicomb.
Hier sit ek wraggies pens en pootjies aan die lees om, soos beloof, die (outo)biografie voor Nuwejaar klaar te lees en die resensie gedurende die eerste week van die nuwe jaar klaar geskryf te hê.
Mensig, die Wicomb-man het darem my kerrie vir my lelik kom deurmekaar roer. Afrikaans en die kwessie van kleur is dan klaar sulke ongemaklike Suid-Afrikaanse konstrukte. Klits sterfte daarby, dan word die smaak nog bitterder.
Hoe nou gemaak? Die ou menslike gewoonte en swakheid is om nie sleg van dooies te praat nie.
Wicomb se gemengde afkoms herinner egter aan die droewige verhaal van Sandra Laing, wie se biologiese ouers albei wit was, wat ingevolge apartheidswetgewing as “Kleurling” geherklassifiseer was omdat sy ’n “donker vel” en “kroes hare” het.
Dit behoort ons almal, en veral dié in die Afrikaanse wingerd – miskien baie pynlik? – op ons kleurrykheid as nasie te wys.
Wicomb en Laing se verhale wys ons daarop dat ons in ons verskeidenheid in die Afrikaanse wingerd een is; familie van mekaar is. En produkte is van, soos wetenskaplikes sê, “a genetic throwback from previous generations”.
Uitenhage
31.12.2015
The post Die Afrikaanse wingerd se kleurrykheid appeared first on LitNet.