Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke |
---|
• Hy sou met haar trou, mits ... |
• Dink twee keer voor jy appèl aanteken |
• Ceres se akkerbome |
• Die "kousale ketting" in strafsake |
• Diefstal van eie goed |
Twee graad een-leerlinge van 'n laerskool te Kraaifontein in die Kaap het in 1980 op 'n oggend voor skool gespeel toe daar 'n lelike ongeluk was waarin een van hulle ernstig beseer is. Dit het later tot 'n skadevergoedingsaksie gelei.
Dit het só gebeur: die een dogter, Elizabeth du Preez, is deur haar ma tot by die klaskamers van die skool gebring. Soos gebruiklik het sy haar tas waarin haar baadjie was, voor haar klaskamer gaan neersit. Sy het saam met haar ma oor 'n grasperk gestap na 'n ander ry klaskamers, maar haar ma het haar teruggestuur om haar baadjie uit die tas te gaan haal. Sy het haar maatjie, Ester Knouwdes, saamgeneem.
Nadat Elizabeth haar baadjie uit die tas gehaal het, het sy en Ester besluit om oor die grasperk na Elizabeth se ma te hardloop. Hulle moes kyk wie eerste daar sou wees. Ester was 'n bietjie vinniger as Elizabeth en toe Elizabeth sien dat sy die wedren gaan verloor, het sy Ester gestamp om te verhoed dat sy wen. Ester het haar balans verloor en gestruikel. En dit is waar die probleem gekom het, want op daardie stadium was 'n werknemer van die skool besig om die gras tussen die twee rye klaskamers te sny. Dit was 'n groot petrolaangedrewe grassnyer met 'n oop waaierband en 'n onbedekte ketting wat die wiele en remme aangedryf het. Toe Ester struikel, het die grassnyer stilgestaan, hoewel sy masjien geloop het. Sy het met haar regterhand na die grassnyer gegryp in 'n poging om haar balans te herwin. Haar regterduim het egter in die waaierband van die grassnyer beland en is afgeruk.
Ester se pa het daarna 'n skadevergoedingseis vir R15 000 teen die Administrateur van die Kaap – die skoolhoof se werkgewer – ingestel. In 1980 was dit nogal ‘n klomp geld: jy kon ‘n luukse Mercedes met so ‘n bedrag koop. In sy dagvaarding het Knouwdes aangevoer dat Ester se beserings te wyte was aan die nalatigheid van die werknemer van die skool, alternatiewelik die opsigter van die skool, verder alternatiewelik die skoolhoof. Knouwdes het aangevoer dat élkeen van hulle in die een of ander opsig nalatig was: Die werknemer het na bewering versuim om behoorlik toesig te hou en om voldoende speelruimte vir die kinders toe te laat. Die opsigter van die skool was nalatig deurdat hy die werknemer toegelaat het om met die grassnyer te werk terwyl die kinders op die gras gespeel het en die hoof, weer, is aanspreeklik gehou omdat hy toegelaat het dat die gras op 'n ongeleë tydstip – dit wil sê die oggend vóór skool – gesny word.
Die skoolhoof se verweer was dat dit nie moontlik was om die gras gedurende skoolure te sny nie aangesien die grassnyer baie lawaai gemaak het. In die middae na skool was daar ook nie geleentheid om die gras te sny nie want dan moes die werknemers die skoolgebou skoonmaak. Die hoof het ook aangevoer dat die ongeluk eintlik veroorsaak is deur die twee kinders, Ester en Elizabeth, wat onverskillig was toe hulle resies gehardloop het terwyl hulle geweet het dat daar in hulle onmiddellike omgewing gras gesny word. Les bes is aangevoer dat dit eintlik Elizabeth was wat die ongeluk veroorsaak het deurdat sy vir Ester in die omgewing van die grassnyer gestamp het sodat sy haar balans verloor het.
Regter Friedman – later regter-president van die Kaap – het die saak aangehoor[1]. In sy uitspraak het hy gewoon die beginsels van deliktuele aanspreeklikheid toegepas: Iemand is aanspreeklik indien hy versuim om op te tree soos 'n redelike mens onder die omstandighede sou opgetree het. Die redelike mens, weer, sou onder die omstandighede die moontlikheid voorsien het dat sy optrede 'n ander persoon skade kan berokken, en hy sou redelike stappe geneem het om sodanige skade te vermy. Iemand wat dus tekort skiet aan die standaard wat die redelike mens stel, is nalatig.
Regter Friedman het daarna opgemerk dat dit welbekend is dat die gedrag van kinders dikwels impulsief, onvoorspelbaar en onverantwoordelik kan wees. Dit is ook bekend dat kinders só verdiep raak in die aktiwiteite waarmee hulle besig is, dat hulle onbewus is van enigiets anders. Hierdie eienskappe van kinders moes aan die hoof van 'n laerskool, wat verantwoordelik is vir die opvoeding van jong kinders en wat daagliks met hulle in aanraking kom, bekend gewees het. Die moontlikheid dat jong kinders met die grassnyer sou bots indien dit op die betrokke tydstip en plek gebruik is, en dat hulle as gevolg daarvan beserings kon opdoen, moes deur die skoolhoof voorsien gewees het. Die skoolhoof se redes vir die besluit om vroeg daardie oggend die gras tussen die twee rye skoolgeboue te sny, was nie vir die hof aanvaarbaar nie. Die voordeel wat dit vir die skoolpersoneel ingehou het om die gras vroegoggend te sny, was nie voldoende rede vir die skep van die risiko dat kinders beseer kon word nie. Die hof het opgemerk dat die koste of ongerief van 'n alternatiewe reëling vir die sny van gras minimaal was in vergelyking met die risiko waaraan die kinders blootgestel is toe daar besluit is om die gras op daardie oggend te sny.
Die Administrateur van die Kaap is gevolglik aanspreeklik gehou om Ester se skade te betaal. Van die R15 000 wat geëis is, het die hof R7 000 toegestaan. Die Administrateur is ook gelas om Ester se pa se hofkoste te betaal.
[1] Knouwdes v Administrateur Kaap 1981(1) SA 544 (KPA)
The post Regsalmanak: Om skoolhoof te wees hou ook maar sy eie risiko’s in appeared first on LitNet.