SINGIN’ IN THE RAIN
Gebaseer op die Metro-Goldwyn-Mayer-film (1952) in ooreenkoms met Warner Bros. Theatre Ventures. Inc. Draaiboek: Betty Comden en Adolph Green; Lirieke: Nacio Herb Brown en Arthur Freed.
Pieter Toerien bied aan: The Stage Entertainment en Chicester Festival Theatre tans in die Kunstekaap, Kaapstad; later: Montecasino en Tsogo Sun.
Met Grant Almirall, Bethany Dickson, Steven van Wyk, Taryn-Lee Hudson, James Borthwick, Mark Richardson, Anne Power, Duane Alexander en talle ander.
Verhoogontwerper: Simon Higlett. Beligtingontwerper: Tim Mitchell. Video-ontwerper: Ian William Galloway. Orkestrasies: Larry Wilcox en Larry Blank. Orkesleier: Louis Zurnamer. Hoofchoreograaf: Andrew Wright. Regisseur: Jonathan Church.
Die ouditorium is vol. Die gehoor reageer byna aanhoudend. Die sangers en dansers bly energiek. Die uitvoering stu sterk voort.
Party van ons is oud genoeg om die rolprentweergawe van 1952 te kon gesien het. Of dalk die plaaslike teaterweergawe in 1988 met Tim Plewman in die Gene Kelly-rol van Don Lockwood. Met verloop van tyd het jy uittreksels op die radio gehoor en op plate, of deesdae is daar die internet. Mý eerste kennismaking was teen 1978 toe digter (wyle) Chris Lombard die Eugène Labiche-komedie Die geldpot met Ikey- en ons ADK-studente opgevoer het. Vir ’n springery oor waterplasse het hy en kollega Christine Liebenberg gesoek na ’n “bekende” liedjie oor reën om te vertaal. Vir ons aansienlik jongeres was Gene Kelly se ingenome gedans in die reën heel onbekend.
Hier is ons nou toeskouers in ’n staalgrys Hollywood-ateljee waar filmbaas RF Simpson (James Borthwick ) teen 1927 nog stilrolprente maak met sy twee voorste hartebrekers: Don Lockwood (Grant Almirall) en Lina Lamont (Taryn-Lee Hudson).
Dan gebeur iets lewensveranderends vir die rolprentmakers. The Jazz Singer met Al Jolson behaal ongekende sukses. Die era van klankrolprente het aangebreek. Dis Cosmo Brown (Steven van Wyk) wat met ’n plan vorendag kom om hulle stilrolprente te laat praat.
Nou kry ons van die heerlikste komiese tonele as arme Lina Lamont se sang en spraak oorgeklank moet word. Haar ongenoeglike skril stem is geensins geskik vir die nuwe medium nie. Ons sien en hoor die gesukkel met die heropnames; ons kry ’n boeiende vertoning van die verfilmde tonele in swart en wit. Die hopeloos gebrekkige sinchronisasie van spraak en beeld veroorsaak heerlike lagbuie. (Hoe praat Taryn-Lee Hudson in die werklike lewe? Dis die werk van ’n komiese aktrise soos min. Moenie dat sy eers kwaad raak nie! )
Daar’s nog ’n verwikkeling waarin ’n mens jou kan verkneukel. Lamont vind uit dat ’n mooi jong aktrisetjie ingespan word in hierdie vernederende oorklanking. Lamont was voorheen so seker dat Don Lockwood hulle rolprentromanse in gewone beddens wil en sal voortsit. Maar nou is lieflike Kathy Selden (Bethany Dickson) in Don se hart. Hy gee uitstekend uitdrukking aan sy onstuitbare verliefdheid. Hy’s verspot en dawerend gelukkig.
Dié geluk geniet ons in die hoogtepunt voor pouse. Die donder laat die verhoog dril. Dis iets kragdadigs soos ’n aardbewing. En wanneer Don begin met “Doo-dloo-doo-doo-doo”, hoor jy nog ’n magtige dondering opstyg. Dis die gehoor wat hom en die trefferlied met ’n stygende dreunsang verwelkom:
I’m singing in the rain.
Just singing in the rain.
What a glorious feelin’
I’m happy again.
I’m laughing at clouds
So dark up above.
The sun’s in my heart
And I’m ready for love.” ...
Spoedig begin die reën op hom afstort in die nagstraat. Sesduisend liters water word gebruik, maar in ’n reklameteks word ons verseker daar word deeglik bespaar. (Heelwat ander wetenswaardighede is in die omvangryke luukseprogram opgeteken.)
Daar’s spoedig waterpoele en Don dans en skop die water dat die gehoor in die eerste drie rye ook natreën (met hulle toestemming). Dis seker gawe gehoordeelname, maar myns insiens duur dit te lank. Die verrassingselement verdwyn gou met al die herhaling. Daar is ’n ander geval waar humor juis met die onverwagse geskep word. In die verfilmingstoneel loop alles kort-kort skeef. Die jong assistentkameraman moet oor en oor instap voor Lamont en merk die toneel deur die bord met die hand te laat klap. Net wanneer jy dink hy gaan dit wéér doen, skud hy sommer net die klapbord.
’n Groot deel van die produksie bestaan uit ’n verskeidenheid groepdanse en uit vaudevillese bewegings so reg uit daardie jare. As jy ’n voorliefde vir bewegings- en danskuns het – kom dan gerus.
Heelwat van die lirieke kan aangehaal word om die aard en inhoud van die blyspel aan te dui:
Cosmo se ratse bewegings bevestig:
Make ’em laugh
Don’t you know everyone wants to laugh?
...
Make ’em roar
Make ’em scream.
Dis wat byvoorbeeld gebeur as hy en Don “les kry” by die dialekversorger (Kenneth Meyer).
Cosmo, Don en Kathy skep ’n stemmingsvolle toneel in die vroegoggend op straat.
Kathy: “Good mornin’!”
Cosmo: ”Good mornin’!”
Don: “We’ve talked the whole night through.” ...
Kathy, Don, Cosmo: “Good mornin’ to you...”
Don: “Now the milkman’s on his way.
It’s too late to say good night.”
Waar’s die nagte in die jare sestig in Kloofstraat, Kaapstad toe ons jonges ook so gesels het? Tot die geklingel van melkbottels opgeklink het.
Bronne:
Inligting oor rolprentvervaardiging deur Albert Maritz
Lirieke: www.stlyrics.com.
Foto's: http://www.pietertoerien.co.za/
The post Singin’ in the rain: Dis ’n bruisende gebeurtenis! appeared first on LitNet.