Beste Angus
Jou opmerkings van 27 Augustus onderaan my brief van 25 Augustus 2015 verwys.
Jy sê in Elsas is Frans en Duits “mooi opgemix”. Dit is nie so nie; Elsassies is ‘n dialek, daar is nie sprake van Standaardduits gemeng met woorde van Standaardfrans, of andersom, nie. Indien daar wel gevalle is waar so iets voorkom praat hulle bloot slordige Duits of slordige Frans, mengeltaal met ander woorde en nie Elsassies nie. Hier is ’n voorbeeld van Goethe se bekende ‘Erlkönig’ in die Elsas-dialek:
Wer ritt eso spoot durch Nacht un Wind?
Dis isch e Babbe mit sim Kind,
Er het sine Knäkes fescht an sich g'schniert,
fur dass er net kejt un as er nit friert.
As verwysing, hier is die oorspronklike Duits:
Wer reitet so spät durch Nacht und Wind?
Es ist der Vater mit seinem Kind;
Er hat den Knaben wohl in dem Arm,
Er faßt ihn sicher, er hält ihn warm.
Soos jy kan sien is daar nie Standaardfrans in nie, dit is nie Frans en Duits gemeng nie maar n dialek (wat wel deur Frans beïnvloed kon gewees het maar nie Duits gemeng met Frans nie). In Elsas praat hulle dus nie Duits en Frans “mooi opgemix” soos jy beweer nie.
In Suid-Afrika praat hulle wel Afrikaans en Engels “mooi opgemix”; dus mengeltaal, NIE‚ ’n dialek nie. As daar wel ’n dialek van Afrikaans genaamd Kaaps in die Kaap is, is dit uit hoofde van sekere grammatikale afwykings, ander uitspraak, sekere sintaktiese variasies en so aan maar nie weens die feit dat Engelse woorde links en regs ingegooi word nie. Wat jy “Kaaps” noem is deurspek met woorde uit Standaardengels. Jou “Kaaps” is bloot ’n mengeltaal. Ek het al voorheen gesê dat ek nie ontken dat daar wel ’n streektaal soos Kaaps is nie (ander aksent, effens gewysigde grammatika soos gebrek aan infinitief na die modale hulpwerkwoord ens) maar Afrikaans gemeng met lukrake Engelse insetsels (sinsnedes, woorde) is mengeltaal.
Voor jy nou weer gaan huil oor “lukraak”; met lukraak bedoel ek die spreker is nie konsekwent nie. Hy sal nou “goal” gebruik en vyf minute later “doelwit” om nou maar ‘n voorbeeld te noem.
Angus, ek verstaan hierdie stelling van jou nog steeds nie so lekker nie; ek haal jou aan:
“Grammatici het Afrikaans bestudeer, en die struktuur daarvan ontdek en dit is aan kinders geleer sodat hulle Afrikaans korrek kan skryf en praat. Dis waarom ek beweer dat AB-Afrikaans sy bestaan te danke het aan skoolonderrig.”
So, volgens jou, het kinders nie reg gepraat voordat Changuion vir hulle ’n grammatika vir Afrikaans geskryf het nie en, na hierdie grammatika nou deur Changuion geskryf is, het die kinders anders as hulle ouers gepraat. Is dit wat jy sê? Verder, grammatici het die “struktuur” bestudeer en toe die grammatika geskryf, so voor dit was daar nie grammatika nie; die kinders (en hulle ouers) het grammatikaloos gepraat. Maak nie sin nie.
Angus, niemand skryf vir ’n aal ’n grammatika nie (behalwe nou kunsmatige tale soos byvoorbeeld Dr Zamenhof met Esperanto ens); hulle stel dit bloot ten boek, die grammatika (afgewater, gesofistikeerd of hoe ook al) is reeds daar. In die lig hiervan maak hierdie volgende stelling van jou dan ook nie sin nie: “Onthou, ’n grammatikus kan enige taal neem, die struktuur daarvan bestudeer, en ’n grammatika vir daardie taal skryf. Die rede daarvoor is dat die dieptestruktuur van alle tale universeel is.”
Ek weet ook nie mooi wat jy met “struktuur” bedoel nie. Het struktuur te make met goed soos of die byvoeglike naamwoord na die selfstandige naamwoord kom soos Frans of voor die snw soos Afrikaans en Engels, of die werkwoord laaste kom soos in Afrikaans of na die onderwerp soos in Engels ens ens? Indien wel, is dit nie maar dan deel van die grammatika nie?
Ek verstaan ook nie mooi hoekom jy aanhoudend sê grammatika is “deskriptief” nie. As jy ’n vreemde taal gaan leer dan koop jy ’n boek wat aan jou voorskryf hoe jy daardie taal moet praat, met ander woorde, soos die boekies ‘Teach Yourself Latin/Spanish/ wat ook al byvoorbeeld, vertel jou hoe die grammatika werk van daardie taal, skryf dus aan jou voor hoe om daardie taal te praat, voorskriftelik dus.
Om terug te kom tot die mengeltaalkwessie. Mengeltaal is wanneer jy twee tale meng, maak nie saak wat die oorsprong van, of wat die invloed van ander tale (wat leenwoorde, afgeleide woorde ens betref) op enige van die tale wat gemeng word is of het nie. As Engels ’n groot Romaanse inspuiting in 1066 gekry het, gaan dit geen Engelsman wat nie Frans ken nie enigsins help as iemand Engels praat en elke tweede of derde woord is ’n Franse woord nie; die Engelsman gaan dit bloot nie verstaan nie. So is dan wat baie mense onder ‘Kaaps’ verstaan nie Kaaps nie; dit is bloot slordige mengeltaal vanweë die baie Engelse woorde daarin.
Groetnis
Jan Rap
The post Antwoord op Angus se kommentaar oor die mengeltaalkwessie appeared first on LitNet.