LAPA skop vandeesmaand af met twee donker romans, maar bring natuurlik ook verligting met lekker Romanzas. Daar is ook sommer baie vir die jongmense!
Fiksie
Die vyfde Aspoester
Jan Vermeulen
Krimi
9780799387544
R265,00
Dié boek gaan jou in die maag skop.
Die vyfde Aspoester begin met ’n donkerkopmeisie wie se liggaam in ’n agteraf hotel in ’n Aspoester-uniform gevind word. Haar linkervoet se tone is afgesny sodat die voet in die glasskoen kon pas. Haar oë is netjies verwyder. Daarna is haar nekaar gekloof sodat sy kon doodbloei.
“Hoe sal jy voel as ek dieselfde met jóú dogter doen? Haar naam is mos Franci?” Dit is wat die elektronies vermomde stem vir doktor Olaf Demeyer, forensiese profileerder, vra terwyl hy die dossierfoto’s van die moordtoneel bestudeer.
“Hoekom sou jy dieselfde met my dogter wou doen?”
’n Koggellaggie klink op. “Dit is wat jy moet uitvind, Doktor. Kom ons kyk of jy werklik so baie vir verontregde vroue omgee soos wat die media beweer. En kom ons kyk of jy my betyds met jou agtste sintuig kan uitoorlê.”
Die lyke van nog drie meisies word binne ’n paar dae gevind. Olaf besef hy sal baie diep in sy eie donker profiel moet delf na die waarheid as hy wil verhoed dat sy enigste dogter die vyfde slagoffer van die Aspoestermoordenaar word.
Herinneringe aan sy traumatiese kinderjare, sy oordrewe skuldgevoelens en sy fobie vir lemme, maak nie sy taak vir hom ligter nie. Intussen voel hy hoe die uurglas baie vinnig vir Franci leeg loop.
Wat maak die boek anders? Die Vyfde Aspoester delf in die lewenslange invloed wat gesinsgeweld, asook geweld in die algemeen, op die psige van ’n mens kan hê. Dit ondersoek ook die invloed wat geweld teen vroue en kinders op die samelewing het. Kwessies soos pedofilie, geestesversteuring en seksverslawing word aangespreek teen die agtergrond van ’n reeks bisarre misdade waarin jong meisies grusaam vermink word voordat hulle sterf.
Oor die skrywer: Jan Vermeulen publiseer sy eerste kortverhaal, Die Sneeuprins van Alaska, toe hy net veertien jaar oud is in 1976 in die destydse jeugtydskrif Patrys.
Sy debuutroman van 1998, Die Laaste Dans, is ’n grensoorlogroman en haal die kortlys van die Eugene Marais-prys.
Intussen rig hy ook stringe pryse in vir sy uitstekende jeugromans.
Blom in die hare
Kristel Loots
Fiksie
9780799387575
R295,00
Blom in die hare is ’n donker kragtoer.
Kaila is g’n Salomo nie, waarom moet sy nou keuses maak soos hy?
Die leser loop die pad met Kaila vanaf haar hoërskooljare tot Kaila se seun in die hoërskool is. Daar is mooi én bitter oomblikke op haar pad. Telkens is daar keuses wat opduik in die roman, maar uiteindelik, is daar een wat haar die seerste maak: Haar seun se meisie is swanger. Wie se kant moet sy kies? Die jong man met die pyn in sy oë, of die ongebore baba? Die ma van die ongebore baba is boonop die dogter van hóm wat sy heimlik gehoop het vir háár ’n bietjie plesier sou kon bied.
Kaila ken van verwerping. Sy is agterlaat deur ’n vreemde vrou en toe aangeneem deur ’n ewe wêreldvreemde vrou wat toe ook sommer eendag verdwyn het. Haar eerste liefde was haar Wiskunde-onnie, wat ook oornag verdwyn. Blom in die hare is ’n donker roman, een wat siniese vrae vra oor die samelewing se borrelgomidees van die liefde en die huwelik.
Tog: Die boek bied hoop. Die laaste bladsy in hierdie boek is ’n hoogtepunt, dit bring alles bymekaar en bring ’n enorme verligting aan die leser.
Loots krap op plekke waar ander nie wil nie. Juis daarom is daardie laaste bladsy so belangrik! Regdeur die boek is daar pragtige oomblikke, maar die liefde kan ook seermaak, dit word nooit ontken nie.
Kaila weet, o sy weet, ’n mens het meer nodig as ’n blom in jou hare om gelukkig te wees. Maar wat doen jy as jou aanneemma jou geleer het dat ’n blom jou enigste verweer teen die wêreld is?
Saam met Kaila leer die leser ook die bittersoet geheim van die blomme ken.
Blom in die hare is Kristel Loots op haar beste. Sy beskryf die leefwêreld van gewone vroue van verskillende ouderdomme en verskillende figure. Loots skryf met ontsettende patos, maar weet ook hoe om deurgaans humor te gebruik. Jy lag, jy lag, dan pink jy ’n traan saam met die karakters.
Hierdie doyenne van Afrikaanse vrouefiksie het al weggestap met ’n ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans, en met baie lesers se goedkeuring.
Kinder- en jeugboeke
Spaghetti tussen jou tone
Jaco Jacobs
Illustreerder: Alex van Houwelingen
Kinderfiksie
Ouderdom 7+
9780799384444
R115,00
Tom en Trevor se nuwe juffrou is amper te goed om waar te wees. Haar naam is juffrou Zaan van Graan. Almal sê sy word NOOIT OOIT kwaad nie.
Tom en Trevor hou van poetse bak. Dit is hulle spesiale talent, daarom begin hulle dadelik planne maak. Hulle wil vir juffrou Zaan van Graan WOEDEND maak!
In hierdie splinternuwe, skaterlagstorie uit die pen van Jaco Jacobs, vind die twee grootste poetsbakkers in die skool uit waarom dit NIE ’n goeie idee is om met juffrou Zaan van Graan skoor te soek nie.
Jy mag dalk net die een wees wat spaghetti tussen jou tone kry!
Hoezit! Die wonderwêreld van my liggaam
Jaco Jacobs & Fanie Viljoen
Niefiksie vir die jongklomp
Ouderdom 7+
9780799384451
R80,00
Waarom is ’n gaap aansteeklik? Hoekom is party mense kleurblind? Wat laat jou hik? Hoeveel keer klop jou hart per dag?
Ontdek die wonderlike wêreld van die menslike liggaam met hierdie boek propvol prettige feite en aktiwiteite! Met 48 bladsye vol fassinerende feite, volkleurfoto’s en hope aktiwiteite, speletjies en kopkrappers waarmee jy die wonderwêreld van die menslike liggaam kan verken, is hierdie boek gewaarborg om jong feitevrate se tone te laat omkrul van lekkerkry!
Vind meer uit oor die verskillende liggaamstelsels wat jou aan die lewe hou, ontdek fassinerende feite oor jou hart, brein en ander organe, en vind uit waarom kieme jou siek kan maak en hoe om hulle te beveg!
Die temas en aktiwiteite maak hierdie reeks boeke die perfekte hulpbron vir skoolprojekte en sal sorg vir ure se prettige vermaak by die huis.
Daar is veertien ander titels in hierdie reeks. Sedert Hoezit! se bestaan in boekvorm, is daar al meer as 56 000 kopieë verkoop.
Hoezit! Die wonderwêreld van perde en ponies
Jaco Jacobs & Fanie Viljoen
Niefiksie vir die jongklomp
Ouderdom 7+
9780799383652
R80,00
Wat is die verskil tussen ’n perd en ’n ponie? Watter soort perd kan meer as ’n klein motor weeg? Waarvoor word verskillende soorte perde regoor die wêreld gebruik? Hoe moet jy jou perd of ponie versorg? Ontdek die wonderlike wêreld van perde en ponies met hierdie boek propvol prettige feite en aktiwiteite! Met 48 bladsye vol fassinerende feite, volkleurfoto’s en hope aktiwiteite, speletjies en kopkrappers waarmee jy die wonderwêreld van perde en ponies kan verken, is hierdie boek gewaarborg om jong feitevrate se tone te laat omkrul van lekkerkry! Maak van naderby kennis met van die indrukwekkendste perderasse, vind uit wat alles by ’n ryskool gebeur, ontmoet perde se verlangse familie in die diereryk, en ontdek ’n paar asemrowende perderekords!
My Eerste Woordeboek: Afrikaans, Engels, Noord-Sotho, Zoeloe
Maja Sereda
Kinderwoordeboek
Ouderdom 5+
9780799384376
R155,00
Dit is ’n vrolike, prettige eerste woordeboek vol kleurryke illustrasies. Kinders sal hope pret hê en basiese woordeskat in vier van Suid-Afrika se amptelike tale aanleer terwyl hulle hierdie boek speel-speel verken. Maklike woord-prent-assosiasies word in Afrikaans, Engels, Noord-Sotho en Zoeloe volgens verskillende temas gerangskik. Van die temas sluit in: klere, kos, tuin, teenoorgesteldes, voëls, diere, skool, my liggaam en my familie.
Dit is ’n moet-hê-boek vir elke gesin se boekrak!
Hierdie teks volg op Maja se eerste samestelling, My eerste woordeboek: Afrikaans, Engels, Xhosa, Zoeloe (9780799345018). Dié teks is onlangs herdruk en is ook weer in die handel beskikbaar.
Maja Sereda is oorspronklik van Pole, maar het in 1989 na Suid-Afrika verhuis. Haar liefde vir die Suid-Afrikaanse tale het gemaak dat sy die twee woordeboeke saamgestel het vir japsnoete.
Maja illustreer sedert 2007 kinderboeke en het reeds verskeie toekennings vir haar illustrasies ontvang. Haar werk is ook al in Frankryk uitgegee.
Maja het ’n B.A.-graad in Inligtingsontwerp. Sy woon deesdae in Seattle, VSA, saam met haar gesin, maar behou kontak met Suid-Afrika.
Maja hou daarvan om tyd in die natuur deur te bring en staproetes te verken. Haar ander passies is fotografie, heerlike kos, die aanleer van nuwe tale, poësie en keramiek.
Buksie en Bella
Amy Hest
Illustreerder: Polly Dunbar
Prenteboek vir peuters
Ouderdom 0+
9780799384437
R135,00
’n Baie besige boek, met ’n snoesige, sussende einde! Buksie en Bella is heeldag besig, besig, besig! Hulle jaag mekaar, speel wegkruipertjie en hardloop rond en bont!
In die klein rooi huisie duik Buksie die hondjie onder die tafel in. Hy wag en kyk en wag nog ’n bietjie terwyl sy hart boems, boems, boems klop. En dan... WHAAA! Uit die bloute verskyn die baba. Sy jil en gil en druk haar neus teen syne! Tyd om ’n nuwe wegkruipplek te kry... Gou, Buksie! Gou, Buksie! Gou, Buksie... GOU!
Hierdie pragtig geïllustreerde prenteboek is ’n ritmiese viering van die prettige, liefdevolle band tussen ’n baba en ’n hondjie.
Met ’n snoesige, slaperige einde is hierdie die perfekte voorleesboek vir slaaptyd, en dit is ’n fantastiese geskenk vir jong lesers.
Oor die skrywer: Amy Hest het in die vroeë 1970’s as ’n kinderbibliotekaris in die New Yorkse openbare biblioteekstelsel gewerk, en daarna vir jare in die kinderboekuitgewersbedryf.
Oor die Illustreerder: Polly Dunbar het illustrasie aan die Brighton Art School gestudeer en woon en werk deesdae in Londen.
Baba se eerste, ’n reeks van vier boekies
Harde bababoeke van karton
Ouderdom 0+
978 0 7993 8399 7 (Baba se eerste kleure)
978 0 7993 8400 0 (Baba se eerste woorde)
978 0 7993 8401 7 (Baba se eerste plaasdiere)
978 0 7993 8402 4 (Baba se eerste wilde diere)
R95,00 elk
’n Baba wat met boeke speel, daaraan kou en hulle rondgooi, is ’n mini-wetenskaplike wat die boekheid van boeke ontdek. So word lesers gevorm.
Hierdie reeks helder, stewige kartonboekies is die perfekte wegspringplek om jou baba aan die wonderwêreld van boeke bekend te stel. Daar is vier titels in die reeks wat babas aan verskillende eerste sleutelkonsepte bekend stel: Kleure, Wilde diere, Plaasdiere en Woorde.
Baba se eerste kleure (9780799383997): Leer meer oor kleure met hierdie pragtige kartonboekie vol helder kleurfoto’s van alledaagse dinge. Dié interaktiewe boek bevat ook ’n spieëltjie waarin babas hulself kan sien.
Baba se eerste wilde diere (9780799384024): Stel jou baba aan die vriendelike diere in hierdie prettige kartonboek bekend. Van leeuwelpies tot olifante en sjimpansees, is daar foto’s van verskillende diere op elke bladsy, en eenvoudige vrae om te lees en te deel.
Baba se eerste plaasdiere (9780799384017): ’n Eerste kennismaking met plaasdiere, op elke bladsy wag verskillende babadiere waarmee jy kan kennis maak. Kyk na die helderkleurige foto’s en leer die woorde in hierdie fantastiese diereboek waarop kleintjies versot sal wees.
Baba se eerste woorde (9780799384000): Van speelgoed tot kos tot diere – stel jou baba bekend aan ’n versameling eerste sleutelwoorde met hierdie prettige kartonboek. Elke nuwe woord wat geleer word, word toegelig met ’n groot, kleurvolle foto en ’n eenvoudige woordetiket, terwyl klein handjies graag die gladde, gevormde bladsyrande sal verken.
2 in 1: Gevaarlike lopies & Duskant die doodlyn
Jaco Jacobs
Kinderfiksie
Ouderdom 9+
9780799384482
R135,00
Twee van Jaco se gunstelinge is terug, en dit is fantastiese nuus vir jong sportliefhebbers! Vir die eerste keer verskyn twee van Jaco Jacobs se supergewilde sportstories saam in een omnibus, dus meer bekostigbaar vir die leser!
In Gevaarlike lopies kan Henk nie wag vir die kriekettoer om te begin nie. Wat kan nou lekkerder wees as om saam met jou vriende die land plat te toer en die een krieketwedstryd ná die ander te speel! Maar van die begin af is dit duidelik dat hierdie nie ’n gewone toer gaan wees nie. Wie probeer by die span se bussie inbreek, en wat soek hulle? Is daar regtig iemand wat snags in die koshuisgange rondsluip, of is dit Henk se verbeelding? Kort voor lank lyk dit of die kriekettoer in ’n nagmerrie gaan ontaard...
Werner en sy vriende in Duskant die doodlyn lééf vir rugby. Hierdie jaar is hulle vasbeslote om hul aartsvyande ’n ding of twee op die rugbyveld te wys. Maar iets is verkeerd. Wie is die geheimsinnige man wat snags by die skool rondsluip? En waarom gebeur daar skielik allerhande vreemde dinge met Werner-hulle se rugbyafrigter? Dit begin al hoe meer lyk of iemand nie volgens die reëls speel nie en Werner en die res van sy span beland in groot gevaar...
Z is vir Zackie 9: Die dieretuin
Jaco Jacobs
Illustreerder: Alex van Houwelingen
9780799384253
R80,00
7+
Vandag is ’n spesiale dag. Zackie se klas gaan dieretuin toe! Hulle kan nie wag om die leeus, olifante, apies en ander diere te sien nie. Maar Anton gaan ook saam. Anton is ’n boelie. Hy hou vreeslik baie van spog. En hy gaan sy bes probeer om almal se dag te bederf.
Z is vir Zackie 10: Die vreemde fossiel
Jaco Jacobs
Illustreerder: Alex van Houwelingen
9780799384260
R80,00
7+
Zackie en Vincent is op soek na fossiele! Dalk is daar ’n T-rex in die tuin begrawe? Of ’n trikeratops in die parkie? Of ’n stegosourus op die sypaadjie! Almal dink hulle is laf. Daar is tog nie fossiele in Granaatstraat nie. Maar dan ontdek hulle iets fantasties!
Reënboogrant Maats: Omnibus 1
Maritha Snyman
9780799380811
R205,00
9+
Een van die gewildste Afrikaanse reekse is nou vir die eerste keer in ’n omnibus beskikbaar! Kom deel in die lekkerste tye van Shani en haar sussie Sunette se lewens – tydens die Reënboogrant-jare! In die Reënboogrant Maats-boeke is Shani-hulle op laerskool, en hulle beleef allerlei opwindende avonture – van ’n dief wat straatnommers steel, tot ’n droomrol in ’n balletkonsert.
Hierdie omnibus bevat die eerste drie titels uit dié gewilde reeks: Skelmstreke en kattekwaad, Alleen tuis en Die balletkonsert.
Die Reënboogrant-boeke, waarvan die eerste in 1995 verskyn het, was uiter gewild. Reënboogrant is destyds as ’n “boeksepie” beskryf. LAPA is trots om dit weer aan jong lesers beskikbaar te stel.
Reënboogrant tieners Omnibus 1
Louise van Niekerk
Tienerfiksie
Ouderdom 13+
9780799383959
R205,00
Een van die gewildste Afrikaanse reekse vir tieners is nou vir die eerste keer in ’n omnibus beskikbaar! Kom deel in die lekkerste tye van Shani en haar suster Sunette se lewe – die Reënboogrant-jare! In die Reënboogrant Tieners-boeke is Shani-hulle op hoërskool, en daar is hope opwinding, pret en liefdesteleurstellings, met partytjies, kêrels en ander uitdagings van grootword.
Hierdie omnibus bevat die eerste drie titels uit dié gewilde reeks:
- Partytjies en penaries
- Hunks en hamburgers
- Raves en rugstekers
Oor die reeks: Sedert die eerste Reënboogrant-boeke in 1995 verskyn het, het dié reeks deel geword van meer as een geslag Afrikaanse kinders se leesavonture. Reënboogrant is destyds as ’n soort “boeksepie” beskryf en bestaan uit twee afsonderlike reekse. Reënboogrant Maats volg Shani, Sunette en hul gesin se avonture terwyl die meisies op laerskool is, terwyl die meisies in die Reënboogrant Tieners-reeks op hoërskool is en die uitdagings en opwinding van dié tydperk beleef.
Oor die skrywer: Met topverkopertitels soos die Reënboogrant-reeks en die Monstermaan-reeks agter haar naam, is Louise van Niekerk een van die gewildste skrywers van kinder- en jeugverhale in Afrikaans. Sy skryf ook vir radio, tydskrifte en die televisie, en as televisievervaardiger het sy baanbrekerswerk verrig met die program Dtv (Deaf TV) wat in 1996 vir SABC3 begin is om ’n eie televisieprogram vir dowes te vervaardig. Hierbenewens het sy haar eie dramaskool waar sy reeds verskeie bekende akteurs en aktrises opgelei het. Sy is getroud en het twee seuns.
Kattekwaad
Susan Ongansie
lllustreerder: Linki Lutz
9780799383904
R105,00
3+
Susan Ongansie is ’n splinternuwe skrywer!
Mietsie en haar boetie, Maans, is twee katjies. Hulle hou daarvan om met hulle bal op die sagte gras te speel. Maar toe Mietsie aan die slaap raak, besluit Maans om oor die muur te spring en iemand te gaan soek wat met hom wil speel.
Mietsie word wakker en ontdek haar boetie is skoonveld! Toe sy hom gaan soek, kry sy vir Mors en Jors, die twee grys straatkatte wat hou van stry en baklei! Sal die twee straatkatte haar kan help om haar boetie te kry – en uit die pad van die gevaarlike straatbrakke te bly?
Susan Ongansie is ’n grondslagfase-onderwyseres wat op Beaufort-Wes gebore en getoë is. “Die aard van my werk bied ’n lekker geleentheid vir skryf, aangesien ek graag stories, liedjies en gediggies skryf wat vir my leerders relevant is. Ek geniet die genot op hul gesiggies.”
Linki Lutz het aan die Universiteit van Stellenbosch gegradueer met ’n cum laude vir haar prakties in Skone Kunste. Piet Grobler is haar peetpa, so sy wou van ’n vroeë ouderdom reeds ’n loopbaan as illustreerder volg.
Kom ons praat oor waar babas vandaan kom
Robie H. Harris
Illustreerder: Michael Emberley
9780799384307
R185,00
7+
Hierdie deernisvolle boek fokus op belangrike dinge waaroor kinders wonder: babas, voortplanting, liggame, gene, grootword, liefde, gesondheid en nog baie meer. Die inligting word op ’n eenvoudige manier oorgedra met humoristiese kommentaar van ’n baie nuuskierige voëltjie en ’n teësinnig by wat sou verkies om eerder nie oor dié dinge te praat nie! Vrolike volkleurstrokiesprentillustrasies help om die teks nog meer toeganklik te maak.
Seksvoorligtingboeke vir jonger kinders is in groot aanvraag en hierdie titel is al vir 15 jaar in Amerika en Engeland ’n topverkoper.
Robie H. Harris is ’n bekroonde skrywer wat veral bekend is as skrywer van kinderboeke oor seksualiteit. Sy het jare se ondervinding as onderwyser en as die direkteur van ’n náskoolprogram vir jong kinders. Sy woon saam met haar man in Boston, VSA. Michael Emberley skryf en illustreer al meer as dertig jaar lank kinderboeke. Hy woon in Ierland.
Aksieheld Austin: Nag van grille
Skrywer en illustreerder: Fanie Viljoen
9780799380804
R125,00
9+
Ligte, kamera, aksie!
Ewald is nog op laerskool, maar sy naam is reeds op almal se lippe. G’n wonder nie – hy is immers die ster van die gewilde Aksieheld Austin-rolprente. In die flieks is hy ’n dapper held met vuiste soos kanonkoeëls wat skurke laat les opsê!
Die tweede fliek, Aksieheld Austin: Nag van grille, is pas voltooi, en Ewald kan nie wag vir die bekendstelling nie. Dit gaan by ’n ou fliekteater in die stad gehou word.
Die middag voor die vertoning gaan maak Ewald en sy beste vriend, Carlo, egter ’n draai by die grillerige ou fliekmuseum wat deel van die teater is. Kort voor lank is hulle vasgekeer in die museum – saam met ’n geheimsinnige figuur wat in die donker rondsluip …
As hulle wil ontsnap, sal Ewald hierdie keer net so dapper soos ’n REGTE aksieheld moet wees!
Dié asemrowende reeks avontuurverhale uit die pen van Fanie Viljoen is perfek vir jong lesers wat hou van stories propvol aksie en adrenalien!
Leer my lees-reeks: vlak 4
Jose and Reinette Palmer
Illustreerder: Zinelda McDonald
Kinderfiksie
Ouderdom 5+
978079938403 1 (Tippie se nuwe maat)
978079938404 8 (Tippie by die dieretuin)
978079938405 5 (Tippie gaan leeupark toe)
978079938406 2 (Tippie gaan lughawe toe)
978079938407 9 (Tippie maak pizza)
978079938408 6 (Tippie se sywurms)
978079938409 3 (Tippie soek insekte)
978079938410 9 (Tippie vang vis)
978079938411 6 (Tippie verjaar)
978079938412 3 (Tippie gaan ysskaats)
R35,00 elk
Die Tippie-reeks is een van LAPA se enorme verkopers. Ons is baie trots om die vierde vlak beskikbaar te stel.
Elke boek in elke reeks bevat:
- ’n kort, eenvoudige en prettige storie wat gemik is op die ontwikkeling van leesvaardighede vir beginners;
- helder, kindervriendelike illustrasies;
- ’n woordeskatlys, ’n lys met die enkelvoud, meervoud en verkleinwoord, begripsvrae en ’n bladsy met “voltooi die sinne” gebaseer op die leesstuk. Dit stel die ouer, terapeut en onderwyser in staat om begrip en woordeskat speel-speel by die kind vas te lê.
Die reeks is uitstekende waarde vir geld – dit is een van die mees bekostigbare Afrikaanse beginnerleesreekse wat tans op die mark is!
Oor die skrywers: Met jare se ervaring in buitengewone onderwys waar kinders met lees- en spelprobleme sukkel om te leer, wil Jose en Reinette Palmer met die Leer my lees-reeks ’n liefde vir lees by kinders kweek. Hierdie leesreeks met sy prettige illustrasies is saamgestel sodat dit nie net pret sal wees om te lees nie, maar ook woordeskat en leesbegrip bevorder.
Oor die Illustreerder: Zinelda McDonald woon in Pretoria. Sy het ’n honneursgraad in grafiese ontwerp aan die Universiteit van Noordwes se Potchefstroomkampus verwerf.
Slym se stories (4 in 1)
Fanie Viljoen (Skrywer en Illustreerder)
Kinderfiksie
Ouderdom 7+
9780799384222
R155,00
Slym se stories nou in een slymerige omnibus!
Op ’n dag word ’n wurm deur ’n voël gevang. Maar die wurm se naam is nie verniet Slym nie! Hy skrik so groot dat hy ’n bol vrotterige slym in die voël se bek skiet. Die voël skrik op sy beurt weer so groot dat hy vir Slym laat val… by ’n skool vir paddas.
Só begin ’n hele reeks avonture by die paddaskool, waar Slym vir juffrou Plat Anna en die ander onderwysers leer ken, hope gawe paddamaats soos Paddavoet en Brulbekkie maak, en moet ligloop vir Giftand die slang en die skoolboelie, Padarotti.
Fanie Viljoen se Slym-reeks is nie verniet so gewild nie. Sedert die verskyning van die eerste Slym-boek in 2004 het dié oulike wurm en sy aanhangers al hope avonture saam beleef. Slym het die eerste wurm geword wat in ’n paddakonsert gesing het, hy het ’n draai by die gogga-sirkus gemaak, die paddakoning ontmoet en selfs op ’n towertapyt gery! Boonop het hy sommer twee ATKV-Woordveertjies ook ingepalm!
Vir die eerste keer verskyn al vier Slym-boeke saam in een pragtige volkleur-omnibus, met illustrasies deur die skrywer, Fanie Viljoen. Al vier titels is hier:
- Slym: Die wêreld se eerste wurm in ’n paddakonsert
- Slym en die beker van geluk
- Slym en die gogga-sirkus
- Slym en die towertapyt
Van die enkeltitels in hierdie gewilde reeks het al meer as 24 000 kopieë verkoop.
Mieke en die meerminne (1): Geheime onder die see
Miranda Jones
Kinderfiksie
Ouderdom 9+
9780799383966
R125,00
Mieke is mal oor meerminne. Haar ma en haar ouma dink hulle bestaan net in sprokies, maar Mieke is oortuig hulle bestaan regtig.
Een oggend toe Mieke saam met haar oupa op sy vissersboot uitgaan, ontdek sy iets wat haar hele lewe verander: ’n Regte, egte meermin wat in haar oupa se visnet verstrengel is! Mieke help die meermin, en kort voor lank kry sy die geleentheid om by haar in ’n betowerende koninkryk onder die see te gaan kuier. Daar vind sy allerhande fantastiese geheime oor die meermense uit.
Mieke en die meerminne (2): Die koningin se konsert
Miranda Jones
Kinderfiksie
Ouderdom 9+
9780799383973
R125,00
Mieke se goeie hart maak dat sy kon vriende word met Luna, ’n regte-egte meermin! Danksy die meerminprinses Luna en haar betowerde skulpkammetjie, kan Mieke deesdae by die meerminne in hul ongelooflike onderwaterwêreld gaan kuier!
Mieke is baie opgewonde toe sy uitvind Luna se ma verjaar. Al die meermense gaan ’n spesiale verjaardagbal vir die meermin-koningin hou – en Mieke is ook uitgenooi! Maar dan vind Mieke en Luna uit al die musiekinstrumente het verdwyn. Hoe op aarde gaan hulle betyds die orkes gereed kry vir koningin Morwenna se spesiale konsert?
Mieke en die meerminne (3): Avonture in die dieptes
Miranda Jones
Kinderfiksie
Ouderdom 9+
9780799383980
R125,00
Mieke moet haar maatjie help met diep sake. Prinses Luna is baie opgewonde toe sy uit die bloute ’n brief van prins Kadan kry. Hy is die meerminprins van die Koraalkoninkryk – en op haar ma se verjaardagbal het hulle heerlik gedans. Daar is net een probleem: Luna se pa en Kadan se pa is aartsvyande!
Toe Luna besluit om vir Kadan in die Koraalkoninkryk te gaan kuier, wéét Mieke daar is moeilikheid op pad. Kort voor lank trotseer hulle die donker dieptes van die oseaan waar allerlei skrikwekkende avonture op hulle wag – ’n storm, ’n donker kelpwoud, seeslange, skeepswrakke … en twee baie kwaai meerminkonings!
Niefiksie
50 Prutpotgeregte
9780799382884
R175,00
’n Prutpot is een van die handigste, mees ekonomiese en gesondste maniere om smulgeregte vir die gesin voor te berei terwyl jy jou aandag en tyd elders spandeer. In Engels staan dit bekend as ’n slow cooker of ’n crock pot. ’n Prutpot is veilig en kan rustig prut terwyl jy werk, inkopies doen of die gesin vervoer.
Hierdie pragtige, volkleurboek, 50 Prutpotgeregte, wys ons vir jou hoe om met behulp van jou prutpot en minimale voorbereiding heerlike bredies, sop, sappige braaistukke, selfs poeding, gaar te maak terwyl jy aandag aan belangriker dinge skenk.
Moenie bodder met Google en uitlandse bestanddele waarvan niemand nog gehoor het nie. Die resepte in ons boek maak gebruik van bestanddele wat moontlik reeds in jou koskas is, of maklik by jou plaaslike supermark bekombaar is.
In 50 Prutpotgeregte wys ons jou hoe maklik dit is vir die prutpot heerlike kos voor te berei terwyl jy aangaan met jou lewe. Resepte sluit in: ’n Hoender- en rooiwynstowedis met kruiekluitjies, Romerige Sweedse frikkadelle, Gevlokte beesvleis, Koolrolletjies, Murgpampoentjiesop, Hongaarse ghoelasj, Italiaanse varkboud, ’n geurige Beesvleiskerrie, Sjokoladekoek, en ’n Sjokolade- en grondboontjiebotterpoeding.
Ons gee ook wenke hoe om jou prutpot optimaal te gebruik en te versorg.
Romanza
Jy is onvervangbaar
Dina Botha
SuperRomanza
9780799387605
R225,00
Magriet Aggenbach kom lek haar wonde in die Kaap nadat haar vriend haar vir ’n ander vrou gelos het. Haar tannie Jacky se restaurant maak nie genoegsaam wins nie en Magriet moet kom help omdat sy pas haar graad in bemarking verwerf het. Gou raak sy deel van die Kaapse elite se vriendekring, en moet sy bontstaan om Xander Prinsloo se ongevraagde aandag vry te spring.
Sy wil nie weer seerkry nie, en doen haarself voor as ’n kelnerin in haar tannie se restaurant sodat sy kan toets of haar nuwe rykmansvriende haar aanvaar vir wie en wat sy is. Syself is ’n rykmanskind en is die dogter van Karel Aggenbach, ’n magnaat in Johannesburg. Sodra haar “vakansie” by haar tannie verby is, gaan sy in haar pa se besigheid werk.
Dis egter Xander se beste vriend Jean-Michael le Roux wat Magriet se aandag trek, alhoewel hy baie arrogant en inmengerig is. En hy kom ruggraatloos voor want sy ouers en sy vriendin Leandrè se ouers wil hom en haar in ’n huwelik indwing om sodoende die twee familieryke te verenig.
Gaan Jean-Michael die toets deurstaan om te bewys dat Magriet onvervangbaar vir hom is? En dat geld en status nie alles is nie?
Oor die skrywer: Dina Botha is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekende skrywers se boeke verslind, en gehoop om eendag self ’n skrywer te word. Ná skool het sy egter haar droom om joernalis te word gebêre en ’n IT-kwalifikasie behaal. Twintig jaar later het haar passie vir skryf weer opgevlam en sy het dié keer die moed gehad om haar droom doelgerig na te jaag. Sy het in 2014 haar werk bedank en skryf nou voltyds. Dina het sedert 2006 al 54 romanses, twee SuperRomanzas en vier Kaapse romanses geskryf. In 2013 is haar Romanza Boks vol soentjies, met ’n ATKV-Woordveertjie vir Romanses bekroon. Haar boeke verskyn gereeld op Nielsen se Top100-lyste.
Altyd en altyd
Thea Holland
9780799387872
R225,00
Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Thea Holland se vorige Romanzas, Doodgewone wonderwerk, ’n Onverstandige vrou en Bruid in blou.
Doodgewone wonderwerk: Elizabeth se erfporsie is daarmee heen en sy moet vir die temperamentele Simon, ’n skrywer, huishou om te oorleef. Dit sukkel maar met die kosmakery. Dalk is ’n huishoudster nie wat hy nodig het nie ...
’n Onverstandige vrou: Toe Jens Nielsen Laetitia destyds nie wou hê nie, het sy die pad gevat en hulle kind alleen kom grootmaak. Nou gaan sy terug Denemarke toe om Dot se pa vir haar te gee. Maar opnuut tuimel haar kaartehuis ineen.
Bruid in blou: Sondagoggend gesels Jess met haar vriendinne oor haar wittebrood wat oor twee weke begin. Haar droomtroue is tot in die fynste besonderhede beplan. Maandagmiddag trou sy in ’n blou rok en met die verkeerde man voor die landdros.
Thea Holland woon by die see en skryf stories oor die liefde. Haar belangstellings strek so wyd soos die hemelruim: Sy hou graag wolke dop, maak bont skilderye vir haar eie plesier en bewonder haar kleindogters wat oë soos hul ma het. Sy vergaap haar aan veldblomme, lag saam met haar spitsvondige seun en stap ver op stofstrate en sandstrande. Sy swem ook graag in ’n vlak baaitjie met stil water waarvan min mense weet, begeer haar buurman se stoep en pas soms die huishond op. Die lewe is vir haar ’n geskenk waarvoor ’n mens nooit dankbaar genoeg kan wees nie. Sy skryf romanses sedert 2008.
Rose vir Roselle
Rosita Oberholster
9780799386950
R225,00
’n Ontroue verloofde en haglike finansies bring Roselle terug op die familieplaas wat hare sal word wanneer haar twee tantes die dag nie meer daar is nie.
Terug hier op La Roseraie lyk dit nie asof die spogroosplaas so winsgewend is as wat haar tantes haar laat verstaan het nie. Dalk was dit, maar nou kort die plaas ’n ferm hand. Droogtes het hul tol geëis en mense haal nie meer so baie geld vir hierdie eksotiese blomme uit nie.
Om alles te kroon, het haar tantes ’n swerwer wat vir kos en verblyf werk, ingeneem. Roselle vertrou hom nie. Wie is hy en waar kom hy vandaan? Wat soek hy hier? Haar tantes weet nie en hy weier om haar te sê toe sy hom direk vra.
Tog, hy help en om vorentoe te boer, sal sy die swerwer se hulp nodig hê.
Haar eksverloofde se meesterlike vermoë om te manipuleer het egter steeds gevolge en Rosalie se trots maak dat sy weier om die swerwer se raad te vra.
Rose vir Roselle is ’n meer verwikkelde, langer romanse wat gekenmerk word deur sterk verhoudings en karakters. Die skrywer het probeer om nie net te fokus op die ontwikkeling van die broodnodige romanse tussen die hoofkarakters nie, sy het ook ’n paar verrassingselemente ingewerk om lesers se lekker te laat vermenigvuldig.
Dit is Rosita Oberholster se eerste SuperRomanza. Sy het die ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses in 2017 met Troue in ’n towerbos gewen.
Rose vir Roselle is geskryf ter nagedagtenis aan die skrywer se babasussie wat net sewe weke oud geword het – haar naam was Roselle. Die baba se graf dra die inskripsie Laat die kindertjies na My toe kom... en word ook in die boek genoem.
Liefde op Petit Paris
Frenette van Wyk
9780799387131
R225,00
In die ou Kaap de Goede Hoop stap ’n jongmeisie aan wal ná die vervolging van Protestante in Frankryk. Omdat Royale op die seereis haar ouers verloor het, is sy nou ’n weeskind in ’n land wat sy nog nooit gesien het nie. Die goewerneur wys Aragon as haar voog aan, ook ’n Hugenoot wat vroeër aan die Kaap ’n nuwe begin kom maak het.
Aragon is gekant teen Royale se liefde vir balletdans – dié ydele vermaak wat aan Louis die Veertiende se hof so modieus is – en wil haar nie toelaat om kontak met jongmans te hê nie. Dit is egter nie al wat Royale hinder nie, want sy weet nie waarheen met haar romantiese gevoelens vir haar voog nie, en die swaard van ’n huwelik met sy neef hang oor haar kop.
Boonop is dit ook nie net Royale wat besef wat ’n onweerstaanbaar aantreklike man Aragon is nie! Die ander vrou, Amalia, het boonop ’n dodelike wapen: Die plaas Petit Paris, waarop Aragon boer, behoort aan haar...
Sonde met die buurman
Rosita Oberholster
9780799387421
R90,00
Blake noem haar ’n melodramatiese, eksentrieke, skeermesbek-oujongnooi. Kate dink weer hy is niks anders as ’n bedorwe yuppie nie. Omstandighede dwing hulle onder dieselfde dak in en kort voor lank is dit beter dat hulle liewer trou.
Die meisie van die rots
Nerine le Roux
9780799387452
R90,00
Nicolaas weet nie die meisie hou van swem en is nie besig om na haar waterdood te spring nie. Hy red haar met moeite uit die water, maar in stede van ’n dankie, kry hy ’n afjak. So maklik gaan hy hom egter nie laat stuit nie.
Liefde tussen die duine
Ilze Beukes
9780799387483
R90,00
Salome veg al tien jaar teen haar begeerte om huis toe te gaan, maar nou dwing haar pa se beroerte haar terug. Tien jaar is ’n lank tyd, dink Salome. Lank genoeg om die aantreklike Morné te vergeet − maar die hart volg nie tyd nie.
Liefde in die nanag
Alta Steyn
9780799387513
R90,00
Werner Calitz is seker hy is die kluts kwyt om ’n skynhuwelik met Belinda aan te gaan. ’n Trou-ooreenkoms sal hul albei se probleme oplos, maar dan word liefde ook genooi – en liefde is moeilikheid van ’n ander kleur.
The post Nuut by LAPA: Maart 2018 appeared first on LitNet.