Die uitdrukking “the iron fist in the velvet glove” pas Paola Gomez soos ’n … wel, soos ’n handskoen. Hierdie Colombiaanse prokureur is klein en praat sag, maar beïndruk dadelik as die tipe persoon wat nie laat los wanneer sy op iets besluit het nie. Sy is onverskrokke, en hoe meer ek met haar gepraat het, hoe dieper onder die indruk het ek gekom van ’n vrou wat nog sommer diep spore gaan trap in enige samelewing waar sy haar bevind.
Sy woon tans in Toronto, waar sy deel vorm van PEN Kanada se uitgeweke skrywersprogram. Hierdie program vestig skrywers wat hul eie lande moes verlaat in Toronto, waar hulle in die plaaslike skrywersgemeenskap inkorporeer word.
Ek het met haar gesels oor haar aktivisme en haar kreatiewe lewe.
Jy’s ’n prokureur. Waar het jy studeer, en wat is jou kwalifikasies?
Ek is ’n menseregteprokureur en het my graad in Colombia gekry. Ek het ook studies gedoen oor Internasionale Humanitêre Reg en Internasionale Vlugtelingebeskerming met die Vredesuniversiteit in Costa Rica. Ek het verder ook vlugtelinge en ontworteling bestudeer aan die Universiteit van York in Toronto. Omdat ek met weerlose gemeenskappe werk, het ek ook seker gemaak dat ek professionele opleiding kry in anti-onderdrukking en trauma.
Ek stel verder ook belang in kreatiewe entrepeneurskap, en is lid van PEN Kanada se uitgeweke skrywersprojek.
Dis indrukwekkend. Ek verstaan dat jy ook ’n aantal toekennings vir jou aktivisme ontvang het?
Ja, in 2008 het ek die Toronto Vital People-toekenning ontvang vir ’n gemeenskapsinisiatief om Toronto te verbeter.
In 2009 het ek die Amina Malko-toekenning ontvang van die Kanadese Sentrum vir Slagoffers van Marteling vir my werk met vlugtelingvroue.
Jy het in Colombia ’n veiligheidshuis vir vroue en kinders oopgemaak. Nou, in Toronto, is jy nog steeds besig met aktivisme wat fokus op vroue en kinders. Vertel bietjie meer daarvan?
In 1999 was daar ’n aardbewing wat die stad waar ek woonagtig was, vernietig het. Ek het die veiligheidshuis begin om die straatkinders te help. Die huis het ondersteuning gebied vir ongeveer 200 kinders. Dit was ook ’n veilige hawe vir kinders wat om ’n verskeidenheid redes op straat beland het. Deur die “beskermingsentrum”, soos wat dit bekend gestaan het, was ons ook in staat om ’n aantal bewusmakingsveldtogte te loods om die broodnodige gesprek rondom geweld teen vroue, ’n onderwerp wat toe verbode was, te begin.
Kort nadat ek in Toronto aangekom het, het ek begin werk by ’n gemeenskapsentrum. Ek was nog besig om deur my eie kwessies, beide regs- en emosioneel as gevolg van die manier waarop ek Colombia moes verlaat, te werk. Omdat ek toe goed kennis opgedoen het oor Kanadese Immigrasiewetgewing, kon ek ander families help om deur die moeras van die immigrasiesisteem te beweeg.
Ek het later by ’n agentskap wat werk onder vroue doen, aangesluit. Hier het ek vroue wat van geweld ontvlug, gehelp om hulle immigrantestatus te beredder. Deel van my taak was om na verskeie Latyns-Amerikaanse lande te gaan om strategieë te ontwikkel om veilige hawes te skep vir vroue wat aan geweld ontvlug. Ek het ook bewusmakingsveldtogte gereël om lig te werp op geweld teen Latinavroue in Kanada, en hoe om dit uit die weg te ruim.
Die afgelope drie jaar werk ek as gemeenskapskuns-fasiliteerder in projekte waar kuns en sosiale geregtigheid verweef word.
Sick Muse Art – dit klink soos pret. Waaroor gaan dit?
SMA is ’n nie-vir-winsbejag gemeenskapskunsprojek wat ek drie jaar gelede op die been gebring het tesame met my lewensmaat (kunstenaar Alex Usquiano). Ons werk met verskeie Latyns-Amerikaanse kunstenaars om kunsprogramme te lewer dwarsoor Toronto, met ’n spesiale fokus op projekte wat sosiale geregtigheidskwessies ondersoek. Ons bekendste program word genoem “The World of a Thousand Colours”. Dis ’n twaalf weke lange werkswinkel wat ons by veiligheidshuise en ander tydelike behuisingsopsies bied vir kinders, beide vlugtelinge asook dié wat geweld aanskou het. Ons fokus op diversiteit in hierdie program.
Skryf jy net gedigte, of waag jy jou hand ook aan prosa? In watter taal skryf jy?
My kreatiewe skryfwerk was in baie opsigte my redding. Digkuns is vir my ’n tipe katarsis, een van die min plekke waar ek myself toelaat om weerloos te wees. Ek skryf ook prosa, en geniet veral om niefiksie te skryf. Ek word gereeld genooi om my mening te lug in beide plaaslike en internasionale koerante. Ek skryf in beide Engels en Spaans, maar ek erken vryelik dat Spaans die taal van my tradisie en my emosie is.
Beïnvloed jou aktivisme jou kreatiewe werk?
O ja, absoluut. My belangstelling in sosiale geregtigheidskwessies en magswanbalanse is die kern van my kreatiewe werk. Ek is voortdurend op die uitkyk vir maniere hoedat ek gemeenskappe kan betrek. Kreatiwiteit en kuns is beide ’n kanaal en ’n medium wat ons toelaat om mekaar op ’n gelyke vlak te ontmoet.
Wat is die situasie met vryheid van uitdrukking in Colombia?
In so ’n gewelddadige omgewing word vryheid van spraak altyd gekompromieer. Dwarsdeur ons geskiedenis het skrywers en joernaliste met hul lewens betaal omdat hulle hulself uitgespreek het teen die talle wandade en komplotte wat plaasvind. Daar is heelwat interne konflik, en die staat is een van die geweldenaars. Joernaliste word ontvoer en vermoor, en hulle sake word net nooit voor die hof gebring nie. Omdat daar so min beskerming is, vind selfsensuur op groot skaal plaas.
Daar is ’n program om spesiale beskerming aan joernaliste te bied indien hulle geteiken word, of met geweld bedreig word as gevolg van hulle beroep. Hulle word van lyfwagte voorsien en kry voertuie met die nuutste tegnologie. Baie min joernaliste verkry hierdie voorregte. Daar was onlangs ’n voorval waar dit aan die lig gekom het dat ’n joernalis dreigemente gefabriseer het sodat hy kon voortgaan om hierdie behandeling te kry. Dit was ’n yslike skandaal, en word nou gebruik om te kenne te gee dat joernaliste die gevaar waarin hulle verkeer oordryf.
Hoe het dit gebeur dat jy Colombia moes verlaat?
Daar is gereeld sogenaamde “Clean Up operations” waartydens polisie en ander gewapende magte mense wat hulle as wegdoenbaar beskou, om die lewe bring. Dis nou mense soos prostitute, haweloses, dwelmverslaafdes en straatkinders. Een van die kinders van my veiligheidshuis is ook so vermoor, en ek het toe ’n veldtog geloods om kritiek teen die praktyk uit te spreek. Ek is toe geteiken en ek moes vlug.
In Suid-Afrika is daar aansienlike druk om tersiêre opvoeding slegs in Engels aan te bied. Wat is jou siening van moedertaalonderrig?
Spaans, my moedertaal, is ’n baie belangrike taal, inderwaarheid die tweede mees gesproke taal in die VSA, wat skynbaar die maatstaf is waaraan taalrelevantheid in die wêreld gemeet word. Dit is natuurlik ’n imperialistiese manier om daarna te kyk, maar dit plaas Spaans in ’n goeie plek. Spaans is egter ook die taal waarin Latyns- Amerika gekoloniseer is. Dit beteken dat oral waar dit afgedwing is, ander tale uitgewis is. Selfs in Latyns- Amerika is daar ’n siening dat onderrig in Engels as tweede taal nodig is weens globalisering, maar moet my nie eens laat begin oor daardie kwessie nie.
Wat my meer bekommer is dat soveel bestaande inheemse tale nie die aandag geniet wat hulle verdien nie. Daar is geen belangstelling om ’n lewensvatbare beleid te ontwikkel wat ten doel het om hulle voortbestaan te verseker nie.
Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?
Ek geniet die werk van heelparty Latyns-Amerikaanse skrywers. Baie van hulle is mans, maar ek verkies om vroulike skrywers uit te lig, omdat ek besef dat vroue se rol in geskiedenis, kuns en kultuur baie keer op die agtergrond geplaas word weens die patriargale samelewings wat aan ons voorgehou is ná kolonisasie.
Gabriela Mistral tel beslis as een van my gunsteling- Latyns-Amerikaanse skrywers.
As jy in beheer van die Colombiaanse regering was, wat is die eerste ding wat jy sou verander?
Ek sal ’n einde maak aan multinasionale maatskappye wat in my land inkom en ons natuurlike hulpbronne plunder. Ek sal seker maak dat die rykes behoorlik belasting betaal en programme instel om te verseker dat geen kind honger gaan slaap nie, en dat elke kind toegang het tot opvoeding.
Indien Paola ooit besluit om die politiek te betree, het sy beslis my stem.
The post Onderhoud met ’n uitgeweke skrywer: Paola Gomez (Colombia) appeared first on LitNet.