Franci Greyling gesels oor byderhand by Clover Aardklop 2015 en oor Storiewerf.
- Hallo Franci, jy is een van die organiseerders van die byderhand-leesprojek by vanjaar se Clover Aardklopfees. Dis 'n manier om feesgangers gedurende die fees op vier spesifieke plekke in die Potchefstroomomgewing te laat lees (of kuns te laat ervaar) - is ek reg, of hoe sou jy dit verduidelik?
byderhand 2015 word by Clover Aardklop as ʼn interaktiewe leesfees bemark. Die projek is ʼn interdissiplinêre kreatiewe en navorsingsprojek oor plekspesifieke digitale literatuur. Die gedagte van plekspesifieke digitale literatuur is dat ʼn mens die werk dmv ʼn selfoon of tablet op ʼn spesifieke plek lees en dat die plek as sodanig tot die leeservaring bydra. Die digitale tegnologie maak dit moontlik om die teks te kombineer met voorlesings, beeldmateriaal, musiek en video’s. Sosiale media bied verdere moontlikhede vir wisselwerking.
In die projek maak ons van QR-kodes gebruik wat toegang tot die internet en die inhoud gee. Die gebruiker skandeer die QR-kode met ʼn QR-leser (bv QR-code reader) wat op die selfoon afgelaai is. Die leser se draagbare toestel moet ook aan ʼn netwerk gekoppel wees en genoeg data beskikbaar hê.
- Wat het jou die idee vir hierdie plekspesifieke leeservaring gedurende die fees gegee?
Verlede jaar het die tweedejaar-skryfkunsstudente ʼn klasprojek gedoen waarin ons met plekspesifieke digitale literatuur en QR-kodes geëksperimenteer het. Die interessante werk wat die studente in slegs twee weke gelewer het, en al die klasgesprekke hieroor het ons laat besef dat dit ʼn groter projek kan word. Een idee het tot ʼn volgende gelei, planne het uitgebroei, die projek is aan Clover Aardklop voorgelê, befondsing is van die Dagbreektrust ontvang, ʼn entoesiastiese en veelsydige groep mense het aan boord gekom, en nou lê die fees voor …
- Ek sien byderhand lê sterk klem op kinder- en jeugleeservarings. Ek neem aan volwassenes kan ook kom skandeer en dan kies wat hulle gaan lees, of hoe?
In die vier subprojekte word juis vir verskeie teikengroepe voorsiening gemaak. Enige persoon met die nodige tegnologie en sin vir avontuur kan die projek meemaak.
Die Tuinverseprojek in die Botaniese Tuin bestaan uit ʼn versameling gedigte deur bekende digters soos TT Cloete, Susan Smith, Tom Gouws en Heilna du Plooy, asook ʼn reeks kinderverse deur my. Dié gedigte en versies kan op verskillende wyses ervaar word: die leser kan bloot die teks op die selfoonskerm lees, luister hoe die digter dit self voorlees, na ʼn tipografiese animasie daarvan kyk, en selfs na toonsettings van gedigte luister. Verder het Strijdom van der Merwe kunswerke gemaak wat by die gedigte aansluit. Jonk en oud kan daarom saam deur die tuin stap en die groot verskeidenheid en kombinasie van kunsvorme beleef. Die meeste van die QR-kodes is by die bankies aangebring sodat mens rustig kan sit en die gedigte geniet.
In die Boeke-oase kan die Rusplekstories gelees word. Saam met die bestelling van ʼn drankie by die restaurant in die binnehof ontvang mens ʼn QR-kode wat toegang gee tot ʼn kortverhaal of ʼn kinderstorie. Skrywers hier is onder andere Sophia Kapp, Harry Kalmer, Helene de Kock, Susan Lombaard en Frederick J Botha. Die sestal kinderstories sluit oorspronklike stories in deur Flip Hattingh, Leon de Villiers en Deon Meiring en Zinelda McDonald.
Die Dwaalverhaal by die Hoër Tegniese Skool is spesiaal vir tieners geskep. Hans du Plessis het die verhaal geskryf en dit verder saam met skryfkunsstudente en die produksiespan tot ʼn interaktiewe volg-die-verhaal ontwikkel. Die QR-kodes is oor die skoolterrein versprei sodat die lesers hulle op dieselfde plekke as die karakters bevind. Saam met die teks is daar ook kort videogrepe.
Die Taxistrips wat deel vorm van die FNB-pendelroete is die werk van Khaya Mtshali. Die jong kunstenaar het ʼn reeks karakters geskep – ʼn taxi vol karakters. Die gedagte hier is dat die “leser” die karakters in die taxi’s ontmoet en versamel.
- Dink jy dat mense met aandag aanlyn lees, of meen jy dat die res van die aanlyn omgewing hul aandag kan aftrek? Wat moet mens in gedagte hou as mens die inhoud vir aanlyn lesers skep?
Omdat die byderhandprojekte op die spesifieke plek gelees word, is daar baie ander dinge wat die mense se aandag kan aftrek (feesgangers en feestelikhede, die omgewing in die Botaniese Tuin, die verkeer, vriende, ʼn volgende vertoning ...). In hierdie praktykgebaseerde navorsingprojek wil ons juis met die talryke moontlikhede van nuwe tegnologie eksperimenteer – veral gekombineer met ʼn spesifieke konkrete plek – en ontdek hoe gebruikers dit ervaar. Waarskynlik is die grootste tegnologiese uitdaging om tydens ʼn besige fees deurgaans internettoegang te kan hê. Ons wil graag terugvoering van die gebruikers ontvang oor hulle ervaring van die subprojekte en spesifieke tekste.
- Vertel asseblief van die skrywers en kunstenaars wie se werk, byderhand, te lese sal wees? Hoe is op hierdie deelnemende skrywers en kunstenaars besluit?
Om aan te sluit by die plekspesifieke aard van die projek het ons skrywers en kunstenaars genooi wat een of ander verbintenis met Potchefstroom het. Benewens die bekende en gepubliseerde skrywers is daar ook voorsiening gemaak vir jonger stemme. Van die tekste is die werk van skryfkunsstudente wat as assistente in die projek betrokke is. Daar is ook ʼn kortverhaal van ʼn graad 12-leerder van Hoërskool Promosa, Potchefstroom. Op enkele uitsonderings na is al die werk spesifiek vir byderhand geskryf.
- Die titel van julle projek maak sin – moet 'n mens ook kaartjies hiervoor byderhand hê? Of kan mens net op die gegewe plek opdaag, die kode skandeer en begin lees (of kunswerke kyk)?
Daar is nie byderhand-kaartjies nie. Enige persoon het toegang tot die Botaniese Tuin en HTS se skoolterrein. Om ʼn Rusplekstorie te lees moet jy ʼn drankie by die Boeke-oase bestel, en vir die Taxistrips is ʼn kaartjie vir die FNB-pendeldiens nodig.
- Moet 'n mens in Potchefstroom wees om byderhand te ervaar, of gaan die ervaring ook elders moontlik wees?
Die aard van die projek veronderstel dat die lesers tydens Clover Aardklop in Potchefstroom moet wees om alles te ervaar.
- Wat gebeur wanneer die fees verby is – verdwyn alle inhoud, of word dit iewers geargiveer?
Die gedagte is dat die Tuinverse moontlik ʼn permanente tuiste in die Botaniese Tuin kan kry. Die ontvangs van die projek en die terugvoering van feesgangers sal rigtinggewend in hierdie verband wees – ook ten opsigte van die ander subprojekte. Van die inhoud sal steeds digitaal beskikbaar wees; van die ander gaan in nuwe gedaantes voortleef. byderhand 2015 het as’t ware ʼn nuwe publikasieplatform geskep. Gustaf Tempelhoff, die digitale ontwerper in die projek, se besonder elegante ontwerpe kan ook vorentoe vir ander byderhandpublikasies gebruik word. Ons webtuiste (www.byderhand.net) sal ook ander toekomstige digitale projekte huisves.
- Jy is die stigter van Storiewerf, 'n webwerf wat pas 'n ATKV-Woordveertjie ontvang het en bekroon word vir kinder- en jeugliteratuur aanlyn – baie geluk hiermee. Vertel ons lesers asseblief hoe hierdie webwerf ontstaan het.
Die ATKV-Woordveertjie is inderdaad ʼn groot pluim in Storiewerf se hoed. Storiewerf het, soos Etienne van Heerden daarna verwys, in die bronstydperk van die internet ontstaan uit ʼn persoonlike behoefte om ʼn bydrae te lewer tot Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur op die internet. As kind was ek ʼn regte boekwurm en ek wou graag as skrywer die plesier van lees en skryf in dié nuwe omgewing voortsit.
- Ook omtrent Storiewerf: Hoe gereeld word nuwe inhoud gelaai, hoe weet jong lesers dat daar vandag 'n nuwe storie verskyn het en wie beskou jy as jou ideale lesers?
Ek probeer om maandeliks nuwe inhoud te plaas; die omvang daarvan hang baie af van bydraes wat ontvang word en van die tyd wat ek tot my beskikking het (laat nagte). Lesers kan inteken op ʼn nuusbrief of die Storiewerf Facebook-blad volg. In ʼn sekere sin het ek Storiewerf geskep met myself as jong leser en skrywer in gedagte. Met die uiteenlopende afdelings en inhoud op Storiewerf is daar egter iets vir elkeen.
The post Clover Aardklop 2015: Onderhoud oor die byderhand-leesprojek appeared first on LitNet.