Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Vroue in die oorlog: 16 eeue van onderdrukking?

$
0
0

Izak de Vries vra vir Vita du Preez ’n paar vrae.

Vita du Preez se roman Skuiling van die hart is in 1999 geskryf en is pas heruitgegee.

Martienne word deur haar pa weggedobbel, dan verkoop en word uiteindelik verneder in ’n liefdelose huwelik. Wanneer dinge amper nie erger kan nie, breek die Anglo-Boere-oorlog uit en Martienne beleef die beleid van ’n verskroeide aarde eerstehands – so ook die soldate se minagting van vroue. Die boek bied hoop, maar nie voor die verskrikking van ’n oorlog eers oorkom moet word nie.

Izak het drie vrae aan Vita gestel teen die agtergrond van die sestien dae van aktivisme wat tans aan die gang is.

*

IDV: Op bladsy 169 staan: “Ek haat die Engelse, ek haat Herklaas wat hul handlanger geword het en ek haat hierdie oorlog waarvoor die vroue die duurste prys moet betaal, dink Martienne.” Oorlog is so oud soos die mens en ek dink Martienne se stelling is vandag in Sirië net so geldig soos dit was in die Bybelse tye. My vraag is: Is sestien dae van aktivisme genoeg?

 VDP: Nee, beslis nie. Aktivisme is vir my ’n negatiewe, aggressiewe woord en ek sien dit eerder as ’n voortdurende bewusmaking om ’n positiewe optrede teenoor vroue te bevorder. Dit is vir my belangrik dat vroue sal besef dat hierdie saak ’n verantwoordelikheid is wat op ons skouers rus. Die mansgedomineerde samelewing waarin patriargale beginsels steeds geld, wat vroue as minderwaardig onderdane beskou oor wie mans moet heers, gaan net verander as vroue iets daadwerkliks doen om hulle situasie te verander. Vroulikheid beteken nie om altyd liefies, bedees en onderdanig te wees nie. Selfgeldende, onafhanklike vroue, wat weet wat hulle uit die lewe wil hê, kan dodelik sexy wees. Sy hoef nie haar bra en deurtrekker te verbrand om haar saak te stel nie.

IDV: Dan is daar hierdie aanhaling op bladsy 198: “Daar is 'n deernis tussen vroue wat veel dieper as kleur lê. Dit is waar ons krag skuil, dink Martienne. Mans sal dit nooit kan verstaan nie. Martienne laat haar kop teen haar swart suster se skouer rus terwyl hulle saam van die gillende mans en die brandende huis wegloop.” As jy nou voor die Verenigde Nasies moet staan en vir mans van alle rasse moet verduidelik wat ons nie verstaan nie, wat sal jy wil sê?

VDP: Moenie vroue probeer verstaan nie. Waardeer en respekteer ons net. Koester en beskerm ons, nie omdat ons swak is nie, maar omdat ons spesiaal is. Mans en vroue is geneties geprogrammeer om verskillend te wees. Hulle hormone verskil en hulle breine is anders bedraad. Dit maak egter nie die een beter of slegter as die ander nie. Bloot verskillend. En dit is wat daardie vonk veroorsaak wat die teenoorgestelde geslag so onweerstaanbaar vir mekaar maak.

IDV: Jou meer onlangs boeke betrek moderne vroue. In Waar die son omdraai is een van die sterkste karakters ’n eks-prostituut. Die vierluik waaraan jy nou werk is op die oppervlak ligter, want almal soek man en het in ’n realiteitsreeks ontmoet, en tog: Nie een van die vroue is ongeskonde, leëkop-maagde nie. Hulle dra almal bagasie, en talle se bagasie het met vorige verhoudings te doen. Hoekom skryf jy hieroor?

VDP: Omdat dit kwessies is wat my, nes baie ander vroue, raak. Die boodskap wat ek aan lesers wil oordra, is dat ’n vrou nie haar eie identiteit hoef te verloor om in ’n gelukkige, bevredigende verhouding te wees nie. Ook dat hulle, ondanks hulle seerkry en bagasie, van nuuts af kan begin in ’n verhouding waarin albei mekaar menswaardig sal behandel. Volwasse liefde is gee en neem. Ek kies die genre van die liefdesroman omdat ek glo ge­lukkige eindes, nes standvastige verhoudings, kan ons almal beskore wees as ons ons lewensvreugde, balans en humorsin behou. Eintlik soek almal – mans en vroue – liefde, aanvaarding en standvastigheid.

*

Skuiling van die hart is pas heruitgegee deur LAPA Uitgewers, want Vita se nuwer boeke is baie gewild. Vra gerus ook jou boekwinkel vir Waar die son omdraai, as ook die twee eerste twee boeke, Solitaire en Woestynroos, in ’n vierluik genaamd die Vinkel & Koljander-vroue. Vinkel en Koljander is die realiteitsreeks waarna verwys word in die onderhoud.

The post Vroue in die oorlog: 16 eeue van onderdrukking? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>