Parys was vaag en grys, sy mure en strate uit fokus. Die kar se voorruit het spatsels reën rondgevee, spatsels lug en geboue en verkeersligte heen en weer. Fragmente, vraagmente. Die ondergrondse parkering het klassieke musiek gespeel. Trappe het bo na buite gelei waar die lug swaar en laag oor die stad gehang het, nóg dag nóg nag, iewers duskant drieuur dié vormlose middag.
*
Die Nasionale Biblioteek van Frankryk bevat soveel boeke dat daar ‘n hele straatblok vol lang geboue van vele vloere is om alles te huisves. Soveel boeke dat mens buite rondom die geboue verdwaal en deur die wind geskep word en die werklikheid vir ‘n paar sekondes by mens ontbreek. By die ingang is daar ander mense ook. Almal se sakke word deur die sekuriteitspersoneel gekontroleer. Jules se knipmes word gekonfiskeer. Met ‘n groen, genommerde papiertjie kan hy dit later terugkry, alhoewel hy later daarvan sal vergeet.
Studente sit die gerieflike studiesale vol en lees. Dit is Saterdag en die atmosfeer is soos ‘n dowwe geluid. ‘n Lang gang vol plakkate en woordkuns teen die mure is ‘n uitstalling van proteskuns en -ontwerp. « Il n’y pas d’étrangers. Il n’y a que des gens qu’on ne connait pas encore! » (“Daar is nie uitlanders nie. Daar is bloot mense wat mens nog nie leer ken het nie”) en ‘n woord- en tipografiespeling: « Travaille d’abord, tu t’amuseras ensuite » – “Werk eers en geniet jouself daarna”, lui die sin, waarvan sekere letters uitgelig word om ‘n ander boodskap te beklemtoon: “Gaan geniet jouself eers” (Va d’abord t’amuser).
Die gang lei na ander uitstallings.
In ‘n wit saal is monumentale werke van Anselm Kiefer geïnstalleer; honderde loodboeke so groot soos tafels in die kunstenaar se denkbeeldige biblioteek. Die boeke is oop en swaar, gekraakte landskappe, geroes en onleesbaar. ‘n Skildery van grote skaal, te groot om te vervoer en tog is dit wat sekerlik moes gebeur het, hang wasig teen die muur, krap jou oë, knyp jou tong. Die werke is vol sterrestelsels, literêre verwysings, kabbalisme en kosmologie. Werke van lood, werke van leed; werke om nie die verlede te vergeet nie. Nie die Sjoa nie, nie kommunisme nie; nie leuens of waarhede nie. Nie die niet nie, nie die ewige lewe, die begin of die einde nie. Nooit vergeet nie, altyd inneem en uitbrei, groei en skep.
‘n Ander uitstalling fokus op die opwaartse kurwe in Franse etskuns tydens Lodewyk die Veertiende, die Sonkoning, se epog. Jules versamel en handel in antieke etskuns; hy neem alles in. ‘n Oorspronklike, haarfyn illustrasie wat op metaal geëts is, se spieëlbeeld is langsaan in swart ink gedruk. ‘n Onvoltooide ets wys slegs die buitelyne van Lodewyk XIV se krulle, die prent se beginpunt. Paleise, tempels en katedrale kry vergestalting in lig-en-donker skakerings van noukeurigheid.
In die BNF se boekwinkel vang my oog ‘n kleinformaat-publikasie: Jules, ‘n novelle — gepubliseerde notas? — deur Henri-Pierre Roché; ek het vroeër die dag vir Jules vertel van hierdie skrywer en hier is ‘n boekie met sý naam op. Nie Jules et Jim, Roché se bekende roman wat later ‘n François Truffaut-film sou word nie. Net Jules. Net ’n ellips, soos meeste van Roché se skryfwerk; net ‘n ellips, soos die dae in hierdie week.
Ons maak asof dit gewoon is om Parys deur ‘n motorruit te verken. Jules sê ons hoef nie hierdie keer die metro te neem nie, maar ons praat nie verder daaroor nie; niemand beklemtoon hulle benoudheid nie. Ons kuier by vriende van vriende in Montreuil, net buitekant die stad se grense. Ons ken mekaar nie, ons ken almal net een persoon, dieselfde persoon. Hy berei Mont d’Or voor. ‘n Winterkaas uit die ooste van Frankryk wat van koeimelk gemaak word. Die tekstuur is sag en die reuk is skerp. Dit ruik soos kaggelhout en geselligheid. Mens laat die kaas stadig in sy houertjie in die oond smelt en daarna word dit op warm aartappels bedien. Dit was ‘n gunsteling aan Lodewyk die Vyftiende se etenstafel. Warm maaltye is tog waar die winter sy bekoring kry.
Ons speel enige simpel speletjie om ons wakker te hou ná so ‘n swaar ete op ‘n slaperige aand. Iemand stel voor dat ons ‘n dictée in Afrikaans doen. Die vyf Franse aan tafel het elkeen ‘n vel papier, en skryf hulle name in die linkerkantse hoekie en die datum in die regtekantse hoekie. Elkeen skryf “Dictée en afrikaans” in die middel bo, en onderstreep dit noukeurig, soos op skool. Ek sê wat ook al ek wil; en hulle skryf, foneties, wat hulle hoor. Aan die einde ruil hulle mekaar se blaaie uit en lees dit voor:
“Ouns es amal irfenand. Ouns drunk te fil. Ouns it te fil. Yamer. Ak vid ni vut um te sey ni. Yelleu es houluk.”
Daar is te veel woorde, of dalk te min, dalk géén woorde om die gebeure van Vrydag die dertiende November te omskryf nie. Ook nie om die nagevolge of die deurmekaarspul in die Midde-Ooste te verstaan of te begin verduidelik nie. Want vir elke weerlose slagoffer is die politiek van die dag onbegryplik. Mens wieg tussen skok en skuldgevoelens, die mediabohaai oor Parys, die mediastilte oor Beiroet, Bamako, Tunis en die Irakse skooltjie wat deur die Franse weermag platgeskiet is; dieselfde euwels wat daagliks elders gebeur. Mens voel siek, sit die televisie af, gaan aan.
Van oorlog en terreur is daar niks om te begryp nie. Teen oorlog en terreur is daar niks nie, behalwe samesyn.
“Ons is almal hier vanaand. Ons drink te veel. Ons eet te veel. Jammer. Ek weet nie wat om te sê nie. Julle is oulik.”
The post In Parys: ’n paar dae later appeared first on LitNet.