Dis al tien-oor-agt. Mieta sal seker nou-nou hier wees.
Die taxi’s kom die een na die ander om die draai geskuur en mens kan die saamryers se koppe sien kantel en wieg wanneer die doodsbussie voor die aflaaiplek stilhou. Mieta speel nie met die voetwerk nie. Sy drafstap kar toe.
“Meneer wag dan al meer as ’n uur ...”
Met die inklimslag begin sy sommer te verduidelik: “Hallo meneer, ek is baie jammer, maar die tien-voor-ses-trein het nie gekom nie; ek moes toe ’n taxi kry Elsies toe vir die aansluiting, maar dis donker en daai area is maar rof, toe moes ek net gou vir ’n vriendin wag om saam met my te stap. Ek weet nie wat met die treine aangaan nie. Ek het darem toe weer ’n trip van Bellville stasie gekry ...”
( Mieta is nie meer ’n jong meisie nie. Sy woon nie in die verste en armste deel van ’n informele nedersetting op die buite rant van die metropool nie. Sy woon in die stedelike area. Nog steeds moet sy ’n trein en twee taxi’s neem tussen haar woonbuurt en myne, net om naby genoeg aan haar werkplek te kom sodat iemand haar kan kom haal. Nie al haar werkgewers kom haal haar nie. Dan stap sy. Sonder om te kla en sonder om nie vir werk op te daag nie. Sonder verskonings vir die lewe wat sy gekry het.)
“Dis als reg Mieta. Ons is net bly jy is veilig en beslis dankbaar dat jy hier is.”
Dit was April 2014........
Sy sit op ’n bondeltjie teen die kombuiskas en haar oë is pofferig rooi gehuil. Haar hart is baie seer terwyl die trane moeiteloos oor haar wange stroom. Sy staan op en snikkend druk ek haar teen my bors was; vandag het sy ’n hulp, ’n lewenskruk en ’n vriendin verloor. Vandag het die konflik tussen die vrede wat haar huishulp se onvermydelike vertrek moes bring en die hartseer weens die verlies met die aanhoor van Mieta se afsterwe, oorgeborrel en haar seer agtergelaat.
Ek is jammer my lief.
Vir baie jare, meer as wat ek die dae van kan onthou, het ons huisie ’n hulp op ’n dag in ’n week gehad. Vader weet hoe dit altyd moontlik was, maar soos die geloofsmense sê: “Sy weë is aan ons onbekend.” Ongeag, Mieta was altyd daar. Sy het die kinders sien grootword, hul babaklere in manspakke sien verander; my hemps- en broekmaat sien groei en die swaaie en draaie van ons lewe stil meegemaak. Sonder klagtes, oordeel of verlies.
Dankie Mieta. Ons verlang jou.