Gedurende die 1970’s staan ek eendag op ‘n sypaadjie in een van Port Elizabeth se minder gegoede buurte en wag op ‘n “backyard mechanic” (soos by my aanbeveel is) om geringe verfskade na ‘n mislukte poging om by my Volksie in te breek, te herstel. Ek het nie geld vir ‘n ordentlike paneelklopper nie en my enigste oorweging is om te voorkom dat PE se berugte roes sal intree daar waar die verf beskadig is.
Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke |
---|
• Die kousale ketting in strafsake |
• Diefstal van eie goed |
• Bram Fischer |
Toe ek by ‘n verkeerslig in die systraatjie ingedraai het, was daar op daardie straathoek twee voertuie wat kort vantevore in ‘n ligte botsing betrokke was. Terwyl ek so op die sypad rondtalm en wag vir die agterplaas-outjie om sy werk te doen, kom daar ‘n bruin vrou straatop aangestap. So ver sy stap, roep sy vir ene Ronnie om te kom kyk na die “crash” op die straathoek. Uiteindelik kom Ronnie by die voordeur van ‘n huis reg oorkant my uit. Hy is ‘n blanke outjie, merk ek. Hy is kaalvoet en is gemaklik geklee in ‘n kortbroek en ‘n wit frokkie. Uit sy reaksie merk ek dat hy en die bruin dame in aantog mekaar meer as net terloops ken. Hy lyk gelukkig in sy omgewing en met sy lewenskeuses. Toe kom dit by my op: Vir wat moet Suid-Afrika in die raadsale van die wêreld oor sy kleurbeleid – en in die besonder sy kriminalisering van verhoudings oor die sg “kleurgrens” heen – verguis word? Is dit om hierdie wit outjie – wat klaarblyklik geluk in een van PE se agterbuurtes gevind het – te “beskerm”? En moet hy en sy bruin lewensmaat dáárvoor tronk toe gaan? Dit was vir my ‘n lewensveranderende oomblik: ek was daarna glad nie meer gemaklik met sekere aspekte van die regering se apartheidsbeleid nie; ontnugtering met die res sou later kom.
Terwyl Waldimar Pelser op Maandag 23 November 2015 op Insig ‘n onderhoud voer met die ondervoorsitter van die Universiteit Stellenbosch se studenteraad, het dieselfde gedagte by my opgekom: Waarom karring ons almal oor Afrikaans op Stellenbosch as dit nie meer vir die studente, hul ouers, die personeel en die gemeenskap van Stellenbosch saak maak nie? Die betrokke studenteleier het immers beweer dat die meeste van die studente op kampus baie gelukkig is met die rektor se voorgestelde aardskuddende swaai wég van Afrikaans na Engels. Tolkdienste, het die student met groot oortuiging voortgegaan, werk nie. Ek glo hom.
Ek dink ons moet mekaar nie probeer bluf nie: op die lange duur gaan dit nie op Stellenbosch werk om op twéé taalstoele te probeer sit nie.
Maar hoe sal ons weet watter stoel die aangewese een sal wees? Kan dit aan ‘n instelling soos die universiteitsraad oorgelaat word om so ‘n lotsbeslissende besluit te neem? En behoort ons ons te steur aan die klompie petisies, versoekskrifte en ander blyke van ondersteuning een of ander kant toe wat tans heen en weer vlieg? Ek dink nie so nie: dis gans te onwetenskaplik en met te veel emosie belaai.
My voorstel is dat daar ‘n volbloedreferendum gehou sal word waarin mense vir wie dit werklik saak maak, voor ‘n eenvoudige keuse gestel moet word: Moet die Universiteit van Stellenbosch se primêre onderrigtaal Afrikaans of Engels wees? Ek sou dink dat ingeskrewe studente, hul ouers/voogde en die universiteit se personeel aan so ‘n referendum behoort deel te neem. Ook moet die gemeenskap van Stellenbosch se mening gepols word. Alle stemgeregtigde kiesers in Stellenbosch wat kan bewys dat hul oor ‘n tersiêre kwalifikasie beskik, moet kan stem. Sluit die konvokasie met sy duisende lede uit so ‘n referendum uit: dit gaan immers oor US se toekoms, nie die verlede nie.
Ek reken dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie gekontrakteer sou kon word om so ‘n referendum te reël: ‘n kieserslys moet saamgestel word (net maar een stem per stemgeregtigde); veldtogte moet in ooreenstemming met die Kieswet gevoer word; geen geweld moet geduld word nie en die uitslag moet bindend wees op die Universiteit, die gemeenskap van Stellenbosch en die Staat. Dalk sou so ‘n referendum op Stellenbosch kon saamval met aanstaande jaar se plaaslike verkiesings – wat, terloops, stemming per pos noodsaaklik sou maak.
Gestel Afrikaans sou “wen” – wat dan? Een van Stellenbosch se huidige studente in die geesteswetenskappe is aan my goed bekend. Hy het pas ‘n beurs verwerf om ‘n tweede meestersgraad in Duitsland te gaan verwerf. Die beurs is vir twee jaar toegeken en gedurende die eerste ses maande van sy verblyf aan die betrokke Duitse universiteit is daar net één saak op die agenda: hy moet Duits onder die knie kry. Ek dink dieselfde moet by die “Afrikaanse” Stellenbosch gebeur (dws as dit ‘n werklikheid sou word): as nie-Afrikaanssprekende studente daar wil studeer, moet hul die ruimste geleentheid gebied word om die taal te bemeester alvorens hul studie in alle erns kan begin. Dieselfde geld besoekende akademici wat nie Afrikaans magtig is nie. As dit in Duitsland vermag kan word, dan tog ook aan US.
Instansies wat tans so hard en met oorgawe vir die behoud van Afrikaans aan US stry, kan genader word om sulke nie-Afrikaanse studente en akademici finansieel en andersins te ondersteun. Solidariteit kan die deure van sy ontluikende Akademia sluit en sy kragte, talente en geld na ‘n primêr Afrikaanse US toe kanaliseer. Vir ‘n instansie soos die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans behoort dit ‘n gulde geleentheid te wees om sy bestaan verder te regverdig. Die uiteinde sal wins vir Afrikaans in die ruimste sin van die woord wees.
In die lig van die stortvloed reaksies op die rektor se onlangse “gespreksdokument” waarin beslissend na Engels oorgehel word, behoort US se raad gewaarsku te word: as u hierdie gewigtige sprong in Engels se rigting sou maak, sonder om bogemelde belanghebbendes op ‘n betroubare wyse te raadpleeg (‘n referendum is myns insiens die enigste praktiese opsie), kan US verwag dat daar omvattende sanksies teen hom uit die ganse Afrikaanse gemeenskap toegepas sal word: donasies sal weerhou word, die universiteit en sy akademiese personeel sal straks toenemend gewoon geïgnoreer word (mag die Afrikaanse pers dan tog hul deel doen!); baie Afrikaanse studente sal hul begin wend tot alternatiewe, soos Akademia; universiteite in die buiteland sou oorreed kon word om alle bande met US te verbreek. So sou ek kon aangaan. Of US dan nog ‘n kans sal hê om ‘n “wêreldklas universiteit” te word, staan erg te betwyfel.
Laat daar gestém word: ons het gans te min referendums in Suid-Afrika.
- Adv Pienaar het aan die vermaledyde, nekomgedraaide Randse Afrikaanse Universiteit gestudeer. Hy het agt jaar lank geswoeg en gesweet om twee van sy en Corlina se drie kinders suksesvol in Afrikaans aan US te laat studeer. Hy beskou homself as ‘n demokraat en gee geredelik toe dat hy nie sal kwalifiseer om aan die voorgestelde referendum te kan deelneem nie. Nietemin: die lot van Afrikaans aan US lê hom na aan die hart.
The post Stellenbosch: Laat daar gestém word! appeared first on LitNet.