Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Lesersindruk: Recce deur Koos Stadler

$
0
0

recce250

Recce - kleinspanoperasies agter vyandelike linies
Koos Stadler
NB Uitgewers
ISBN: 9780624069447

Mites word deur feite vernietig, lament fiksieskrywers dikwels, maar soms is die feit wat die mite vernietig so verstommend dat ’n mens besef dat die mite eintlik tot die genus van suiwer kaf behoort en daarom is slegs die asblik die gepaste tuiste daarvoor.  “Fact is stranger than fiction, is die gesegde. Koos Stadler se boek Recce is weer eens ’n bevestiging hiervan.

Mites rondom recces was deel van die wit psige vir die ’70’s en ’80’s, omdat alle wit mans tussen die ouderdom van 16 en 60 aan diensplig onderworpe was. Mites is vertel. Mans het recce-status vir hulle toegeëien. Aanpassingsprobleme na traumatiese gebeure is aan recce-mites toegeskryf. En so gaan die lys aan. Koos Stadler maak op vele vlakke korte mette met die mites.

Voordat daarop in gegaan word, word die boek eers as ’n boek self bekyk.

In die narratief is Stadler self aan die woord, maar die narratief is in ’n groot mate van emosie gestroop en die skryfstyl baie formalisties. Aan die begin is dit effens hinderlik, want dit begin soos ’n SAW-lesing uit daardie era klink. ’n Mens besef gou dat daar vir Stadler nie ’n ander narratief bestaan nie en dat hy dit op geen ander manier kan verwoord as wat hy gedoen het nie. Dit gee die boek ’n unieke karakter, want die narratief is in objektiewe metanaratiewe woordeskat, maar in die eerste persoon geskryf.

Die boek is kronologies van Stadler se lewe tot en met die begin ’90’s met ’n laaste hoofstuk wat sy lewe daarna beskryf. Stadler se eerste hoofstuk beskryf sy baie gewone lewe as ’n skoolkind in wit Suid Afrika wat nie veel van dié van die meeste Afrikanerseuns van sy tyd verskil nie. Dan volg sy eerste Weerma loopbaan waar hy vir kort diens aansluit en by 31 Bataljon eindig as ’n verkenner.  Die volgende gedeelte is sy lewe as ’n Recce met baie goeie beskrywing van dit wat hy gedoen het. Die boek bevat heelwat kaarte wat die vertellings ’n objektiewe realisme gee.

 ’n Mens is bewus daarvan dat die lengte van boeke deur uitgewers bestuur moet word, maar ’n mens voel tog dat die boek ’n paar ekstra hoofstukke verdien deur ook ’n bietjie te kyk na die Weermag in sy postdemokratiese era.

Daar moet dadelik bygevoeg word dat daar nie veel in die boek uitgehaal kan word om plek vir sulke ekstra hoofstukke te maak nie.  Inteendeel, daar is baie plekke waar ’n mens honger raak vir meer inligting. ’n Mens weet nie of die inligting uitgeredigeer  is nie en of Stadler dit nie insit nie omdat hy dit nie belangrik ag nie of dalk nie wil insit nie.

Voorbeelde hiervan is die min inligting oor wat die ander recce-eenhede, wat nie kleinspanne was nie, gedoen het. Of presies hoe jy teenspoornsy doen nie. Of presies hoe jy ’n hele dag op een plek kan stil lê nie.  Daar is talle sulke voorbeelde.

Wat die boek sy trefkrag gee, is dat Stadler nie probeer om enigiets van sy lewe te regverdig nie, hetsy met ’n politieke ideologie of godsdienstige oorwegings nie. Of probeer hy nie met die nou bekende nabetragting een of ander kleur aan sy eie gewete gee nie. Nog minder is Stadler nostalgies in sy woorde. Hy beskryf dit wat gebeur het en beperk sy eie insig op die mikroskaal van die gebeure. Stadler ontbloot nie sy emosies nie en gaan baie spaarsamig met sy eie gevoelens te werk. Dit maak die boek treffend en die moeite werd om te lees.

As ’n mens die boek lees, soek jy die hele tyd die beweegrede hoekom Stadler regtig ’n recce wou word – want dit is natuurlik deel van die mite. Hy is mishandel as kind, of daar is een of ander onreg aan hom gedoen, of sy troumeisie het hom gelos vir ’n pennelekker of so iets wat hom ’n algemene wrok teen die mensdom sou gee. Stadler was nie so nie. Hy het op skool gehoor van die recces – eenmalig – en besluit dit is wat hy wil word. En dit is wat hy geword het. Niks langs die pad kon hom van hierdie doel laat afsien nie. Hy het nooit in daardie tyd getwyfel daaroor nie.  So eenvoudig eksistensieel soos dit – en die mite van die geestelike geskade mens as die hoofvereiste vir ’n recce word vernietig.

Wat hierby aansluit is dat dit wat Stadler beweeg het om ’n recce te word, nie die recce-mite is nie, maar die ware recce wat ’n verkenner is. Hy was nie agter die “aksie” aan nie, maar wel agter die vaardigheid om iets te gaan verken wat onbekend is sonder om gevang of gedood te word. Hy beskryf onder andere dat in die gevalle waar hy vir ’n lang ruk alleen moet stilsit, hy homself afvra of hy eerder êrens anders wil wees en hy hom getroos het met die gedagte dat hy nêrens anders wil wees nie. Dat hy hierdie deel in tye van stilte en nie in die aksie nie, is soos die Engelse sê “significant”.  Daar is geen sprake van ’n euforie van doodmaak nie. Inteendeel is Stadler baie skraps met inligting oor die skiet van mense.

Wat Stadler dan ook demonstreer met die boek, is dat seuns en jong mans wat in die Weermag was, nie noodwendig kortasem was oor die politiek nie, maar dat hulle ten spyte daarvan dit gedoen het en die meeste dit na die beste van hulle vermoëns gedoen het.  Dit was deel van die wit psige gewees. Die morele bankrotskap van die politieke bestel het nooit opgekom nie – slegs  dit wat voorhande was, is gedoen en goed gedoen.

Die mite dat die recces taf was, word ook deur die boek die nek ingeslaan. Hulle was nie taf nie, hulle was verby taf of soos die kinders sal sê, “next level”. Dit maak die gedurige toe-eiening van recceskap deur nie-recces eintlik lagwekkend. Die enorme fisiese gehardheid van Stadler het nie ’n woordeskat nie en jy kan net kopskuddend wonder hoe dit moontlik is dat ’n mens ’n rugsak wat swaarder as hy is vir 30 km deur die nag dra terwyl hy besig is om te verken, spore dood te vee, op die uitkyk te wees, wakker te wees en dit dan vir dae aan een te doen. Daardie fisiese vermoë is net vir ’n paar mense beskore. Dié wat dalk gewonder het of hulle nie maar recces moes word nie, kan hulle daaraan troos dat hulle doodgewoon nie oor die fisiese vermoëns beskik het om te dit te word nie.  Dit is hierdie onbeskryflikheid en onbegryplikheid van fisieke uitset wat die mite van die hondjie wat grootgemaak en dan doodverwurg moet word, opstuur as iets obseens en belagliks. Dit wat jy as ’n recce moes doen, was baie baie tawwer as dit. As die hondjie jou oordeel van taf is, het jy net geen begrip hoe taf ’n recce is nie.

Die ander mite dat recces eintlik maar net mense is met ’n baie sterk instink om dood te maak en dat die instink ’n tipe outomatisme verskaf wat hulle laat funksioneer in situasies van doodsvrees, word ook baie noukeurig deur die boek vernietig. Die opleiding wat hulle ondergaan het is duiselingwekkend en die kennis wat hulle besit het, ewe verstommend. Dan die weke en weke se inoefening van daardie kennis voor daar op ’n operasie gegaan is en hoe niks aan toeval oorgelaat is nie. Hierdie mense was geoefende masjiene en wat vir gewone mense dalk na instinkmatige optrede mag lyk, was baie goed beredeneerd.

Iets wat bybly is dat hulle die vryheidsliedere van die ANC moes leer en kon sing sodat hulle dit kon identifiseer as hulle dit hoor – wat ook gebeur het tydens die laaste operasie wat in die boek beskryf word, diep in Angola. Hy beskryf hoe mooi die gesing vir hom was. Stadler het groot lof vir die swart soldate gehad met wie hy baie nou saam gewerk het. Hy het ook ontsag gehad vir Swapo-soldate en hulle vemoëns. Hy vertel dat hy eenkeer gewonder het waarmee hulle besig was toe hy ’n Bybeltjie in een van die dooie Swapo-soldate se sak gekry het en gewonder het hoe die soldaat se familie ooit sal uitvind wat met hom gebeur het. 

Dit laat ’n mens wonder hoekom so iets nie bevraagtekening kon bring dat daar polities iets nie reg was nie. En dit maak vir my die boek belangrik, want Stadler slaag daarin om aan te dui dat ongeag waarmee jy besig is, die tydsgees ’n mens kompleet vasvang en dat daar feitlik geen kans is om ’n ander blik op die tydsgees te kry as die een wat op daardie stadium om jou bestaan nie.  In daardie opsig is die teks eintlik anti-oorlog.

Dit resoneer met die Donovan-liedjie van die 1960’s oor die Universal Soldier:

He's the Universal Soldier and he really is to blame,
His orders come from far away no more,
They come from here and there and you and me,
And brothers can't you see,
This is not the way we put the end to war.

Recce is uitgegee deur Tafelberg.

The post Lesersindruk: Recce deur Koos Stadler appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>