|
Opsomming
Lekelesers ondervind gereeld probleme met die taalgebruik in regsdokumente soos parlementswette en in verbruikersdokumente soos koopooreenkomste en testamente. Die omskrywing van gewone taal in twee belangrike Suid-Afrikaanse wette vereis dat die opstellers van verbruikersdokumente onder andere aandag gee aan sinstruktuur ten einde hierdie dokumente makliker verstaanbaar en meer toeganklik te maak vir kwesbare verbruikers. Die doel van hierdie ondersoek is om te bepaal watter komplekse sinskonstruksies in Afrikaanse regstaal voorkom wat probleme vir lekelesers van verbruikersdokumente kan veroorsaak en tot gevolg het dat hulle nie geredelik begrip van so ’n dokument kan vorm sonder uitermate inspanning nie. Voorbeelde van problematiese sinskonstruksies word in ’n korpus van wettekste en verbruikersdokumente geïdentifiseer en bespreek. Voorts word ondersoek of die problematiese sinskonstruksies wat in wettekste voorkom, ook in tipiese verbruikersdokumente gebruik word wat vir lekelesers bestem is. Telkens word aangedui hoe problematiese sinskonstruksies in verbruikersdokumente verbeter kan word om verwerkingslading te verlig en begrip te verhoog. Sodoende word leiding aan die opstellers en hersieners van verbruikersdokumente gegee sodat hulle meer toeganklike tekste vir kwesbare lekelesers kan skep.
Trefwoorde: begripsprobleme; gewone taal; leesbaarheid; lekelesers; sinstruktuur; verstaanbaarheid
Abstract
Sentence constructions characteristic of Afrikaans legal language
Lay readers often experience problems with the peculiarities of legal language, as manifested in legal texts, such as acts of parliament or contracts. The aim of this article is to identify the syntactic properties of Afrikaans legal language that cause processing problems for lay readers of legal texts. To date precious few studies have been conducted on Afrikaans legal language and the linguistic constructions that are typically employed in Afrikaans legal texts. This study thus represents an attempt to make a contribution to the field of forensic linguistics – the interface where language and the law meet. Forensic linguistics is an area that is not robustly researched in South Africa.
The definition of “plain language” in two important South African protectionist acts require the drafters of consumer documents to pay attention to sentence construction in order to render these documents easier to understand and to provide access to vulnerable consumers. Drafters of legal texts in contemporary South Africa should attempt to avoid problematic syntactic constructions, not only in English but also in Afrikaans, to give effect to the plain language provisions of the National Credit Act (NCA) of 2005 and the Consumer Protection Act (CPA) of 2008. Section 64 and section 22 both specifically mention sentence construction: "the vocabulary, usage and sentence structureof the notice". If sentence structure is considered to be a potential source of comprehension difficulty, vulnerable consumers are afforded the opportunity to understand the content of important legal texts that may have a profound effect on their daily lives if such texts are rewritten in so-called plain language with deliberate attention to sentence structure.
This study investigates whether the same problematic sentence constructions that are typically employed in Afrikaans statutes also appear in Afrikaans consumer documents. Following Šarčević (1997:11), Tiersma (1999:139–41) en Cao (2007:8), legal texts can be divided into different types which are read by heterogeneous target audiences. This creates a particular tension between language use that is appropriate when communicating with lay audiences and language use that is suitable in communication with expert audiences. Gibbons (2003:174, 198) refers to this tension as the "two-audience dilemma". It is argued in this article that whereas statutes are read and used mostly by people who are trained in law, consumer documents are intended for ordinary citizens who are not legal experts, although both acts and consumer documents belong to the type “operative text”. These are texts that constitute the law.
For the purpose of identifying the complex syntactic constructions in Afrikaans legal language that may cause problems for lay readers of consumer documents and result in their not understanding these documents without undue effort, ten acts of parliament dating from between 1979 and 1988 were used as a corpus. However, as the NCA and CPA apply to consumer documents and not to acts of parliament, nine consumer documents were also included in the corpus to render the corpus representative of operative legal texts. Problematic syntactic constructions in statutes and in consumer documents were identified and examples of these are discussed in this article.
Against the backdrop of consumer protection in contemporary South Africa it is critically important that consumer documents should be readily understood by lay readers. For this reason, suggestions are made in this article as to how poor syntactic constructions in consumer documents can be improved to reduce the cognitive processing burden experienced by lay readers. It is shown that the same complex syntactic constructions that are found in statutes also occur in consumer documents. These are: long and complex sentences; insertion of conditions, qualifications and provisos; syntactic discontinuity; lengthy initial case descriptions; nominalisations; omission of relative pronouns; negative constructions; passive constructions; and prepositional chains.
The occurrence of these syntactic constructions in consumer documents is highly problematic as consumer documents, unlike statutes, are subject to and must comply with the provisions of the NCA and CPA. It is of the utmost importance that the drafters and compilers of consumer documents, such as the terms and conditions of a loan agreement, or the safety instructions for use of a product, be aware of – and avoid – the syntactic constructions that increase the processing load of lay readers and cause comprehension problems.
The contribution of this study lies in (1) the identification of problematic sentence constructions in Afrikaans statutes and consumer documents; and (2) the practical demonstrations of how problematic constructions in specifically consumer documents can be improved to aid lay readers, thereby providing guidance to the drafters of these types of legal texts.
Keywords: comprehensibility; comprehension problems; lay readers; plain language; readability; sentence construction
1. Inleiding
Dit is ’n gemeenplaas dat die taal van die reg moeilik is om te verstaan en dat die meeste mense uitgesluit word van die register wat in regstaal gebruik word (Gibbons 2003:162). Die aanhaling van Charrow en Charrow in hulle klassieke psigolinguistiese studie oor die verstaanbaarheid van jurie-instruksies (1979:1359) dui juis op die unieke aard van regstaal:
[T]here is more to legal language than merely “jargon” – an esoteric vocabulary. Certain grammatical constructions and discourse structures […] appear to be recurring elements in legal language. Although these constructions are found in ordinary usage, they appear with much greater frequency in legalese and tend to characterize it as a distinct sublanguage.
Die omskrywing van "gewone taal" in die Nasionale Kredietwet (NKW) van 2005 en die Wet op Verbruikersbeskerming (WVB) van 2008, artikel 64 en artikel 22 onderskeidelik, wys die opstellers van verbruikersdokumente daarop dat hulle ag moet slaan op, onder andere, "die woordeskat, gebruik en sinstruktuur van die kennisgewing, dokument of visuele voorstelling"1 (eie beklemtoning). In hierdie artikel word aandag gegee aan die sintaktiese eienskappe van regstaal wat begrip belemmer. Die doel is om sintaktiese konstruksies wat verwerkingsprobleme oplewer vir lesers wat nie in die reg opgelei is nie, uit te wys sodat die opstellers of hersieners van verbruikersdokumente in eietydse Suid-Afrika problematiese sinskonstruksies kan vermy en optimale begrip in die hand kan werk.
Min navorsing is tot op datum gedoen in en oor Afrikaanse regstaal en die taalkundige konstruksies wat tipies in regstekste gebruik word. Die onderhawige studie verteenwoordig ’n poging om ’n bydrae te lewer tot ’n studieterrein van die forensiese linguistiek wat tans mank gaan robuuste navorsing in Suid-Afrika.
Die enkele studies wat wel gedoen is, word kortliks hier aangedui.
In Cornelius (2010b) fokus ek op die vertaling van regstekste tussen Engels en Afrikaans en wys op die probleme wat bepaalde leksikogrammatikale konstruksies wat in regsdokumente voorkom, vir vertalers kan veroorsaak. In Cornelius (2012) word verslag gedoen oor die bevindinge van ’n omvattende linguistiese ondersoek na die verstaanbaarheid van verbruikersdokumente vir die algemene Afrikaanssprekende publiek. Cornelius (2013) dui aan hoe leserskommentaar benut kan word by die hersiening van ’n verbruikersdokument in gewone Afrikaans.
Volgens Shuy (2011) behoort die forensiese linguistiek tot die toegepaste linguistiek en kan die basiese werktuie van die linguistiek op regsvraagstukke en regsprobleme toegepas word. Hierdie werktuie sluit onder andere morfologie, sintaksis, semantiek, pragmatiek, variasietaalkunde, taalverandering en stilistiek in. Shuy (2011:89) maak die opmerking dat "the applied linguist who works in the legal arena must know what the best-trained linguists know about their field."
Wetgewing in Suid-Afrika vereis dat verbruikers beskerming moet geniet en die dokumente moet verstaan wat hulle onderteken. Daar kan min twyfel bestaan dat werklikheidsprobleme soos (1) om te besluit wat gewone taal is en/of nie is nie; (2) om inligting op so ’n wyse toeganklik te maak dat aangeneem kan word dat die lekeleser die inligting sal kan verstaan; en (3) om metodes en prosedures te identifiseer of te ontwikkel wat sal aandui of ’n dokument wel in gewone en duidelike taal is wat deur leketeksontvangers verstaan word, wel binne die bestek van die toegepaste linguistiek, en dan spesifiek die forensiese linguistiek, val en dat oplossings vir hierdie probleme binne hierdie paradigma gevind moet word. Dit volg dus dat die snyvlak van taal en die reg al hoe kleiner word namate die twee terreine insigte van mekaar nodig kry en hulle teorieë en modelle met mekaar móét begin deel.
In hierdie artikel word ondersoek of die sinskonstruksies wat in Afrikaanse wettekste voorkom, ook in verbruikersdokumente aangetref word. Soos later in afdeling 3 aangedui word, word regstekste, in die wydste sin van die woord, nie deur ’n homogene teikengehoor gelees nie. Dit is dus voor die handliggend dat ook die opstellers van wettekste en verbruikersdokumente verskil, hoewel beide tekssoorte onder die kategorie operatiewe tekste tuishoort. In hierdie studie word voorbeelde uit wettekste sowel as verbruikersdokumente betrek.
Die bydrae van hierdie studie lê in (1) die identifisering van problematiese sinskonstruksies in Afrikaanse wettekste en verbruikersdokumente; en (2) die praktiese demonstrasies van hoe problematiese konstruksies in verbruikersdokumente verbeter kan word tot voordeel van lekelesers, waardeur leiding aan die opstellers van hierdie soort dokumente gegee word.
2. ’n Tipologie van regstekste
Šarčević (1997:11), Tiersma (1999:139–41) en Cao (2007:8) onderskei drie hooftipes regstekste, naamlik operatiewe tekste, verklarende tekste en oorredende tekste. Die taalgebruik wat hierdie dokumente tipeer, kan op ’n glyskaal geplaas word van hoogs formeel, rigied, bevrore, geyk en formuleagtig in operatiewe tekste tot minder formeel, meer plooibaar, minder geyk en minder formuleagtig in oorredende tekste. Hierdie hooftipes en voorbeelde van subtipes word kortliks bespreek.
2.1 Operatiewe tekste
Operatiewe tekste sluit subtipes in soos wette (statute), regulasies, uitsprake en prosesstukke, en privaat regstekste soos testamente en kontrakte. Volgens Gibbons (2003:15) vorm operatiewe tekste as sodanig die regsraamwerk. Operatiewe tekste beliggaam die reg. Hierdie tekstipes vertoon hoë vlakke van formaliteit, die taal is geyk en die vorme bevrore,2 en daar is streng nakoming van ’n hoogs konvensionele en onbuigbare struktuur. Bhatia (1993:101) sonder wetskrywing uit vanweë die "obscure expressions and circumlocutions, long-winded involved constructions and tortuous syntax, apparently meaningless repetitions and archaisms" wat daarin voorkom. Die korpus van tien parlementswette aan die hand waarvan die sintaktiese kenmerke van wettekste in hierdie artikel beskryf word, val in hierdie kategorie. Die groep verbruikersdokumente waaruit voorbeelde geneem is van sinskonstruksies wat probleme vir lekelesers kan veroorsaak, hoort eweneens in hierdie kategorie.
2.2 Verklarende tekste
Dokumente van hierdie tipe het as primêre doel om die reg objektief te verduidelik, uit te lê en te vertolk. Dit bevat inligting óór die reg, maar dit beliggaam nie die reg nie. Dit kan die vorm aanneem van ’n brief van ’n regspraktisyn aan ’n kliënt, ’n regsopinie of ’n regshandboek.
2.3 Oorredende dokumente
Oorredende dokumente is byvoorbeeld hoofde van betoog wat aan die hof voorgelê word. Oorredende dokumente word in standaardtaal geskryf, maar die stylaard is veel minder formuleagtig en meer plooibaar as in die geval van operatiewe dokumente.
3. Die lesers van regstekste
In sy bespreking van teikenontvangers van regstekste verwys Gibbons (2003:174, 198) na ’n sogenaamde tweegehoordilemma, waar daar ’n spanning bestaan tussen "the language appropriate to the lay [...] audience, and the language appropriate to the specialist legal audience" (Gibbons 2003:174). Gibbons wys wel daarop dat hierdie spanning nie ’n onoorkomelike probleem hoef te wees nie, aangesien dit moontlik is om die taalgebruik in regstekste wat vir algemene lesersgehoor bedoel is, dermate aan te pas dat die behoeftes van beide gehore bevredig word.
Beide Daniels (2001) en Nienaber (2002) identifiseer verskillende groepe teksontvangers van wetgewing. ’n Wet word gelees deur: (1) lede van die parlement; (2) openbare amptenare, wat die reg administreer en toepas; (3) lede van die regbank – regters en landdroste – wat die reg interpreteer; (4) regspraktisyns, rekenmeesters en konsultante wat die persone wat deur die reg geraak word, van advies bedien; en (5) die persone wat persoonlik deur die reg geraak word. Die eerste vier groepe kan as kundige gehore beskou word. Die laaste groep, daarenteen, bestaan uit lesers wat nie noodwendig in die reg opgelei is nie.
Ander operatiewe tekste, waaronder verbruikersdokumente soos bepalings en voorwaardes vir lenings en kredietkaarte, en verbruikersartikels met waarskuwingsetikette, word deur lekelesergehore gelees. Hierdie lesers beskik selde oor regskennis en -opleiding, wat ’n bepaalde spanning meebring: ’n onderliggende spanning tussen die taal wat gepas is vir gebruik wanneer daar met lekegehore gekommunikeer word en die taal wat gepas is vir kommunikasie met kundige gehore (Gibbons 2003:174).
4. Kenmerke van leksikogrammatikale kompleksiteit
Charrow en Crandall (1978), Charrow en Charrow (1979), Danet (1980), Felker e.a.(1981), Bhatia (1993), Maley (1994), Tiersma (1999, 2008), Candlin e.a. (2002), Gibbons (2003) en Cornelius (2010a, 2010b; 2011; 2012) identifiseer bepaalde leksikale en grammatiese konstruksies in Engelse en (in die geval van Cornelius) Afrikaanse regstaal wat begripsprobleme by gewone (teenoor spesialis-) lesers kan veroorsaak. Die konstruksies wat deur hierdie skrywers uitgesonder word as oorsake van verwerkingsprobleme, stem grootliks ooreen. In hierdie artikel word bykomende konstruksies geïdentifiseer wat in Afrikaanse regstaal voorkom en dus nie in die ander studies wat hier aangehaal word, ingesluit is nie, soos vreemde adjektiwiese (byvoeglike) voorbepalings (sien afdeling 4.3).
Daar is geen tekort aan skryfwenke en -riglyne vir toeganklik skryf nie; maar Gibbons waarsku (2001:449) dat sodanige handleidings dikwels maklik is om te verstaan en te gebruik, maar "may lack adequate linguistic modelling, particularly in the grammar", aangesien hulle in wese eintlik bedoel is vir mense wat nie in die eerste plek taalkundiges is nie. Verklarings en verduidelikings word meestal nie gegee van waarom sekere grammatikale strukture aangemoedig en ander ontmoedig word nie.
Die gebruik van korter sinne word dikwels voorgestel as ’n oplossing vir begripsprobleme, wat die indruk laat dat lang sinne per definisie moeilik is om te verwerk. Charrow en Charrow (1979:1320) wys egter daarop dat sinslengte as sodanig nie noodwendig verwerkingsprobleme veroorsaak nie, want "it is the grammatical, semantic, and contextual complexity of discourse, not sentence length, that determines how difficult it will be for people to understand the discourse."
Die gebruik van korter sinne kan juis vaagheid en onduidelikheid in die hand werk. Tiersma (1999:13) verwys hierna as "false economy" en waarsku dat "saying too little is almost surely worse than saying something too often." Hierbenewens word die gebruik van passiefkonstruksies (De Stadler s.j.b:1; Cutts 2013:63–72) ook ontmoedig. Hierdie soort konstruksies veroorsaak meer gereeld verwerkingsprobleme in bysinne en nie soseer in hoofsinne nie. Dit is dus krities belangrik dat die opstellers en hersieners van verbruikersdokumente grondige kennis het van die soorte en die aard van die sinskonstruksies wat begrip belemmer.
Gibbons (2003:170) wys daarop dat regstaal op alle konstituentvlakke kompleks is en dat hierdie kompleksiteit toegeskryf kan word aan sowel die aantal konstituente as die komplekse verhoudings tussen hierdie konstituente. Daar is dus sintaktiese, intersins-, frase- en leksikale kompleksiteit. Sintaktiese kompleksiteit verwys na die aantal enkelvoudige sinne, en die verhoudings tussen hierdie enkelvoudige sinne, in ’n saamgestelde sin. Intersinskompleksiteit behels die verhoudings tussen, en die aantal, frases. Frasekompleksiteit verwys na die verhoudings tussen die aantal woorde in ’n frase, en leksikale (woord-) kompleksiteit hou verband met die verhoudings tussen die aantal morfeme in ’n woord. Hierdie linguistiese kompleksiteite kan ernstige verwerkingsprobleme veroorsaak, nie net vir lekelesers wie se moedertaal Afrikaans is nie, maar ook vir tweedetaalsprekers.
In die volgende gedeeltes word die sintaktiese kenmerke van regstaal ondersoek en word nie aandag gegee aan problematiese leksikale kenmerke nie. Die voorbeelde wat aangebied word, kan as verteenwoordigend van die sintaksis van Afrikaanse regstaal beskou word. Wat Charrow en Crandall (1978:8) met betrekking tot hulle ondersoek sê, geld ook in hierdie artikel:
[T]he examples here are not the result of hours of tedious searching. We pulled out one formbook at random and selected a form or two for analysis. Any other formbook or casebook would have done as well. The brief we used happened to be one that we had lying around [...]. Again, any other brief would have provided similar examples. In short, the examples are indeed representative of legal language and were not chosen because they were the most bizarre. A simple sentence in legal language is rare.
5. Metodologiese kwessies
Daar bestaan ’n aantal plaaslike studies oor die aard en eienskappe van Engelse regstaal, en spesifiek die sinskonstruksies wat begrip belemmer, hoewel hierdie studies nie deur die bank spesifiek op regsbegrip fokus nie (Knight 1996; Smith 1999; Nienaber 2001; Feinauer 2003; Carstens en Snyman 2003; Carstens 2004; Rodenburg en De Stadler 2004; Feinauer en Luttig 2005; Ndlovu 2006; Carstens, Maes en Gangla-Birir 2006; Carstens 2007; Slabbert 2010; Cornelius 2010a, 2010b, 2011; Siebörger en Adendorff 2011; Cornelius 2012; 2013). Knight (1996), Smith (1999), Nienaber (2001), Cornelius (2010a, 2010b, 2011, 2012, 2013) en Siebörger en Adendorff (2011) het betrekking op regstekste. Die konstruksies wat in die onderhawige studie aan bod kom (sien afdeling 6), is grootliks gegrond op die konstruksies wat in hierdie studies as problematies uitgesonder word.
Die doel van hierdie artikel is, soos reeds genoem, om te bepaal watter komplekse sinskonstruksies in Afrikaanse regstaal voorkom wat probleme vir lekelesers van verbruikersdokumente kan veroorsaak en tot gevolg het dat hulle nie begrip van so ’n dokument kan vorm sonder uitermate inspanning nie. Hiervoor is tien wette van tussen 1979 en 1988 as korpus gebruik. Die rede vir die keuse van hierdie tien wette is dat wetgewing in hierdie tydperk meestal oorspronklik in Afrikaans opgestel is, aangesien die oorgrote meerderheid staatsregsadviseurs in daardie stadium Afrikaanssprekend was. Hierdie wette is dus nie vertalings uit ander tale nie en daar kan gevolglik aanvaar word dat die konstruksies wat in hierdie tekste gebruik word, nie die funksie van vertaling is nie, maar outentieke formulerings op sigself.3 Aangesien die NKW en die WVB van toepassing is op verbruikersdokumente, wat wettekste uitsluit, is ook nege verbruikersdokumente4 in die korpus ingesluit. Die korpus is dus verteenwoordigend van operatiewe regstekste.
Die volgende wettekste is in die korpus ingesluit:
• Wet op Verbruikersake (Onbillike Sakepraktyke) 71 van 1988
• Wet op Grondsake 101 van 1987
• Wet op Deeltitels 95 van 1986
• Wet op Kindersorg 74 van 1983
• Wet op Referendums 108 van 1983
• Wet op Intimidasie 72 van 1982
• Wet op die Beveiliging van Inligting 84 van 1982
• Wet op Vervreemding van Grond 68 van 1981
• Algemene Pensioenwet 29 van 1979
• Wet op Egskeiding 70 van 1979.
Die volgende verbruikersdokumente is ook in die korpus ingesluit:
• Die bepalings en voorwaardes van ’n kredietooreenkoms
• Die bepalings en voorwaardes van ’n aansoek om lidmaatskap van ’n koopvereniging
• Die bepalings en voorwaardes van ’n persoonlikelening-ooreenkoms
• Die bepalings en voorwaardes van ’n selfoonkontrak
• Twee huurooreenkomste (een ten opsigte van die verhuring van studente-akkommodasie; die ander ten opsigte van die verhuring van ’n woonhuis)
• ’n Koopooreenkoms ten opsigte van die verkoop van ’n woonhuis
• Die bepalings en voorwaardes van begrafnisplanne van twee verskillende maatskappye.
Hierdie dokumente is vrylik beskikbaar en kan in die meeste gevalle regstreeks van die internet afgelaai word. In die gedeeltes wat volg, word problematiese sinskonstruksies in beide wettekste en verbruikersdokumente aan die hand van voorbeelde bespreek. Omdat verbruikersdokumente geredelik deur lekelesers verstaan moet kan word, word aangedui hoe swak konstruksieverskynsels deur opstellers van hierdie soort regstekste verbeter kan word. Dit is egter wel belangrik om daarop te wys dat "(D)ifferent revisers will probably choose a different selection of reader problems to repair, as well as different solutions to these problems" (De Jong en Schellens 2001:72). Die voorstelle ter verbetering wat aangebied word, verteenwoordig derhalwe slegs één moontlike hersiening van die betrokke konstruksieverskynsel. Dit is dikwels ook moeilik om slegs op een swak konstruksieverskynsel te fokus; wanneer een konstruksie verbeter word, word ander problematiese konstruksies soms terselfdertyd reggestel.
6. Sintaktiese kenmerke van regstaal
6.1 Lang en komplekse sinne
6.1.1 Sinslengte
Die gebruik van lang sinne is tiperend van regsdokumente en volgens Mellinkoff (1963:366–7) vorm die lang sin sonder leestekens deel van die "tradition of legal composition". Lang sinne word dikwels in verskillende tipes regstekste gebruik, veral in operatiewe tekste soos testamente, kontrakte en wette. Mellinkoff (1982:58) skryf die gebruik van die lang sin hoofsaaklik toe aan gewoonte, meer as aan enige ander faktor.
Sinslengte op sigself hoef nie noodwendig verwerkingsprobleme vir ’n leser te veroorsaak nie.5 Langer, maar eenvoudige sinskonstruksies, met geen newe- of onderskikking nie, veroorsaak dus nie gereeld verwerkingsprobleme nie. Lang sinne plaas egter wel ’n las op die leser se geheue. Charrow en Charrow (1979:1320) voer aan dat "it is the grammatical, semantic, and contextual complexity of discourse, not sentence length, that determines how difficult it will be for people to understand the discourse." ’n Lang sin wat uit laefrekwensiewoorde (randwoordeskat) en spesialisterme6 bestaan, tesame met hoë inligtingsdigtheid – veelvuldige idees en proposisies – veroorsaak begripsprobleme vir lekelesers en soms selfs ook vir persone wat wel regsopleiding ontvang het. Soos Garner (aangehaal in Hjort-Pedersen en Faber 2001:385) dit stel: "Traditionally, lawyers have aimed for a type of 'precision' that results in a cumbersome style of writing, with many long sentences collapsing under the weight of qualifications."
Die doel van die kwalifikasies en voorwaardes is om vir alle gebeurlikhede voorsiening te maak sodat die reg allesinsluitend is en wye toepassing geniet. Hierdie kwalifikasies en voorwaardes veroorsaak nie net dat die lengte van die sin toeneem nie; die kompleksiteit van die sin neem eweneens toe. Lang en komplekse sinne, soos die een-sin-paragraaf, vereis dat die leser die teks of teksgedeelte herhaaldelik moet lees om die proposisionele inhoud wat die skrywer wil oordra volledig (of gedeeltelik) te verstaan. Daarbenewens kan lang sinne veroorsaak dat die leser belangstelling in die teks verloor, veral in die geval van wettekste, waar die leek dalk min of geen motivering het nie om die teks in die eerste plek te lees.
Met verwysing na Engels beveel Kimble (1992:13) aan dat die gemiddelde sinslengte, as ’n algemene reël, nie 25 woorde moet oorskry nie.7 Vir Nederlands stel Burger en De Jong (1997:183) voor dat ’n sin wat uit 30 woorde bestaan, as ’n lang sin beskou kan word. Hulle waarsku egter dat lang sinne nie noodwendig ’n teks onleesbaar maak nie en dat korter sinne nie altyd ’n teks meer leesbaar maak nie. ’n Lang sin wat goed gestruktureer is (byvoorbeeld waar die hoofsin aan die begin verskyn), kan wel leesbaar wees, terwyl kort sinne kan veroorsaak dat die verbande tussen inligtingseenhede verlore raak.
Artikel 14(3) van die Wet op Deeltitels 95 van 1986 bestaan uit een komplekse sin van 129 woorde:
Voorbeeld 1
Indien ’n persoon volgens die oordeel van die Landmeter-generaal benadeel kan word weens ’n foutiewe deelplan, moet hy die registrateur in kennis stel van welke dele deur ’n betrokke gebrek geraak word, en daarna word geen oordrag van so ’n deel en sy onverdeelde aandeel in die gemeenskaplike eiendom of ’n saaklike reg daarin geregistreer tot tyd en wyl die gebrek in die deelplan reggestel is nie, tensy die registrateur tevrede is dat die vertraging om die foutiewe deelplan te laat regstel oormatige ontbering sal veroorsaak en die persoon in wie se guns oordrag van die deel en sy onverdeelde aandeel in die gemeenskaplike eiendom of van ’n saaklike reg daarin, geregistreer moet word, skriftelik toestem dat die oordrag of ander registrasie kan geskied voordat die gebrek reggestel is.
In eietydse Suid-Afrika word die oorgrote meerderheid wette in Engels opgestel en daarna in ander tale, waaronder soms ook Afrikaans, vertaal. Volgens André Lefevere (in Potgieter 2003:81) word vertalers gebind deur die sintaksis van die bronteks, wat die mins buigbare beperking is wat hulle opgelê word. Wanneer ’n wet daarom nie oorspronklik in Afrikaans opgestel word nie, maar uit Engels vertaal word, kan aanvaar word dat sinslengte vooraf bepaal is.
In verbruikersdokumente word ook lang sinne aangetref, soos in die geval van voorbeeld 2 hier onder, geneem uit die bepalings en voorwaardes vir ’n persoonlike lening van ’n bekende Suid-Afrikaanse bank. Hierdie sin bestaan uit 102 woorde:
Voorbeeld 2
Onderhewig daaraan dat die totaal van die bedrae ten opsigte van die fooie en koste soos weerspieël in die Kwotasie, die inisiëringsfooi, die diensfooi, die kredietversekeringskoste, indien van toepassing, rente, wanprestasie-administrasiekoste en invorderingskoste wat gedurende die tydperk wat die Lener wanpresteer oploop, nie in totaal die onbetaalde saldo van die hoofskuld oorskry op die tydstip wat die wanprestasie plaasvind nie, is die wanprestasierentekoers van toepassing op enige bedrag ten opsigte waarvan die Lener wanpresteer en/of ’n bedrag wat nie op die betaaldatum betaal word nie, die maksimum rentekoers betaalbaar ingevolge die Nasionale Kredietwet vir transaksies van die aard bedoel in hierdie Ooreenkoms.
Voorbeeld 3a uit ’n kredietkaartooreenkoms bevat 98 woorde:
Voorbeeld 3a
Betalings wat na die 3de dag, of so ’n dag wat van tyd tot tyd bepaal word, van elke maand ontvang word, kwalifiseer nie vir bonusdoeleindes nie, met dien verstande dat ’n betaling wat per pos gedoen word en wat ontvang word na die 3de dag, of so ’n dag as wat van tyd tot tyd bepaal word, van die ter sake maand wel kwalifiseer vir bonusdoeleindes indien die posstempel aantoon dat die stuk voor of op die 1ste dag, of so ’n dag as wat van tyd tot tyd bepaal word, van die betrokke maand gepos is.
Dit blyk dus dat lang sinne eweneens voorkom in verbruikersdokumente wat deur lekelesers gelees en verstaan moet word. In voorbeeld 3b is die probleem van sinslengte deur herskrywing opgelos:
Voorbeeld 3b
Betalings wat u na die derde dag van ’n maand maak, word nie aanmerking geneem wanneer ons u jaarlikse bonus bereken nie. Betalings wat u aan ons pos, maar wat ons eers na die derde dag bereik, sal wel in aanmerking kom vir bonusdoeleindes, maar slegs indien die posstempel wys dat u wel die betaling voor of op die eerste dag van die maand gepos het.
Benewens verskeie ander hersieningsingrepe, soos die gebruik van persoonlike voornaamwoorde en die aktiefvorm, word die inhoud van die sin in twee korter sinne van onderskeidelik 22 en 44 woorde aangebied.
6.1.2 Sinslengte en inligtingsdigtheid
Inligtingsdigtheid verwys na "die bepaling van hoeveel woorde (en daardeur hoeveel inligting) nodig is om ’n saak of feit te kommunikeer. Hoe hoër die digtheid, hoe moeiliker is die begripsvlak van die boodskap" (Carstens en Van de Poel 2010:136). Dit is belangrik om sinslengte in ’n teks af te wissel (hoewel Burger en De Jong (1997:186) waarsku teen ’n meganistiese afwisseling van kort en lang sinne in ’n teks). Die sin in voorbeelde 1, 2 en 3a hier bo het ongetwyfeld ’n hoë graad van inligtingsdigtheid en is daarom moeilik verstaanbaar. Dieselfde geld vir die sinne in voorbeelde 4 en 5a hier onder wat onderskeidelik uit 139 en 85 woorde bestaan. Burger en De Jong (1997:187–8) voer aan dat teksproduseerders daarteen moet waak om te veel inligting in ’n enkele sin aan te bied en dat eerder net een gedagte per sin oorgedra moet word.
6.1.3 Komplekse sinstruktuur: hipotaksis en parataksis
Operatiewe tekste vertoon hoë vlakke van sintaktiese kompleksiteit. Volgens Gibbons (2003:170) bewys psigolinguistiese navorsing dat sintaktiese kompleksiteit verstaanbaarheid bemoeilik. Neweskikkende konstruksies, wat as parataktiese konstruksies bekend staan, is effens moeiliker as enkelvoudige sinne. Wettekste bevat egter ’n wesenlike getal onderskikkende bysinne in ’n enkele sin. Hierdie verskynsel heet hipotaksis. Dit is inderdaad onderskikkendeof hipotaktiese konstruksies wat die heel moeilikste is: "Even for a legal audience, such texts can require work before they are understood in full" (Gibbons 2003:170). Onderskikkende bysinne is in sinstatus ondergeskik aan die hoofsin (Carstens 1989:107).
’n Bysin kan aan ’n ander bysin ondergeskik of in enkele gevalle newegeskik wees, maar is altyd óf afsonderlik ondergeskik aan die hoofsin of ander klous óf saam met ('n) ander bysin(ne) ondergeskik aan die hoofsin of ander klous. (Van Schoor 1983:316)
Volgens Charrow en Charrow (1979:1327) voorspel taalteorie dat die soorte onderskikking (bysinne) begrip in ’n groter mate beïnvloed as die absolute getal onderskikkings. Die Charrows, wie se studie daarop gemik was om die verstaanbaarheid van jurie-instruksies te bepaal, het egter bevind dat daar ’n hoë negatiewe korrelasie tussen respondente se sukses en die aantal bysinne is: "as the number of embeddings increased, comprehension decreased." Die sin in voorbeeld 4 word deels met behulp van neweskikking gevorm (met behulp van die neweskikker/voegwoord en):
Voorbeeld 4
Wanneer ’n respondent teen wie ’n kontribusie-order in werking is, verhuis na en gaan woon in ’n ander distrik of gaan werk in ’n ander distrik as die distrik van die hof wat die order uitgereik het, moet daardie hof, sonder voorafgaande kennisgewing aan die respondent, die order wysig deur ’n beampte van die ooreenstemmende hof van die distrik waarheen die respondent verhuis het of waarin hy gaan werk het, aan te wys as die beampte aan wie betaal moet word, en wanneer ’n hof ’n order aldus gewysig het, moet hy ’n gewaarmerkte afskrif van die order stuur aan die hof waaraan die beampte aldus aangewys, verbonde is, en aan die respondent skriftelike kennis gee van die wysiging van die order, en daarop is die order geldig en afdwingbaar asof dit ’n order van sodanige laasgenoemde hof was.8
Daar kan aanvaar word dat die blote aantal onderskikkende bysinne (en nie soseer die soort bysinne nie) lesers se geheue, en dus begrip, negatief sal beïnvloed. Daar kan min twyfel bestaan dat lang en komplekse sinstrukture die taal in operatiewe tekste moeiliker maak om te verstaan. Burger en De Jong (1997:187) beveel aan dat opstellers van tekste met groot omsigtigheid moet omgaan met lang en komplekse sintaktiese konstruksies, want "als bijzinnen niet stevig gekoppeld zijn, als obstakels niet tijdig opgeruimd worden, ontspoort de hele zin."
Komplekse sinstruktuur word ook in verbruikersdokumente aangetref, soos in voorbeeld 5a, geneem uit ’n kredietkaartooreenkoms:
Voorbeeld 5a
In geval van die beëindiging van die kredietopnemerlidmaatskap sal die kredietopnemer geregtig wees op die uitbetaling van sy/haar pro-rata aandeel in die waarborgfonds, bereken aan die einde van die boekjaar waarin lidmaatskap beëindig is met dien verstande dat die bedrag nie opeisbaar word binne een jaar na die einde van die betrokke jaar nie en dat teen sodanige eis verreken moet word alle bedrae deur die kredietopnemer aan die kredietgewer in sy hoedanigheid as agent vir die kredietopnemer of in eie hoedanigheid verskuldig mag wees.
Hierdie klousule kan soos volg verbeter word:
Voorbeeld 5b
U is geregtig op u aandeel in die waarborgfonds wanneer u u lidmaatskap van Koopkrag beëindig. Ons sal u presiese aandeel bereken aan die einde van September van die jaar waarin u u lidmaatskap beëindig. Ons het die reg om u aandeel eers in die volgende finansiële jaar aan u uit te betaal, indien dit nodig mag wees. Ons kan enige uitstaande bedrae wat ons nog namens u aan ’n verskaffer moet betaal vir transaksies wat u met u kaart gedoen het, van u aandeel in die waarborgfonds terughou. Ons kan ook enige uitstaande bedrae wat u nog aan ons moet betaal, van u aandeel in die waarborgfonds terughou.
Benewens ander ingrypings is onder- en neweskikking (tesame met die voorwaarde-adjunk met dien verstande) tydens hersiening verwyder.
6.2 Invoeging van voorwaardes, kwalifikasies en voorbehoudsbepalings
Die sintaktiese kompleksiteit waarna in afdeling 6.1.3 hier bo verwys word, is dikwels die gevolg van ’n geneigdheid om komplekse sinne te skep waarbinne ’n lys voorwaardes ingesluit word. ’n Opsigtelike eienskap van regstekste is die groot getal voorwaardes, kwalifikasies en voorbehoudsbepalings waarsonder die artikel, klousule of bepaling se wesenlike, saaklike en gebiedende aard nie oorgedra word nie. Met verwysing na wetsbepalings sê Bhatia (1993:111; 1994:146) die volgende: "Most legislative provisions are extremely rich in qualificational insertions within their syntactic boundaries." In voorbeeld 6 hier onder word bepaalde bevoegdhede aan die kinderhof verleen, maar die hof het nie die gesag om volgens eie keuse toestemming toe te laat nie. Die voorwaarde beperk gevolglik die reël.
Voorbeeld 6
Genoemde toestemming moet die name van die voorgenome aannemende ouers uiteensit, maar die kinderhof kan, indien hy oortuig is dat die belange van die kind daardeur gedien sal word, as ’n voldoening aan die bepalings van subartikel (4) (d), ’n toestemming deur die kind se ouer of voog toelaat wat nie die name of enige ander besonderhede van die voorgenome aannemende ouers bevat nie.9
Sonder hierdie voorwaardes sou daar universele toepassing wees en "it is very very rare that rule of law is of universal application. The qualifications seem to provide the essential flesh to the main proposition without which the provision will be nothing more than a mere skeleton, of very little legal significance" (Bhatia 1993:111; 1994:147).
In die bepalings en voorwaardes van ’n aansoek om lidmaatskap van ’n koopvereniging word soortgelyke verskynsels aangetref, soos in voorbeeld 7a hier onder.
Voorbeeld 7a
Die Verbruiker erken dat die Kaart te alle tye die eiendom van die Kredietgewer bly en dat hy verplig is om, indien daartoe versoek deur die Kredietgewer vanweë welke rede ookal, die Kaart aan die Kredietgewer terug te handig.
’n Teks kan wesenlik vereenvoudig word indien voorwaardes, kwalifikasies en voorbehoude afsonderlik gelys word, eerder as om hulle in komplekse sintaktiese strukture in te bed. Voorwaardes kan byvoorbeeld een na die ander gelys word, elkeen op ’n afsonderlike reël. In die hersiening (voorbeeld 7b) word die voorwaarde wat in voorbeeld 7a deur "indien" ingelei word, uitgeskuif tot later:
Voorbeeld 7b
Alle kaarte bly ons eiendom. U moet enige kaart wat ons aan u uitreik aan ons teruggee, indien ons u daarvoor vra.
6.3 Sintaktiese diskontinuïteit deur misplaaste frases en tangkonstruksies
Bhatia (1993:113; 1994:146) wys op diskontinue konstituente wat ernstige verwerkingsprobleme kan veroorsaak. Die diskontinuïteit word veroorsaak deur die invoeging van ’n verskeidenheid kwalifikasies in ’n enkele sin. Die nadeel is dat hierdie invoegings op bepaalde sintaktiese punte in die sin sintaktiese diskontinuïteit veroorsaak wat selde in dieselfde omvang in enige ander genre aangetref word: "[L]egal draftsmen do not consider any phrase boundaries sacrosanct, be it a verb phrase, a noun phrase, a binomial phrase or even a complex prepositional phrase" (Bhatia 1993:113; 1994:148).
Voorbeeld 8
Die vermelding in die bylae van ’n deelplan van die kwota van elke deel en van die totaal van die kwotas van al die dele in die gebou of geboue wat deur ’n skema behels word, word vir alle doeleindes geag korrek te wees tensy die teendeel bewys word.10
In voorbeeld 8 onderbreek die voorsetselgroep in die bylae die naamwoordstuk en word sintaktiese diskontinuïteit veroorsaak: Die vermelding van ’n deelplan word dus onderbreek deur die voorsetselgroep in die bylae.
In voorbeeld 9 kom twee gevalle van sintaktiese diskontinuïteit voor. In beide gevalle word die diskontinuïteit veroorsaak deur voorsetselkonstruksies wat in sintaktiese openinge gevoeg word waar onderbreking die gevolg is (die konstituente wat die onderbreking veroorsaak, word onderstreep):
Voorbeeld 9
Die uitvoerende komitee kan, onderworpe aan die voorskrifte van die raad, tussen raadsvergaderings al die bevoegdhede van die raad uitoefen en al sy werksaamhede verrig, maar is, behalwe vir sover die raad anders gelas, nie bevoeg om ’n besluit van die raad tersyde te stel of te wysig nie.
Diskontinue konstituente wat die gevolg is van die invoeging van lang voorwaardes, tesame met ander voorwaardes wat op hulle beurt weer daarbinne ingebed word, maak die alreeds komplekse sintaktiese struktuur nog meer ingewikkeld. Hierdie kompleksiteit veroorsaak dat lesers ernstige psigolinguistiese probleme ervaar tydens verwerking, "especially in the case of non-specialist readership" (Bhatia 1993:113; 1994:149).
Sintaktiese diskontinuïteit kom ook in verbruikersdokumente voor, soos in voorbeeld 10a, wat geneem is uit die bepalings en voorwaardes van ’n persoonlikelening-ooreenkoms:
Voorbeeld 10a
Die maandelikse diensfooi, soos aangedui in die Kwotasie […], indien van toepassing en soos bedoel en weerspieël in die Kwotasie, word by die Lener se maandelikse terugbetalings ingesluit.
Die verwerkingsprobleme wat deur diskontinuïteit veroorsaak word, kan soos volg verlig word:
Voorbeeld 10b
In die Kwotasie word die maandelikse diensfooi aangedui. Hierdie maandelikse diensfooi word by die Lener se maandelikse terugbetalings ingesluit soos bedoel en weerspieël in die Kwotasie, indien so ’n diensfooi van toepassing is.
Tangkonstruksies is die verskynsel waar "woorden die grammaticaal bij elkaar horen te ver uiteen staan. Hoe groter de afstand tussen de delen van de tang, hoe moeilijker het voor de lezer wordt om de zin te overzien" (Burger en De Jong 1997:188).
Die tangkonstruksie is baie nuttig, omdat die gebruik daarvan kompakte aanbieding van inligting moontlik maak:
Voorbeeld 11
Die voorsitter van die raad moet by alle raadsvergaderings waarop hy teenwoordig is, voorsit, en indien sowel die voorsitter as die ondervoorsitter van ’n vergadering afwesig is, kan die aldaar aanwesige lede, mits daar ’n kworum bestaan, een uit hulle midde kies om op dié vergadering voor te sit.11
Sodra lesers die eerste deel van die tange moet en kan in voorbeeld 11 lees, wag hulle vir die tweede deel van die tang (voorsit en kies). Hoe langer die afstand tussen die twee dele van die tangkonstruksie, hoe meer word die korttermyngeheue belas.
Tangkonstruksies hoef egter nie noodwendig verwerkingsprobleme vir lesers te veroorsaak nie, maar indien die afstand tussen die woorde wat bymekaar hoort, te groot raak en indien die sin reeds ’n komplekse sintaktiese struktuur het, kan lesers se korttermyngeheue oorlaai word. Tangkonstruksies bied nuwe inligting aan terwyl die leser nog op die tweede deel van die tang wag; en omdat hulle op daardie tweede deel wag wat uitgestel word, word hulle aandag deur die inligting wat ingevoeg word, afgelei.
Veral indien tangkonstruksies ook nog in sinne gebruik word wat reeds lank is, én daar boonop tegniese woorde en terme in die tangkonstruksies voorkom, sal leesbaarheid in gedrang kom.
Hierbenewens is ’n tangkonstruksie waarvan die tweede deel van die tang moeiliker voorspelbaar is, moeiliker verstaanbaar. Burger en De Jong (1997:191) wys juis daarop dat tangkonstruksies waarvan die eerste lid byvoorbeeld ’n lidwoord is, leeg is omdat lidwoorde baie min inligting bevat en die leser se geheue nie deur die onderbreking belas word nie. Tangkonstruksies waar die afstand tussen ’n voegwoord en ’n werkwoord vergroot word, is egter meer steurend en kan lei tot informatiwiteit op De Beaugrande en Dressler (1981) se tweede, meer komplekse vlak. Voegwoord-werkwoord-tange ontstaan wanneer twee voegwoorde direk na mekaar gebruik word, soos dat indien, dat hoewel, dat mits en dat wanneer, soos in voorbeeld 12:
Voorbeeld 12
... en waarin verklaar word dat indien die regspersoon versuim om dit te doen, ’n aansoek by die Hof kragtens paragraaf (b) gedoen sal word.12
Tangkonstruksies kom ook in verbruikersdokumente voor, soos in voorbeeld 13a, geneem uit ’n huurkontrak:
Voorbeeld 13a
Die Verhuurder is daarop geregtig om te eniger tyd gedurende die geldigheidstermyn van die huurooreenkoms van die Huurder te vereis om die eiendom op die Huurder se onkoste in dieselfde toestand as wat dit op die datum daarvan is, te herstel.
Hierdie klousule kan soos volg hersien word:
Voorbeeld 13b
Die Verhuurder is daarop geregtig om van die Huurder te vereis om die eiendom te herstel te eniger tyd gedurende die geldigheidstermyn van die huurooreenkoms. Die Huurder moet die eiendom herstel op eie onkoste in dieselfde toestand as wat dit op die datum daarvan is.
In voorbeeld 13b word woorde wat grammatikaal bymekaar hoort, nader aan mekaar geplaas. Inligting word in twee sinne aangebied om die inligtingsdigtheid wat in een enkele sin (in voorbeeld 13a) voorkom, te verlaag.
In spesifiek wettekste kom ongewone adjektiwiese voorbepalings ook in die naamwoordstuk voor. Attributiewe adjektiewe bepaal waarvan (van watter saak of feit?) of van wie (van watter persoon of persone?) die teksproduseerder ’n mededeling wil maak, byvoorbeeld ’n aangename vakansie; predikatiewe byvoeglike naamwoorde is wat ’n teksproduseerder in verband met iets of iemand wil sê (Van Schoor 1983:260). Reekse attributiewe adjektiewe is ook algemeen, byvoorbeeld ’n jong, vriendelike dame. In voorbeelde 14 en 15 word ongewone voorbepalings13 opgemerk:
Voorbeeld 14
Die registrateur registreer nie die oordrag van ’n in subartikel (3) bedoelde transaksie nie tensy ’n klaringsbewys van die plaaslike bestuur aan die registrateur voorgelê word dat [...].14Voorbeeld 15
’n by wet gemagtigde doel.15
Hierdie adjektiwiese bepalings val op omdat hulle afwyk van die natuurlike funksie en plasing wat in alledaagse taalgebruik voorkom. Voorbeelde van hierdie soort konstruksie kom nie in enige van die verbruikersdokumente voor wat tydens hierdie ondersoek ontleed is nie.
Hierdie voorbeelde, ’n in subartikel (3) bedoelde transaksie en ’n by wet gematigde doel, is opvallend omdat ’n voorsetselkonstruksie in beide gevalle as byvoeglike bepaling dien. Van Schoor (1983:27) wys daarop dat "as ’n voorsetselkonstruksie as byvoeglike bepaling dien, is dit gewoonlik ’n nabepaling". In hierdie voorbeelde is die voorsetselkonstruksie ’n vóórbepaling, ’n verskynsel wat net in enkele geykte uitdrukkings voorkom, soos ’n voor die hand liggende rede. Die onderhawige voorbeelde is egter nie geykte uitdrukkings nie. Inligting wat beter predikatief aangebied kan word, word in hierdie gevalle deur die teksproduseerder "tot onderdeel van een naamwoordelijke formulering [...] gemaakt" (Onrust e.a. 1993:131). Burger en De Jong (1997:192) stel juis voor dat die deel van die sin wat deur die tangkonstruksie "vasgehou" word, eerder aan die einde van die sin geplaas moet word. ’n Tweede oplossing sou wees om twee sinne te skep van die sin wat ’n tangkonstruksie bevat.
Nog ’n voorbeeld van ’n ongewone adjektiwiese voorbepaling is die aldus gesertifiseerde besluit in:
Voorbeeld 16
’n Transaksie ingevolge ’n in subartikel (1) bedoelde besluit moet vergesel gaan van ’n afskrif van die betrokke besluit, deur twee trustees van die regspersoon gesertifiseer: Met dien verstande dat waar die betrokke transaksie notarieel verly moet word, die aldus gesertifiseerde besluit aan die betrokke notaris voorgelê en deur hom in sy protokol gehou moet word.16
Hierdie adjektiwiese bepaling sou op ’n natuurliker wyse as ’n nabepaling van die besluit aangebied kon word: die besluit wat aldus gesertifiseer is. Onrust e.a. (1993:133) wys daarop dat attributiewe byvoeglike bepalings om die volgende redes aanleiding tot probleme in ’n teks kan gee:
• die inligting wat in die verbygaan oor ’n referent verstrek word, bevat te veel besonderhede of is te omvangryk om op hierdie manier aangebied te word
• die inligting word so diep versteek dat dit nie die inligtingsfokus van die sin kan wees nie
• die inligting word so diep versteek dat bepaalde verbande in die teks nie met sukses gelê word nie.
Daar kan aanvaar word dat hierdie afwykings van natuurlikheid sal bydra tot lesers se verwerkingslading en dat begripsprobleme hierdeur veroorsaak sal word. Hierdie afwyking veroorsaak dat informatiwiteit op die tweede vlak bereik word: "When defaults or preferences are overridden, i.e., when occurrences are below the upper range of probability, we obtain second-order informativity" (De Beaugrande en Dressler 1981:143).
6.4 Lang aanvanklike gevalbeskrywings / aanlope
In wettekste word die regsonderwerp (die konstruksie wat verwys na die persoon of party wat aan die betrokke bepaling onderhewig is) dikwels deur ’n lang aanvanklike gevalbeskrywing of aanloop (Bhatia 1993:110). Hierdie inleidings is in die vorm van voorwaarde-adjunkte: bysinne wat ingelei word met as/indien, ingeval, mits, met dien verstande, op voorwaarde dat, tensy, waar of wanneer; voorsetselgroepe met in geval van, vir geval en in so ’n geval; en bywoorde soos andersins, anders, dan en desnoods (Ponelis 1979:356). ’n Bysin met as, en die meer formele indien, staan bekend as die protasis en die hoofsin die apodosis. Sinne wat met tensy ingelei word, druk ’n negatiewe voorwaarde uit en sinne met mits, met dien verstande dat en op voorwaarde dat druk ’n dwingende voorwaarde uit. Die stand van sake in die hoofsin word ’n werklikheid eers wanneer die onderstelling die bysin gerealiseer het.
’n Ekstreme voorbeeld is die volgende artikel uit die Wet op Egskeiding 70 van 1979, waar die aanvanklike gevalbeskrywing uit 72 woorde bestaan (onderstreep):
Voorbeeld 17
Indien dit vir ’n geregshof in egskeidingsverrigtinge blyk dat ondanks die toestaan van ’n egskeidingsbevel deur die hof, die gades of een van hulle, uit hoofde van die voorskrifte van hul geloof of die geloof van een van hulle, nie geregtig sal wees om weer te trou nie tensy die huwelik ook in ooreenstemming met sodanige voorskrifte ontbind word of tensy ’n beletsel teen die hertroue van die betrokke gade verwyder word, kan die hof weier om ’n egskeidingsbevel toe te staan tensy die hof oortuig is dat die gade in wie se bevoegdheid dit berus om die huwelik aldus te ontbind of bedoelde beletsel aldus te verwyder, al die nodige stappe gedoen het om die huwelik aldus te ontbind of die beletsel teen die hertroue van die ander gade te verwyder of kan die hof enige ander bevel wat hy billik ag, maak.
Die belangrikste oorweging by die vooropplasing van die gevalbeskrywing spruit uit die vereiste dat min regsbepalings universele toepassing geniet. Dit is noodsaaklik dat die produseerder van ’n regsteks die soort gevalbeskrywing waarop die reël van toepassing is, in besonderhede sal uitspel (Bhatia 1993:110; 1994:144–6).
Burger en De Jong (1997:193) wys daarop dat lang aanlope dieselfde uitwerking op lesers se verwerkingslading het as tangkonstruksies, aangesien die geheue daardeur belas word. Die leser wag op die apodosis (die hoofsin), maar moet eers die lang protasis lees. ’n Oplossing hiervoor is om die volgorde bysin-hoofsin om te ruil deur eers die hoofsin aan te bied, gevolg deur die bysin.
Gevalle van lang aanvanklike gevalbeskrywings kom eweneens in verbruikersdokumente voor, soos in voorbeeld 18a, geneem uit ’n huurooreenkoms:
Voorbeeld 18a
Indien die Huurder versuim om die huurgeld of ’n gedeelte daarvan op die opeisbaarheidsdatum daarvan te betaal of ’n ander voorwaarde van hierdie huurooreenkoms breek en hy sewe dae lank in gebreke bly nadat hy ’n kennisgewing van die Verhuurder ontvang het wat betaling van die huurgeld of herstel van die breuk na gelang die geval, vereis of indien die Huurder insolvent raak, het die Verhuurder die reg om hierdie huurooreenkoms onverwyld te kanselleer en om die verhuurde eiendom weer te betree en daarvan besit te neem sonder benadeling van enige eis wat die Verhuurder teen die Huurder vir huurgeld reeds verskuldig, vir skadevergoeding, vir kontrakbreuk of andersins mag hê.
Hierdie klousule kan soos volg hersien word:
Voorbeeld 18b
Ek het die reg om hierdie huurooreenkoms onverwyld te kanselleer indien:
• u versuim om die huurgeld of ’n gedeelte daarvan op die opeisbaarheidsdatum daarvan te betaal, of
• u ’n ander voorwaarde van hierdie huurooreenkoms breek en vir sewe dae in gebreke bly nadat u ’n kennisgewing van my ontvang het wat betaling van die huurgeld of herstel van die breuk vereis, na gelang van die geval, of
• u insolvent raak.
Ek mag dan weer die verhuurde eiendom betree en daarvan besit neem sonder benadeling van enige eis wat ek teen u mag hê vir:
• huurgeld reeds verskuldig of
• vir skadevergoeding of
• vir kontrakbreuk of
• andersins.
Benewens die herorganisasie van inligting in die hersiening en gebruik van persoonlike voornaamwoorde (ek vir "die Verhuurder" en u vir "die Huurder") in voorbeeld 18b, word ’n uitlegmiddel, in die vorm van kolpuntlyste, ook ingespan om leesbaarheid te vergemaklik.
6.5 Nominaalkonstruksies
Regstekste, insluitende verbruikersdokumente, het ’n kenmerkende naamwoordstyl. Nominale is naamwoorde wat morfologies van werkwoorde, adjektiewe en naamwoordelike kopulapredikate afgelei word (Ponelis 1979:483). Dit is meer tiperend van geskrewe tekste waar die produseerder kan besluit om ’n handeling voor te stel as ’n saak, eerder as ’n aksie met akteurs of rolspelers (doeners) wat die handeling verrig (De Stadler s.j.a:1). In voorbeeld 19 word verskillende nominaalvorme onderstreep:17
Voorbeeld 19
Indien daar by ’n vervolging weens ’n misdryf ingevolge subartikel (1) bewys word dat die beskuldigde ’n handeling verrig het wat hom in die klagstaat ten laste gelê word, en indien daardie handeling die bereiking van die een of ander van die doelstellinge vermeld in subartikel (1) tot gevolg gehad het of waarskynlik tot gevolg kon gehad het, word daar vermoed, tensy die teendeel bewys word, dat die beskuldigde daardie handeling verrig het met die opset om daardie doelstelling te bereik.
Vergelyk ook voorbeeld 20, waarin veelvuldige nominaalkonstruksies voorkom (onderstreep):18
Voorbeeld 20
9 Toepassing van sekere bepalings van Wet 32 van 1944
(1) Behalwe vir sover hierdie Wet of ’n ander wet anders bepaal, is die bepalings van die Wet op Landdroshowe, 1944 (Wet 32 van 1944), en van die reëls daarkragtens uitgevaardig mutatis mutandis op kinderhowe van toepassing vir sover daardie bepalings betrekking het op –(i) die aanstelling en werksaamhede van beamptes;
(ii) die uitreiking en betekening van prosesstukke;
(iii) die verskyning in die hof van advokate en prokureurs;
(iv) die prosedure by die verrigtings van ’n hof;
(v) die tenuitvoerlegging van vonnisse; en
(vi) die oplegging van straf weens nie-nakoming van bevele van die hof, weens belemmering van tenuitvoerlegging van vonnisse en weens minagting van die hof,en vir sover kragtens artikel 60 (1) (g) van hierdie Wet geen ander voorsiening gemaak is nie aangaande enige aangeleenthede in hierdie subartikel vermeld, behalwe in paragraaf (iii).
In haar bespreking van Engelse nominaalkonstruksies dui Hartnett (1998:10) aan dat hierdie strukture algemener in geskrewe dokumente voorkom, in teenstelling met alledaagse gesproke taal. Sy skryf dit toe aan die onmiddellikheid in tyd en ruimte van verbale gesprekke wat tipies meer werkwoorde bevat as wat die geval is in geskrewe dokumente. Laasgenoemde is die produkte van versigtige, doelbewuste en beplande skryfprosesse, met ’n "different logical structure of hierarchy and integration, which takes nouns" (Hartnett 1998:10).
Cornelius (2012:183 e.v.) wys op die volgende kenmerke van nominaalkonstruksies wat tot begripsprobleme aanleiding kan gee:
• ’n te digte verpakking van inligting
• abstrakte verwysing
• omsigtige predikering en verberging van inligting
• voor- en/of domeinkennis word voorveronderstel.
Nominaalkonstruksies word ook in verbruikersdokumente gebruik, soos in voorbeeld 21a, geneem uit ’n huurooreenkoms:
Voorbeeld 21a
Die Huurder is egter alleen verantwoordelik vir die skoonmaak van die kamer wat hy/sy huur, en mag nie die dienste van die skoonmaker/s gebruik vir die skoonmaak van sy/haar kamer, of die was van skottelgoed of was en stryk van wasgoed nie.
In die hersiening (voorbeeld 21b) van hierdie klousule word werkwoordvorme gebruik (asook persoonlike voornaamwoorde):
Voorbeeld 21b
U moet self u kamer skoon maak en u mag nie die skoonmaker gebruik om u kamer skoon te maak, u skottelgoed te was of u wasgoed te stryk nie.
6.6 Weglaat van betreklike voornaamwoorde in betreklike konstruksies
In regstaal word die betreklike voornaamwoord gereeld uitgelaat. Hierdie verskynsel staan in Engels as "whiz deletion" ("whiz" is ’n sametrekking vir "which is") of "rank shifting" bekend (Gibbons 2003:57). In voorbeelde 22 tot 24 word die plek waar die betreklike voornaamwoord moet verskyn, deur ’n asterisk aangedui):
Voorbeeld 22
die inwerkingtredingsdatum deur reëls * uitgevaardig kragtens ’n wet * vermeld in Bylae 2Voorbeeld 23
wat voortspruit uit enige ooreenkoms * gesluit voor die inwerkingtredingsdatum19Voorbeeld 24
die doelstellinge * vermeld in subartikel (1).20
Die verwagting is dus dat die leser self die weggelate semantiese verhoudings tussen die antesedent, die betreklike voornaamwoord en uiteindelik die hele betreklike bysin sal "herstel" of sal uitwerk.
Tiersma (1999:13) waarsku dat die weglaat van sulke konstruksies begrip belemmer. Charrow en Charrow (1979:1323) het reeds vroeër bevind dat die weglaat van betreklike voornaamwoorde die leser se verwerkingslading verhoog omdat grammatikale inligting ontbreek. Dit hou in dat die brein dan veel harder moet werk om hierdie inligting te herkonstrueer. Gibbons (2003:177) haal dan ook latere studies aan wat die verstaanbaarheid van jurie-instruksies ondersoek; hy verwys spesifiek na ’n opmerking van Lieberman en Sales in 1997 dat "Charrow and Charrow's findings have been supported by many other researchers."
Indien die betreklike voornaamwoord wel verskaf word, hoef die leser minder verwerkingshulpbronne (soos gefokusde aandag) te spandeer om die betekenis uit te werk. Vergelyk voorbeelde 25 tot 27, waarin die betreklike voornaamwoord in die sin herstel is (teenoor voorbeelde 22 tot 24):
Voorbeeld 25
die inwerkingtredingsdatum deur reëls wat uitgevaardig is kragtens ’n wet wat in Bylae 2 vermeld wordVoorbeeld 26
wat voortspruit uit enige ooreenkoms wat gesluit is voor die inwerkingtredingsdatumVoorbeeld 27
die doelstellinge wat in subartikel (1) vermeld word.
Die opstellers van regstekste besluit dikwels om die betreklike voornaamwoord weg te laat, juis omdat regsinne swaar gebuk gaan onder onderskikkende sinne en ’n opeenhoping van betreklike voornaamwoorde (soos wat) in die saamgestelde (komplekse) sin voorkom. In sulke gevalle is dit gerade om eerder volledig te herskryf (wel ten koste van woordekonomie) as om betreklike voornaamwoorde summier weg te laat.
Dit gebeur ook in verbruikersdokumente dat betreklike voornaamwoorde weggelaat word, soos in voorbeeld 28a, uit ’n huurooreenkoms vir die verhuring van ’n woonhuis en voorbeeld 29a, uit ’n huurooreenkoms vir die verhuring van studente-akkommodasie in Stellenbosch:
Voorbeeld 28a
Gedurende die verlengingstydperk sal al die voorwaardes hierin vervat op die verlengde huurooreenkoms van toepassing wees […].Voorbeeld 29a
Enige kennis deur die Verhuurder aan die Huurder in verband met hierdie huurkontrak gegee aan die Huurder by sodanige domicilium gerig en afgelewer aan die huurperseel of gepos per vooruitbetaalde geregistreerde pos aan die adres van die ouer/voog, word geag deur die Huurder ontvang te gewees het […].
Leesbaarheid van hierdie klousules kan verbeter word deur onder andere van betreklike voornaamwoorde gebruik te maak, soos in voorbeelde 28b en 29b:
Voorbeeld 28b
Gedurende die verlengingstydperk sal al die voorwaardes wat hierin vervat word op die verlengde huurooreenkoms van toepassing wees […].Voorbeeld 29b
Enige kennis wat deur die Verhuurder aan die Huurder in verband met hierdie kontrak gegee word […], word geag deur die Huurder ontvang te gewees het […].
6.7 Negativering
Die reg bestaan grotendeels daarin dat dit mense inlig oor wat hulle nié mag doen nie. Mellinkoff (1982:28) verwys op ’n ietwat komiese wyse hierna wanneer hy sê: "'Thou shalt not kill' is a more widespread pattern than 'Honour thy father and mother.'" Hy waarsku ook dat negativering die geneigdheid het om te verdubbel en te herverdubbel. Indien negatiewe konstruksies nie met omsigtigheid gebruik word nie, kan hierdie konstruksies betekenisverwarring veroorsaak. Negatiewe konstruksies kan nie in wettekste of verbruikersdokumente vermy word nie, maar hulle gebruik moet versigtig benader word. Die reg dien die mees positiewe doel wanneer persoonlike regte daardeur bevestig word. Dit is egter so dat selfs hierdie regte in negatiewe uitdrukkings beliggaam word.
Negatiewe sinne in Afrikaans word deur die gebruik van ontkenningsvorme gekenmerk. Volgens Ponelis (1979:372–3) kan ontkenning op sins-, groep- of woordvlak voorkom. Ontkenning kan die hele sin in bestek hê en die sin is dan in sy geheel positief of negatief, soos in voorbeeld 30:
Voorbeeld 30
Die bepalings van subartikel (1) is van toepassing [...] [POS(S)]
Die bepalings van subartikel (1) is nie van toepassing nie [...] [NEG(S)]
Soms val slegs ’n woordgroep in die bestek van die ontkenningsvorm en nie die sin in sy geheel nie. Die negatiewe woordgroep in voorbeeld 31 is (onderstreep):
Voorbeeld 31
(1) ’n Egskeidingsbevel word nie verleen nie alvorens die hof –(a) oortuig is dat die voorsiening wat vir die welsyn van ’n minderjarige of afhanklike kind uit die huwelik gemaak is of beoog word, bevredigend is of die beste is wat in die omstandighede bewerkstellig kan word; [...]21
Dit is egter nie net sinne of woordgroepe wat binne die bestek van ontkenning val nie. Negatiewe formanse kom op woordvlak voor: die sogenaamde woordontkenning. Negatiewe woorde sluit in nie, nooit, geen en niks, maar affikse kan ook negatiwiteit oordra, soos dis-, nie-, on- en -loos. Sekere woorde dra implisiete negatiewe betekenis oor, soos ontken, ondermyn en verbied.
Negatiewe formanse kan in beide positiewe en negatiewe sinne verskyn (Ponelis 1979:373), soos in voorbeeld 32:
Voorbeeld 32
Dit is onmoontlik.
Dit is nie onmoontlik nie.
Burger en De Jong (1997:197) wys daarop dat "(E)en zin met een ontkenning is vaak indirecter en daardoor moeilijker te begrijpen dan een positieve zin. Maar een zin met meer dan één ontkenning is dat zeker."
Verwerkingsprobleme ontstaan dus wanneer meer negatiewe vorme bygevoeg word. Vergelyk byvoorbeeld Hy was nie onwillig om te help nie teenoor Hy was gewillig om te help. Dit is veel makliker om die positiewe konstruksie te verstaan en minder tyd word benodig om die betekenis te dekodeer.
Soos reeds hier bo aangedui, gebeur dit dikwels dat slegs ’n woordgroep in die omvang van die ontkenningsvorm val en nie die hele sin nie. Die leser moet dan uitwerk watter gedeelte van die sin in die negatief ingesluit word en watter gedeelte nie. ’n Voorbeeld hiervan is: binne ’n tydperk in die kennisgewing vermeld van nie minder nie as 14 dae vanaf die datum van die kennisgewing.22 (Hier beteken die onderstreepte frase ’n tydperk van 14 dae of langer).
Die artikel in voorbeeld 33 bevat veelvuldige negatiewe vorme:
Voorbeeld 33
Geen stappe ingevolge artikel 311 van die Maatskappywet, 1973, of ingevolge artikel 72 van die Wet op Beslote Korporasies, 1984 (Wet 69 van 1984), vir die aangaan van ’n skikking, reëling of akkoord tussen ’n maatskappy of beslote korporasie ten opsigte waarvan ’n kurator ingevolge hierdie subartikel aangestel is en sy krediteure mag aangegaan word nie en enige sodanige stappe waarmee reeds ’n aanvang gemaak is, word nie voortgesit nie, en die koste in verband met sodanige verrigtinge of stappe wat reeds aangegaan is, word, tensy die betrokke hof anders gelas, geag deel te wees van die koste van die likwidasie van daardie maatskappy of beslote korporasie.23
Die gebruik van veelvuldige ontkenningsvorme in samewerking met die tensy-voorbehoud/kwalifikasie kan begrip belemmer tot die mate dat lesers onseker kan wees oor wat hulle mag en nie mag doen nie, soos in voorbeeld 33 blyk.
Felker e.a. (1981:69–70) haal ’n verskeidenheid studies aan wat bevind het dat negatiewe konstruksies begripsprobleme veroorsaak. Die oorwig studies het bevestig dat negatiewe konstruksies, in watter vorm ook al, verstaanbaarheid bemoeilik. Van die studies waarna Felker e.a. verwys, het bevind dat positiewe sinne beter deur lesers herroep word en dat hulle beter, vinniger en akkurater oordele kan fel oor die waarheid of valsheid van positiewe sinne teenoor negatiewe sinne. Daarbenewens vergemaklik positiewe sinne logiese beredenering. Die onus rus op die leser om uit te werk watter woordgroepe in die ontkenningsvorm ingesluit word en watter nie. Dit behels dat meer tyd en verwerkingsenergie bestee moet word om die betekenis van negatiewe mededelings te bepaal. Dit neem selfs nog langer en vereis nog meer inspanning indien veelvuldige negatiewe vorme in lang sinne gebruik word wat komplekse proposisies bevat. Hoe meer negatiewe konstruksies gebruik word, hoe moeiliker word die sin.
Daarbenewens lei die gebruik van veelvuldige negatiewe vorme daartoe dat negatiewe vorme mekaar begin uitkanselleer. Die gevolg is dat die leser nie met groot sekerheid kan bepaal wat toegelaat of belet word nie. ’n Positiewe mededeling word gewoon makliker begryp (Mellinkoff 1982:28). Dit word bevestig deur Burger en De Jong (1997:198): positiewe konstruksies "vertelt de lezer hoe het wél is en niet alleen maar hoe het niét is".
In die volgende voorbeeld, geneem uit ’n verbruikersdokument (’n koopooreenkoms vir ’n woonhuis), verskyn ’n aantal negatiewe konstruksies (onderstreep):
Voorbeeld 34a
Die Verkoper is nie verantwoordelik vir enige defekte, latent of patent of andersins, in die eiendom of enige bouwerk wat nou daarop is of hierna opgerig mag word nie, nóg vir enige skade wat veroorsaak word aan of gely word deur die Koper omrede daarvan nie.
Die aantal negatiewe konstruksies kan verminder word, soos in voorbeeld 34b:
Voorbeeld 34b
Die Verkoper is nie verantwoordelik nie vir enige:
• defekte, latent of patent of andersins, wat nou daarop is of hierna opgerig word
• skade wat veroorsaak word aan of gely word deur die Koper omrede daarvan.
In voorbeeld 35a (geneem uit ’n kredietooreenkoms) kom ook veelvuldige negatiewe vorme voor. In voorbeeld 35b word aangedui hoe hierdie klousule verbeter kan word.
Voorbeeld 35a
Rekeninge deur die kredietgewer gelewer mag nie later nie as die 3de, of so ’n dag as wat van tyd tot tyd bepaal word, van die maand volgende op die maand wat genoemde rekening gedateer is per debietorder of by die kredietgewer se kantoor of aan ’n gemagtigde kollektant betaal word nie.Voorbeeld 35b
U ontvang elke maand ’n rekeningstaat van ons. U moet hierdie rekening voor of op die derde dag van die volgende maand betaal. U kan u rekening op enige van die volgende maniere betaal:
• per debietorder
• met ’n tjek
• elektronies (per internet)
• in kontant by ons kantore (ons fisiese adres is op die rekeningstaat); of
• aan ’n gemagtigde kollektant.
6.8 Passiefkonstruksies
’n Kenmerk van regstekste, in die algemeen, is die hoë frekwensie van passiefkonstruksies, wat daartoe lei dat die toon in die dokument onpersoonlik en droog is (Felker e.a.: 1981:27; Carstens 1989:364; Onrust e.a. 1993:87). Die passiefvorm word volgens Carstens (2011:364) in oordrewe omvang deur baie Afrikaanssprekendes gebruik en kan aan ’n deftigheidstrewe toegeskryf word.
Die passief is ’n omslagtiger vorm as die aktief. Die leser se fokus word op ’n bepaalde element in die sin geplaas, byvoorbeeld op die persoon of die ding waarop die handeling uitgevoer is, eerder as die persoon of die ding wat die handeling uitgevoer het. Daarbenewens is sekere passiefsinne dikwels moeilik verstaanbaar omdat hulle nie die inligting verstrek oor wié of wát die handeling in die sin uitgevoer het nie. Burger en De Jong (1997:157) wys juis daarop dat "(A)mbtenaren [...] gebruiken de lijdende vorm graag om zichzelf onzichtbaar te maken."
Vergelyk die volgende:
Voorbeeld 36
Die Minister wys een van die lede van die raad aan as voorsitter [...] van die raad. (Aktief)
Een van die lede van die raad word deur die Minister as voorsitter [...] van die raad aangewys.24 (Passief)
Passiefkonstruksies kom ook wyd in verbruikersdokumente voor. Die sinne in voorbeelde 37a en 38a kom uit die bepalings en voorwaardes van twee verskillende begrafnisplanne.
Voorbeeld 37a
As die oorsaak van die hooflid se dood ’n ongeluk was, sal twee keer die maksimum vergoedingsbedrag uitbetaal word. Daar sal geen wagtydperk van toepassing wees indien die dood as gevolg van ’n ongeluk is nie.Voorbeeld 38a
Slegs ’n volledig ingevulde mediese vraelys wat uit 3 vrae bestaan, word vereis. Geen mediese toetse sal vereis word nie, insluitend HIV- en kotinientoetse.
Hierdie klousules kan soos volg verbeter word:
Voorbeeld 37b
As die oorsaak van die hooflid se dood ’n ongeluk was, sal ons die maksimum vergoedingsbedrag uitbetaal. U hoef nie vir vergoeding te wag indien die dood die gevolg van ’n ongeluk is nie.Voorbeeld 38b
U hoef slegs ’n volledig ingevulde mediese vraelys, wat uit 3 vrae bestaan, in te dien. Ons vereis nie mediese toetse nie, insluitende MIV- en kotinientoetse.
Volgens Felker e.a. (1981:29) en Gibbons (2003:166) is passiefkonstruksies veel moeiliker om te verstaan as aktiefkonstruksies, veral kort of agenslose passiefsinne waar die doener van die handeling nie gespesifiseer word nie. ’n Oormaat passiefsinne dra daartoe by dat ’n dokument onnodig moeilik word. De Stadler (s.j.b:2) waarsku teksproduseerders om passiefkonstruksies met groot omsigtigheid te gebruik, veral in gevalle waar die inhoud van ’n dokument reeds kompleks en moeilik is, byvoorbeeld ’n koopkontrak of ’n testament.
Die laer voorkoms van passiefsinne in gesproke taal is ook ’n faktor wat in aanmerking geneem moet word. Hoe groter die afwyking van spreektaal, hoe groter die moontlikheid dat begripsprobleme kan voorkom. Felker e.a. (1981:29) haal verskeie studies aan waartydens die spoed gemeet is waarteen lesers passiefsinne kan verstaan en gebruik, en hoe akkuraat hulle by ’n latere geleentheid in staat is om passiefsinne te herroep. Die temaverskuiwings en veranderde rolposisies in passiefsinne kan ook ’n negatiewe uitwerking op verstaanbaarheid hê, aangesien die leser bepaalde verwagtinge het oor die tipiese optrede van verskillende sintaktiese strukture en rolle in sekere posisies. Daar is immers ’n verhouding tussen sintaktiese struktuur en rolstruktuur, en veranderings en verskuiwings ten opsigte hiervan kan tot gevolg hê dat lesers se verwagtinge hieromtrent nie nagekom word nie en dat meer verwerkingshulpbronne bestee moet word om die rolposisies na voorkeurposisies te "herstel".
Die passiefkonstruksie hoef nie soseer volledig vermy te word nie, veral nie wanneer sinne kort en eenvoudig is nie. Die gebruik van die passief is, in die geval van voorbeelde 37a en 38a, nie noodwendig problematies nie. Hierbenewens kan passiefkonstruksies ’n rol speel om kohesie tussen sinne te skep: "[D]e lijdende vorm (maakt) het verband tussen opeenvolgende zinnen beter duidelijk [...] dan de bedrijvende" (Burger en De Jong 1997:159). Charrow en Charrow (1979:1326) waarsku wel dat passiefkonstruksies wat in komplekse sinne in ondergeskikte bysinne gebruik word, begrip belemmer en sodoende leesbaarheid verlaag.
Die gebruik van passiefkonstruksies gaan gewoonlik gepaard met ’n vermyding van persoonlike voornaamwoorde, soos in voorbeelde 37b en 38b (persoonlike voornaamwoorde en die aktiefvorm gaan hand aan hand; die gevolg is ’n meer persoonlike aanslag wat die leser regstreeks by die teks betrek). In wetgewing en ander operatiewe dokumente word die passief dikwels deur skrywers verkies; in huurooreenkomste word aktiefsinne wel meer gereeld gebruik, aangesien die regte en verpligtinge van die partye (soos die huurder en die verhuurder, of die koper en die verkoper) spesifiek en onomwonde uitgespel moet word, soos in voorbeelde 39 en 40 (onderskeidelik uit ’n huurooreenkoms en ’n koopooreenkoms):
Voorbeeld 39
Die Huurder moet die eiendom skoon, bewoonbaar en netjies hou en die tuin versorg en in stand hou.Voorbeeld 40
Die Verkoper verkoop die eiendom onderworpe aan die hierin vermelde bepalings en voorwaardes aan die Koper en die Koper koop hiermee die eiendom onderhewig aan die hierinvermelde bepalings en voorwaardes van die Verkoper.
6.9 Voorsetselkettings
Voorsetsels tree op as skakels tussen (i) onderwerp-predikaat-konstruksies en naamwoorde, en tussen (ii) naamwoorde onderling, waar die voorsetselkonstruksie ’n nabepaling by die voorafgaande naamwoord is. In laasgenoemde geval kan groot getalle voorsetselkonstruksies mekaar opvolg, byvoorbeeld in ’n besluit van die meerderheid van die lede van die regulasieraad.25 Rodenburg en De Stadler (2004:26) verwys na die opeenvolging van voorsetsels in een sin as ’n voorsetselketting, soos in voorbeelde 41 en 42 uit wette:
Voorbeeld 41
die bedrae wat na die oordeel van die raad [betaal behoort te word] by die vervreemding of verhuring van of enige ander beskikking oor onroerende eiendom deur so ’n Minister, departement, Administrasie, liggaam of persoon.26Voorbeeld 42
Die vermelding in die bylae van ’n deelplan van die kwota van elke deel en van die totaal van die kwotas van al die dele in die gebou of geboue wat deur ’n skema behels word, word vir alle doeleindes geag korrek te wees tensy die teendeel bewys word.27
Voorsetsels met verskillende betekenisverhoudings kan verbande tussen die selfstandige naamwoorde op so ’n wyse aandui dat die voorsetselkonstruksie in elke geval ’n nabepaling by die voorafgaande selfstandige naamwoord is, soos in die volgende voorbeeld:
Voorbeeld 43
[...] enige bestaande reg met betrekking tot enige uitsluitlike gebruik deur ’n eienaar van ’n gedeelte of gedeeltes van gemeenskaplike eiendom [...];28 en [...] die vermoënsregtelike voordele van die huwelik deur die een party ten gunste van die ander verbeur word [...].29
Burger en De Jong (1997:194) waarsku teen die opeenstapeling van voorsetsels omdat leesbaarheid daardeur belemmer word: "Het is vaak moeilijk te sien welke delen van de stapel bij elkaar horen [...]." Voorsetselkettings ontstaan wanneer ’n teksproduseerder selfstandige naamwoorde of byvoeglike naamwoorde gebruik, eerder as werkwoorde. Regstekste het ’n kenmerkende naamwoordstyl en hierdie naamwoordstyl het voorsetselkettings tot gevolg (Onrust e.a. 1993:129; Burger en De Jong 1997:195).
Sametrekkings van verskillende voorsetsels kom ook gereeld in wettekste voor, soos in voorbeelde 44 en 45:
Voorbeeld 44
die verlening en registrasie van regte in, en die beskikking oor, gemeenskaplike eiendom30Voorbeeld 45
’n Lid van die raad mag nie wetens aanwesig wees by of deelneem aan die bespreking van of stem oor ’n saak voor die raad of die uitvoerende komitee [... nie].31
Voorsetselkettings kom eweneens in verbruikersdokumente voor, soos in voorbeeld 46a (uit ’n selfoonkontrak) en voorbeeld 47a (uit ’n koopkontrak, waarin ’n sametrekking van verskillende voorsetsels voorkom):
Voorbeeld 46a
Hierdie kontrak tree in werking op die datum van die aktivering van die SIM-kaart soos aan u uitgereik is deur Lekkerpraat SP en sal, onderhewig aan klousule 7 hieronder (sic), voortduur vir die aanvanklike kontrakperiode […]Voorbeeld 47a
Die Verkoper is nie verantwoordelik vir enige defekte [...] in die eiendom of enige bouwerk [...] nie, nóg vir enige skade wat veroorsaak word aan of gely word deur die Koper omrede daarvan nie.
Voorsetselkettings kan vermy word, soos in voorbeelde 46b en 47b hier onder:
Voorbeeld 46b
Hierdie kontrak tree in werking op die datum waarop Lekkerpraat SP u SIM-kaart aktiveer. Hierdie kontrak sal voortduur, onderhewig aan klousule 7 hier onder, vir die aanvanklike kontrakperiode […]Voorbeeld 47b
Die Verkoper is nie verantwoordelik nie vir enige:
• [...]
• skade wat die Koper ly.
Net soos in die geval van tangkonstruksies word die leser se geheue oormatig deur die sametrekking van voorsetsels belas en is uitermate kognitiewe inspanning die gevolg (Burger en De Jong 1997:196).
7. Gevolgtrekkings en aanbevelings
Die omskrywing van “gewone taal” in die NKW en die WVB verwys eksplisiet in subartikel (2)(c) daarna dat ’n teksproduseerder ag moet slaan op "die woordeskat, gebruik en sinstruktuur van die kennisgewing, dokument of visuele voorstelling" (eie beklemtoning). Voordat verbruikersdokumente in makliker verstaanbare taal geskryf kan word, moet teksproduseerders en gewonetaalpraktisyns weet watter konstruksies in die eerste plek verwerkings- en begripsprobleme veroorsaak (Charrow en Crandall 1978:2). Die beskrywing in hierdie artikel van sinskonstruksies wat tipies in Afrikaanse regstaal in beide wettekste en verbruikersdokumente aangetref word, verteenwoordig ’n poging om ’n bydrae te lewer tot kennis wat nuttig aangewend kan word in die vereenvoudiging van verbruikersdokumente vir algemene lesersgehore.
Die ondersoek het aan die lig gebring dat Afrikaanse regstaal, net soos in die geval van Engels en Nederlands, hoogs problematiese sinskonstruksies bevat wat hoë verwerkingseise aan lekelesers stel. Probleme wat in hierdie artikel uitgewys is, hou verband met uitermate sinslengte en sintaktiese kompleksiteit, hoë vlakke van inligtingsdigtheid, sintaktiese diskontinuïteit, lang aanvanklike gevalbeskrywings, weglating van betreklike voornaamwoorde, hoë voorkoms van nominaal- en tangkonstruksies, sowel as passiefkonstruksies, negativering en voorsetselskettings.
Die voorkoms van enkele van hierdie konstruksies in isolasie behoort nie noodwendig begripsprobleme tot gevolg te hê nie. Die probleem is egter dat ’n kombinasie van verskeie problematiese sintaktiese konstruksies gelyktydig en deurlopend in regsdokumente, soos die wette wat in die ontleding gebruik is, voorkom en dat die somtotaal van hierdie konstruksies veroorsaak dat lekelesers nie hierdie soort dokumente sonder uitermate inspanning kan lees nie. Dit lei op sy beurt tot uitsluiting op verskillende vlakke en werk vervreemding van lesers wat nie in die reg opgelei is nie, in die hand.
Dit is van die uiterste belang dat die opstellers en hersieners van verbruikersdokumente, soos die bepalings en voorwaardes van ’n ooreenkoms, sal weet watter sintaktiese konstruksies die verwerkingslading van lekelesers verhoog en tot begripsprobleme bydra. In hierdie artikel is aangedui dat, met die uitsondering van vreemde adjektiwiese (byvoeglike) voorbepalings (sien afdeling 6.3), dieselfde problematiese sinskonstruksies wat in wettekste gebruik word, eweneens in die korpus van verbruikersdokumente wat in hierdie studie ontleed is, voorkom. Hoewel sowel wettekste as verbruikersdokumente tot die subtipe operatiewe tekste behoort, verskil die doelgehore van wettekste en verbruikersdokumente van mekaar. Verbruikersdokumente moet, soos aangetoon, aan die gewonetaalbepalings van die NKW en die WVB voldoen, wat nie ’n vereiste vir wettekste is nie. Dit is juis om hierdie rede dat sinskonstruksies wat verwerkingsprobleme vir lekelesers kan veroorsaak, in verbruikersdokumente vermy moet word. Alternatiewe konstruksies moet gebruik word om die leesbaarheid, verstaanbaarheid en verwerkingsgemak van ’n teks te verhoog en uiteindelik toegang tot die inligting wat in die betrokke dokument aangebied word, te verskaf. Opstellers van verbruikersdokumente moet dus kennis neem van die probleme wat kwesbare lekelesers met hierdie soort dokumente kan ervaar en hulle moet poog om die problematiese sinskonstruksies wat in hierdie artikel uitgesonder is, te vermy.
Bibliografie
Aronoff, M. en J. Rees-Miller (reds.). 2001. The handbook of linguistics. Oxford: Blackwell.
Bhatia, V.K. 1993. Analysing genre: Language use in professional settings. Londen: Longman.
—. 1994. Cognitive structuring in legislative provisions. In Gibbons (samest.) 1994.
Botha, W. (samest.). 2003. 'n Man wat beur. ’n Huldigingsbundel vir Dirk van Schalkwyk. Stellenbosch: Buro van die WAT.
Burger, P. en J. de Jong. 1997. Handboek stijl. Adviezen voor aantrekkelijk schrijven. Groningen: Martinus Nijhoff Uitgevers.
Candlin, C.N., V.K. Bhatia en C.H. Jensen. 2002. Developing legal writing materials for English second language learners: problems and perspectives. English for Specific Purposes, 21:299–320.
Cao, D. 2007. Translating law. Clevedon: Multilingual Matters.
Carstens, A. 2004. Tailoring print materials to match literacy levels: A challenge for document designers and practitioners in adult literacy. Language Matters, 35(2):459–84.
—. 2007. Comprehension of pictures in educational materials for HIV/AIDS. Ensovoort, 11(2):13–32.
Carstens, A. en M. Snyman. 2003. How effective is the Department of Health’s leaflet on HIV/AIDS counselling for low-literate South Africans? Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 10(1):112–36.
Carstens, A., A. Maes en L. Gangla-Birir. 2006. Understanding visuals in HIV/AIDS education in South Africa: differences between literate and low-literate audiences. African Journal of AIDS Research, 5(3):221–32.
Carstens, W.A.M. 1989/2011. Norme vir Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.
Carstens, W.A.M. en K. van de Poel. 2010. Teksredaksie. Stellenbosch: Sun Press.
Charrow, R.P. en V. Charrow. 1979. Making legal language understandable: A psycholinguistic study of jury instructions. Columbia Law Review, 79:1306–74.
Charrow, V.R. en J.A. Crandall. 1978. Legal language: What is it and what can we do about it? Ongepubliseerde referaat gelewer by die 7de New Wave Conference of the American Dialect Society. Washington D.C., 4 November.
Cornelius, E. 2010a. Plain language as alternative textualisation. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 28(2):171–83.
—. 2010b. ’n Verkenning van regsvertaling as ’n "spesiale geval". Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalonderrig, 44(1):71–87.
—. 2011. The curious case of legal translation. Literator, 32(1):121–43.
—. 2012. ’n Linguistiese ondersoek na die verstaanbaarheid van verbruikersdokumente vir die algemene Afrikaanssprekende publiek. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Universiteit van Johannesburg.
—. 2013. Die benutting van leserskommentaar by die herskryf van ’n verbruikersdokument in gewone Afrikaans. LitNet Akademies, 10(3):507–46. http://litnet.co.za/assets/pdf/joernaaluitgawe_10_3/10(3)_GW_Cornelius.pdf.
Cutts, M. 2013. Oxford guide to plain English. Oxford: Oxford University Press.
Danet, B. 1980. Language in the legal process. Law and Society Review, 14(3):445–564.
Daniels, E. 2001. Plain language in the current practice of drafting. In Viljoen en Nienaber (reds.) 2001.
De Beaugrande, R.A. en W.U. Dressler. 1981. Introduction to text linguistics. Londen: Longman.
De Jong, M. en P.J. Schellens. 1995. Met het oog op de lezer. Pretestmethoden voor schriftelijk voorlichtingsmateriaal. Amsterdam: Thesis Publishers.
De Stadler, L.G. s.j.a. Dinge of dade? Naamwoordstyl vs. werkwoordstyl. Ongepubliseerde adviesdokument, Universiteit Stellenbosch Taalsentrum.
—. s.j.b. Aksie of akteur: die lydende vorm of nie? Ongepubliseerde adviesdokument, Universiteit Stellenbosch Taalsentrum.
Feinauer, I. 2003. TB or not TB. The communicative success of translated medical texts in South Africa. In Botha (samest.) 2003.
Feinauer, I. en L. Luttig. 2005. Functionalism is not always the remedy. Perspectives: Studies in Translatology, 13(2):123–31.
Felker, D.B., F. Pickering, V.R. Charrow, V.M. Holland en J.C. Redish. 1981. Guidelines for document designers. Washington: American Institutes for Research.
Garzone, G. 2000. Legal translation and functionalist approaches: a contradiction in terms? http://www.tradulex.com/Actes2000/Garzone.pdf (28 Oktober 2009 geraadpleeg).
Gibbons, J. (samest.). 1994. Language and the law. Londen, New York: Longman.
—. 2001. Revising the language of New South Wales police procedures. Applied Linguistics, 22(4):439–69.
—. 2003. Forensic linguistics: An introduction to language in the justice system. Oxford: Blackwell.
Gibbons, J. en M.T. Turell (samests.). 2008. Dimensions of forensic linguistics. AILA Applied Linguistics Series 5. Amsterdam, Philadelphia: John Benjamins Publishing Company.
Hartnett, C.G. 1998. English nominalization paradoxes. Referaat gelewer by die Linguistic Association of the Southwest Conference. Tempe, AZ, 9–11 Oktober. http://eric.ed.gov/ERICDocs/data/ericdocs2sql/content_storage_01/0000019b/80/17/
34/be.pdf (13 Augustus 2009 geraadpleeg).
Hjort-Pedersen, M. en D. Faber. 2001. Lexical ambiguity and legal translation: a discussion. Multilingua, 20(4):379–92.
Kimble, J. 1992. Plain English: A charter for clear writing. Thomas M. Cooley Law Review, 9:1–58.
Knight, P. 1996. Clearly better drafting. A report to Plain English Campaign on testing two versions of the South Africa Human Rights Commission Act, 1995. Stockport: Plain English Campaign.
Maley, Y. 1994. The language of the law. In Gibbons (samest.) 1994.
Mellinkoff, D. 1963. The language of the law. Boston: Little Brown and Company.
—. 1982. Legal writing: Sense and nonsense. Minnesota: West Publishing Co.
Ndlovu, V. 2006. The limits of simplification in translated isiZulu health texts. South African Journal of African Languages, 3:121–30.
Nienaber, A. 2001. The accessibility and comprehensibility of South Africa's Bill of Rights: An empirical study. De Jure, 34(1):113–35.
Nienaber, A.G. 2002. Two cheers for equality: A critical appraisal of Act 4 of 2000 from a plain language viewpoint. Journal for Juridical Science, 27(1):1–13.
Onrust, M., A. Verhagen en R. Doeve. 1993. Formuleren. Amsterdam: Bohn Stafleu Van Loghum.
Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: J.L. van Schaik.
Potgieter, M.K.E. 2003. Die verrekening van ’n tydgees in die vertaling van die sprokies van Hermann Hesse. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit.
Rodenburg, C. en L.G. de Stadler, L.G. 2004. ’n Teksevalueringskema vir VIGS-tekste. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 10. http://www.epidasa.org/publications.html (2 Desember 2015 geraadpleeg.)
Shuy, R.W. 2001. Forensic linguistics. In Aronoff en Rees-Miller (reds.) 2001.
Siebörger, I. en R.D. Adendorff. 2011. Can contracts be both plain and precise? Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 29(4):483–504.
Slabbert, S. 2010. Guidelines on domestic water accounts – towards a consistent approach in the RSA. Verslag vir die Water Research Commission. Gezina: WRC.
Smith, A.S. 1999. A linguistic and discourse analysis of legal language: the right to understand legal texts and methods of rewriting them. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Universiteit van Kaapstad.
Tiersma, P.M. 1999. Legal language. Chicago: The University of Chicago Press.
—. 2008. The nature of legal language. In Gibbons en Turell (samests.) 2008.
Van Schoor, J.L. 1983. Die grammatika van Standaard-Afrikaans. Kaapstad, Johannesburg: Lex Patria Uitgewers.
Viljoen, F. en A. Nienaber (reds.). 2001. Plain legal language for a new democracy. Pretoria: Protea Boekhuis.
Lys van wette
Algemene Pensioenwet 29 van 1979
Nasionale Kredietwet 34 van 2005
Wet op die Beveiliging van Inligting 84 van 1982
Wet op Deeltitels 95 van 1986
Wet op Egskeiding 70 van 1979
Wet op Grondsake 101 van 1987
Wet op Intimidasie 72 van 1982
Wet op Kindersorg 74 van 1983
Wet op Referendums 108 van 1983
Wet op Verbruikersake (Onbillike Sakepraktykte) 71 van 1988
Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008
Wet op Vervreemding van Grond 68 van 1981
Eindnotas
1 Die Afrikaanse vertaling wat hier aangebied word, is in opdrag van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans gedoen en deur hierdie organisasie geborg. Die Afrikaanse vertaling van die WVB is beskikbaar by http://www.vra.co.za/vorms/WET%20OP%20VERBRUIKERS
BESKERMING%20(No%2068%20van%202008)%20Afr.pdf (11 Julie 2011 geraadpleeg).
2 Garzone (2000:3) verwys na "the fixed and standardised – often referred to as 'frozen' – forms that characterise legal writing". Maley (1994:22) verwys ook na die tekstipe as "fixed and 'frozen'. It exists performatively, until it is altered or repealed."
3 Telefoniese mededeling op 30 Augustus 2010 deur Willie Henegan, voormalige hoofdirekteur: regshervoming, van die Suid-Afrikaanse Regshervomingskommissie.
4 Waar nodig, is skuilname gebruik om die identiteit van maatskappye te verberg.
5 Burger en De Jong (1997:183) maak die volgende opmerking oor sinslengte: "Toch zijn lange zinnen niet per definitie minder leesbaar dan korte."
6 In Engels word die term terms of art gebruik (Gibbons 2003:93).
7 Gibbons (2003:170) stel 26 woorde as ’n algemene riglyn vir Engels voor.
8 Uit die Wet op Kindersorg 74 van 1983.
9 Uit die Wet op Kindersorg 74 van 1983.
10 Uit die Wet op Deeltitels 95 van 1986.
11 Uit die Wet op Grondsake 101 van 1987.
12 Uit die Wet op Deeltitels 95 van 1986.
13 ’n Voorbepaling staan voor die woord waarop dit betrekking het.
14 Uit die Wet op Deeltitels 95 van 1986.
15 Uit die Wet op Referendums 108 van 1983.
16 Uit die Wet op Deeltitels 95 van 1986.
17 Uit die Wet op Intimidasie 72 van 1982.
18 Uit die Wet op Kindersorg 74 van 1983.
19 Uit die Wet op Deeltitels 95 van 1986.
20 Uit die Wet op Intimidasie 72 van 1982.
21 Uit die Wet op Egskeiding 70 van 1979.
22 Uit die Wet op Verbruikersake (Onbillike Sakepraktyke) 71 van 1988.
23 Uit die Wet op Verbruikersake (Onbillike Sakepraktyke) 71 van 1988.
24 Uit die Wet op Grondsake 101 van 1987.
25 Uit die Wet op Deeltitels 95 van 1986.
26 Uit die Wet op Grondsake 101 van 1987.
27 Uit die Wet op Deeltitels 95 van 1986.
28 Uit die Wet op Deeltitels 95 van 1986.
29 Uit die Wet op Egskeiding 70 van 1979.
30 Uit die Wet op Deeltitels 95 van 1986.
31 Uit die Wet op Grondsake 101 van 1987.
The post Sinskonstruksies kenmerkend van Afrikaanse regstaal appeared first on LitNet.