Dit is vir my te goed dat die standaard opmerking van die ontgogeldes, wanneer na die teenswoordige sirkus verwys word, is “ja ek weet alles is nie maanskyn en rose nie ...” soos Gert ook nou weer gesê het.
Gert, alles is beslis nie maanskyn en rose nie. Trouens, die gebrek aan maanskyn en rose is van so ’n aard dat oor die 2000 boere al vermoor is, duisende der duisende al emigreer het, die vertroue in die ekonomie moer toe is, polisiemanne in uniform lustig meedoen aan misdaad en oor die 100 (of is dit nou 200?) munisipaliteite vir alle praktiese doeleindes nie meer funksioneel is nie en jy praat van ’n werkende demokrasie. En dis maar net onder andere. Soos ons wiskunde-onnie altyd gesê het as ’n kind iets simpels aanvang: Het jy temperatuur?
Jy praat van ’n polisiemag wat wette toepas; net nou die dag het die POLISIE ’n vragmotor gekaap, die trok gaan versteek en met POLISIEVOERTUIE die hele vrag weggery. Dit is algemeen bekend dat van die polisie hewig in misdaad betrokke is, daar is tientalle (honderde?) sake hangende teen hierdie kriminele en die regstelsel en wetstoepassing is sodanig dat daar niks van kom nie. Daar is ook niks so gevaarlik soos ’n halfopgeleide, trigger happy polisieman met ’n chip op die skouer en ’n wrok in sy hart nie en, soos jy in die nuus kan sien, is hulle volop.
Jy praat van beskerming van eiendom en beskerming teen grondbesetting . . . wat jy waar kry swaer? Die arme boere (die wat nog oor is) trap maar ligvoets wat verdere insette betref want hy weet nie of die plaas nog more syne is nie. En die plase wat wel ‘oorgedra’ is, is omtrent almal volslae mislukkings wat produksie betref.
Beskerming van eiendom sê jy ... waarvoor dink jy het elke huis lemmetjiesdraad, hoë mure of geëlektrifiseerde heinings, en hoekom ry reaksie-eenhede gedurig in die voorstede rond, en is die buurte ontsier deur valhekke oral? Selfs polisiestasies word al deur hierdie sekuriteitsmense beskerm so het die polisie al agteruitgegaan.
Jy sê “... geen vergelding ten spyte van wat ons gedoen het.” Dis juis die gedurige geteem van tonnelvisie-mense oor ‘wat ons gedoen het’ wat geweldige vergelding tot gevolg het. Plaasboere en hulle gesinne word dikwels gemartel voor hulle uiteindelik vermoor en verkrag word en baie maal word niks eers gesteel nie; dit is blote wraakaanvalle.
Ek sien jy stel voor dat Afrikaners van “hulle troontjie afklim ...”. Watter troontjie, waarvan praat jy tog? Ek stel voor jy haal die pluisies uit jou ore en haal die oogklappe van jou kop af sodat jy kan sien wat om jou aangaan. Aan die ander kant, ek dink jy is weldeeglik bewus van wat aangaan maar het hierdie brief van jou geskryf met die oog op applous van een of ander gehoor, dalk jou baas-hulle want waaragtig, niemand kan so naïef wees om sulke twak kwyt te raak nie.
Jan Rap
The post Kommentaar op Gert Rautenbach se brief van 19 November 2015 appeared first on LitNet.