Joernalis en skrywer Heindrich Wyngaard onthou die “I love you Daddy”-sanger Ricardo (1972–2015) wat hierdie week gesterf het. Oor sy dood gons dit op sosiale media met honderde huldeblyke van ondersteuners.
Ons het in die middae van die skool af gehardloop om op Demitri Jegels se Two-thirty Date op die oorspronklike Radio Goeie Hoop na hom te luister. Ons het die woorde van sy liedjies uit die “Pop met Mellie”-rubrieke in die destydse Die Burger en Rapport Ekstra geknip en in ons plakboeke oorgeskryf.
Dit was die tyd toe bruin kunstenaars nog “oek important” was (met apologie aan digter Peter Snyders), toe ons op televisie opgetree het, ons liedjies oor die radio gehoor is, en daar oor ons in “onse” koerante (die ou Ekstras) geskryf is.
My geluk was dat ek later as jong joernalis deel van die laaste generasie Ekstra-skrywers was, die label dalk ’n onprysenswaardige albatros om die nek, maar die bydraes wat ons gemaak het om erkenning aan die prestasies van ’n gemeenskap te gee, dié se selfbeeld te help bou, was en is blywend.
Maar toe kom die (onheilige?) drie-eenheid van democracy en majority rule en national demographics en só het ons stelselmatig van die medialandskap begin verdwyn, randfigure geraak, gemarginaliseer deur die nuwe magshebbers en die vasklouers aan die ou orde, en het ons byna uitsluitlik in die poniekoerante te lande gekom.
En tog, in daardie “tyd wat nie meer bestaan nie”, om AHM Scholtz by te haal, was ons in alle opsigte – en op meriete – op die map.
Dit was te danke aan radio-omroepers soos Jegels (wat later die radiowese agtergelaat het om tale aan die Universiteit van Wes-Kaapland te bestudeer), joernaliste soos Melvin Whitebooi (wat ook verhale en dramas geskryf het), en liedjieskrywers en vervaardigers soos Al Etto.
Nou, soos Ricardo, is ook Whitebooi en Etto, reeds ontslape.
Anybody here seen my old friends Ricardo, Mellie and Al?*
Can you tell me where they’ve gone?
They freed a lotta people, but it seems the good die too soon
I just looked around and they were gone
Didn’t you love the things that they stood for?
Didn’t they try to find some good for you and me?
And we’ll be free
Some day soon, it’s gonna be one day ...
Polities onderdruk en van veel ontneem was ons wel, maar ons kon steeds op kreatiewe wyse onsself wees.
Ons hoef nie onsself as karikature voor te gehou het nie, naamlik die “jollie hotnots” uit Jakes Gerwel se doktorale verhandeling, ten koste van die self en ter wille daarvan om ander te vermaak wat ons met uitnodigings vir optredes by feeste of spreekbeurte op radio- en TV-programme vergoed nie.
Ricardo was ons superster, daar rég bó saam met Johannes Kerkorrel en Brenda “MaBrrrrr” Fassie; en met hierdie status het hy ons plek volgestaan, saam gesing aan die vredeslied “South Africa, we love you”, en gewys ons kan met die beste in die land en wêreld meeding – tóé soos nóú – wanneer ons die geleentheid gegun word.
Dié Baaise seun, wat ’n Kaapse liefling en ’n nasionale bate geword het, hy was die verpersoonliking van menige bruin seun en dogter se drome en ambisies.
Ons het hom aangehang, verafgod op ’n manier, soos ander generasies rasend was oor vroeëre kindersterre, byvoorbeeld Michael Jackson met sy treffer “Ben” en Jonathan Butler met sy klassieke “Please stay”, wat albei ook met sulke suikersoetstemme soos Ricardo op sy dag gespog het.
Ons wou álmal Ricardo wees.
Ons was ook verlief op “Julia” van sy gelyknamige eerste treffer. Ons was lief vir ons eie “Daddy”, selfs al het ons hom nie geken nie of al was hy ook, soos myne, onder die grond.
En ons het gesíng, uit ons keelgate uit en met haarborsels wat so styf vasgehou is dat ons regterduim ook soos ons held s’n omgekrul het.
Ook “Angie” het in ons harte ingekruip en ons het ons standerd 6-meisies oortuig ons sou ook “Together forever” wees.
Ons was saam met Ricardo & Friends “Children of the world” op die verhoog saam met Stevie Wonder, maar ons het ook al polities bewus begin raak en gewonder “Is there any justice in the world?”
Nogtans het ons tyd gehad om onsself met die kinderonskuld van desjare te geniet en dit by die sokkiejol in die skoolsaal uit te kap op “Mahala jive”.
Maar dit was ook vir ons in Ricardo se later jare alte duidelik dat ook hy – soos hy op ’n lekker reggae-ritme in “Loving arms” sing, een van sy laaste groot treffers – “te lank in die wind en te lank in die reën was” en op dié manier te maklik ingeskakel het by gemaakte skuilings; ’n hartseer werklikheid wat ongelukkig die ondergang van menige talentvolle kunstenaar voor en ná hom help meebring het ...
Selfs dié kennis het ons nie voorberei op die harde wyse waarop die bekendwording van sy siekte ons sou tref nie, en veral omdat dit die soort siekte is waaroor baie in ons gemeenskappe nog gefluister het asof dit ’n skande is. Om dié rede word dit veels te dikwels te laat ontdek met die gevolg dat heelwat lyers ná diagnose vinnig agteruit gaan.
Só was dit ook met Ricardo voor en ná hy nog verlede Sondagaand by ’n fondsinsamelingskonsert sy verskyning gemaak het.
Dit was laat Woensdagaand toe die nuus my bereik het – en ek het onmiddellik gedink aan Dmitri Jegels wat destyds sy liedjies oor die radio gespeel het; aan Al Etto wat soveel van sy treffers gekomponeer en vervaardig het; en aan Mellie Whitebooi wat Ricardo help “famous” skryf het.
Toe het ek The Best of Ricardo uitgehaal. Die eerste liedjie op dié album is “I love you Daddy”, geen verrassing, en dit bevat ook die byna vergete Kerstreffer “Christmas Time”.
Maar die groot ironie – nou onheilspellend so – is dat die laaste snit op die album “Hamba kahle” is – “Vaar jou wel” in Afrikaans. “Hamba kahle,” sing ’n jong Ricardo dan, “the time has come to say goodbye ...”
Hoe gepas sal dit nie wees nie as iemand by sy gedenkdiens of begrafnis die treffende liedjie “Nightshift” sing nie – die vereringslied wat The Commodores vir Marvin Gaye opgeneem het; hy wat op 45 ook heeltemal te vroeg gesterf het, net soos Ricardo nou op 43.
Dié aanhaling uit die lirieke wat spesiaal vir Marvin was, spreek ewe veel van Ricardo se uitsonderlike talent:
[Ricardo], he was a friend of mine
And he could sing a song
His heart in every line.
(Met erkenning aan Richard Holler, skrywer van die liedjie “Abraham, Martin & John”)
The post Ricardo: die sanger, en die tyd waarin hy geleef het appeared first on LitNet.