Oop gesprek op Stellenbosch
(vir Johan Degenaar)
Ons soek na Rooikappie en wolwespel,
die helfte word jou nooit vertel;
druiswyn en varsgesnede brood,
sing met die wolwe as die hekse dans.
Hy sit Sokraties hande by mekaar:
"Wat bedoel jy as jy dit só sê?"
Daar mors ’n wynvlek op die rand
van deug en skoonheid se verband.
Ek praat oor Ashforth en die skadu’s van Soweto,
vreemde hane wat onder die eike kraai:
mens is ’n mens deur andere
wat jou met toorkrag af kan maai.
Hy glimlag effens, verwys na bande wat weer brand
rondom twee Afrikaanse akademies:
dit wat ons uit die onderstroom kan skep is lewe,
dit wat jy ongeskape laat, word hel.
Die fabels skep bewussyn oor die lewe;
red jou lewe deur jou fabels te vertel.
Maar as jy eendag wil gesels,
swyg by kollegas, kom oordag:
ek hou ’n ekstra bottel in die Laan,
maar kan my deur nie meer so oop laat staan.
The post Oop gesprek op Stellenbosch appeared first on LitNet.