’n Hele klompie jare gelede, so in die middel van die 1990’s, het ek as jongman by die Departement van Doeane en Aksyns gewerk in Port Elizabeth. Ek was nie lank daar nie, minder as twee jaar, maar ek het in daardie kort tydjie nogal heelwat interessante dinge gesien en gehoor.
In die begin was ek in die Kwytingsafdeling, waar ons ’n groepie jong mans en meisies was, party pas uit die skool uit, wat onder toesig van ’n streng Engelse dame ons werk moes doen. Sy het aan die een of ander geloof behoort waar die vrouens sulke ligte blou rokke dra met strooihoedens en ons was nogal lugtig vir haar, hoewel sy ons altyd goed behandel het.
Om te kan verduidelik wat ons in die Kwytingsafdeling gedoen het, moet mens iets van die prosedures met belastings op invoere verstaan en ek sal kortliks uiteensit die bietjie wat ek onthou: ’n Invoerder dien sy dokumente in, soms word ’n deel van die besending geïnspekteer, dan het hy ’n aantal keuses van wat hy met die goedere kan doen, ondermeer die volgende:
• Dien ’n klaringsdokument in en betaal plaaslik die invoerbelasting, of moontlik is die goedere vrygestel van belasting, in welke geval die dokument dit so weerspieël.
• Die goedere sal eers in ’n soort verseëlde pakhuis ("bonded warehouse") geberg word en dan word die belastings later betaal as dit daar uitgehaal word, of moontlik kan hy op ’n ander manier daaroor beskik as hy dit uithaal. Vir ’n "bonded warehouse" word natuurlik ’n ander klaringsdokument ingedien. Dit lyk maar baie soos die eersgenoemde waarop belastings betaal word, maar is van ’n ander kleur, destyds pienkerig, terwyl die belastingsdokument wit was.
• ’n Dokument indien om die goedere na ’n ander bestemming te neem, gewoonlik Johannesburg of die destydse Rhodesië, of waarheen ook al. Dan word die doeane-belasting by die bestemming betaal, of ’n ander klaringsdokument word daar ingedien. As dit direk na Rhodesië uitgevoer is, was geen belasting betaalbaar nie, sover ek weet. Hierdie dokument het ons genoem "Vervoer onder waarborg – Removal in Bond" en dit was ligblou/groen van kleur.
Dit is by die laasgenoemde "Vervoer onder Waarborg"-transaksie waar ons afdeling betrokke geraak het. Ons kry ’n afskrif van die klaringsdokument en die invoerder moet later bewys lewer van wat van die goedere geword het, soos dat hy die belasting in Johannesburg betaal het. Dan word hy kwytgeskeld daarvan om die belasting in PE te betaal. Die werk het maar met rukke en stote ingekom en by tye het ons jong klomp niks gehad om te doen nie, dan het ons gewoonlik gesit en gesels of net by die vensters uitgestaar na die straat daaronder en die klokketoring reg langs ons, waar ons op die boonste verdieping van die tweevlak-gebou was. Etenstye het ek soms hawe toe gestap en gaan sit en kyk na die vissies wat naby die kant rondswem. Daardie jare was die water in die hawe nog redelik skoon.
Wanneer ek die kans gehad het, het ek partykeer deur skeepsmanifeste gekyk as dit beskikbaar was. Dit bestaan uit lyste en lyste van goedere vir elke hawe waar die skip aandoen. Soms eksotiese goedere uit eksotiese lande en in jou verbeelding kon jy na verre bestemmings reis op skepe uit London, Bremerhaven, Marseilles; trouens, van enige plek in die wêreld. In daardie jare was alles nog in kratte en kartonne verpak, elkeen geadresseer en genommer. Die hedendaagse groot skeepshouers het nog nie bestaan nie.
Aan die binnekant van die gebou was ’n groot saal waar goedere afgelaai is vir inspeksie. Dit moes vasgestel word of dit werklik is soos in die dokumente beweer en watter belasting betaalbaar was. Net ’n baie klein deel van alle invoere is so ondersoek.
Om die inspeksiesaal gerangskik was daar kantore op twee vlakke en hier het ek ook in verskillende afdelings gewerk. Een was die permitte-seksie - vir party goedere moes die invoerders permitte hê om dit te mag invoer en dan het ek die waarde van die besending afgemerk op die permit, wat vir X-bedrag uitgereik is.
Dan was daar die afdeling waar ons fakture moes nagaan. Party oorsese uitvoerders was verdag en berug daarvoor om vals waardes en inligting op hul fakture in te vul. Ons het lyste gehad van die verdagtes en moes hul status nagaan. As ek reg onthou is dan bepaal watter persentasie gevoeg moes word by die waarde deur hulle aangegee.
Laastens het ek ook ’n rukkie in die uitvoer-afdeling gewerk, wat meesal behels het die nagaan en stempel van uitvoerdokumente. Mens raak later baie behendig daarmee om ’n stapel dokumente vinnig om te blaai met jou linkerduim, terwyl jy met jou regterhand die stempel eers op die inkblok druk en dan op die dokument stamp. Jy ontwikkel ’n lekker ritme, so tussen die stamp op die inkblok en die tjap op die dokumente. Om die ritme nie te breek nie as jy eers na iets op die boonste van 'n stel dokumente moet kyk, hou jy aan stamp op die inkblok, tot jy dan weer op die dokumente moet tjap. Dan gaan dit min of meer so: stamp stamp stamp, tjap stamp, tjap stamp, tjap stamp,tjap stamp, stamp stamp stamp, tjap stamp, tjap stamp, tjap stamp, tjap stamp, stamp, stamp-stamp ... Die ou in die kantoor langsaan hoor dit heeldag lank, so ook iemand wat in die gang verbystap, totdat dit in die verte wegsterf as hy verder gaan! Elke stel dokumente bestaan uit ’n oorspronklike en so drie of meer afskrifte, en daar is ’n dik pak stelle, derhalwe telkens weer die stamp stamp stamp op die inkblok as jy gou eers die oorspronklike nagaan voor jy hom en die afskrifte tjap.
By die departement het ek ook baie mense leer ken, die agente vir die invoerders en hul handlangers wat die dokumente kom indien veral. Een skraal mannetjie, rooikop en sproete, het soms by Kwytings ingekom, dan sit hy sy tas op die toonbank en sê: "Opsaal Boere, hier kom die Engelse." Die agente se personeel was meesal Engelssprekend. Ek het die man se grappie geniet, hoewel ek dink van die outjies het hulle daarvoor vervies. Maar ons was ’n mooi klompie saam, eintlik maar nog seuns en meisies, en het goed saamgewerk.
Op kantoor het die manne dikwels gepraat van die GATT-ooreenkoms (spreek GATT uit soos in Engels), wat ek as beginner verstaan het is ’n akroniem vir "Geneva Agreement on Trade and Tariffs", hoewel ek hoor deesdae praat hulle van die "General Agreement ...." Dan was daar ook die Brusselse Namelys (Brussels Nomenclature), ’n aantal dik volumes van alles denkbaar wat ingevoer kan word, met kodenommers en die belasting betaalbaar. Ek onthou een inskrywing wat my geïntrigeer het: "Donkies, perde, muile en donkiemuile". Ek sukkel nog steeds om te verstaan presies wat ’n donkiemuil is, maar blykbaar werk dit so: As die pa ’n donkie is, is dit ‘n muil (Engels "mule"). As die pa egter ’n perd is, is dit ‘n donkiemuil (Engels "hinny"). Maar waarom sou enigiemand muile en donkiemuile wou invoer? Ons het mos genoeg donkies en perde van ons eie om al die soorte muile wat ons nodig het te produseer! Miskien was dit iets wat teruggeslaan het na die Anglo-Boereoorlog, toe die Engelse baie perde en pakdiere moes invoer. Selfs in die Eerste Wêreldoorlog, met die veldtog in Suidwes, sou baie pakdiere nodig gewees het.
Daar was natuurlik verskillende maniere waarop belastings neergelê en bereken kon word. So kon dit bv bereken word as ’n persentasie op die waarde, of volgens die gewig van die goedere.
Maar, hoewel ek self glad nie daarmee gewerk het nie, het veral die invoer van materiale (kleedstowwe) my belangstelling geprikkel. Daar was natuurlik baie soorte, soos wol, linne, katoen en wat dies meer sy, maar as die gehalte en waarde daarvan bepaal moes word, is dit op ’n interessante manier gedoen: Daar was so ’n klein instrumentjie – eintlik maar net ’n vergrootglas met ’n voetstuk – en op die voetstuk was ’n geelkoper-liniaal gemonteer, so twee duim lank. Dan word die materiaal onder die vergrootglas geplaas en hulle tel die aantal drade waarvan dit geweef is! Soveel draadjies per duim!
Dit was egter nog nie die einde daarvan nie, die aard van die garedraad waarvan dit geweef is, moes ook vasgestel word: naamlik of dit kontinueus (aaneenlopend) of diskontinueus is. (Hierdie woorde is natuurlik van die Engels verkry.) ’n Draadjie word uitgehaal en bekyk. Is dit een aaneenlopende draad, of is dit kort stukkies wat om- en inmekaar gedraai is? Om dit vas te stel, word die draadjie aan sy twee punte beetgekry en die punte word in teenoorgestelde rigtings gedraai, eers eenkant toe, dan na die ander kant. Is dit "diskontinueus", sal die stukkie draad uitmekaar disintegreer.
Dit is mos nou ’n letterlike geval van hare kloof! Ek wonder of hulle dit nog so doen?
The post Hare kloof appeared first on LitNet.