Dit is eienaardig hoe die gawe van klank ’n mens se gedagtes kan vasvang, jou verbeelding op soek kan stuur en die brand aan jou sitvlak, van donkiejare gelede, so vars soos die smaak van nou-nou se rooibostee met heuning in jou geheue kan laat.
So was dit vanoggend, toe draadloos sonder grense ’n leerkrag se gewapende aanslag op ’n leerder se boude, elders in die heuwels van Natal, in ’n berig die lugweë ingestuur het. Die stuitige omroeper wou by ons, die Jan en San van Alleman, die mens op straat, die algemene publiek, hoor of ons ’n antwoord het vir die misoeste wat blykbaar uit ons ouerhuise die wye wêreld ingestuur word; die sogenaamde probleem-jeug, die ongedissiplineerde nuwe volk en hulle wat staak selfs wanneer hul skoolbroeke te los, te styf of te wyd pas!
Die skraal seuntjie, seker so nege of tien jaar oud, weet hy is weer diep in die moeilikheid en dat sy pak slae nou nader aan sy sitvlak is as die perserige deken waarop hy net-net sit en wat hy met beide hande vasklou.
Sy moeder staan voor die bed met die pakgee-gordel in die hand en sy is besig om van verborge na oordadige woede te verander, terwyl sy hom vir die soveelste keer sissend deur haar knersende voorgebit sê-vra “Oubaas draaaaai om!”
“Asseblief Mammatjie, laat ek net verduidelik…”
Soms het die laaste versoek vir ’n kans om ’n verduideliking af te vuur tog die uitkoms gebring waarna die seuntjie uitgesien het, maar meestal nie, want sy woede verydeling en geduld vertrapping was reeds so ver gevorder, dat daar nie meer gronde of rede gevind kon word om die pak slae terug te trek nie en was Moeder se gryp, ruk en ompluk en die val van die eerste sarsie houe, daar waar sy sitvlak behoort te wees, sommer in een magtige beweging!
Sy histeriese gille het blykbaar die “vyf voet drie duim-aanrander” net meer opgewerk, want die houe het bly val totdat sy geraas tot ’n erge gehuil verminder het; waarna die pak slae sou ophou met ’n harde, “bly nou stil!” ’n Instruksie wat hy tot hierdie dag toe nie verstaan nie.
Ek sou my huil klaar huil en dan, wanneer Moeder die kamerdeur kom oopmaak, sou sy vir my kom troos, tranerig en snotterig sou ons mekaar vertroos en sou ek belowe om nie weer dít aan te vang wat hierdie keer my boude laat brand en haar hartseer gemaak het nie. Ek kan nie eintlik altyd onthou hoekom ek pak gekry het nie, maar ek onthou die vrede wat dit gebring het nadat almal se neuse droog was en die rooi oë vergete was, selfs al was die pak ’n derde of vierde straf vir ’n soortgelyke oortreding!
Op hoërskool, nie so baie lank gelede nie, seker net 36 jaar, was daar graad 8 (ou standerd 6) kinders wat seepglad soet die gange bewandel het en daar was kinders wat aanvanklik ’n bietjie moeiliker aangepas het. Sommige voorbeeldiges het nooit die binnekant van die “kantoor” vir die verkeerde redes gesien nie, terwyl ander van ons dit nét te veel besoek het!
Vandag is ek gewis nie trots op die 63 keer wat ek in graad 8 moes gaan pak kry het nie, inteendeel, ek is eerder dankbaar, want, as die onderwysers ons meer as eenkeer op ’n dag kon pak gee, dan was ’n klompie van ons se boude nou nog pers!
Ai, dit was eintlik angswekkend lekker.
In terug denke, was dit seker nie so aangenaam vir die onderwysers nie.
Die menere het ons met ’n rottang of tuisgemaakte klein krieketagtige-kolfierige-ding geslaan en ons een juffrou, was weer lief vir die liniaal oor die hande. Sommiges sou met jou, as oortreder van die skoolreëls, mooi praat voor die houe val en ander sou vir jou in ’n onhoorbare verhaal van dissipline vertel, terwyl die houe val.
Ander weer, het glad niks gepraat nie, nee, sy krieketplankie het drie keer op jou boude geval en dan kon jy gaan – dan kon jy drie keer om die skool hardloop om die brand af te hol; nie omdat jy moes nie, maar net omdat jy wou! Hy was nie verniet mnr Brand nie!
My brandboude-ervaringe het nie van my ’n sondelose mens gemaak nie, maar dit het wél my tienerjare met die vaste wete ingelei dat daar gevolge gaan wees wanneer ek buite die aanvaarbare norme en orde van die omgewing waarin ek grootword optree. Ek kon kies om nie skoolwerk te doen en dan sou my gat brand; ek kon kies om liggaamsoefeninge te “bank”, maar dan sou my gat ook brand en ek kon kies om leuens te vertel, want dan sou ek integriteit en vertroue prysgee.
Kortom, ek het geleer om te betaal vir die kere wat ek sou faal, ’n nare werklikheid wat ons as die sogenaamde liefdevolle generasie vir ons kinders probeer wegsteek, net om daardeur hul lewenspaaie met nagemaakte stene te plavei en hulle van die geleentheid te ontneem om slaggate raak te sien, voor hulle daarin val.
Lyfstraf was dalk nie vir almal ewe goed nie, maar om straf aan die lyf voel, is tóg.