The Fantastic Grifizzi Brothers – Braaivleis, Kattekwaad & Miracles! Van kleins af is ek gefassineer deur die sirkus. Nie deur die diere in hul aaklige hokke en hartseer oë nie, maar deur die meisies in hul mooi kostuums met vere en vlerke en grimering, wat aan toue deur die lug swaai; die mans met hul donker oë en soepel lywe wat vuur blaas en ringe uitmekaar knoop sonder dat jou oë die verkullery kan agterkom. Die spookasem en blinkertjies en ballonne.
Maar die laaste paar jaar is sirkusse meestal ’n hartseer ervaring met kostuums en tente en mense wat eens in hul fleur was, maar nou half desperaat vasklou aan die magiese van vervloë dae.
Dis nou tot jy by die vlaggies van die boheemse The Fantastic Grifizzi Brothers op die Van der Stel-sportgronde op Stellenbosch indraai.
Ons drink ’n koue bier in een van die tente, kyk hoe kinders grootoog kyk na die man op stelte, of die kulkunstenaar wat kaarte en rooi neuse agter hul ore uittoor, en die opwinding as hulle die tannie sien wat hul gesigte kan verf.
Daar is tannies met rokke wat soos sirkustente lyk en ooms met kruisbande en pluiskeile wat ballonne in oulike diertjies knoop, en natuurlik warm spookasem en stokkielekkers en springmielies om jou kake besig te hou.
Van die swaaie en groot wiel kom uitgelate lag en klein plesiergilletjies, maar ons sit in die dubbeldekkerbus en eet. Langsaan by die braaitent verlei die reuke van kruisskyf en gebraaide mielies jou, terwyl die kelners borde met aartappelslaai en beet aandra.
By die oulike antieke spieëltent is ’n indrukwekkende kroeg met bakke hoog gestapel vol suurlemoene, en buite op die stoepie wag die barbier met sy styfgeklitste skeerroom om jou bakkies glad te kry, terwyl jou vriende laggend aan hul gin & tonics teug.
In die groot sirkustent word grootmense weer kind met The story of the Moon, die verhaal van hoe die maan graag deel wil word van die sirkus en haar reis om daardie droom te verwesenlik. Die vertoning het Marc Colli en Christine Chapman as regisseurs, is die breinkind van Richard Griffin, met Lilian Khumalo as Mama Circus as seremoniemeester met die sanger Carmen Maarman aan haar sy. Die vertoning sluit akrobate, musikante, indrukwekkende kostuumruil, komedie en veel meer in.
Ons gesigte is geverf, ons het die kulkunstenaar gehelp om munte op ons skouers te vind en ons gaan sit en eet vis en tjips – kompleet met ou vissersnette en ankers en die reuk van varsgesnyde suurlemoen by Gorgeous George’s, geskoei op die bekende Kalky’s in Kalkbaai, wat ook al die vis en skyfies verskaf.
Die span onder leiding van Richard Griffin wat oor die afgelope paar jaar verantwoordelik was vir boheemse heerlikhede soos Madame Zingara, Cafè Paradiso, Cafè Mozart, Sidewalk Cafè, The Bombay Bicycle Club en die rondreisende The Theatre of Dreams, bring hierdie sirkus na die Eikestad, na ’n paar weke se uitverkoopte vertonings in Vishoek.
Saans as die kinders se bad- en slaaptyd aangebreek het, kan die grootmense tot laatnag kuier by een van die vyf boheemse kroeë of vyf restaurante wat selfs vegetariese en halaalkos bedien.
The Fantastic Grifizzi Brothers – Braaivleis, Kattekwaad and Miracles!
Van der Stel-sportgronde, Stellenbosch
5 Augustus tot 17 September
Woensdae tot Vrydae 14:00 tot laat en Saterdae en Sondae van 11:00 tot laat.
Toegang tot die gronde kos R30 per persoon.
The story of the Moon word Donderdae om 16:00, Vrydae om 15:00 en 19:00 en Saterdae en Sondae om 12:00, 15:00 en 19:00 opgevoer. Vertonings is ’n uur lank en het na ’n halfuur ’n pouse. Kaartjies kos van R120 vir kinders en R160 vir volwassenes, beskikbaar deur www.thegrifizzibrothers.com, of 071 400 2250. Addisionele aktiwiteite soos die pretritte en bungee-trampolien kos R20–R60.
The post The Fantastic Grifizzi Brothers: Word weer kind met dié sirkus appeared first on LitNet.