Albert Frost Trio
’n Aand by Die Boer – 18 Augustus 2017
Wanneer die blues jou roep, het jy geen keuse nie, jy moet antwoord. Albert se roeping het vroeg in sy lewe gekom. Hy was in standerd 8 en dit het sy lewe verander. Nie lank daarna nie bevind hy hom as kitaarspeler saam met Frank Frost (sy pa) in die legendariese Blues Broers.
’n Leefstyl deurdrenk met blues, konstante toere en laat aande volg en die alkoholmonster vernietig hom byna. Gelukkig is hy nou, met die ondersteuning van sy familie, sober en verlos van daardie demoon.
Die blues wil hom egter nie alleen laat nie. Elke aand wanneer hy optree, herleef hy weer daai roeping. Hy, Schalk Joubert en Jonno Sweetman vorm die klassieke blues rock-trio wat herinner aan Cream van die laat ‘60’s. Elke lied word gelewer met oorgawe en gereelde improvisasie en die volume word oopgedraai tot na aan die rooi.
Die meeste van die liedjies is van Albert se nuutste en hoog aangeskrewe album The Wake Up (SAMA beste rockalbum 2017). Die klassieke bluesliedjies is steeds daar, soos Muddy Waters se “Same thing”, maar na 21 jaar met die Blues Broers is Frost baie meer as net ’n blues-kitaarspeler. Die nuwe materiaal bevat elemente van blues, rock en Afrika-ritmes.
Al drie lede van die trio is uitstekende musikante uit eie reg. Met ’n jazz-agtergrond is Jonno Sweetman ’n besige trompspeler en dit veroorsaak dat beide Albert en Schalk meer vryheid het om te improviseer. Van die sagte “Outside” tot die donker “My black dog” sit die trio nie een voet verkeerd nie. Die gehoor word vermaak met verbluffende kitaarsolo’s (wat later ’n vioolstrykstok insluit), ’n baskitaar wat somtyds dreig om die ander twee heeltemal te oordonder, en dan natuurlik ook Jonno se ongelooflike perkussie.
Met die slotakkoorde van “Modern romance” is die gehoor op hul voete en die Albert Frost Trio kyk met breë glimlagte toe.
Albert meld na die tyd dat hy graag in Amerika wil toer. Sulke toere verg fyn beplanning, oorsese agente en ook gewillige borge. Ons kan net hoop dat dit wel ’n werklikheid vir hom sal word.
Albert Frost verdien ’n baie wyer gehoor. Hopelik was daardie roeping in standerd 8 nie verniet nie.
Albert Frost Trio:
- Albert Frost - kitaar en stem
- Schalk Joubert - baskitaar en stem
- Jonno Sweetman - tromme
Stellys: Outside, Tonight, Same thing, Who do you love, Caroline, Mountains, Sunrise, Morning pages, Going down, Summer rain, My black dog, Against the wall, Modern romance
Teks en foto’s: Stephen Fourie
The post Albert Frost Trio: ’n aand by Die Boer appeared first on LitNet.