Die neurowetenskap is ’n studie van hoe senuwees algemene menslike studievermoë en gedrag beïnvloed. Dit maak dus sin dat hierdie wetenskap ’n metode sal wees om aangewend te word as leerders se prestasie verbeter wil word. In Suid-Afrika is daar so baie moeilike eksterne omstandighede om in ag te neem: armoede, skole wat swak toegerus is, sosiale omstandighede by die huis wat nie bevorderlik is vir studie nie.
Tog is een van die kernbevindinge ’n onlangse artikel wat in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn het, dat leerders bemagtig kán word - te midde van ongunstige omstandighede van armoede en geweld - om selfhandhawende individue te word wat beskik oor emosionele veerkragtigheid en deursettingsvermoë wat hulle in staat kan stel om te selfaktualiseer. Hoe kan onderwysers help om dit te bewerkstellig? Estelle Kruger het by Petro van Niekerk gaan uitvind. Estelle gesels met Petro oor Petro se artikel:
Neurowetenskaplike insigte oor leer en wording aan die hand van twee gevallestudies
Hoe sou jy die konsep neurowetenskap en leer kortliks verduidelik aan belangstellende onderwysers om hulle meer betrokke te kry by leerdergesentreerde onderrig?
Die neurowetenskap probeer in wese die evolusionêre en biologiese substrata van menslike wording verreken. Kognitiewe psigologie as onderafdeling van die neurowetenskap het spesifiek te make met hoe die menslike brein funksioneer en hoe kennis (beide kognitief en affektief) vasgelê word in die geheue.
As jy deel van die bestuurspan van ’n skool was ...
a) Hoe sou jy onderwysers inspireer om leerdergesentreerd te onderrig in plaas daarvan om net op inhoud te fokus en die kurrikulum slaafs na te volg?
Ek sou graag die term mensgerigte onderrig wou gebruik in plaas van leerdergesentreerde onderrig. Laasgenoemde klink vir my te veel of dit kan lei tot ’n kultuur van eiegeregtigheid en egosentrisme by leerders. Onderrig en opvoeding vind plaas binne verhoudings wat tydens menslike interaksies gestig word. Indien ’n bestuurspan ’n skoolklimaat kan skep wat getuig van respek vir mense en menseverhoudings, sou onderwysers ook meer menslik met hulle leerlinge omgaan. Die res van hierdie vraag se antwoord kan gevind word in wat ek op jou vraag b. antwoord
b) Hoe dink jy kan opvoeders gestimuleer en ondersteun word om bewus te wees van hulle eie affektiewe vermoëns om hulle professionele gedrag te verander sodat hulle ook leerders se affektiewe lewe in aanmerking neem in hulle onderrig?
As vergelykende opvoedkundige is ek wel deeglik onder die indruk dat die hele onderwysstelsel soos ’n ekostelsel funksioneer. Onderwysers in sommige skole verkeer tans onder geweldige druk vanweë oorvol klaskamers, rigiede kurrikulumbeleide (soos CAPS) en soms onnodiglik voortdurende veranderings, onopgevoede of getraumatiseerde leerlinge, veeleisende papierwerk en min ondersteuning vanaf distrikskantore of afwesige ouers, om maar ’n paar te noem. Desnieteenstaande word daar van onderwysers verwag om pa te staan vir alles wat verkeerd gaan in die onderwys. Gevolglik sou ek ’n klimaat van omgee en ondersteuning by die skool vir onderwysers skep om aan hulle veel meer erkenning te gee vir hulle reuse-aandeel aan kinders se opvoeding by die skool. Ek sou werkswinkels fasiliteer om onderwysers te laat besef hoe hulle eie gevoelens en innerlike belewenisse sowel as waardestelsels hulle onderrigtake beïnvloed. Meer as dit dink ek is nie moontlik om te doen nie.
Hoe kan leerders bemagtig word om hulle eie innerlike veerkragtigheid by moeilike en veranderende omstandighede aan te pas?
Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord, aangesien daar nie enkelvoudige raad is nie. Ek dink ouers en rolmodelle speel ’n baie groot rol in kinders se lewens, in terme van houdings en waardes wat tuis weerspieël word. As kinders by hulle opvoeders die boodskap kan kry dat hulle nooit slagoffers van enige situasie hoef te wees nie, dat hulle altyd ’n keuse kan uitoefen om self verantwoordelikheid op te neem vir hulle eie bestemming, kan dit ontsaglik baie tot innerlike veerkragtigheid bydra. ’n Positiewe ingesteldheid of disposisie sowel as ’n goeie humorsin kan leerders baie baat om bo die gevoel van magteloosheid te triomfeer. In die artikel maak ek melding van religie en ’n bepaalde doelgerigtheid wat sommige van die leerders genoop het om aan te hou en vas te byt ten spyte van uiterlike teenspoed. Ek dink die vermoë van die individuele bewussyn van die mens om weerstand te bied teen die ooglopende struikelblokke van die lewe vanweë innerlike veerkragtigheid sal ons altyd verras, omdat menslike bewussyn ’n misterie en ope moontlikheid sal bly.
Jy argumenteer dat ’n belegging in ’n fokus op ’n leerder se heelheid beter uitkomste kan lewer as ’n bloot kognitiewe of inhoudelike vlak van leer. Verduidelik asseblief?
Opvoeding het te make met verhoudings en menslike interaksies waartydens opvoeders en leerders met mekaar bemoeienis maak rondom spesifieke vakinhoude. Derhalwe is vakinhoudelike kognitiewe leer – alhoewel belangrik – nie die belangrikste nie, want wording lê ten grondslag van alle leer, en dit is wat leerders in hulle volwassewording met hulle saamneem lank nadat hulle die skool verlaat het en die spesifieke vakinhoudelike kennis vergeet het. Onderwysers wat die leerlinge se verbeelding kan aangryp ten opsigte van die vakinhoudelike sal veel meer bereik as diegene wat slegs strewe na die beste wyse om leerlinge af te rig om hoë punte in die vak te behaal. In my artikel probeer ek aandui dat daar tans in die onderwys ’n oordrewe fokus is op talle meetbare prestasies en ’n gebrek is aan innerlikheid, transendensie, spiritualiteit en verwondering. Dis juis laasgenoemde kwaliteite wat mense bemagtig om ongunstige uiterlike omstandighede te bowe te kom en sinvolheid te kan ervaar.
Jou navorsing handel oor twee spesifieke gevallestudies met klein groepies leerders. Dink jy dit is veralgemeenbaar om bruikbaar te wees in ander gemeenskappe wat in ongunstige en veranderende sosio-ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika lewe? Motiveer asseblief.
My antwoord is nee en ja. Nee, omdat ’n mens nie empiries en tegnies van sulke klein gevallestudies kan veralgemeen nie. Ja, omdat beide hierdie gevallestudies met kwaliteite te doen het wat moontlik ook elders teenwoordig kan wees. Bevindinge wat hier uitgekristalliseer het, kan elders getoets word en met moontlike groot vrug toegepas word.
Kan jy in 25 woorde verduidelik wat die verskil en ooreenkoms tussen kognitiewe wetenskap en neurowetenskap is?
Kognitiewe wetenskap is die oorkoepelende term vir ’n hele groep dissiplines wat te make het met breinprosesse soos motoriese funksies, persepsie, herkenning, taalvermoë, geheue. ’n Ander interessante vertakking van die kognitiewe wetenskap behels rekenaarmodellering van breinprosesse. Die neurowetenskap, daarenteen, probeer om te verstaan wat die neurobiologiese substrata van menslike gedrag en bewussyn is.
Hoe dink jy kan die koestering van verwondering, kreatiwiteit en spiritualiteit deur ’n leerdergesentreerde onderrigbenadering met kennis van breinprosesse bydra tot meer suksesvolle leer en beter uiteindelike eksamenresultate? Motiveer asseblief.
As daar meer op langtermyndoelwitte in die klaskamer gefokus word in stede van korttermynsuksesse. Daarmee bedoel ek as onderwysers leerders nuuskierig kan maak oor hulle vak en ook aan hulle die wonder van leer en lees en uitvind kan laat ervaar, op kreatiewe maniere wat ook speels kan wees, sal hulle lewenslange leerders word. Aangename herinneringe aan ’n spesifieke onderwyser en vak sal tot groter sukses lei as drilwerk en dreigemente.
In ’n ideale wêreld ...
a) Hoe sou jy breingebaseerde leer en leerdergesentreerde onderrig sien?
So ’n benadering kom wesenlik daarop neer dat die leerder as mens holisties gesien moet word en dat gesonde leergewoontes deur die onderwyser voor-geleef moet word.
b) Hoe sou dit in die klaskamer manifesteer?
Indien ’n enkele onderwyser die insig van breingebaseerde leer toepas, sou dit aansteeklik word en ander kollegas ook nuuskierig maak om sulke metodes te probeer. Dit sluit nou in die gebruik van breinkaarte en gereelde terugvoer en besprekings oor onderwerpe wat behandel is.
c) Wie kan iets daaraan doen om by hierdie ideaal uit te kom?
Soos ek voorheen genoem het, sal dit beter werk as dit ’n spanpoging kan wees van die hele skool se bestuurspan wat onderwysers met so ’n benadering kan ondersteun. Maar dit kan ook by een enkele onderwyser begin wat kreatief met haar vakgebied omgaan
Waarmee het jy in hierdie navorsingsproses gesukkel? Het jy enige kritiek of weerstand gekry van onderwysers op voetsoolvlak?
Die opskryf van die data was baie moeilik, omdat dit talle komplekse fasette bevat wat verwikkeld is en glad nie so maklik in een artikel koherent onder woorde gebring kan word nie. Hierdie artikel is konseptueel van aard en dus sluit dit eerstehandse empiriese data met onderwysers op voetsoolvlak uit. Ek kan dus nie sê of onderwysers weerstand sou ervaar oor neurowetenskaplike bevindinge nie. Dit sal ’n verdere navorsingsprojek kos om dit uit te vind. Maar wat ek kán sê, is dat die data in die breingebaseerdeleerprojek duidelik wys dat die onderwysers wat by die projek betrokke was, neurowetenskaplike bevindinge met albei hande aangegryp het. Die leerders se akademiese prestasies het ook aansienlik verbeter.
Watter verrassing(s) het jy in hierdie navorsingsprojek gekry?
Dit was vir my verrassend dat die ou oorbekende konsep van “die kind-in-totaliteit opvoed” ooreenkomstig Heidegger uit my eie voorgraadse opleiding en wel vanuit die fenomenologie deur die neurowetenskap ondersteun word. Ek het nie vooraf besef dat die neurowetenskap en fenomenologie wel raakpunte het ten opsigte van opvoeding en leer nie.
Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het hierdie navorsing van jou geïnspireer?
Ek het ’n interdissiplinêre kongres bygewoon van die South African Science and Religion Forum (waarvan ek ’n lid is) wat gehandel het oor neurowetenskaplike navorsing en menslike bewussyn. Navorsingsbevindinge uit verskeie dissiplines, soos die teologie, filosofie, mediese wetenskappe en fisika, het tydens die kongres gefigureer. Dit het my belangstelling geprikkel en gelei tot my verdere navorsing op die gebied. Ek was veral geïnteresseerd in die toepassingsmoontlikhede van die neurowetenskap op die opvoedkunde.
Wat was jou ervaring in die onderwysberoep voordat jy die akademie betree het?
Dis ’n ietwat moeilike vraag vir my omdat dit so lank terug in die verlede gebeur het.
Dit was in die jare 1975–1982 – ’n heel ander bedeling in Suid-Afrika. Ek was uiters bevoorreg om Latyn en Afrikaans aan verskeie hoërskole in die land te gee. Ek is diep bewus van die bevoorregting van destydse wit skole gesien in die konteks van ons land se geskiedenis enersyds en die blatante diskriminasie teen vroulike onderwysers, wat salaris, aanstellings en status in die onderwys betref andersyds. Desnieteenstaande roep my skoolhoudae oor die algemeen positiewe herinneringe op ten opsigte van hoe die skool gefunksioneer het en hoe professionele optrede van onderwysers en alle ander gesaghebbendes geag is. Met ander woorde die waardes onderliggend aan klasgee is ondersteun deur die hele etos van die skool. As onderwysers is ons diep onder die indruk gebring dat ons te alle tye as rolmodelle vir die leerlinge moet optree. My persoonlike klaskamerervaringe was oorwegend positief, omdat ek die interaksie met my leerlinge geweldig verrykend gevind het. Ek het baie by my leerlinge geleer. Hulle hopelik ook by my.
Wat het jy as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van jou bevindinge?
Dat menslike bewussyn oor ontluikende aspekte beskik waarvolgens die menslike gees nie aan bande gelê kan word nie en op geen manier voorspelbaar gekniehalter kan word nie. Verder vind leer en wording plaas in wedersydse menslike interaksies, selfs tot so ’n mate dat dit uit die evolusionêre verlede bewys kan word.
Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison?
Ek het die afgelope paar jaar navorsing gedoen oor tendense in hoër onderwys. Dit gaan veral oor die veranderende klimaat by universiteite sedert die dramatiese vermindering van staatsubsidies en terselfdertyd die massifikasie in hoër onderwys. Ek gebruik meestal kompleksiteitsteorie as ’n lens wat ons nuut kan laat dink oor die bestuur van universiteite in hierdie chaotiese omstandighede.
The post Kan leerders uitstyg bo moeilike omstandighede? Ja, hulle kan! appeared first on LitNet.