Stralerjakkers
Leon van Nierop
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082941
Hier hoor jy die karakters se stemme om ’n heel ander rede.
En jy sien hulle nes tevore, hoewel in die geestesoog.
Hulle het op lug bestaan, spesifiek op weeksdae vir ’n paar jaar, die radiogolwe vol.
Stralerjakkers is ’n totale herinneringsvlug – mits jy destyds die radioverhaal gevolg het.
Dit is ’n baie interessante hersienning om dié romanverwerking van die bekende radioverhaal deur Leon van Nierop te lees.
Vir jare (1996 tot 2001) het luisteraars Stralerjakkers geluister.
En hoewel Van Nierop met sy roman getrou bly aan Girly Lubbe (in die radioverhaal vertolk deur Elize Cawood), is daar sommige van haar uitdrukkings wat ’n mens onthou wat nie in die boek is nie.
Jy hoor haar veral lag. Jy sien haar nog in die televisieadvertensie toe Stralerjakkers in die radio-ateljee verfilm is en vir ’n tydperk op kykNET uitgesaai is. Daardie temamusiek, die komposisie “Caravans”, hoor jy ook nog, en selfs onthou jy waar jy was toe jy die eerste keer die lied gehoor en van die radioverhaal bewus geword het.
Dit is ’n lekker lees al die pad tot by bl 246, deels omdat jy wonder watter van die (ou) bekende karakters hul opwagting sal maak. Sal sommige storielyne van destyds terugkeer?
’n Mens wonder nou wel of die nuuskierigheid steeds so sterk sou gewees het as dit nie vir die radioverhaal was nie.
Verder het ek baie hard probeer onthou of Girly se storie, haar “biografie” Skrikkelkind: Girly se storie (ook deur Van Nierop), presies dieselfde verloop het.
Spesifiek op radio was Girly aan’t skryf aan haar eie storie. Hoogs geheim, verbode om te sien wat sy tik op daardie toetsbord waarvan jy op die radio die druk van die knoppies kon hoor.
Hoewel daar baie tonele is wat ’n mens nou nog hoor, verloop die roman anders in vele opsigte.
Die roman verteal van Tiaan, die rykmanseun, wat na twee jaar uit die tronk vrygelaat is vir ’n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Nou beland hy in Girly se losieshuis in Newlands (sy het tog so graag “Madeliefiestraat 13A” in die radioverhaal gesê). Steeds is Girly die vrou met die groot hart wat vir straatkinders kos uitdeel en ma van Karlien is, en “oorle lewende Gert” (hoewel sy hom in die boek nie so noem nie) figureer ook.
Die onheil druis reeds vroeg.
Die storie lees lekker, hoewel lesers dalk soms ’n bietjie mooiskryf sal ervaar, maar tog is daar lekker beskrywings, ook met humor, en die storie is vroeg-vroeg op dreef, te danke aan ’n nare karakter (nogal my naamgenoot) wat op die toneel verskyn.
Jy word egter nie verveeld nie, want die nostalgie van die destydse reeks hou die leser se aandag.
Dit is te verwagte dat nie al die karakters dit tot in die roman sou maak nie.
Tog was die meeste van dié wat ek onthou, daar.
Dit is interessant om ’n bietjie meer van hulle te wete te kom.
Soos Van Nierop met Ballade vir ’n enkeling se romanweergawe (dit was ook eers ’n televisiereeks en in 2015 is ’n rolprent uitgereik) is dit na vandag verplaas.
Dikwels is die aanpassing van tyd vir my minder belangrik as die storie self. Sommige fiksie hoef nie aan aan ’n sekere tydperk gekoppel te word nie.
Stralerjakkers het ook destyds nuus van die dag in sy dialoog ingesluit gehad.
Hier word ook ’n paar meer hedendaagse onderwerpe genoem, soos die die Mall of Africa, en die politieke hede bly nie agterweë nie.
Nie almal sal daarvan hou nie, maar as jy teen Stralerjakkers-tyd die radio aangeskakel het, sal hierdie boek jou vermaak.
The post Stralerjakkers deur Leon van Nierop: ’n resensie appeared first on LitNet.