Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Alfred Schaffer: gasskrywerskap by die Universiteit Leiden

$
0
0

Die bekroonde digter en dosent Alfred Schaffer is die nuwe gasskrywer aan die Universiteit Leiden. Hy is tans werksaam by die Universiteit Stellenbosch.

Alfred sal vanaf September saam met Nederlandse studente in Leiden poësie skryf, vertaal en herskryf. Deel van die gasskrywerskap is die Albert Verwey-lesing wat hy op 2 November sal lewer.

Die gasskrywerskap word sedert 1985 aan die Universiteit Leiden aangebied, danksy ’n samewerkingsooreenkoms tussen die universiteit en die NRC-Handelsblad. Die gasskrywerskap duur drie maande per jaar. Die eerste gasskrywer was Gerard Reve. Etienne van Heerden was in 2000 die eerste gasskrywer uit Afrika, en ander gasskrywers sluit Adriaan van Dis (1996) en Marlene van Niekerk (2009) in. In 2000 verskyn Dit is voor mij geschreven, ’n bundel van 15 Albert Verwey-lesings.

Alfred Schaffer (foto: Naomi Bruwer)

Menán van Heerden het meer gaan uitvind oor Schaffer se agtergrond as skrywer en oor wat vir hom voorlê.

Wat sal jou pligte as inwonende skrywer aan die Universiteit Leiden behels?

Ek gaan ’n aantal openbare kolleges gee oor poësie en die poëtiese eksperiment – as ’n mens kyk na uiteenlopende digters soos Anne Carson, Antjie Krog, Zbigniew Herbert, die Nederlandse digter HH ter Balkt of Claudia Rankin, dan sien jy hoe betrokkenheid, vorm én inhoud saam ’n belangrike rol kan speel in die poësie. Veral by ’n klomp nuwe of jonger digters sien mens dit, soos by Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, Koleka Putuma en Sindiswa Busuku-Mathese, of in Nederland by Maarten van der Graaff, Maartje Smits, Hannah van Binsbergen en Frank Keizer. Behalwe die klasse in my hoedanigheid as gasskrywer bied ek saam met Yra van Dijk ’n reeks aan vir die derdejaars oor literatuur, rasisme, identiteit en hibriditeit. Op 2 November is dan die Verwey-lesing. En verder is daar nog optredes en lesings, maar dit staan los van my pligte as gasskrywer.

Hoe lank sal jy daar wees?

Ek vlieg op 17 September na Amsterdam en keer op 9 November weer terug na Kaapstad.

Jy doseer tans aan die Universiteit Stellenbosch. Hoe sal jy jou klasse vir Nederlandse studente aanpas (indien wel)? En wat sal die inhoud van jou lesings wees?

Die inhoud van die klasse in Leiden gaan anders wees as wat ek hier in Stellenbosch doen. Vir nie-Nederlandse studente, wat nie bekend is met die Nederlandse, Vlaamse en Europese konteks nie, bied ’n mens ’n ander soort klas aan as vir Nederlandse studente wat bekend is met name, begrippe, kulturele en ander verwysings. Ek hoop dat ek en die studente daar tot interessante gesprekke en insigte sal kom aan die hand van die tekste wat ons lees. Die klasse in my hoedanigheid as gasskrywer sal ook ’n sterk element van self skryf (en vertaal) bevat.

Watter algemene insigte sal jy vir letterkundestudente asook jong skrywers (van Nederland en Suid-Afrika) wil oordra?

Wat my betref, word insigte gevorm deur gesprekke, en ek hoop op vrugbare en aangename besprekings; dan kom die insigte vanself. Maar miskien wil ek oordra dat Suid-Afrika en Nederland ’n multikulturele kultuurbasis het of begin vorm, en dat jy as skrywer en as leser daardie potensiaal kan benut – miskien móét benut. Dat vertaling en meertaligheid die toekoms is van moderne samelewings. En dat om goed te lees, en oor ’n groot aantal uiteenlopende tekste lees, belangriker is as om te skryf, en dat om tekste te vertaal ’n baie goeie leerskool is.

 Wat is jou mening oor die huidige Suid-Afrikaanse kultuursituasie?

Daar is ’n ongelooflike kulturele verskeidenheid in Suid-Afrika. Daar is genoeg verbruikers- en gemakskultuur, maar ek praat nou van die poësie, die filosofie, nuwe/moderne musiek, beeldende kuns, argitektuur. Die politieke gesprekke waarna mens kan luister by geleenthede soos die Vryfees of die Open Book Festival, of ’n fenomeen soos InZync. Daar is ’n enorme vindingrykheid wat ’n rol speel in die ontstaan van kreatiewe uitings – ek onthou nog hoe verstom ek was toe ek vir die eerste keer Willie Bester se werk gesien het in Kuilsrivier, baie jare gelede. Die onmiddellike, sosio-ekonomiese en politieke probleme is enorm. Maar die kultuur en die kreatiwiteit wat daaruit voortkom, is baie dikwels relevant en die teenoorgestelde van frivool – of jy nou ’n roman van Niq Mhlongo lees, of ’n toneelstuk van Willem Anker gaan kyk.

Waarop voel jy moet jong Nederlandse en Suid-Afrikaanse skrywers fokus in hul skryfwerk in vandag se onstuimige tye?

Daar was ’n tyd dat ek sou gesê het jong skrywers moet fokus op die wêreld rondom hulle, omdat ons nie net vir onsself lewe nie. Of soos die Nederlandse digter Remco Campert in die jare ’50 van die vorige eeu geskryf het: “Ik bevestig/ dat ik leef, dat ik niet alleen leef.” Die verbinding tussen die “ek” en die “ander” is tog van die interessantste verbindings wat gemaak kan word, ook in die kunste, en seker in ’n land soos Suid-Afrika. Maar ek hou nie van voorskrifte nie. En ek wantrou taal, al is dit my instrument, en met wantroue kan mens geen statements maak nie. Miskien moet jong skrywers veral durf kwesbaar wees, nietig, klein, onbeduidend – miskien is die skrywer as underdog wel die mees haalbare en eerlike hoedanigheid in die huidige konteks van skaalvergroting, die agteruitgang van ons ekosisteem en kapitalisme.

Wat dink jy is die rol van jou poësie (en poësie in die algemeen) rakende Suid-Afrikaanse en/of Nederlandse politiek en aktuele wêreldkwessies? Moet ’n digter “betrokke” skryf?

Die digter moet niks, ook nie per se betrokke skryf nie, al lewer dit wat my betref dikwels van die interessantste tekste, of dit nou gaan oor Vlakwater is of Infinite Jest – duidelik geen pamflette nie. Uiteindelik bly dit jy, die taal en die papier (of skerm) en jy kan net hoop dat jou preokkupasies buite die papier ook weerklank vind in jou werk – ek dink nie mens kan jouself altyd suksesvol forseer om anders, of om oor ander sake, te skryf as dit wat jou in jou persoonlike lewe vasvang en fassineer nie. Betrokkenheid lê dieper as net die basale inhoud. Dit sit ín die taal, in die taalgebruik, die perspektief, in jou persoonlike filosofie en gedagtes oor die wêreld wat spreek uit jou gedig. Dit klink alles vreeslik abstrak. Die rol van poësie mag ’n ondermynende een wees, ’n aktivistiese een. Maar gelukkig is daar ook poësie wat glad nie so is nie; mens sou moeg word vir altyd dieselfde tipe gedigte.

Beïnvloed jou Nederlands-Arubaanse afkoms enigsins jou werk?

Al hoe meer, merk ek. Ek dink dit het te make met ’n toenemende taalverwarring en ’n verlange na ’n groter kennis omtrent my afkoms en my persoonlike geskiedenis. Dit is juis die groeiende besef van ’n leemte in my kennis wat betref my voorouers wat ’n rol begin speel in my werk. Gló ek darem; ek is nie seker nie.

Watter raakpunte is daar tussen die Suid-Afrikaanse (en dalk spesifiek die Afrikaanse) letterkunde en die boeke wat op die Antilliaanse eilande of deur Nederlanders met bande met die Karibiese gebied geskryf word? En met boeke wat in Nederland en België geskryf word deur skrywers wie se voorgeslagte redelik onlangs in Nederland of België kom woon het, of selfs skrywers wat self na hierdie lande verhuis het?

Een van die groot raakpunte is dalk dat daar ’n gevoel is dat jy jou eie storie moet skryf, want iemand anders gaan dit nie vir jou doen nie, of weet in elk geval niks van jou situasie af nie. “Liminaliteit” is ’n belangrike begrip binne die Afrikaanse en die Suid-Afrikaanse lettere (sover ek dit kan oorsien met my beperkte blik); in die Nederlandstalige letterkunde van die gemiddelde wit skrywer of digter speel dit nie so ’n groot rol nie. Maar tekste van Nederlandse skrywers met ’n migrasie-agtergrond, soos Rodaan al Galidi, Mustafa Stitou, Karin Amatmoekrim of Abdelkader Benali, bied wel ’n nuwe narratief, en handel dikwels oor identiteit, afkoms, en kulturele verskeidenheid en verskeurdheid, en ’n voortdurende besef van tydelikheid.

Wat is die talesituasie in Suriname en op die Nederlandse Antille tans? Is Nederlands die amptelike taal? Wat is die taal van onderrig? Is daar ook ander tale wat geskryf en gepraat word? Beskryf asseblief die kompleksiteite rakende die talesituasie in hierdie gebiede (indien enige).

Nederlands speel steeds ’n rol in Suriname, al is dié land sedert 1975 onafhanklik; Surinaams-Nederlands is een van die amptelike tale. Die Nederlandse Antille bestaan feitlik nie meer as ’n konstruksie nie, al is al ses eilande nog as deel van die Nederlandse koninkryk verbind. Nederlands speel steeds ’n rol op Aruba, Curaçao, Bonaire en op die drie eilande Sint Eustatius, Saba en Sint Maarten. Die kernwoord is “meertaligheid”, die wegbeweeg van ’n eentalige en koloniale situasie. In Suriname is ook die verskeie Marron-tale, en Sranantongo, en op Aruba en Curaçao is Papiamento ewe belangrik, ook in die onderwys, en verder Spaans, Frans en uiteraard Engels. Ek glo nie daar is Surinamers of Antilliane wat nie meertalig is nie. Die skrywer Frank Martinus Arion was een van die voorvegters vir onderwys in Papiamento op Curaçao.

Hoe beïnvloed hierdie tale die samelewing in Nederland en Standaardnederlands? Dus, watter invloed het hierdie taalgebruik op Standaardnederlands wat betref die letterkunde, die elektroniese media en die algemene spreektaal? Beskryf asseblief die kompleksiteite rakende die talesituasie in Nederland (indien enige)?

Daar is seker ’n mate van beïnvloeding in Nederland, veral onder jonger mense. In rapmusiek hoor mens partykeer invloede van Papiamento, Nederlands-Surinaams, en ook Turks en Marokkaans. Maar net so goed hoor jy invloede uit Amerikaanse Engels. Ek glo nie dat volwasse Nederlanders so ’n sterk beïnvloeding van taal ondervind nie. Uiteraard is die Nederlandse taal van nou anders as van 50 jaar gelede, maar in die geskrewe taal in die media en in literêre tekste is die veranderings heelwat minder sigbaar as in die gesproke taal onder jonger mense. Dialekte en streektale speel steeds ’n groot rol, en die Nederlands wat jy in Zeeland hoor, is weer anders as die Nederlands wat jy in Groningen of in Limburg hoor.

Jy het in Nederland grootgeword. Maar hoe word die skryfwerk van Nederlandstalige skrywers in die Karibiese gebied nou in Nederland en België ontvang? Is hul werk deel van die sogenaamde hoofstroom?

Oor die situasie in België kan ek nie baie sê nie. In Nederland is Frank Martinus Arion se werk goed ontvang – sy roman Dubbelspel (1973) is ’n moderne klassieke roman. Astrid Roemer het onlangs nog die belangrikste prys ontvang vir haar literêre oeuvre, al het party kritici genoem dat dit ’n politieke gebaar is eerder as ’n bewys van literêre kwaliteit – ’n groot belediging vir die intrigerende werk van Roemer, maar tiperend vir die konteks waarin baie skrywers werk. Roemer en Arion is bekende name, maar selfs groot skrywers soos Boeli van Leeuwen en Tip Marugg is, dink ek, nie baie bekend by die gemiddelde Nederlandse leser nie. Ek self hou baie van hedendaagse skrywers soos Karin Amatmoekrim en die digter en kunstenaar Michael Tedja. Amatmoekrim behoort definitief tot die hoofstroom. Dit is albei skrywers met ’n Surinaamse agtergrond, maar hulle is ook gewoon Nederlandse skrywers en kunstenaars wat op ’n baie jong leeftyd na Nederland verhuis het (Amatmoekrim), of in Nederland gebore is (Tedja, in Rotterdam).

Jy het in ’n LitNet-onderhoud genoem dat Nederlands nie ’n "kleurlose ruimte" is nie. Vertel ons meer oor jou ervaringe in hierdie verband as Nederlander en as skrywer.

Mens raak ook maar moeg om heeltyd daaroor te gesels. Ek is bruin, my pa was wit, my ma was swart. Dit behoort niks besonders te wees nie, maar tydens my jeug ek het partykeer besef dat dit wel ’n probleem is vir party mense. Nederland het intussen heelwat bewuster geword van die feit dat daar baie mense is met ’n nie-Nederlandse agtergrond en dat daardie mense ook Nederlanders is, al het hulle dalk ’n Turkse, Marokkaanse, Pakistanse of Antilliaanse agtergrond. Dan is daar die groeiende besef dat jy die VOC-tydperk nie eintlik kan verheerlik nie, en dat die slawerny en die rol wat Nederland gespeel het, baie meer aandag moet kry op skole. As ’n skrywer onderhandel ek steeds tussen al hierdie aspekte, maar seker nie deurlopend nie, en dit gebeur grotendeels implisiet.

In dieselfde LitNet-onderhoud het jy al genoem: “Dis amper asof mens heeltyd ’n bietjie dronk is as jy tussen wêrelde beweeg, en veral tussen tale, en dan veral tussen Afrikaans en Nederlands … Partykeer dink ek: Is dit Nederlands of Nederkaans?” Hoe onderhandel jy as skrywer hierdie twee wêrelde?

Mens onderhandel nie eintlik nie, jy ploeter net voort. In twee bydraes wat binnekort gepubliseer gaan word, een vir ’n Nederlandse en een vir ’n Belgiese literêre tydskrif (De Gids en nY), het ek die gegewe van taalverwarring wel probeer konseptualiseer. Dit was ’n interessante verkenning. Ek beweeg veral tussen oorbewustheid en onsekerheid wat dié twee tale betref.

Wat geniet jy die meeste van Suid-Afrika?

My gesin. Die landskap. Die toekomsmoontlikhede. Die ruimte. Die veerkrag. Die meertaligheid en die veelrassigheid.

Wat pla jou die meeste van Suid-Afrika?

Die strukturele ongelykhede – die absurditeit daarvan, en die verregaande gevolge, op alle vlakke. Die politiese ondoeltreffendheid. Die toekomsperspektiewe. Die rygedrag op die paaie.

Wat is vir jou die mees relevante kultuurbande wat tussen Nederland en Suid-Afrika reeds beklemtoon word / nog beklemtoon kan word?

Vir my is “multikulturaliteit” die kernwoord. Die Nederlandse taal bly ’n belangrike brug as dit gaan oor spesifiek Afrikaans en Nederlands, maar as ons praat van Suid-Afrika, dan is gedeelde ervarings nog belangriker as taal, en speel byvoorbeeld musiek en vertaalde literatuur ’n groot rol, juis deur die toenemende multikulturaliteit. Ek is seker ’n optrede van die Nederlandse rapper Typhoon (met Surinaamse wortels) of van Fresku (Curaçaose wortels) sal ook hier in Suid-Afrika heeltemal “verstaan” word deur nie-Afrikaanssprekendes.

Wat gaan die onderwerpe wees van jou openbare lesings aan die Universiteit Leiden?

Ek het ’n kortlys met onderwerpe; binnekort gaan ek met myself vergader om te besluit watter onderwerp wegstap met die beker en die groot geldbedrag.

Sien die skakels oor Alfred se beplande besoek in Nederland:

The post Alfred Schaffer: gasskrywerskap by die Universiteit Leiden appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>