Die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse debuutdigbundels wat in 2015 en 2016 gepubliseer is, is pas bekend gemaak. Die prys word jaarliks beurtelings aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken - die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het.
Elf bundels is voorgelê en die kompetisie was straf. Die volgende bundels verskyn op die kortlys (in alfabetiese volgorde volgens die digters se vanne): Hendrik J Botha se Atropos, Bibi Slippers se Fotostaatmasjien en Hilda Smits se Die bome reusagtig soos ons was. Die wenner word op 1 September bekend gemaak en die prys word op 16 September by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig.
Hier is inhoud rondom die finaliste wat op LitNet verskyn het:
- Jaco Barnard-Naudé se LitNet Akademies-resensie-essay van Fotostaatmasjien.
- Naomi Meyer se onderhoud met Hilda Smits oor die bome reusagtig soos ons was.
- Alwyn Roux se resensie van die bome reusagtig soos ons was.
Aangesien die beoordelaars van die prys volgens die reglement gepubliseerde digters moet wees, is dit ’n prys van digters aan digters. Vanjaar is die beoordelaars Johann de Lange, Louis Esterhuizen en Nathan Trantraal.
Ronel de Goede is die sameroeper van die Ingrid Jonker-komitee. Die ander komiteelede is Leon de Kock, Finuala Dowling, Vincent Oliphant en Beverly Rycroft. Danie Marais, vorige voorsitter, tree as adviseur op.
The post Ingrid Jonker-prys: Kortlys 2017 appeared first on LitNet.