Glo jy in die voorsienigheid? Dink jy dit is bloot wrang ironie? Hoekom sou hierdie saak juis op 14 Augustus op die hofrol geplaas word?
Is dit dalk die wispelturige wil van Alice in Wonderland? Sy word later aangehaal.
Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig. Een van hulle bekommernisse was dat die werkersklas nie meer die formele Nederlands van die Bybel kon verstaan nie. Hoekom nie liewer oorskakel na die nuwer, omgangstaal, Afrikaans, nie?
10:00 Hof 11
Op 14 Augustus 2017 in Hof 11 staan die bokse hoog gepak. Die saak is geskeduleer vir drie dae, maar die leeswerk gaan baie weke neem om deur te werk.
In die regterkantste hoek staan Jan Heunis. Sy golwende wit hare bo die swart toga en wit beffie laat ’n mens dink aan die dae toe advokate pruike gedra het om te lyk soos hy.
Links sit twee advokate en twee prokureurs vir die universiteit.
Die deur gaan oop en die hofordonnans fluister iets. “Half an hour” is hoorbaar.
Ons wag.
10:30 Hof 11
Die hofordonnans vra almal om af te beweeg na Hof 6.
Die bokse word op trollies gepak. Die spanne kom in beweging.
10:45 Hof 6
Alles is in posisie. Die bokse staan hoog gestapel.
Die ordonnans kom in. “All rise!”
Almal staan op.
Regters Savage en Dlodlo stap in. Hulle knik. Almal gaan sit.
Die saak word in Afrikaans deur die ordonnans aan die hof voorgehou.
Regter Dlodlo maak verskoning vir die oponthoud, maar sê hierdie saak was té belangrik om in die kleiner hofsaal aangehoor te word. Aangesien daar ’n vertraging was, sal hulle nie teetyd neem nie, sê hy.
Jan Heunis gaan staan op agter die klein kateder wat sy junior neergesit het.
“Wag!” sê regter Dlodlo. “Ek kan jou nie sien nie.”
Die bokse word geskuif. Hulle val af. Hulle word opgetel.
Toe is die hof reg.
Jan Heunis staan op en dadelik haal hy ’n artikel uit LitNet aan:
The question I want to put to the people who conceived of the current language policy at SU is this: Why would one purposefully close off the avenue for the creative correction of past crimes in our language and culture? Why would one ever again want to punish the tongue that has already once been partly cut off? Why not create, right in the heart of the place where the apartheid masters cooked up their exclusivist racist agenda, a specific space for the exact opposite agenda, for the chance to retake the cultural project of Afrikaans, but this time on an entirely new politically progressive, ethical and inclusive basis?
Dit is die woorde van Marlene van Niekerk.
Heunis het direk daarna vir Sonja Loots aangehaal, toe ook Breyten Breytenbach en Marié Heese. Ook Mercy Kannemeyer se video word betrek. Dit is prominente mense in die Afrikaanse letterkunde wat vra dat na veeltaligheid gekyk moet word.
Xhosa word aangeraak. Waarom word daar nie saamgewerk met ander universiteite nie? Waarom word nie verseker dat ook Xhosa ’n volle, akademiese taal by die US word nie?
Daarna beweeg Heunis deur verskeie artikels in die Grondwet en die Wet op Hoër Onderwys. Hy laat die hof verstaan dat Afrikaans en alle ander inheemse tale die reg het om op tersiêre vlak te blom.
“Words have meaning!” sê Heunis na aanleiding van die kinderboek Alice in Wonderland.
As dit waar is wat Alice sê, dan moet ons die mooi ideale van die Grondwet lees teen die universitêre landskap soos dit tans daar uitsien, verklaar hy. Daar is 24 universiteite in die land. Nie een is meer Afrikaans nie. Op die Potchefstroom-kampus word Afrikaans nog parallel met Engels gebruik. Elders is Afrikaans glad nie meer ’n voertaal nie.
In die Wes-Kaap is daar vier universiteite. Drie is reeds Engels. Nou het ook Stellenbosch Engels geword. Meer as 49% van die Wes-Kaap se inwoners is Afrikaans-moedertaalsprekers.
Heunis verander taktiek. Die statute van die US sê dat net die Raad ’n taalbeleid kan verander. Daar was geen versoek van die Raad om ’n nuwe taalbeleid op te stel nie, sê hy.
Toe klim hy in stellings in wat deur die bestuur van die universiteit gemaak is. Vir Heunis is dit duidelik dat die nuwe beleid, wat Engels onomwonde as die voertaal van die universiteit stel, daargestel is om Open Stellenbosch te plesier.
Stap vir stap ontleed hy uitsprake van die rektor en sy bestuur. In openbare forums word veeltaligheid bespreek, maar terwyl daar vir die groter gehoor gespeel word, werk die bestuur na Engels. Heunis haal selfs verklarings aan waar ’n lid van die bestuur toegee dat die taalbeleid met Open Stellenbosch bespreek is en dat hulle konsensus daaroor bereik het.
Wat van die ander groepe? vra Heunis. Hy haal oproepe aan van die verkose studenteraad vir ’n veeltalige universiteit waar Engels en Afrikaans parallel gebruik word.
Dit is hoekom hy hier is, sê Heunis, wat pro amico optree. Waar is die navorsing wat gedoen is oor hierdie taalbeleid? Om so ’n ingrypende verandering te weeg te bring, sou hy verskeie navorsingsartikels verwag het van ’n universiteit.
Heunis haal toe ook Nelson Mandela aan wat ’n eredoktorsgraad van die US ontvang het. Volgens Mandela sou daar plek moes wees vir minstens een Afrikaanse universiteit in die land. “Dit is nie eens wat ons vra nie,” verklaar Heunis. “Ons vra bloot dat Afrikaans en Engels gelyke regte het aan die US!”
*
Die saak is op die hofrol van 14–16 Augustus 2017.
Volg die Universiteitseminaar op LitNet:
The post 14 Augustus 2017: Gelyke kanse vs die Universiteit Stellenbosch appeared first on LitNet.