The Mystery of Irma Vep: A penny dreadful
deur Charles Ludlam
in ooreenkoms met Samuel French Inc
Met: Jonathan Roxmouth en Weslee Swain Lauder
Regie: Elizma Badenhorst
’n Aanbieding van VR Theatrical olv Jaco van Rensburg en Wessel Odendaal vir Pieter Toerien in The Theatre On The Bay tot 19 Augustus 2017.
Die ouditorium is vir jou gepak! Die meerderheid van die groot openingsaandgehoor sal later orent spring of steier vir ’n ovasie. Laasgenoemde klink nes die dreunings en die “ontploffings” wat telkens onheil aankondig oor lord Edgar en lady Enid se landgoedwoning op Mandacrest.
Dis die eeu toe dorstige vampiere en belustigde weerwolwe nog baie rondgesoek het na kele en nekke. Hoe het die lord se eerste eggenoot, Irma Vep (toespeling op “vampier”), gesterf? Het sy dalk net verdwyn?
Van die lord se werknemers het hulle eie gevoelens oor lady Enid se status in die huishouding. Dit is nou die kiertsregop Jane Twisden (Jonathan Roxmouth), hooghartige diensmeisie wat heers met die verestoffer oor die meubels en snuisterye. Sy bedreig ook ongewenste persone daarmee. Haar kollega is Nicodemus Underwood (Weslee Swain Lauder) met die onnette werksklere; een bron sê hy pas varke op. Hy loop ook nogal moeilik.
Dié twee hoogs ervare akteurs vertolk ’n aantal rolle. Dit bied vir hulle die uitdaging om eksentrieke mans én dames te word. Met hulle fopdossery is talle kostuumwisselinge nodig. Die gewade en pruike laat jou aan pantomimes en ysskaatsvertonings dink. Noleen Fenske en Megan Rigby versorg die pruike. Hoe kleurryk, ruim en fladderend is Pierre du Plessis, Roman Handt en Madelaine Lötter se kostuums vir albei geslagte! Dan is daar ook die talle vinnige uit- en aantrekkery sodat die spelers telkens die gehoor verras met ’n volgende verskyning. Tussen die verskynings deur word ook seker flink aandag bestee aan die grimering. Tereg word hulle helpers vermeld in die teaterprogram: Naret Loots en Megan Rigby. (Hulle is “dressers” wat in ’n bejaarde vaktaalwoordeboek “kleders” genoem word.)
Die stel vir die herehuis, die rekwisiete, ameublement, beligting, die musiek en die byklanke neem jou die verre verlede in. Ons het te doen met die goeie werk van Nadine en Louis Minnaar, Ronel Watkins, Vicki Gauld, Verita Brand, Naret Loots en ander. Dié kunstenaars skep ’n skouspel soos min.
In die reklame word gesuggereer dat die aanbieding ooreenkomste met die televisiereeks Downton Abbey toon, maar dat dramaturg Charles Ludlam beslis ook ander elemente insluit wat ons moet laat lag vir dié “tale of madcap absurdity”; dis dan “full frontal lunacy”. Dit wil komies wees. Aaklige gebeurtenisse hier is eintlik snaaks, dan nie?
Dit is duidelik dat die bekwame regisseur Elizma Badenhorst baie aandag gegee het aan ’n belangrike element, spesifiek vir komiek: verrassing. Dit kry alle betrokkenes ruimskoots reg. Hulle gebruik bv baie potsierlike gesigsuitdrukkings, loop sommer net in die rondte en die gehoor lag wanneer die betekenis tog duidelik word, as iets snaaks skielik aan die einde daarvan gesien kan word. Uit die oopgerekte of toegeknypte monde kom geluide wat jy nie dikwels op ’n verhoog sal hoor nie. En waar kom daardie klikgeluide vandaan? Daar’s die verrassing toe lieflik musiek gemaak word met instrumente wat die hele aand al teen die muur hang. Aitsa! Seks bly ook nie agter nie, maar raak nie te rof nie. ’n Toneel sal ook soms afgesluit word met ’n karakter wat die gebeurtenis onnodiglik opsom. Die kontras tussen die malligheid en sy erns laat lagsalvo’s ontstaan.
Toe die opvoering al aanstap pouse toe, raak ek bekommerd. Om my skater mense kort-kort. Maar hoekom nie ek nie? Hoekom kyk en luister ek maar net? Sal ek entoesiasties hieroor kan skryf? Die dame regs van my kyk ook net vorentoe. Lyk nie verveeld nie. Is net stil.
Ná pouse is ek meteens mét die spelers. Want dis ’n kort bedryf wat op een spesifieke situasie konsentreer. Dis nou nie meer die warboel “snaaksighede” van die eerste bedryf nie.
Nou is Roxmouth lord Edgar wat as Egiptoloog voor ’n sarkofaag te staan kom. Lauder is Alcazar, sy jolige Egiptiese gids. Eers het hulle driftig gegrawe. Een maak ’n veelseggende geluid terwyl hulle saam stoot aan ’n rots. Hulle tydsberekening is goed, hulle ontleding van die skrif langs die mummie “eroties” en hulle reageer boeiend op mekaar. Man tot man.
Ek het tevergeefs gehoop dat die slotbedryf ook so gelaai en korter gaan wees.
Ek moet besluit dat alles my nou nie uitermate geboei het nie. Maar ander het die skouspel beslis meer geniet; baie was heel luidrugtig daaroor. Met die uitstap is drie jong manne voor my. Twee verwyt die derde nogal heftig omdat hy nie die pret geniet het nie.
Iets anders sal ek nie maklik vergeet nie. Ná vele jare het ek weer by die teater se restaurant, Sidedish Theatre Bistro, voor die opvoering geëet. Ek en my gas het werklik net lof vir die gesofistikeerde, maar ontspanne atmosfeer gehad. Die personeel se sorgsame aandag en onopdringerige skakeling met ons was ’n baie stylvolle ervaring. Vir die bekende disse met telkens die tikkies andersheid “sê ons lof en dank”.
The post The Mystery of Irma Vep: ’n resensie deur Danie Botha appeared first on LitNet.