Hier is die 20 finaliste van die Mandela-dag skryfkompetisie. Altesaam 140 inskrywings is ontvang. Die wenner sal binnekort bekend gemaak word.
- Hier is die kompetisie-inligting.
- Hier is die eerste en tweede groepe inskrywings wat ontvang is.
Kortlys (alfabeties volgens naam)
1. Antoinette Venter
Vergifnis
1994
“Judas! Jy en jou liberale gespuis is volksmoordenaars!” Hoor Mara oom Dirk skree voordat sy vuis teen Ma se voorkop knal.
Ure later vind hulle Mara in die spens tussen hordes opgegaarde blikkieskos. Oom Dirk se bloed drup taai op haar standerd ses geskiedenisboek.
1998
Die verbeteringskool se hek knars agter haar rug. Miskien kan sy ook eendag soos Ma se held Madiba die onregte vergewe.
2. Carla Coetzee
Hy tel die langlewemelk op en skuif sy bril reg, sy lyf ’n vraagteken. Hy staar na die rak met kitskoffie maar tel ’n pakkie rooibostee op. “Kan ek help?” “My vrou is gister oorlede. Sy’t altyd tee gedrink en vir my koffie gemaak. Na 50 jaar weet ek nie of ek net koffie gedrink het omdat sy dit gemaak het en of ek tee verkies nie.”
3. Cherene Pienaar
Ballonknope op Fransmanskraal
Katu woon in ’n berghuisie met Wi-Fi. Haar pa sou lag; sy slim eenkantkind. Dinge het tog verander sedert sy dood, dink sy vasberade. Dis net ’n seisoen, troos sy terwyl haar amandeloë oor Instagram se koggelfoto's gly ... Eiffeltoring, arms wat vashou, pruilmondjies, babapensies. "Jy het die mooiste glimlag ooit," het Valiant Swart eenkeer in ’n groep gesê. Hoekom sukkel sy dan so om Eensaamheid te unfriend?
4. Coen Basson
Renaissance
Seuntjies. Snags apart, in die groot plaashuis en die klein kleihuis. Speel kinderlik saam in die son, klim boom, stel wippe, swem kaal. Ons huil op die stasie, die trein kom my haal. Ons leef die rowwe roete, vóór Mandela. Dekades kom, dekades gaan, prentjies bly staan. My soektog eindig by sy rooi bodeur. Twee ou mense omhels mekaar, swem kaal oor die onderdeur. Twee laggende seuntjies huil.
5. Don Beukes
Diary of a coloured boy
The day finally arrived for my first train journey to Cape Town. I never questioned why we had to sit in third class, whilst I waved to a smiling white girl passing our window to first class, as her mother pulled her away.
I remember the old lady in Struisbaai shrieking "Polisie!" as we bravely walked on the white beach.
I always wondered why my colour mattered ...
6. Elmé Ravenscroft
Madiba en my bloukraan
Daar is ’n bankie in SA waarop ek veilig voel en hier omring al my geliefdes my. Agter my, swart mans wat ’n zol deel teen die wal. Matilda ,voor my, ingekamp saam met die aristokrasie van Brooklyn se Blue Crane Restaurant. En hier strompel ’n duif verby, sommer Pietie. In sy krop dra Pietie net so swaar aan white guilt. Sou Madiba kon troos hier?
7. Elna Jordaan
Net omdat
“Nonnôki.” Ek hoor die moeilikheid in sy stem voor ek die jammer in sy oë lees.
“Jou pa weet,” sê hy.
Ons was toe negentien. Ek was ’n student. Hy nie.
“Nonnôki,” groet hy nou. Ek hoor die jammer in sy stem. In sy oë sien ek dat toe se hartseer vandag herbevestig word.
Ons is sestig. Hy is getroud. Ek nie.
Ek is wit. Hy nie.
8. Hannes Visser
Kas
Alex trek die baadjie aan. In die spieël lyk die wynrooidas, liggestreepte hemp en donker pak banaal. Eric sou nóóit toelaat dat hy so wangeklee iewers heen gaan nie.
Anderkant die deur, ’n gebiedende stem: “Jy moet roer, Magdaleen is al in die troukar op pad kerk toe.”
Hy draai om. “Ek maak net my kas toe, Pa,” en draai dan ferm die sleutel in die kasdeur.
9. Ilza Roggeband
Madiba-kinders
Daar’s ’n tweeling saam met hom in die orkes, vertel my seun. “Ek kan hulle nog nie uitmekaar ken nie,” sê hy. “Een speel saksofoon soos ek, die ander baskitaar. Hulle laat my lag.” Weke later ry ons in die dorp. My kind waai, twee seuns waai terug. Die tweeling met ’n vel anders as my kind s’n. Die tweeling wat my kind nie geklassifiseer het nie.
10. JMT Labuschagne
Doodgery
Pieter verdwaal op ’n reënerige nag in ’n township en ry oor ’n hondjie. Hy stop, klim uit en stap na die pap lykie. Versigtig tel hy die bebloede lyfie op en lui die klokkie by die huis.
’n Vrou maak oop.
Pieter wil nog verduidelik en jammer sê, maar sy huil-gil:
“My kind!”
Dan sien hy vir die eerste keer die vyfjarige kind in sy arms.
11. Johan van der Merwe
Reënboogfeniks uit die ashoop
Sy lig die vlag statig, wyl skote wild en wyd weerklink. ’n Diep dreunsang hang binne die rookwolk van smeulende taxi-tyres. Wyl haar oë brand, kreun haar greep onlosmaaklik om die houtpaal waaraan sy haar hele lewe vaspen. Ritmies beweeg haar bobene vurig vooruit as momentum haar oorneem om diskoerse te breek. Haar tyd het gekom, haar tyd is nou, waarin sy die reënboogland opnuut aanskou.
12. Josi Swart
Vonk se vuur
Sinkdakhuisie se vuurvonk draai en word deur ’n windvaart weggewaai. Word geneem oor berg en dal en vind ’n vashaakplek effe skraal. Hier word Vonk tot vuur gedryf en word verwoesting gou versprei. Vinnig kom ou Seewind keer en leer Vonk om sy vuur te beheer. Nou kan Vonk help vure maak, van kaggelvuur, herwinningsbrand, tot braaivleisvuur. Vir hom is die lekkerste die stories by sy kampvuur.
13. Louise Viljoen
Post-koloniale Afrika
Mama Afrika, donker kontinent, baar hom wydsbeen bo-op ’n miershoop en eet die nageboorte. Hy verstik aan vrank vrugwater. Die stank van kolonialisme steel sy asem. Sy dros gewond, haar rinkelende armbande vol bloed. Sy offer sy lyk aan die son. ’n Boom groei uit sy kopbeen. Sy wortels delf goud. Dit reën uit sy takke op sy mense. Afrikane kom dut in sy skadu. Afrika herrys.
14. Magriet Hugo
Die handelsreisiger
Deksels, dink Faan toe sy Kewer met rook uit die enjin tot stilstand kom. Gelukkig is Groot Koos se plaas net om die draai.
Hy wag nou al vir twee weke vir die onderdeel. Groot Koos se dogter Truida is mooi en sy kook lekker.
Faan ry met die nou, bekende plaaspad op. In sy sak is die mooiste ring wat hy met sy kommissie kon bekostig.
15. Marthé McLoud
Kroniek
’n Man het uit die suide verrys, eers so klein soos ’n gebalde vuis, maar hy het gegroei en die hele aarde gevul en sy naam was Versoening. Op sy voorkop was vergifnis uitgekerf en in sy hande was ’n oliekruik. Hy het die volk geseën en hulle voete gewas en hulle onderrig. Toe het hulle die merke van Robbeneiland in sy handpalms gesien en naasteliefde verstaan.
16. Michèle Meyer
Vers 67
Madiba wat nie meer hier woon nie, ons herdenk u naam. Die ryk waarvoor u gely het wankel wild.
Laat ons vandag vir mekaar ons dag se brood gee en mekaar se skulde vergeef net soos Ntate dié vergeef het wat teen hom en miljoene gesondig het.
Laat ons die versoeking van verdeeldheid weerstaan en verlossing vind van die bose.
Vir ewig en ewig onthou ons.
Amen.
17. Roela Hattingh
Teetyd
Rebekka, roep vir Ruben om die goed af te laai. Ek's lekker laat. Pak sommer eers alles op die vloer en merk die bestanddele af op die lysie: 67 liters langlewe-melk, 17 dosyn eiers, 3 blokke botter, 12 kilogram suiker, 1 liter vanielje, 1 kilogram kaneel, 67 pakke tenniskoekies, foeliebakke. Stryk gou my linne-pakkie voor ek ry asseblief.
Ek kry die 67 melkterte ná Bybelstudie, gehoor.
18. Stephanie Viljoen
Wat die hart van vol is ...
Onkunde se oë rol toe Geregtigheid ook haar verskyning maak. Haat knipoog vir Hoogmoed en wink Geregtigheid grynslaggend nader tot op die randjie en beduie opgewonde. Ongebonde tydlose beelde vul die horison. Woordloos kyk sy hoe die Mens hulself woedend uitwoed; die skeiding tussen hede en verlede onherkenbaar. Dis Wraak wat Geregtigheid summier oor die afgrond stoot, maar dis Hoop wat betyds sien, gryp en verbete vasklou ...
19. Susanne Pike
Die huishulp
Johanna Makoena krinkvoet bult uit na Iris six-o-three. Sy char Dinsdae en Vrydae. Twaalf jaar al.
Die vrou sug. Vroegoggend-afspraak. Johanna is laat.
Johanna smile oor Mevrou. Mevrou dink poems uit. Sy gaan publish. Sy sien vir Margaret, die "sleep-in" van five-nine-five. Sy kruis om van Mevrou te vertel ...
"Sal ú die naasbestaandes laat weet?"
Die vrou skrik.
Ag, Here, ek ken nie eens haar van nie ...!
20. Toy White
Die salonheld en die middeljarige maagd
Sy het haar naaktheid voor die spieël bestuif met “You’re the fire”. Sy besluit om braloos te gaan, gehul in chiffon: ’n visioen in wit. Haar hare het sy effens wild gekam; haar lippe met sorg rooi gekleur.
Toe wag sy met ’n glas konjak en ’n gekokerde sigaret vir “halfagt” en “’n sportmodel Merc”.
Teen laataand met die bottel half leeg en die asbakkie half vol gewag,
The post 67 woorde vir Mandela-dag 2017: kortlys appeared first on LitNet.