Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Aardklop 2017: 'n fees na #hartelus

$
0
0

Aardklop staan in sy tweede jaar, maar as jy kyk na ons programaanbod sal jy sweer ons is een van die oudste kunstefeeste in die land. Met meer as vyf-en-twintig debuutwerke wat hierdie jaar aangebied word, kan mens nie anders as om nou reeds jou dagboek volgens die feesdatums te beplan nie.

Debuutwerke is een van die verrassingspakkies op ’n fees. Dis soos die opwinding van geskenkpapier afruk. ’n Mens weet nooit wat daar onder wegkruip nie.

Van Marthinus Basson se Medea-geïnspireerde Melk & vleis, Chris Vorster se Manne tot Die Woordenaars met die jong Turke Spoegwolf en Joe Black tot Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe beloof die program om iets vir almal te bied.

Melk & vleis

Teaterdebuutwerke sluit in

Hannes Brümmer speel solo in Wie’s jou pappa? wat soos die titel aandui speels spot met ’n voormalige punk in plakkies wat nou soos ’n pantoffelpappa moet paradeer.

Getroudes Elize Cawood en Wilson Dunster gaan met die lagspiere peuter. Hulle spring op die mallemeule van die mediese wêreld vir veral die wat ouer word in Toetse, hulle jongste stuk geskryf deur Saartjie Botha met regisseur Gerrit Schoonhoven. Hy is ook betrokke as regisseur met Sê my naam soos ’n Starbuck-knaap ’n eenvrouvertoning met Je-ani Swiegelaar.

Uit die pen van Retief Scholtz (Dop) kom Weerkaats met Milan Murray in haar eerste solovertoning met Philip Rademeyer as regisseur. Dis die verhaal van ’n vrou vir wie die pad duister raak. Toe sy jonger was, was die rigtingwysers helder, maar deur die jare raak dit dowwer – of so voel dit vir haar.

Sê my naam soos ’n Starbuck-knaap

Op ligter trant speel Simoné Nortmann Nina van Zyl, ’n popster wie se loopbaan sukkel, in Los asseblief ’n boodskap. Sy het ook skrywersdroogte en haar eks het kanker. Sy vat die langpad van Johannesburg na Kaapstad, dorp tot dorp … en nooi almal saam op haar tragikomiese avontuur.

Musiekdebuutwerke sluit in

In Die Woordenaars sien ons vir die eerste keer saam op die verhoog musikale digters soos Stef Bos, Spoegwolf, Jo Black, Koos van der Merwe en Herman Kleynhans.

In Ekstravaklassiek is Chris Chameleon te sien in hierdie eenmalige vertoning saam met die Nasionale Jeugkoor.

In/Between: 'Till China and Africa meet

In/Between: 'Till China and Africa meet met die Hongkongse sopraan en harpspeler Jessica Ng en Ching Man Ho Judy met Suid-Afrikaanse komponiste Franco Prinsloo en Pieter Bezuidenhout om ’n klassieke kontemporêre ervaring saam te stel wat met al die sintuie speel.

Die blinkste jong operasterre, Vuvuyiso (Vuvu) Mpofu (sopraan) en Bongani Kubheka (bas-bariton), sluit by pianis Charl du Plessis aan vir ’n program van operagunstelinge in Stemme vir môre.

Oudergewoonte sluit ons die fees af met die Sondagkonsert. In Journey to a new world sing twee kore, North West Children’s Choir, NCA North-West Youth Choir saam met begeleiding van die NWU PUK-Simfonie-orkes.

Uniek aan Aardklop

Aardklop Pronkpodium is ons nuwe platform vir tiener- en studenteproduksies. Die Aardklop Langtafel is terug op publieke aandrang! ’n Eksklusiewe kuier, eet en feesviergeleentheid onder die reuse-plataanbome in die NWU-Potchefstroomkampus se bekende Lovers’ Lane.

Ook op publieke aandrang brei ons ons gesprekkereeks uit onder die titel die Aardklop Rede-kabel Gesprekkereeks by die Potchefstroomse Besigheidskool. Dit word in drie sarsies aangebied: aktuele gesprekke in die oggend, Sake & Sauvignon in die middag en landbougesprekke in die aand (saam met ’n vleisie op die kole en ’n glas wyn).

By die Aardklop Atrium bied ons vir meer avontuurlustige feesgangers minder konvensionele produksies aan. Van een-tot-een teater (já jy het reg gelees – één akteur en één gehoor lid) tot gemengde-media-installasieteater.

Taxi-teater, een van Aardklop 2016 se groot suksesverhale word dié jaar uitgebou ten einde die wonderlike diversiteit van die Potchefstroom, Ikageng en Promosa se talent op die podium te plaas.

PG: ’n Lewe Vol … ’n Huldeblyk aan PG du Plessis, bekroonde dramaturg, draaiboek- en romanskrywer, storie-verteller, twakprater, gemoedelike kwaadstoker van formaat en volks-ikoon. Hy is oorlede op 7 Junie 2017. Van Suid-Afrika se voorste kunstenaars kom bymekaar om hierdie groot gees se lewe en werk te vier.

Teater - wat jy dalk elders gemis het

Pa, maak vir my ’n vlieër Pa

Solo diva Sandra Prinsloo weet hoe om harte te frommel met Moedertaal, ’n hartroerende storie van lief en leed. Prinsloo speel ook in Pa, maak vir my ’n vlieër Pa.

Marthinus Basson en Reza de Wet se Asem, met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam.

Koöperasiestories is die jaar se topverkoper by feeste landswyd!

In Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis, raak Marion Holm diep as sy terugkyk na ’n jaar van persoonlike pyn – maar natuurlik met haar eiesoortige Holm-humor.

Pieter-Dirk Uys praat padlangs in Weerklank van ’n wanklank as hy die padwysers uitlig wat die verloop van sy lewe bepaal – soos altyd met ’n skalkse lag en ’n sagte traan.

’n Hoogtepunt is verseker Nico Scheepers se Nêrens, Noord-Kaap met Albert Pretorius, De Klerk Oelofse en Geon Nel.

Visuele kuns te kies en te keur

Die jaar se visuele kunsprogram is ’n keursnit van kontemporêre gemeenskapskuns, ruimte en artistieke samewerking. Met The Bag Factory Artists’ Studios, The Artist Proof Studios (APS), The Center for the Less Good Idea, The Dead Bunny Society, NIROX Foundation Trust, The Found Collective en Keleketla Library.

Musiek: Groter en beter as ooit

Coenie de Villiers

Hierdie jaar bied Aardklop iets vir almal met bekendes soos Laurika Rauch, Loki Rothman, Stef Bos, Coenie de Villiers, Hemelbesem, Mathys Roets, Rocco de Villiers, Charl du Plessis, US Koor, Wits Trio, Radio Kalahari Orkes, Joshua na die Reën en vele meer.

Kortom: Ons bied regtig iets vir almal en nooi elke feesganger om sy feeservaring self saam te stel: wat ook al jou smaak, styl, voor- of afkeure, jy sal verseker fees na #hartelus.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Sien jou op die Bult (dis immers só goedkoop: net R20!)

The post Aardklop 2017: 'n fees na #hartelus appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>