Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Die derde spoel deur SJ Naudé: 'n resensie

$
0
0

Die derde spoel
SJ Naudé

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415207475

Met sy debuutwerk, Alfabet van die voëls (2011), het SJ Naudé op die oog af kortverhale gelewer, maar met sterk romanmatige trekke. Sy tweede prosawerk, Die derde spoel, toon inhoudelik verwante tematiek (sterwende moeder, gay minnaars – een uit Suid-Afrika en een uit Duitsland – diaspora, histories-maatskaplike ontwrigting), maar is verwikkelder, fyner gestruktureer: ‘n roman met drie definitiewe afdelings wat in hoofsaaklik drie of vier verskillende stede afspeel, sodat daar ook definitiewe geledinge is:

  1. “Revolusie van die kinders” – Londen, April–Desember 1986 – 16 hoofstukke, ble 11–131
  2. “Diep argief” – Berlyn: Oos-Berlyn en Wes-Berlyn, Oktober 1987 – Mei 1988, 17 hoofstukke, ble 135–277
  3. “Laboratorium” – Buenos Aires: April–Oktober 1990, 6 hoofstukke, ble. 281–341.

Dié drie afdelings sluit intiem aan by die titel se “derde spoel”. Op die heel eerste begripsvlak vorm die roman ‘n speurverhaal, met ‘n soeke na ‘n verlore Duitse film uit 1933, gebaseer op Walter Benjamin se 1932-herinneringe aan sy kinderdae in “Berlynse kroniek” (in streng-verwerkte vorm uit 1938 na sy dood gepubliseer as Berliner Kindheit um 1900 [Berlin childhood around 1900]). Die eerste twee dele van die verlore film word gevind na intensiewe speurtogte deur die hoofkarakter, Etienne Nieuwenhuis. Die eerste filmspoel kom te voorskyn uit ‘n buffet in die bouvallige Londense woonstel van Axel se sterwende oupa, Ariel. Hy was een van die Joodse filmmakers indertyd in die Weimar Republiek (1918–1933) wat (soos Walter Benjamin, wie se werk sentraal figureer in Naudé se roman) uit Berlyn moes vlug toe Hitler en sy Nasionaal-Sosialiste aan bewind gekom het. Die tweede spoel moet Etienne koop by sy minnaar se stiefpa, Volker, in Wes-Berlyn, nadat die houer daarvan, Axel se ma Mariel, selfdoding gekies het deur verdrinking in die Baltiese See. Later blyk dit dat Etienne sy Duitse minnaar, Axel (sonder van), se passie vir navorsing en spesifieke belangstelling in verlore films slim gevoed het deur leidrade op sy weg te plaas. Die derde spoel kom nie in Buenos Aires te voorskyn by Axel se hoogsbejaarde, blinde ouma, Irmgard, nie, maar bly verlore. Axel se ouma, wat meegewerk het aan die film in 1933, is kinds, kan dus niks sinnigs vertel nie. Die roman vorm uiteindelik die derde spoel van die film – ‘n nuut-gefabriseerde spoel, ’n andersoortige “spoel” wat “vloed”, deluge, vernietiging impliseer.

Irmgard se 1933-filmproduksie-assistent by Berliner Chronik sit en kou, of eerder herkou, op ‘n plastiekbeeldjie van Donald Duck. Dié batos van ‘n ou vrou wat ‘n stukkie Walt Disney-fantasie in haar dementerende mond tot slym sit en knaag, is nie bloot pikturesk nie, maar dui op een van die sentrale strukturerende elemente in Naudé se meesterlik-profetiese en komplekse roman: sentrale konsepte en ervarings wat via konkrete beelde (“denkbeelde”, soos in die werk van Benjamin) weergegee word. Wat hier opgeroep word, is How to write on Donald Duck van Ariel Dorfmann en Maltatter wat in 1971 onder die vrye bewind van Allende verskyn het, maar onder Pinnochet verbied is, met boekverbranding geassosieer is en veroorsaak het dat Dorfmann in aller yl uit die land moes vlug.

Die sirkel is voltooi: boekverbranding onder Hitler, boekverbranding onder Pinnochet, en les bes, boekverbranding en kunsvernietiging (Entartete Kunst – ontaarde, dekadente kuns, onder die Nazi’s) in onlangse Suid-Afrikaanse studente-opstande. En soos Heinrich Heine al in 1821 geskryf het, “waar daar boeke verbrand word, volg uiteindelik die verbranding van mense”. Geweld, fascisme, ekstreem-regse preokkupasies soos obsessies met rassesuiwerheid – al hierdie verskynsels in verskillende tydvakke en op verskillende kontinente (Hitler in Duitsland vanaf 1933, Pinochet-diktatorskap in Chili, 1973–1990, apartheid, 1948–1994, maar óók die ekstreem-onverdraagsame, ideologies antiwit en anti-Westersgerigte swart studente-opstande van 2016) speel deur die roman heen af in drie lande met onheilige parallelle – parallelle wat voortkom uit fascisme en intense onverdraagsaamheid teenoor “die ander”. Dis egter veral Hitler se Derde Ryk vanaf 1933 wat ook duidelik beklemtoon dat die getal drie of enige vorm hiervan of kombinasie hiermee (soos in Derde Ryk en 1933, en ook Die derde spoel) meestal dui op onheil, asof daar ‘n donker bonatuurlike werking van dié getal uitgaan.

Die laaste sinvolle eenbladsy-brief wat Irmgard nalaat oor die Benjamin-film wat in drie geskei is toe die filmspanlede uitmekaar gespat het in 1933 in Berlyn, praat van haar versugting om die “hele film weer bymekaar” te kry in ‘n sprekende metafoor as “beendere van ‘n gebreekte liggaam”. Hiermee word iets soos ‘n geradbraakte liggaam gesuggereer, iets wat DJ Opperman se “Hottentots-god”-vers luid laat weerklink, met elke verskillende Suid-Afrikaanse ras as die ledemaat van ‘n geradbraakte liggaam, in die verskillende windrigtings versprei … ’n gepaste assosiasie in ‘n roman wat politieke vlugtelingskap en ontheemding as sentrale kondisie van feitlik elke karakter het. Hulle is almal versprei oor die aardbol heen: Etienne Nieuwenhuis, die protagonis, voortvlugtend in Londen uit Suid-Afrika voor verpligte diensplig (in 1986); Axel, sy minnaar, in ‘n Londense kraakpand uit Berlyn; en die 1933-Berliner Chronik se filmspanlede tussen Londen, Berlyn en Buenos Aires. Daar is egter ook die biografiese besonderhede, en veral geskrewe werk, van die kritikus en denker Walter Benjamin (1892–1940), wat in die kort motto vooraf aangekondig word (“elke dokument van beskawing is noodgedwonge ‘n dokument van barbarisme”), in wie se ballingskaps- en skryfkontoere die roman se taalgebruik ondergedompel is. Selfs tegnieke soos Denkbilder (denkbeelde) as snelskrif om hele denkvelde of gebeure aan te dui, is sentraal gebruik in Die derde spoel. Duidelik is Naudé intens onderleg in kennis van Benjamin se werk en lewe. Hy gebruik met groot gemak en feitlik ongemerk waarskynlik vir die leser wat onbekend is met Benjamin se oeuvre, Benjaminiaanse beelde vir sy eie doel. Dit is veral beelde uit Berlin Kindheit um 1900, waarna eksplisiet verwys word met die titels van die verskeie vinjette (soos “Die telefoon”, “Skoenlapperjag”, “Winteroggend”), maar ook onderdele daarvan, beelde daaruit, en boonop uit die res van sy uiters omvangryke werk. Nie net die “Angelus Novelus”-beeld van Klee as die “engel van die geskiedenis” wat slegs puin agterlaat nie (sy minnaar Axel word met ‘n donker giftige engel geassosieer), maar ook ‘n obskuurder beeld soos die “vuurvliegie”, ingebed in die ontspoorde taal van die protagonis se moeder aan die slot: “Stroewe seë. Vuurvliegies is loergate in die nag se duister". Hier gebruik Naudé ‘n vroeë Benjamin-beeld, vir die herorganisasie van pessimisme en uitsigloosheid na kultuurvernietiging, as “vuurvliegies”, oftewel speldeprikke van hoop in die donker, waarop gekonsentreer kan word. Hy vind ook ‘n parallel vir Benjamin se werk oor kindertaal as draer van kreatiewe vonke of poëtiese taal.

So is daar na aan die romanslot dié byna onopvallende kommentaar van die protagonis by die aanskoue van ‘n graffiti-bekladde muur (kuns, kreatiwiteit?) wat met swart (donkerte, uitsigloosheid?) toegeverf is, met daarop net één woord: Leuchtkäfer (vuurvliegies). Hy het verwag dat daar “iets hewigs (sou staan): die ganse Duitse geskiedenis in een woord. Iets soos ‘Trauer’, dalk. Of ‘Gram’ [‘rou’ of ‘woede’]”. Met dié eenvoudige, konkrete beskrywing van ‘n Berlynse swart muur suggereer Naudé ‘n hele ander ideologiese benadering tot kultuurverlies en pessimisme, parallel met die idees van Benjamin. Iets soos: in stede van in rou of woede vas te haak oor die verloop van die geskiedenis en verlies van die waardevolle Groot Hoogtepunte van kuns en kultuur, bly daar altyd nog dowwer ligpuntjies, soos die skaars vuurvliegies, veral opvallend in die alles-omhullende donker nag of teen die swart muur. Die ewige wederkeer van die geskiedenis, ook in sy verwoesting en uitdelging, is ook hier ter sprake (in die parallelle van fascistiese regimes wat reeds genoem is – dat die roman in Afrikaans geskryf is, suggereer noodwendig vergelykings van die Duitse geskiedenis met dié van Suid-Afrika, nie net onder apartheid nie, maar ook toenemend in die huidige tydsgewrig, met die onrusbarende vernietiging tydens die studente-opstande van dekadent-gewaande kuns en UKZN se regsbiblioteek en die boekverbranding in 2016).

By die eerste lees is Die derde spoel ‘n spannende speurverhaal oor ‘n verlore 1933-film en ‘n beeld van jeugopstand teen kapitalisme in Londen en Berlyn gedurende die jare 1986–1990, asook ‘n gayseks-en-liefdesverhaal in die Bildungsroman van ‘n uitgeweke Afrikaanse jongeling. Hierin is biografiese trekke van die skrywer, wat ook in Londen gebly het, gefiksionaliseerd en vertekend, ruweg te traseer, asook JM Coetzee se eie Boyhood aanvanklik vir die flardes van Etienne se Pretoria-seunsjare deureengeweef, en Youth in Londen as ‘n andersoortige teenhanger. Ek dink ook aan die slot van Agaat, die weggaan van Jakkie, en die bewussyn van ‘n MacNeiciaanse wêreld daarbuite, “crazier and more of it than we think, incorrigibly plural”, dus meer verwikkeld as die vaderland, die “Republiek van Stof”, soos Etienne dit noem. Êrens in die jaart van Axel se kraakpand, bewoon deur indolente jongelinge en kunstenaars, is ook ‘n “ou put”, gevul met giftige dampe uit vuil water waar getob word tydens depressie of melancholiese buie. Dis moeilik om nie hierin die melancholie in “Die oue put” van Totius in ‘n nuwe baadjie te herken nie. Maar seker ook Benjamin se debuutwerk, Ursprung des deutschen Trauerspiel (Oorsprong van die Duitse treurspel) (1925).

Veel boeiender word die teks by ‘n herlesing. Met die eerste lesing het die derde afdeling, “Laboratorium” vir my maar effentjies en floutjies gelyk. By herlees blyk dit die groot singewende sluitstuk te wees van ‘n magistrale roman wat sowel kunswerk as filosofies-kulturele kommentaar op die mens en sy sogenaamde beskawing is. Ook ‘n narratief van verlore en vergete plekke en stede, wat weer Italo Calvino se Invisible cities na vore roep: daar is die krakerpande in vervalle geboue wat uitkyk op die hart van kapitalisme in “The city” met sy bankiers (waarteen die jongelinge in opstand is), en daar is Oos- en Wes-Berlyn wat in die tyd voor die val van die Muur einde 1989, bo-oor mekaar en teenoor mekaar staan soos spookstede. Daar is die spore in iedere stad van die verlede, dikwels in verlate pande waarin die jongelinge orgies hou, klubs het, of industriële musiek of installasiekuns bedryf. So roep Etienne se William Blake-prenteboek uit sy seunsjare (die enigste kosbare besitting wat hy saamneem na Londen as hy landuit vlug) die ou Londen van die 1600’s op, met Blake se politieke visioene van ander tye en die toekoms, sy bewussyn van die armes, maar ook sy fyn kunsuitinge (alle karakters is min of meer makers van musiek, of kuns, of films, of foto’s – almal uitinge waaraan Benjamin ook uitgebreide essays of meer gewy het).

Die “donker engel”-minnaar Axel word van meet af aan met ‘n bottel gif “gemerk X” geassosieer. Uiteindelik blyk dit dat hy sterwend is aan vigs, en waarskynlik dat Etienne ook aangetas is daardeur. Die “derde spoel” van die Berlynse film word nooit gevind nie. Met alle aanduidings dat drie ‘n noodlottig donker getal is, soos reeds hier bo genoem, en soos ook in vele gevalle deur die roman gesien word, is die derde afdeling ook die een waarin die romantitel op figuurlike vlak ingevul word as Die Dood. Dit staan geteken deur die sterwende, dementerende ma van Etienne wat op ‘n laaste reis na haar geboorteplek in ‘n toegegroeide plantasie geneem word (met treffende uitbeelding van ontspoorde taal in haar afasiese uitinge), en deur die dood van Axel, asook die moontlike dood van Etienne. ‘n Mens kan nie ontsnap aan assosiasies met Koos Prinsloo (1957–1994) se teks Slagplaas (1993) nie:

... ’n slagplaas van politieke wreedheid, genadelose seksualiteit, fisiese woede, innerlike en geestelike geweld en die wreedheid en liefdeloosheid van menslike verhoudinge. Die fallus word tegelyk ’n seksuele wapen en ’n verwoester van die gees. Hierdie seksuele spel word verbind met die geweld in die Suid-Afrikaanse aktualiteit en met wreedheid elders in die wêreld. Tegelykertyd lê die verhale die wondbare en brutale menslike psige bloot en word die mens (leser) gedwing tot self-konfrontasie en tot die besef van geestelike onsuiwerheid. (https://af.wikipedia.org/wiki/Koos_Prinsloo)

Naudé se uitbeeldings van gay-orgies en wrede seksualiteit (meestal geassosieer met die werkwoord oopskeur en soortgelyke aktiewe werkwoorde) in Londen, bied ‘n internasionale parallel met die beskrywings van Prinsloo. Die “plek en spelers” het verander, maar die rolle stem ooreen. Wreed, gewelddadig, selfs waansinnige ontmoetings in begrafplase met die “gif” van ‘n Goth-musikant wat spat op ‘n arm en hom lank ontstem. Daar is darem ‘n liriese eerste ontmaagding in ‘n kloktoring deur die beiaardier wat agterna die klokke lui as die protagonis wegloop in die Londense strate (daar is iets altemit in dié episode wat die kernvers van Schiller eggo, “Die Glocke” (Die klok) – een van die bekendste Duitse verse, wat volgens Benjamin se essay “Ein Gespenst” (‘n  spook) (1799) op elke rak van sy ma se linnekas geborduur was. Volgens kommentaar was die swak plek in Schiller se vers glo dat hy die klepel weggelaat het in sy beskrywing van die giet van die klok. Naudé sit die klepel wel deeglik terug …

Die belangrike derde romanafdeling “Laboratorium” beskryf aanvanklik ‘n Natalse “staatsbosbounavorsinglaboratorium” (294) in die middel van die plantasie waar Etienne se ma by Inkungu (Zoeloe vir “mis” of fog) grootgeword het. In dié navorsingsplek is daar twee laboratoriums, een vir genetiese modifisering en kloning, en een vir preservasie van “kewers, wurms en larwes”. In die kloning suggereer die romansier die menslike spesie se medies-tegnologiese toekoms. En hiermee onthou ek weer Benjamin se belangrike teks, The work of art in the age of its technological reproducibility – gerig op die tikmasjien wat kreatiwiteit sou ondergrawe. Nou, in 2017, is die bewussyn veel omineusliker by menslike kloning. Die preservering van insekte “in vloeistof” wys heen na ‘n ander sterk teenwoordigheid by wyse van assosiasie in Naudé se teks, die kunswerke van die Londense installasiekunstenaar Damien Hirst. Intiemer verbonde met die Berlynse ruimte en die Holocaust is die werk van Anselm Kiefer, met sy “chaos magic” en aansluiting by Paul Celan. Selfs die titel van die dokumentêre film, over your cities grass will grow, wat oor Kiefer en sy werk gemaak is, sluit aan by die donker ondergangswêreld in Naudé se roman. Dis ‘n siening waarin slegs nog ‘n loergat in ‘n groot swart muur insig bied op die gestorwe Axel “ligomstraald”, na die dood “waar tyd se sterkste winde hulle nooit weer uit mekaar se arms sou kon waai nie”. Ook die naam van die groep in Wes-Berlyn vir wie Etienne die tromme speel, Stunden Null (Uur Zero), en die titel van hul gewildste nommer, “Sonnenfinsternis” (Sonsverduistering), dra vanuit die tweede afdeling oor na die somberte in die derde afdeling.

Maar daar is wel een ligpunt in dié mineurslot. Anders as in die geweld en chaos en gemene spioeneerdery in Oos-Berlyn van ‘n ieder en ‘n elk op mekaar, bied “laboratorium” telkens opnuut die suggestie dat die enigste hoop in menslike voortbestaan van die huidige “beskawing” te vinde is in teerheid tussen mense, in omgee vir mekaar. Etienne versoen hom met, en sien om na, sy sterwende ma se laaste wense, en hy versorg ook sy sterwende minnaar met groot teerheid – self waarskynlik ten dode opgeskryf deur infeksie.

Die roman begin met sy pa wat vir die protagonis sê dis tyd om die “kinderdinge” af te skud, en eindig in die “kindsheid” van Etienne se ma, en Axel se ouma. Hiermee word die gang van hele generasies geïmpliseer, al is die vertelde tyd minder as vier jaar (1986–1990).

Uiteindelik skryf Naudé hier op skamper wyse (soos wat Etienne op Borges-toon opmerk oor Irmgard se laaste leesbare brief, gevind op die vloer van haar Buenos Aires-woning) “’n nuwe, kriptiese geskiedenis (…) Gerig aan die dooies, vir ontsyfering in die onderwêreld”. 'n Palimpses van verhaal op verhaal, ervaring op ervaring, van verlore stede wat sweef bo ander stede, ‘n argiefdokument.

Selde is ek so beetgepak deur ‘n Afrikaanse roman, so gefassineer en beïndruk, so besig gehou, selfs na ‘n tweede lees. Met SJ Naudé se Die derde spoel is daar ‘n formidabele nuwe stem in Afrikaans, stewig gevestig. Dat hy in Afrikaans skryf, teen die swart muur van pessimisme wat om ons toesak, slaan die asem weg – en gee ‘n loergat op lig wat straal aan die “Anderes Ufer” (Ander Oewer).

 

The post Die derde spoel deur SJ Naudé: 'n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>