"The fundamental choice the US made in sacrificing its unique cultural heritage was in order to take in white English-speakers fleeing from transformation at the traditionally liberal universities. It also chose to abandon its obligations towards coloured Afrikaans-speakers in the rural Western Cape. All the talk of access and inclusivity is window-dressing." (Hermann Giliomee)
Maar moenie dat feite en statistiek jou snoesige, onkritiese ideologie versteur as jy Giliomee en ander liewer wil afmaak as regsgesinde taalbulle wat treur oor die verlies van Afrikanermag nie. Mag daar, volgens Van Wyk Louw, geen geslag sonder protes verbygaan nie? Blykbaar mag dit nie op Afrikaanssprekendes van toepassing gemaak word nie.
Lees ook: |
---|
• Universiteit Stellenbosch: Vrydag die 13de |
• Vanuit Pole – rondom Stellenbosch |
• UV volg selfs nog 'n erger roete as US |
Anyway. Stellenbosch Schmellenbosch.
Wat jy het, sal jy verloor. Wat jy verloor, kry jy weer. Elke ding bevat die kern van sy teenoorgestelde. Dit geld ook juis daardie teenoorgestelde. Maar dit kom nie binne een geslag nie. Die wêreld is oud, en hy gaan nog baie ouer word.
Wie dink die wind van verandering gaan oor taal waai, het dit verkeerd. Wie dink die nuwegeslag-studente sal tevrede wees met Engels, verbeel hulle.
Die universiteit en die dorp kan my nie skeel nie. Ek het in my dae daar die mees intense ontheemding van my lewe gevoel. En ek het begrip vir hierdie studente, vir 'n jong swart vrou uit Khayelitsha wat haar lewe dáár van 'n hoër niveau af probeer lanseer. Die selftevredenheid, ingeboude vooroordeel, geld, klub van ingewydes, meerderwaardigheid, tjoklitbokssentiment, hebsug, selfbefokte politiek ... dis soos 'n muur waarteen jy jou vasloop.
Wie het dit eerste die Groen Hel genoem?
Ek weet van wit mense wat daardie benaming eksistensieel beleef het – hoe moet dit vir daardie meisiekind wees?
Maar ek het dit oor Afrikaans, en die plek se grootste meriete is dat Afrikaans daar tot taal van die hoogste geleerdheid ontwikkel het. Het jy al filosofie in Afrikaans gelees, of gepraat? So goed soos Nederlands of Duits maak dit lig waar Angel-Saksiese spraak nie kan skyn nie. En al lees almal nie filosofie, of geskiedenis, of mikrobiologie nie, dit versterk nogtans die boom waaronder meer mense skuiling kan vind. As jy dit nie kan verstaan nie, verstaan jy niks van taal nie.
Taal is nie net, soos Sonja Loots in 'n ander konteks gesê het, 'n pyp waardeur jy kennis pomp nie. Die vorm is die inhoud. Die elegansie is die begrip. Die skoonheid is die verwondering wat wetenskap by mens moet wek.
Ek sou elke swart student die voorreg wou laat geniet wat myne was om in my moedertaal te studeer. Wat dit vir jou vertrapte selfagting kan doen, gaan ver verby Swart Bewussyn, omdat dit 'n gesprek met jouself in jou intiemste stem is.
Maar met die ondergang van Afrikaans as taal van geleerdheid is so 'n ideaal meteens verder buite bereik. Die storie wat mense ingeprent word dat Engels jou toegang tot die wêreld is, is opperste stront.
Ek het met die taalvaardigheid van byna 'n eerstetaalspreker in Engels uit die skool gekom, en tog weet ek dat ek my net die helfte so goed as in Afrikaans sou kon uitdruk. As daar maar 'n ander plek as Schmellenbosch was waar mens deur die meer van Afrikaans kon swem tot by die strande van geleerdheid aan die ander kant ... Ek bedoel nie Potchefstroom nie – no offence.
Miskien is daar 'n toekoms vir hierdie nuwe akademie. Ek hoop daar is, as hulle die rassistiese volksbulle daar kan uithou.
Intussen verskeur ons onsself en mekaar met skynargumente.
Steek mens jou nek uit vir Afrikaans, maak hulle 'n strooipop van jou, sit hulle jou in 'n kategorie waar jy met gemak neergeskiet kan word.
Enigiemand wat my ken, sal lag as hulle hoor ek word geskaar by diegene wat treur oor die verlies van Afrikanermag. Help julleself maar aan julle polities-korrekte idille. Moet net nie dink Raka sal nie uiteindelik ook julle kinders kom begoël nie.
Wie is Raka? Hy is nie wie jy dink hy is nie.
The post Afrikaans aan die US appeared first on LitNet.