Het jy al ooit gewonder oor versekering, visums, begrotings, werksonderhoude en volwassenes se ander vreugdes, frustrasies en verantwoordelikhede? Het jy al gewens vir raad wat op Suid-Afrikaners gemik is, en nie op ’n jong volwassene in ’n ander land en ander konteks nie? LitNet wil jou help om die gaping tussen kindwees en volwassenheid te oorbrug deur namens jou vir mentors raad en praktiese wenke te vra oor verskeie kwessies. Soek jy raad oor iets spesifiek? Stuur jou versoek aan vranet@litnet.co.za.
Een van die eerste verantwoordelikhede waarmee ’n jong volwassene gekonfronteer word, is om blyplek te soek. Met al die webtuistes, agente en moontlikhede is dit moeilik om te weet waar om te begin soek en waarvoor om te kyk. Liné Enslin het vir Marinda Uys gevra vir raad.
Waar begin mens soek vir eiendomme om te huur? Is webtuistes met geklassifiseerde advertensies, soos Gumtree of OLX, ’n goeie plek om te begin? Of beveel jy aan dat mens eerder verhuringsagente se webwerwe raadpleeg?
Die beste is om van ’n betroubare bron gebruik te maak. Ek sou voorstel dat die huurder van bekende agentskappe se webwerwe gebruik maak om eiendomme te soek. Daar is verskeie slinkse individue wat mens maar op die uitkyk voor moet wees
Wat is die voor- en nadele daarvan om by die eienaar self te huur, teenoor by ’n verhuringsagent?
Die grootste voordeel daarvan om van ’n agent gebruik te maak is dat die persoon met die nodige kennis ’n objektiewe en ingeligte mening oor moontlike geskille kan lewer. Die kompleksiteit van die verhuringswetgewing maak dit noodsaaklik dat ’n kundige die nodige advies oor kwessies soos kontrakbreuk en uitbetaling van depositogelde kan gee. Dit is baie belangrik om seker te maak dat die deposito ook eerder in die agentskap se trustrekening belê word met die nodige rente en beskerming soos deur wetgewing bepaal word
Is dit veilig om op grond van foto’s wat op die internet beskikbaar is of wat die eienaar/verhuringsagent direk vir jou stuur te besluit of jy wil huur al dan nie?
Daar moet liefs nie op grond van foto's alleen besluit word om die eiendom te huur al dan nie. Daar is verskeie redes, waarvan persepsie een is. Foto's kan vir seker nie die nodige inligting verskaf wat nodig is om ’n ingeligte besluit te neem nie. Die praktyk is vir geen party in die verhuring voordelig nie.
Indien dit om een of ander rede onmoontlik is om die eiendom wel voor die tyd te besigtig, soos byvoorbeeld as gevolg van afstand, behoort daar in ’n klousule in die kontrak daarvan melding gemaak te word wat die agent en die verhuurder vrywaar van moontlike eise. Die huurder moet dan moontlik ook die reg voor behou om byvoorbeeld die kontrak met ’n twee-maande-kennisgewingsperiode te kanselleer indien die eiendom nie in sy of haar behoeftes vooorsien nie.
Watter vrae moet jy vir die eienaar of verhuringsagent vra wanneer jy na die blyplek gaan kyk?
- Watter kostes behalwe die huur moet maandeliks ekstra betaal word?
- Mag diere (watter soort en hoeveel) toegelaat word?
- Wie is verantwoordelik vir die diens van ’n lugreëlaar – dis gewoonlik ’n teer puntjie.
- Is die DStv-skottel op die dak deel van die verhuring of die huidige huurder se besitting?
- Mag jy die binnemure verf indien jy nie van die kleur hou nie en moet jy dit weer die oorspronklike verfkleur verf aan die einde van die termyn?
- Is die eiendom tans in die mark om verkoop te word, en indien wel, hoe gereeld verwag die eienaar om besigtiging toe te laat (per week)?
- Termyn van huur.
- Waarde van deposito (1 maand of meer).
Is daar enige gevaarligte wat ’n aanduiding sal gee dat jy eerder nie die blyplek moet huur nie?
- Indien jy gebruik maak van ’n verhuringsagentskap en die eienaar dring daarop aan om die deposito in trust te hou.
- Toestand van huise en tuine in onmiddellike omgewing.
- Toestand van die eiendom (algemene instandhoudingswerk – lyk dit of alles gereeld bygehou word?).
- Enige vaaghede rondom wie verantwoordelik is vir watter kostes.
Wat is ’n billike prys om te betaal vir ’n jong volwassene wat pas begin werk het en ’n basiese eenmanwoonstel wil huur? Verskil hierdie prys drasties tussen woonstelle in die stad, woonareas buite die stad en op die platteland?
Die pryse is baie areagebonde. Eiendom op die platteland is vir seker goedkoper as in gewilde dorpe (bv Stellenbosch).
Basiese eenmanwoonstelle kan bv in Franschhoek en Stellenbosch verhuur vanaf R6 500 opwaarts en in Brackenfell kan mens soveel as R4 500 per maand betaal, afhangende van die area.
Wat is die belangrikste goed in ’n kontrak om na te kyk voor jy dit teken?
Daar is geweldig baie om voor uit te kyk en dit is nodig om dit klousule vir klousule saam met die agent deur te lees en seker te maak dat jy elke term verstaan.
Belangrikste:
- Huurbedrag, en watter dag van die maand betaalbaar?
- Wat is die maandelikse ekstra kostes?
- Wat die deposito is en waar dit belê word, en maak seker dat dit bepaal word dat die deposito plus rente aan jou terugbetaal sal word.
- Wie is verantwoordelik vir watter instandhouding en herstelwerk?
- Is die eiendom in die mark?
- Mag jy diere aanhou (watter soort en hoeveel)?
- Enige boetes en waardes daarvan.
- Maak seker jy kry ’n afskrif van die Huiseienaarsvereniging indien van toepassing.
- Bevraagteken enige klousule wat jou ongemaklik laat voel.
The post VraNet: Wat jy moet weet voor jy ’n huurkontrak teken appeared first on LitNet.