Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Vanuit Pole – rondom Stellenbosch

$
0
0

Lees ook:
Universiteit Stellenbosch: Vrydag die 13de
Geagte professor De Villiers
#NtuliMustRepresentAll

Op 20 November tree Wim de Villiers persoonlik tot die gesprek toe met onderstaande e-posbrief wat hy rig aan elke alumnus van die Universiteit Stellenbosch, dalk ook aan elke lid van die konvokasie en miskien ook donateurs. “Vriende”, in elk geval. 

’n Belangrike bydrae is skakels waardeur ons toegang kry tot belangrike dokumente in die gesprek: die rektor se bestuurspan se aanvanklike verklaring, ’n verklaring deur die dekane en die mosie van die raad se uitvoerende komitee waarna daar ook al in die media verwys is.

(Die eerste verklaring word met die oopmaakslag geïdentifiseer as “Verklaringfinaal” en ’n mens hoop net dat dit inderdaad die verklaring is waarmee alles begin het.)

20 November 2015 

Beste Alumni en Vriende 

ʼn Verklaring oor taal-implementering deur die Rektor se Bestuurspan (RBS) by die Universiteit Stellenbosch op 12 November 2015 is met wyd uiteenlopende en diverse reaksies van verskeie belangegroepe begroet. Op Dinsdag 17 November 2015 het die Dekane van al tien fakulteite ‘n verklaring uitgereik waarin hulle hul ondersteuning uitspreek vir Bestuur se vertrekpunt, dat die US behoort te verseker dat taalimplementering nie as hindernis dien in die pad van toegang en leergeleenthede, of die suksesvolle voltooiing van akademiese programme nie. Op Sondagaand (15 November 2015) het die Uitvoerende Komitee van die Universiteitsraad ‘n mosie aanvaar waarin bevestig is dat die Afrikaanse onderrigaanbod nie afgewater sal word nie en dat die taalspesifikasies soos vir 2016 goedgekeur, geïmplementeer sal word. 

Op grond van kommentaar in e-posboodskappe, op sosiale media en in die tradisionele media, is dit duidelik dat die huidige posisie en die pad vorentoe uitklaring vereis. ʼn Duidelike onderskeid moet getref word tussen a) taal-implementering en b) veranderings aan die Taalbeleid van die Universiteit.

a) Taal-implementering 

• Taal-implementering sal in 2016 steeds verseker dat studente in Engels en in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch kan studeer.
• Terwyl onderrig in Afrikaans voortgaan, sal bykomende ondersteuningsmeganismes geïmplementeer word om te verseker dat studente wat nie Afrikaans verstaan nie, nie uitgesluit word van die onderrigaanbod nie.
• Om dit te behaal, sal meer modules met groot inskrywingsgetalle in parallelmedium aangebied word en onderrig in kleiner klasgroepe verbeter word.
• Die versnelling van die implementering van parallelmediumonderrig verhoog dus die gebruik van beide Afrikaans en Engels as tale van onderrig en leer.
• Vir kleiner klasgroepe behoort alle konsepte in ten minste Engels oorgedra te word, met leer wat versterk sal word deur die beklemtoning van sleutelbegrippe ook in Afrikaans. Dit brei die gebruik van Engels uit, sonder om die status van Afrikaans as 'n onderrigtaal aan te tas.
• Bogenoemde implementering van meertaligheid sal in belang van inklusiwiteit verseker dat alle studente die volle voordeel uit die akademiese aanbod kan put. 

b) Taalbeleid en -plan 

• Die verklaring van 12 November deur ons as Bestuurspan, dui op ons ondersteuning vir maatreëls om die leer-ervaring van alle studente te verbeter. Dit is nie ʼn beleidsdokument nie.
• Die US se Taalbeleid en Taalplan kan hersien word om die US se verbintenis tot gelyke toegang vir alle studente, en die pedagogiese argumente vir die gebruik van beide Afrikaans en Engels, te reflekteer.
• Die Statuut van die Universiteit bepaal dat slegs die Raad die Taalbeleid na ʼn proses van konsultasie en met instemming van die Senaat kan verander. Die feit dat veranderinge aan die Taalbeleid 'n meer ingewikkelde proses behels, beteken nie dat die implementeringsmaatreëls hierbo beskryf, nie kan voortgaan nie.
• Die mosie deur die Uitvoerende Komitee van die Raad van die Universiteit wat op 15 November 2015 aanvaar is, herbevestig die status van die verklaring deur die Bestuur as ʼn besprekingsdokument; dit bevestig ook die statutêre proses wat nodig is om veranderinge aan die Taalbeleid aan te bring; en dit bevestig dat die goedgekeurde taalspesifikasies van toepassing sal wees in 2016.
• Dit is nie akkuraat dat ons Bestuurspan ons verklaring van 12 November teruggetrek het nie. Ons bly daartoe verbind om die akademiese aanbod in Afrikaans en Engels uit te brei, asook tot effektiewe interne kommunikasie wat nie belangegroepe uitsluit nie.
• Ons bly ook volkome daartoe verbind om die statutêre prosesse te volg om veranderings aan die Taalbeleid en Taalplan aan te bring. 

Vriendelike groete

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier

Na aanleiding van wat ek hier te lese kry, het ek gedink dat ek prof De Villiers tog maar sal antwoord en het ek die volgende in ’n koue donker laatmiddag aan hom gestuur.

Geagte prof De Villiers

Dankie vir u skrywe, persoonlik aan my gerig, maar wat ek aanneem aan ten minste elke lid van die konvokasie gestuur is. Dankie ook vir die drie skakels waardeur 'n mens toegang kry tot volledige dokumente.

U is waarskynlik onkant gevang deur die aard en omvang van die reaksie, maar u behoort darem iewers te verstaan dat Afrikaanstaliges aanspraak wil maak op 'n Afrikaanstalige universiteit. Met ras en rasgebaseerde transformasie het dit niks te make nie.

Dit lyk asof u hierdie vanselfsprekende idee nog steeds vreemd, onhoudbaar en onaanvaarbaar vind. 

Die rede daarvoor gaan my verstand steeds te bowe. "Uitsluiting" (soos u dit graag noem) deur taalmedium Afrikaans is immers geen uitsluiting van universitêre studie nie, aangesien daar 'n horde ander universiteite is waar studente in 'n Engelsmedium milieu kan studeer. Onder andere twee binne die onmiddellike omgewing van Stellenbosch. 

Maar as u argument deurgevoer word, sal 'n mens uiteindelik moet aanvoer en aanvaar dat daar vir Afrikaansmedium skole ook geen plek is nie. Ander deelnemers aan die debat het reeds hierop gewys.

Stellenbosch se uitnemendheid het niks te make met die feit dat dit Engels moet word nie, want dit was immers altyd 'n voortreflike akademiese inrigting. Die geskiedenis van sy alumni bevestig dit. U is self daarvan 'n voorbeeld, en u vader ook.

Wat die voorgestelde "taalbeleid" uiteindelik impliseer, is egter dat duisende Afrikaanstaliges in die Wes-Kaap (en natuurlik elders) uitgesluit gaan word van die voorreg en geleentheid om in Afrikaans student te wees, met alles wat saamhang daarmee. So word hulle natuurlik vreemdelinge in hulle eie leefwêreld en hulle land.

Ek lees dat die RBS se uitgangspunt vir sy besluit berus op die feit dat Engels die "omgangstaal" in Suid-Afrika is. Dit het natuurlik niks te make met die grondwetlike verskansing van al ons tale nie, en beslis nie met die verpligting van die Staat om die bevordering van alle tale (ook Afrikaans) te verseker nie. Nie eers u sou kon aanvoer dat die voorgestelde besluite aan hierdie grondwetlike verpligting gehoor gee nie. 

Engels, aan die ander kant, hoef nie as taal op tersiêre vlak beskerm of bevorder te word nie – daaroor stem ons almal saam.

(Terloops: as die ander nege Suid-Afrikaanse tale op universiteitsvlak bevorder moet word, sou ek meen dat dit in die eerste plek sou geskied in 'n omgewing waar daardie tale "omgangstale" is: Xhosa by universiteite in die Oos-Kaap, Zulu in KZN, Venda en Noord-Sotho in Limpopo ens. Of meen u dat daardie universiteite nie goed genoeg is om dit te doen nie? En, interessant genoeg, ek merk nie op dat daar by die ander twee universiteite in die Wes-Kaap omvattende programme is om Xhosa se posisie as onderrig- en leermedium te bevorder nie.)

En sou u u nie kon indink dat 'n mens ook die maatstaf van 'n "omgangstaal" kon terugvoer na 'n kleiner omgewing, soos 'n universiteitskampus, nie.

U bestuurspan se voorstel behels verder ook: In koshuise en ander leefomgewings behoort studente Engels as omgangstaal in huisvergaderings en ander amptelike funksies te gebruik. Ander tale kan ook bykomend gebruik word, en meganismes soos tolking kan ook ingespan word. 

Wat 'n verstommende besluit. As u ten minste voorgee om demokraties te wees, sou u kon voorstel dat die koshuise by wyse van 'n meerderheidstem self kon besluit oor watter taal of tale as "koshuistaal" gebruik moet word. Sien u, nou skielik is "omgangstaal" nie meer 'n faktor nie. 

Daar is, vrees mens onder hierdie omstandighede, uiteindelik die moontlikheid denkbaar dat ook koshuistoelating gaan geskied op basis van "ras" en "taal", om op hierdie wyse te verseker dat Engels sy "regmatige" dominante posisie in elke koshuis kry.

Gaan daar verder ook mettertyd verwag word dat afrigting van alle sportspanne in Engels moet geskied, aangesien dit, juis ook op Stellenbosch, 'n integrale deel van die studente se "leefomgewing" uitmaak? En alle studenteverenigings? Die Matie?

Die subtielste ingryping kom natuurlik in die verskuiwing rondom die klas-aanbod. 

Rondom groot klasgroepe bly die situasie ten opsigte van parallelle aanbiedings onveranderd, voorlopig altans. Maar ek kan my voorstel dat daar gou-gou aangevoer gaan word dat 'n dosent nie Afrikaans magtig is nie, en dat die parallelle aanbod in twee of meer groepe maar vir almal in Engels gaan wees. En, ja, die dosent verstaan geen Afrikaans nie: opdragte en eksamens moet maar liefs in Engels voltooi word.

Maar dit is rondom die kleiner groepe waar die akademiese kapitulasie duidelik word. Op die oomblik is die beleid wat in 2016 geïmplementeer gaan word volgens u brief die volgende: • Vir kleiner klasgroepe behoort alle konsepte in ten minste Engels oorgedra te word, met leer wat versterk sal word deur die beklemtoning van sleutelbegrippe ook in Afrikaans. Dit brei die gebruik van Engels uit, sonder om die status van Afrikaans as 'n onderrigtaal aan te tas.

Ek sukkel om presies te verstaan wat hierdie benadering gaan behels: "alle konsepte in ten minste Engels" "met "beklemtoning van sleutelbegrippe ook in Afrikaans". "Ten minste" beteken net een ding; daar is 'n opsie rondom Afrikaans. En is "konsepte" en "sleutelbegrippe" verskillende dinge? 

Die mooiste is egter die slotsin: dat hierdie benadering die gebruik van Engels uitbrei, sonder om die status van Afrikaans as 'n onderrigtaal aan te pas. Regtig? As "onderrigtaal"? As dit die soort logika is wat besluitneming op Stellenbosch ten grondslag lê, hou ek my hart vas rondom akademiese uitnemendheid.

Volgens die Bestuurspan is die nuwe voorgestelde beleid egter die volgende, nogal 'n ingrypende, verskuiwing: In kleiner klasgroepe sal alle inligting in Engels oorgedra word. Addisionele ondersteuning in Afrikaans en isiXhosa sal voorsien word gedurende die lesing en/of aanvullende, gefasiliteerde leergeleenthede om studente te help om die akademiese materiaal te verstaan.

Wat 'n mens vermoed het, word nou direk uitgespel: alle inligting in Engels. Afrikaans word 'n stertjie, iets wat later, miskien, en met ekstra las vir die studente, aangevul sal kan word. Vreemdelinge aan hulle eie universiteit.

'n Mens sou begrip hê vir daardie omstandighede waar 'n dosent NIE Afrikaans magtig is nie (dit was nog altyd die geval op Stellenbosch), maar nou word die uitgangspunt dat die dosent in die eerste plek Engelstalig is of moet wees. Kom dit by aanstellings, is dit duidelik dat Afrikaanstaligheid 'n belemmerende eerder as 'n normale faktor gaan wees. Daarmee lui die doodsklok vir Afrikaans as 'n akademiese taal.

In u dokumente word daar telkens gepraat van taal as "versperring" in die pad van toegang en sukses. Snaaks dat dit nooit in die verlede as versperring vir Engelstaliges op Stellenbosch gedien het nie, en ook nooit 'n faktor was vir die suksesvolle voltooiing van akademiese programme nie. En vir die moontlikhede om internasionaal kleim af te steek. 

Om na iets anders terug te keer. Wat my bly interesseer, is die rede waarom u in die eerste plek die "RBS-verklaring" juis nóú uitgereik het. As dit net 'n algemene besprekingsdokument sou wees, lyk dit my dat die heel beste tyd sou wees om dit aan die begin van 'n akademiese jaar aan die orde te stel. Vir 'n lang en rustige debat. Maar nou kan ek iewers nie aan die gevoel ontsnap nie (vergewe my hierdie sinisme, maar ek het hierdie strategie al elders aan die lyf gevoel) dat hierdie nuwe beleid op pad was na 'n raadsvergadering en dat gedane sake daarna net met baie moeite gekeer sou kon word.

Ek wil u en u bestuurspan vra om ten minste net weer na die taalverspreiding van Suid-Afrikaanse universiteite te kyk, na die werklike taaldemografie wat in die Wes- en Noord-Kaap bestaan, na die belange van alle Afrikaanstaliges en na wat in die Handves van Menseregte in artikel 29 rondom taal en onderwys uitgespel word. Ek gee dit maar in Engels omdat u u duidelik daartoe wil verbind. Die vetdruk is van my kant af.

29(2) Everyone has the right to receive education in the official language or languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonably practicable. In order to ensure the effective access to, and implementation of, this right, the state must consider all reasonable educational alternativesincluding single medium institutions, taking into account –

[a] equity;

[b] practicability; and

[c] the need to redress the results of past racially discriminatory laws and practices.

Wat is, bly die vraag, eintlik “reasonably practicable” onder die bestaande omstandighede waar daar nêrens anders die moontlikheid is om in Afrikaans te studeer nie? Beslis nie om Afrikaans te reduseer en ondergeskik aan 'n ander taal te stel nie!

In hierdie konteks bestaan daar GEEN rede waarom Stellenbosch nie in die eerste plek 'n Afrikaanstalige universiteit sou wees en moet bly nie. En dit is hierdie reg wat elke Afrikaanstalige op sy of haar manier in die reaksie op die bestuursbesluit probeer uitoefen.

Buitendien het die Afrikaanstalige gemeenskap in terme van art 31[2] die reg "to form, join and maintain [...] linguistic associations and other organs of civil society", waarvan Stellenbosch in terme van sy ontstaan en ontwikkeling beslis een is, al het hy ook status as 'n openbare opvoedkundige inrigting. 

Dit is ook hierdie reg wat elke Afrikaanstalige op sy of haar manier in die reaksie op die bestuursbesluit probeer uitoefen.

Sterkte met al hierdie dinge.

Prof Fanie Olivier

Ns. Hier uit Pole (waar die taal-inkommers maar ook moet aanvaar dat Pools die universiteit se akademiese en administratiewe werkstaal is).

The post Vanuit Pole – rondom Stellenbosch appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>