Daar word tans in Suid-Afrika baie gedebatteer oor die stand van demokrasie. Menán van Heerden het vir navorser Chris Nelson oor die huidige toedrag van sake gepols.
Hierdie onderhoud is gebaseer op twee LitNet Akademies Geesteswetenskappe-artikels deur Chris Nelson:
- Die stand van die demokrasie in Suid-Afrika: ’n kritiese perspektief
- Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: gekonsolideer of besig om in outoritarisme te verval?
In jou 2010- en 2014-artikels identifiseer jy problematiese faktore oor die stand van demokrasie en die aard van magsuitoefening. Binne hierdie konteks, waarheen is Suid-Afrika tans op pad?
Sedert die oorgang na ’n inklusiewe demokrasie in 1994 het ek, soos miljoene mede-Suid-Afrikaners, met die vraag geworstel: Is ’n inklusiewe demokrasie in Suid-Afrika volhoubaar gegewe die traumatiese ervarings wat die samelewing op velerlei terreine gedurende die apartheidsera deurloop het? Na my finale aftrede in 2009 het ek met ’n navorsingsprogram begin met die hoop om antwoorde op hierdie kwellende en tergende vraag te verkry.
- In 2010 het ek ’n LitNet Akademies Geesteswetenskappe-artikel getiteld Die stand van die demokrasie in Suid-Afrika: 'n kritiese perspektief gepubliseer. In die betrokke artikel is die inklusiewe Suid-Afrikaanse demokratiese politieke bestel geëvalueer in terme van sewentien vereistes wat universeel aan die suksesvolle funksionering van sodanige bestel gestel word. ’n Hele aantal ernstige probleemareas is geïdentifiseer.
- Met die hoop om steeds ’n beter begrip te verkry van die vooruitsigte van ’n inklusiewe demokratiese orde in die nuwe Suid-Afrika het ek in 2011 met navorsing begin oor die verloop van die demokratiseringsproses in Afrika waarmee in die laat tagtiger- en vroeë negentigerjare begin is na die ineenstorting van Marxisties-Leninistiese outoritarisme regdeur die wêreld. Die volgende jaar het ek ’n artikel daaroor geskryf en dit is deur LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) in twee aflewerings gepubliseer. Die eerste deel was getiteld Demokrasie en demokratisering in Afrika (Deel 1): Konsepte, teoretiese benadering, historiese oorsig en huidige stand. Die tweede deel van die artikel was getiteld Demokrasie en demokratisering in Afrika (Deel 2): Die belangrikste faktore wat substantiewe oorgang belemmer. Hierdie gedeelte van die artikel het gehandel oor die belangrikste politieke-kultuur-, politieke-elite-keuse- en makrostrukturele faktore wat ’n substantiewe oorgang na ’n demokratiese orde in Afrika belemmer en wat Suid-Afrika daaruit kan leer.
- In my voortgesette soeke na antwoorde oor die volhoubaarheid van die inklusiewe demokratiese orde waarop in 1994 besluit is, is die ondersoek in 2014 uitgebrei na spesifiek die lotgevalle van die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie (regstaat) wat in daardie jaar sy twintigste bestaansjaar gevier het. Hierdie LitNet Akademies Geesteswetenskappe-artikel was getiteld Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: gekonsolideer of besig om in outoritarisme te verval? In hierdie artikel is die Suid-Afrikaanse regstaat geëvalueer in terme van agt vereistes wat normaalweg gestel word vir die suksesvolle konsolidasie van sodanige staatstipe. Suid-Afrika het aan twee belangrike vereistes nie voldoen nie.
- In die lig daarvan dat ’n demokratiese samelewing slegs kan gedy indien ’n ekonomies-welvarende samelewing geskep word, het ek in 2016 my navorsing toegespits op die vraag of die eietydse Suid-Afrika voldoen aan die vereistes wat aan die inwerkingstelling van ’n ontwikkelingstaatstrategie gestel word. Met die aanvaarding van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) in 2012 is op die inwerkingstelling van sodanige strategie besluit. Hierdie LitNet Akademies Geesteswetenskappe-artikel was getiteld Voldoen eietydse Suid-Afrika aan die vereistes vir die inwerkingstelling van ’n ontwikkelingstaatstrategie? In hierdie artikel is twaalf belangrike vereistes geïdentifiseer waaraan die inwerkingstelling van sodanige inklusiewe groeistrategie moet voldoen. Suid-Afrika voldoen aan slegs vier van hierdie vereistes.
Uit die navorsing wat oor hierdie relatief lang tydperk en uit verskillende hoeke gedoen is, het dit geblyk dat die demokratiese stelsel in Suid-Afrika en regoor die Afrika-kontinent nie as ’n dawerende sukses beskou kan word nie. Tekenend was die Economist Intelligence Unit se bevinding dat in 2012 uit 44 state in die sub-Sahara-streek daar slegs een staat was wat as ’n volwaardige demokrasie beskou kon word, naamlik die klein eilandstaat Mauritius. Die ander 43 state was geklassifiseer as óf gebrekkige demokrasieë, óf hibriede stelsels óf volslae outoritêre stelsels. Nog ander navorsers het Afrika, uitgesonderd die Midde-Ooste, as die swakste geregeerde streek in die wêreld beskou.
Die belangrikste faktor wat vir hierdie uiters somber toestand verantwoordelik was, was die feit dat die demokratiseringsproses nie werklik die voortgesette konsentrasie van mag in die hande van die uitvoerende gesag genoegsaam getemper het nie. Streng gesproke was dit bloot ’n oorgang sonder verandering. Al wat werklik gebeur het is dat die termyne van presidente beperk is, maar dat hulle nie “getem” is nie. Navorsers wat hierdie besondere verskynsel waargeneem en bestudeer het, het daarna verwys as die “patologie van persoonlike heerskappy” of “the rule of the person versus the rule of the law”. Die algemene term wat gebruik is om hierdie patologiese toestand te beskryf was neopartimonialisme of die imperiale presidentskap.
Kortliks kom hierdie praktyk daarop neer dat die formele argitektuur van ’n moderne demokratiese staat – wetgewing wat regeringsoptrede aan bande lê, grondwette, regsoewereiniteit, geskrewe en ongeskrewe reëls en gebruike – gekombineer word met die informele realiteit van persoonlike en arbitrêre magsuitoefening en die smee van ’n omvattende stelsel van begunstiger-kliënt-bande wat strek vanaf die grootste “groot man” (die outokratiese president) tot sy hoof-indoenas en ander vertrouelinge wat op hul beurt weer optree as begunstigers van magshebbers op laer vlakke.
Sommige navorsers verduidelik neopatrimonialisme as ’n reeks konsentriese sirkels van begunstiger-kliënt-verhoudings waar die leier in die sentrum van die stelsel persoonlik senior regeringsaanstellings doen wat dan op hul beurt weer vertrouelinge op ander vlakke aanstel. Die leier beklee ’n verhewe posisie in die stelsel en bewerkstellig lojaliteit deur die verskaffing van ekonomiese voordele en politieke beskerming.
Die wyse waarop neopatrimonialisme geskied en die vernietigende uitwerking daarvan, nie alleen op die demokratiseringsproses nie, maar ook op die sosio-ekonomiese ontwikkeling van samelewings regoor Afrika word deur navorsers soos volg opgesom:
- Stelsels van institusionele wigte en teenwigte word afgetakel deur wetgewende en regsprekende instellings se magte in te kort of ondergeskik te stel aan die uitvoerende gesag, in besonder die president. Ondergeskiktheid word gewoonlik bewerkstellig deur vertrouelinge in die wetgewer en alle staatsinstellings aan te wys. (Die lysmetode van die stelsel van proporsionele verteenwoordiging waarop in 1994 besluit is, het die proses in Suid-Afrika, in soverre dit die wetgewende gesag aanbetref, aansienlik vergemaklik.)
- Informele norme is verhewe bo formele reëls, regulasies en beperkende maatreëls.
- Die reg om te regeer is in ’n persoon gesetel en nie in ’n amp nie.
- Ondergeskiktes is lojaliteit verskuldig aan persoonlike begunstigers en nie aan wetgewing, regulasies en instellings nie.
- Outokratiese presidente en hul vertrouelinge gebruik staatsbronne as ’n persoonlike gerieflikheidsfonds om hul dominansie te behou en hul dominasie te verseker.
- Aanstelling in staats- en ander poste op elke vlak dien as ’n vrypas of permit aan die betrokke posbekleër vir sowel persoonlike verryking as die begunstiging van ’n wyer netwerk van familielede, etniese verwante, vriende en sakevennote.
- Individuele belange (veral selfverryking en ’n weelderige leefstyl) word as van groter belang geag as die lewering van openbare dienste soos die bou van paaie, die ontwikkeling van markte, die lewering van gesondheidsdienste, effektiewe wetstoepassing en die ontwikkeling van mensekapitaal.
Die bevinding van die navorsers was dat neopatrimonialisme in Afrika op sodanige wyse toegepas word dat dit as sinoniem beskou kan word met konsepte soos korrupsie, kliëntelisme, die skepping van baantjies-vir-boeties, kleptokratisme, prebendalisme, kwasi-state, roofdierstate, staatsplundering en staatskaping.
Die ongemaklike en ontstellende gevolgtrekking waartoe ek uiteindelik gekom het, is dat Suid-Afrika nie hierdie vorm van magsuitoefening vrygespring het nie. Onder die leiding van president Zuma is inderdaad in 2009 met ’n proses begin om, soos in talle state elders op die kontinent, neopatrimonialisme stelselmatig toe te pas. Die patronaatnetwerk wat deur president Zuma gevestig is en hierdie netwerk se betrokkenheid by rent-seeking, staatsplundering en staatskaping dien as sprekende getuienis. Meer hieroor in die antwoord op die volgende vraag.
Wat behels die aard en vlak van staatskaping in Suid-Afrika en hoe word demokrasie tans gekortwiek in hierdie verband? Wat is die langtermyngevolge hiervan?
Staatskaping vind plaas wanneer politieke leiers sake-ondernemings wat op gewetenlose winsbejag ingestel is, toelaat om wetgewing, beleidsrigtings, regulasies, regeringskontrakte en selfs sleutelaanstellings deur die regering in hul guns te beïnvloed op voorwaarde dat aan die leiers of hul familie en ander meelopers private ekonomiese voordele toegeken word. In Suid-Afrika word dit vandag wyd aanvaar dat president Zuma en die Gupta-familie die hoofakteurs in die proses van staatskaping is.
In die afwesigheid van ’n diepgaande ondersoek is dit tans baie moeilik om te bepaal wat presies die vlak en omvang van staatskaping in Suid-Afrika is. Dat dit egter beduidend en omvangryk moet wees en ernstige gevolge op die kort-, medium- en langtermyn vir die voortgang van die demokratiese orde inhou blyk uit die volgende:
- Die voormalige Openbare Beskermer se verslag oor staatskaping asook haar aanbeveling dat die kwessie van sodanige ernstige aard is dat dit deur ’n regterlike kommissie ondersoek moet word.
- Die ommeswaai deur die huidige Openbare Beskermer en aandrang dat haar voorganger se aanbeveling vir die aanstelling van ’n regterlike kommissie om bewerings van staatskaping te ondersoek nou as ’n saak van dringendheid beskou moet word.
- Die bekendstelling deur ondersoekende joernaliste van ’n magdom uitgelekte e-posse (#GuptaLeaks) wat daarop dui dat die Gupta-familie en regeringslui by pogings ter staatskaping betrokke is.
- Die verklaring van Adjunk-president, Cyril Ramaphosa, dat korrupsie en staatskaping in die besonder reeds sodanige afmetings aangeneem het dat dit onmiddellik deur ’n regterlike kommissie ondersoek moet word; dat die hoofakteurs deur die wetstoepassingsinstellings tot verantwoording geroep moet word; en dat die miljarde rand wat gesteel is herwin moet word.
- Die aantygings deur alle opposisiepartye dat staatskaping reeds die effektiewe funksionering van belangrike staatsinstellings en staatsbeheerde ondernemings negatief beïnvloed het.
- Die bevindings van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) dat Suid-Afrika onder die Zuma-regering op die rand van ’n Mafia-staat wankel.
- Die dringende byeenkoms deur die Parlementêre Komitee oor Openbare Ondernemings ten einde die agteruitgang en verval van hierdie ondernemings te hanteer.
- Die beroepe deur twee lede van die Drieparty-alliansie (die SAKP en COSATU) asook sekere veterane van die ANC dat president Zuma vanweë sy betrokkenheid by staatskaping moet bedank of afgedank moet word.
- Die bekendstelling deur die State Capacity Research Project van ’n verslag met die veelseggende titel Betrayal of the Promise: How South Africa is being Stolen. Hierdie projek is ’n interdissiplinêre, interuniversitêre navorsingsvennootskap wat ’n bydrae wil lewer tot die openbare debat oor staatskaping. Volgens hierdie navorsers het ’n “stille staatsgreep” reeds in Suid-Afrika plaasgevind. Dit is gevolglik noodsaaklik dat ’n regterlike kommissie van ondersoek daarna ingestel word en dat die akteurs daarby betrokke krimineel vervolg moet word op klagtes van korrupsie, bedrog, geldwassery, rampokkery en moontlik verraad.
- Die afgradering van Suid-Afrika tot rommelstatus deur die leidende internasionale kredietgraderingsagentskappe.
- Die byeenroeping deur die Red Suid-Afrika-veldtog en die Ahmed Kathrada-stigting van ongeveer 100 instellings in die burgerlike samelewing om op vanjaar se Nelson Mandela Internasionale Dag ’n “breë front” teen staatskaping te vorm.
In jou 2014-artikel noteer jy die minagting (as dit so sterk gestel kan word) van die grondwet in die Suid-Afrikaanse regstaat deur talle politieke akteurs.
In hierdie verband: Raymond Suttner voer in ’n Mei 2017-meningsartikel aan dat opposisie partye en burgerlike samelewing formasies wat hoop om ’n rol in die herstel van die Suid-Afrikaanse demokratiese lewe te speel moet versigtig wees om op die howe terug te val.
Wat is jou gedagtes hieroor?
Dit is inderdaad korrek dat talle politieke akteurs in die Suid-Afrikaanse samelewing nie die oppergesag van die Grondwet aanvaar nie. Tekenend hiervan is die beskouing:
- dat die grondwet bloot ’n kompromis-dokument is wat tydens die konstitusionele onderhandelings gedurende die vroeë negentigerjare deur “regse” elemente op die mense van Suid-Afrika afgedwing is;
- dat dit ’n struikelblok in die weg van effektiewe regering is;
- dat dit die radikale ekonomiese transformasie van die samelewing belemmer;
- dat dit die voortsetting van armoede en ongelykheid sanksioneer; en
- dat dit die skepping van ’n “nasionale demokratiese samelewing” by wyse van ’n “nasionale demokratiese rewolusie” onmoontlik maak.
Dat daar ook uit vele oorde oproepe op instansies in die burgerlike samelewing gedoen word om nie die geregshowe te oorlaai met versoeke vir beregting nie, is ewe waar. Hierdie beskouings en ingesteldhede hou egter nie rekening nie met die feit dat Suid-Afrika ’n regstaat is; dat die howe die finale arbiters in alle geskille is; en dat die Konstitusionele Hof in die besonder die bewaker van die grondwet is.
Volgens jou 2014-artikel word heroïese of grootse ideologieë (wat die fundamentele verandering van die samelewing ten oogmerk het), as belemmerend vir die konsolidasie van demokrasie en dus ook ’n regstaat beskou.
Is die frases “radikale ekonomiese transformasie” en “om die land terug te gee” (“to give back the land”) hedendaagse heroïese ideologieë?
Verskeie navorsers wys daarop dat heroïese ideologieë wat die fundamentele verandering van die samelewing ten oogmerk het, nie as bevorderlik vir die vestiging en konsolidasie van ’n demokratiese orde beskou kan word nie. Hierdie besondere oortuiging spruit voort uit die feit dat hierdie tipe ideologieë normaalweg op sodanige wyse toegepas word dat korrektiewe beleidsrigtings tot sosiale manipulasie oftewel “die politiek van verlossing” kan lei en gevolglik ’n kritiese ingesteldheid by die massas ondermyn.
In die vorige eeu was die heroïese ideologieë wat die Suid-Afrikaanse politieke toneel oorheers het apartheid en die herverdeling van welvaart op ’n sosiaal-demokratiese of sosialistiese grondslag soos in die Vryheidshandves uiteengesit. Die voorstanders van beide heroïese ideologieë was selfs bereid om tot wapengeweld oor te gaan ten einde die besondere idees tot vervulling te bring. Alhoewel apartheid uiteindelik die onderspit gedelf het, vind die oorblywende heroïese ideologie steeds gestalte in die Drieparty-alliansie se ideaal om ’n “nasionale demokratiese samelewing” by wyse van ’n “nasionale demokratiese rewolusie (NDR)” te vestig. Ofskoon aanpassings aangebring is sedert die grondslag van die NDR gelê is, is die heersende “politiek van verlossing” steeds in sosialisme gefundeer, wat uiteraard nie bevorderlik is vir demokratiese konsolidasie nie.
Die frases “radikale ekonomiese transformasie” en “terugneem van grond” kan op sigself nie as heroïese ideologieë beskou word nie. Tot die mate dat die betrokke frases egter deel vorm van die Drieparty-alliansie se langtermyn strategiese doelwit naamlik die vestiging van ’n “nasionale demokratiese samelewing” by wyse van die “NDR”, kan dit wel as sodanig beskou word.
Wat is jou opinie oor die staatsinmenging (as mens dit so kan noem) van skakelwese-firma Bell Pottinger en die Gupta-veldtog “wit monopolie-kapitaal”?
Die gebruik van propaganda as ’n buitelandse beleidsinstrument deur state is ’n bekende praktyk en kom wydverspreid voor. Kortliks behels propaganda die doelbewuste en sistematiese verspreiding van informasie, meestal van ’n bevooroordeelde of misleidende aard (soms blatante “vals nuus”), deur regerings om ander regerings of ’n bepaalde persoon, groep, beweging, instelling of soms selfs die hele samelewing te ondersteun, te benadeel of te ondermyn. Die groot moondhede in die internasionale stelsel beskik oor uitgebreide burokrasieë, plaaslik en in die buiteland, om hul eksterne propaganda-programme te bedryf.
In alle propaganda-programme word van bepaalde tegnieke gebruik gemaak om die trefkrag van die boodskap by die teikengehoor te vergroot. Van die belangrikste propaganda-tegnieke wat gebruik word is etikettering, veralgemening, oordrag, analogie, seleksie, meeloping, frustrasie-sondebok en vrees. Die eufemistiese term wat dikwels gebruik word om propaganda-programme te beskryf is “strategiese kommunikasie”.
Gegewe die ekstensiewe netwerke van nie-regeringstransaksies in die huidige internasionale stelsel word propaganda-programme ook op nie-amptelike vlak bedryf. Op hierdie vlak probeer ’n groep of instelling in een staat om deur die verspreiding van informasie soos hierbo beskryf die houdings van ander groepe of bewegings in ander state te verander of te versterk. Dit gebeur selfs dat nie-staatlike akteurs soos multinasionale maatskappye kommunikasieprogramme bedryf. Dikwels word reklame- en openbare skakelmaatskappye deur ’n wye reeks nie-staatlike akteurs ingespan om deur die verspreiding van sekere informasie die houdings van groepe in ’n bepaalde samelewing te verander of te versterk of die aansien van leiers in daardie samelewing op te bou of af te breek.
’n Sprekende voorbeeld in hierdie verband is die gebruik deur die Gupta-onderneming, Oakbay Investments, van die omstrede Bell Pottinger multinasionale skakelmaatskappy om ’n propaganda-program teen oënskynlik buitensporige tariewe ten behoewe van die betrokke familie en president Zuma te bedryf. In hierdie program is die mite van “wit monopolie-kapitaal” of “ekonomiese apartheid” as die sondebok voorgehou vir die ekonomiese ongelykheid, armoede en werkloosheid wat swart Suid-Afrikaners moet verduur en dat dit slegs reggestel kan word deur “radikale ekonomiese transformasie” soos deur die president en sy ondersteuners verkondig.
Na kritiek dat hierdie program die rassespanning in Suid-Afrika tot ’n gevaarlike vlak verhoog het, is die program nie alleen beëindig nie, maar het die hoof uitvoerende beampte van die Bell Pottinger-skakelmaatskappy, James Henderson, sy verskoning daarvoor aangebied en die personeel wat die program bedryf het, ontslaan.
In jou 2010-artikel word die besondere verband tussen sosio-ekonomiese ontwikkelingsvlak en suksesvolle demokrasie beklemtoon.
Ook, in jou 2014-artikel word beklemtoon:
“’n [R]egstaat verkeer die staat onder die verpligting om fundamentele menseregte en -vryhede te beskerm en te bevorder. In die Suid-Afrikaanse regstaat bevat hoofstuk 2 van die grondwet ’n handves van menseregte wat as een van die mees gevorderdes en omvattendes in die wêreld beskou kan word.”
In watter mate versuim die regering om die sosio-ekonomiese regte van sy burgers te beskerm? Wat is die langtermyngevolge hiervan?
Die Handves van Regte soos vervat in hoofstuk 2 van die Grondwet is ’n hoeksteen van die demokratiese bestel in Suid-Afrika. Die betrokke handves verskans nie alleen die regte van alle burgers nie, maar bevestig ook die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid vir almal. Die Handves van Regte plaas voorts ’n verpligting op die regering om die regte daarin vervat te eerbiedig, te bevorder en te verwesenlik.
Die regte waarvoor in die Handves van Regte voorsiening gemaak word kan in twee kategorieë ingedeel word, naamlik burger- en politieke regte aan die eenkant en sosio-ekonomiese regte aan die anderkant. Die burger- en politieke regte omsluit regte soos die reg op gelykheid; die reg op menswaardigheid; die reg op persoonlike vryheid en veiligheid; die reg op privaatheid; die reg op godsdiensvryheid; die reg op meningsvryheid; die reg op uitdrukkingsvryheid; die reg op vryheid van byeenkoms, staking en petisionering; die reg op vryheid van assosiasie; politieke regte; die reg op burgerskap; die reg op vryheid van beweging; die reg op vryheid van handel, beroep en professie; en arbeidsregte.
Die sosio-ekonomiese regte omsluit regte soos die reg op opvoeding; die reg op voedsel; die reg op gesondheidsorg; die reg op grondbesit; die reg op water; omgewingsregte; die reg op maatskaplike sekuriteit; en die reg op behuising.
Vorige ANC-regerings het sedert 1994 indrukwekkende bydraes gelewer om die regte soos in die Handves van Regte vervat te verwesenlik. Enkele voorbeelde dien ter illustrasie:
- Ongeveer 17 miljoen Suid-Afrikaners ontvang maatskaplike toelaes.
- Suid-Afrikaners kan aanspraak maak op die burger- en politieke regte soos hierbo uiteengesit.
- Indiensneming het met 60 persent toegeneem.
- Die ekonomiese infrastruktuur is verbeter deur die bou en opgradering van paaie, hawens, spoorlyne, kragstasies en damme.
- Meer as agt miljoen skoliere geniet gratis onderwys, terwyl meer as nege miljoen skoliere baat vind by die voedingskema vir skole.
- Gratis mediese sorg word verskaf en meer as 1500 gesondheidsorgfasiliteite is opgerig. (Suid-Afrika se program vir die bestryding van die VIGS-epidemie is van die mees omvangryke in die wêreld.)
- Ongeveer drie miljoen regeringsgesubsidieerde huise is gebou wat toegang tot behuising aan 12 miljoen Suid-Afrikaners bied.
- Ongeveer 90 persent van huishoudings beskik oor watertoevoer terwyl 88 persent oor elektrisiteitstoevoer beskik.
Tans word die volle verwesenliking van alle Suid-Afrikaners se sosio-ekonomiese regte soos in die grondwet uiteengesit egter gekortwiek deur die wydverspreide voorkoms van korrupsie in die vorm van rent-seeking, staatsplundering en staatskaping soos hierbo vermeld.
Mediavryheid is van kardinale belang in ’n demokrasie. Wat is jou gedagtes oor die hedendaagse intimidasie van joernaliste?
Die kwaliteit, beskikbaarheid en vrye vloei van inligting in ’n samelewing word wêreldwyd as van kritieke belang vir die suksesvolle funksionering van ’n demokratiese politieke bestel beskou. Die vrye media wat hieraan beslag moet gee, word inderdaad as die suurstof van ’n demokrasie beskou. Die onlangse intimidasie van joernaliste deur die voormalige hoof uitvoerende beampte van die SAUK, sekere politieke partye en anargistiese elemente is nie alleen ’n skending van die politieke en burgerregte wat in die Handves van Regte en die Grondwet verskans is nie, maar vorm ’n ernstige bedreiging vir die voortbestaan van die ganse demokratiese orde. Die onlangse afsterwe van die bekende SAUK-joernalis, Suna Venter, beklemtoon ook die tragiese gevolge wat intimidasie-veldtogte van hierdie aard vir persone wat die joernalistieke beroep beoefen kan inhou.
Wat is die grootste “vyand(e)” vir magsbehepte politici in ’n demokratiese bestel: sosiale kohesie oor ras-, etnisiteit-, en klassegrense? ’n Opgevoede burgery met werk? Goeie dienslewering?
Myns insiens bestaan daar drie groot “vyande” wat ’n bedreiging vir magsbehepte politici in Suid-Afrika daarstel. Die eerste groot “vyand” is die omvattende stel politieke, burger- en sosio-ekonomiese regte wat in die Handves van Regte uiteengesit is, grondwetlik verskans is en bepaalde verpligtinge op regeringslui plaas. Die tweede groot “vyand” is die Konstitusionele Hof aan wie die taak opgedra is om as die bewaker van die Grondwet op te tree. Die derde groot “vyand” is daardie vrywillige instellings in die burgerlike samelewing, bestaande uit lede van alle rasse-, etniese en klassegroepe, en wat reeds ’n reputasie opgebou het om die Grondwet en die regte en vryhede daarin vervat jaloers te bewaak asook vergrype soos staatskaping aan die kaak te stel.
Aanduidend van die feit dat magsbehepte politici die Grondwet inderdaad as ’n gedugte “vyand” beskou, is die beroep deur president Zuma gedurende die 2014-verkiesing gedoen dat die kiesers aan hom en die ANC ’n “baie groot” meerderheid moet besorg sodat hy “sekere dinge” in die Grondwet kan verander aangesien dit “sekere struikelblokke” bevat.
Met die stigting van die EFF, die probleme wat die ANC tans binne geledere ondervind, die huidige verdeeldheid binne die Drieparty-alliansie en die DA-Helen Zille-kolonialisme-debakel, wat is die vooruitsigte vir die demokrasie in 2019?
Dit is uitermate moeilik om te voorspel op welke wyse bogemelde gebeure die vooruitsigte vir die demokrasie in Suid-Afrika in die nabye toekoms sal beïnvloed. ’n Ontleding ten einde tot ’n afdoende bevinding te kom sou boekdele verg. Wat wel onomwonde en met sekerheid verklaar kan word, is dat die huidige opvolgstryd wat homself tans binne die ANC afspeel van bepalende belang vir die vooruitsigte van die demokratiese orde in Suid-Afrika is. Sou die Zuma-faksie en hierdie faksie se kandidatuur as die wenners na vore tree, is die vooruitsigte vir die demokrasie rampspoedig. In die beantwoording van vorige vrae is reeds gewys op die betrokkenheid van hierdie faksie by korrupsie, staatsplundering en staatskaping. Sou rasionele denke egter deur ANC-lede aan die dag gelê word en sorg gedra word dat, tydens die ANC se komende nasionale konferensie, die Ramaphosa-faksie seëvier, is die vooruitsigte vir die herstel van nie alleen die ekonomie nie, maar ook die konsolidasie van die demokratiese bestel uitstekend.
The post Demokrasie en Suid-Afrika in 2017 appeared first on LitNet.