Ek kan nie presies onthou waar dit was nie, maar dis al ’n hele paar jaar terug en ek was êrens op ’n sypaadjie in die buiteland toe ek toevallig in die verbygaan daardie spesifieke oomblik in Paul Simon se “Diamonds on the soles of her shoes” hoor waar die legendariese acapella stemme van Ladysmith Black Mambazo die spreekwoordelike aflosstokkie aangee aan die mbaqanga-kitaar van Ray Phiri. Dit het my dadelik hard getref. Al is dit Simon se naam op die omslag van die ikoniese Grammy-verowerende plaat, Graceland, (waarvan die titelsnit in 2012 in die Grammy Hall of Fame opgeneem is op grond van ‘blywende kwaliteit en/of spesiale historiese belang’), wou ek sommer net daar kliphard skree “dis hoe óns klink man!” My bors het geswel van trots en die trane het vlak gelê. Dit was meer as net heimwee - daardie klanke vang my elke keer. Ons as Suid-Afrikaners is baie geseënd met ’n hele aantal musikante deur die jare heen wat musiek uit eie bodem gemaak het en daarmee ’n plaaslike ‘klank’ gesmee het wat, sonder om dit noodwendig te oor-analiseer, net tuis voel. Al die kontroversie rondom Graceland tersyde1, dit het plaaslike musikante soos Ray Phiri, Bakhiti Kumalo (baskitaar), Isaac Mtshali (tromme), Barney Rachabane en Mike Makhalemele (albei saksofoon), en daarmee saam ’n eg-Suid-Afrikaanse klank, wêreldbekend gemaak. Maar Phiri moet nie net geken word vir sy werk saam met Paul Simon nie. Saam met Mtshali het hy in die 1970s die soul groep, The Cannibals, gestig wat later ontwikkel het in die geliefde en bekroonde groep, Stimela. Stimela! “Stoomtrein”. Diepte, virtuositeit, groove. Goeiste, what a band! En Ray Phiri het vir meer as drie dekades voor gestaan as kitaarspeler, sanger en liedjieskrywer. Hul liedjie, “Whispers in the Deep”, wat in 1986 uitgereik is, het sterk geresoneer tydens ’n tydperk van akute politieke weerstand.2
Raymond Chikapa Enock, (of net Ray) Phiri is Woensdagoggend op ouderdom 70 oorlede na ’n kort stryd teen longkanker. Huldeblyke stroom nog steeds in vanoor die hele wêreld. Vele berigte lys sy merkwaardige prestasies: die Orde van Ikhamanga, ’n SAMA-toekenning vir lewenslange bydrae, baie goud- en platinumtoekennings, vir lank ’n lid van Suid-Afrika se Kunsteraad, ens. Miskien belangriker as dit is die groot hoeveelheid karaktergetuienisse vanuit vele oorde. Die ANC se verklaring lui: “Phiri was a voice for the voiceless and a legend of our time. An immensely gifted composer, vocalist and guitarist, he breathed consciousness and agitated thoughts of freedom through his music,” terwyl Paul Simon hom onthou as “… a beautiful, masterful guitarist and an inventive musician. He will be remembered as a patriot who used his music to fight apartheid and brought that message to the world.” Phiri het ook al saam met van die grootste name in Afrikaanse musiek gespeel. Hy was deel van Nico Carstens se Boereqanga-projek in die middel-90s. Meer onlangs het Carstens weer op van Phiri se komposisies gespeel. Sielsgenote, het Phiri hulle verhouding beskryf. Anton Goosen, wat op ’n geleentheid saam met Phiri gespeel het, onthou hom as “vriendelik, baie nederig, en iemand wat eintlik net sy kitaar wou speel.”
Vir Phiri was musiek ’n sielsroeping. Dit het voorkeur gekry bo roem en rykdom. Sy nalatenskap is ’n testament vir die feit dat regte musiek nie lieg nie. Dis eerlik, dit resoneer, dit oorbrug, dit bied ontsnapping, sonder om jou blik weg te draai van ongemaklike sosiale waarhede. Dit konfronteer en dit triomfeer.
Gaan kyk gerus:
Eindnotas
1 Vir meer inligting, lees die volgende berig: http://www.rollingstone.com/music/features/paul-simons-graceland-10-things-you-didnt-know-w435711
2 Gwen Ansell se stuk in The Conversation bied ’n goeie perspektief oor hul musiek tydens hierdie era: https://theconversation.com/what-the-lives-of-two-south-african-music-giants-tell-us-about-culture-under-apartheid-80970
The post Raymond Chikapa Enock Phiri (23 Maart 1947 – 12 Julie 2017) appeared first on LitNet.