Die Inniebos Kunstefees het vanjaar van 5 tot 8 Julie in Mbombela plaasgevind. Louise Pieterse het die feesatmosfeer in foto's vasgevang.
Kuns in aksie. Feesgangers kon orals sien hoe kunstenaars en entrepreneurs hulle produkte vervaardig.
Handgemaakte produkte is aan die orde van die dag wanneer feesgangers die beursie nader hark.
Tussen die inkopies deur is daar rusplek om manlief te los as die stap te veel raak.
Die pretpark sorg vir ure se pret vir oud en jonk.
Die meer waaghalsiges kan kies en keur tussen ’n mengelmoes van wilde ritte.
Wat is ’n pretpark nou sonder die skulpies?
By die My XXX-kunsuitstalling is hierdie boom te sien. Dit is al oor ’n menigte kontinente gestuur en deur verskeie kunstenaars versier.
Die My XXX-kunsuitstalling het gesorg vir ’n groot verskeidenheid kunskonsepte om ons land se ryk kunstalent ten toon te stel.
PG du Plessis se Nag van Legio is deur Albert Maritz op die planke gebring. Hierin is spelers soos Deon Lotz en Francois Jacobs te sien.
Vanjaar is die eerste Nasionale Handwerkkunskompetisie van stapel gestuur, en meer as 500 inskrywings is ontvang. Die top 30 was by die fees te sien.
Oudergewoonte het groot geeste soos Theuns Jordaan, Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld en meer die kollig op die hoofverhoog gesteel.
Spoegwolf was een van die “moet sien”-name op die kykNET NOU-verhoog.
Liefhebbers van alternatiewe musiek het meer gekry as waarvoor hulle kon gevra het met die stampvol kykNET NOU-verhoog.
Die hoofverhoog se musiekprogram lok jaarliks duisende mense fees toe.
Om elke hoek en draai is iets te sien en te doen vir die jongspan.
Die kuierverhoë is natuurlik immer gewild en het vanjaar kunstenaars soos Liza Brönner, Elvis se Seun, Jakkie Louw en Franja ten toon gestel.
Die kykNET Bioskoop vertoon heeldag ’n verskeidenheid Silwerskerm-films, kortfilms en lokettreffers soos Vir die voëls.
Klara Maas se hart is gebreek deur Wessel Pretorius en David Viviers is die skreeusnaakse biografie van ’n traan.
Dié skattige kleinding geniet die musiek meer as die ouer garde
Francois Jacobs en Adriaan van As vertel vir gehore “dit wat hulle nie weet nie”.
Dit is die klein afwerkings wat feesgangers laat tuis voel en waarde vir geld verseker.
Vanfokkingtasties het die hoofverhoog oorgeneem Donderdagaand en was die toonbeeld van kameraderie.
Matthew Mole het ook sy beste toertjies uitgehaal om die massas te bevredig.
HemelBesem is ’n digter van formaat en het die mense ’n bietjie touwys gemaak oor kletsrym.
Matt Carstens was vanjaar se RockRumoer-wenner en het weggestap met R25 000 kontant van Cell C en ’n borgskap van R30 000 van kykNET vir ’n musiekvideo.
The post Foto's: Inniebos 2017 appeared first on LitNet.