Ietwat meer as ’n week gelede het die Melbourne-polisie aangekondig dat hulle kardinaal George Pell aankla van seksmisdade teen minderjariges.
Geen besonderhede is gegee oor die klaers, of die tydperk met betrekking waartoe hy aangekla word nie.
Pell is natuurlik hoegenaamd nie die enigste priester in die Rooms-Katolieke Kerk wat aangekla word van seksoortredings teen jeugdiges nie. In sommige jurisdiksies moes van die aartsbisdomme bankrotskap verklaar omdat hulle eenvoudig net nie meer die geld gehad het om siviele eise uit te betaal nie. As derde in bevel van die Vatikaan en hul de facto-tesourier, is Pell die mees senior priester tot nog toe wat aangekla is. Die besluit om hom aan te kla, gaan waarskynlik verreikende gevolge inhou vir die voortbestaan van die kerk, en vir die leierskap van pous Francis.
Die huidige pous het hom nog altyd sterk uitgespreek teen die epidemie van pedofielpriesters. Die toets is nou om te sien hoe hy dit hanteer noudat die klagtes die Vatikaan self bereik. Daar is alreeds persverklarings uitgereik, deur die Vatikaan en die kerk in Sydney, om te onderstreep dat hulle nie Pell se regskostes sal dra nie. Daar is egter ook alreeds ’n fonds op die been gebring, skynbaar deur gemeentelede, om die regskostes te dek.
Maar gaan dit regtig om Pell? Is die groter vraag nie hoekom pedofilie so ’n enorme probleem in die Rooms-Katolieke Kerk is nie? Geen ander kerk, en geen ander instelling wat met jongmense werk, het ’n vergelykbare rekord met betrekking tot seksuele misdrywe teen jeugdiges nie. Wat dit vererger, is die wyse waarop die kerk dit konstant, oor jare, probeer toesmeer het.
Dit maak eenvoudig nie sin nie. Hoekom sal die instelling wat hulself as die morele gesag voorhou, stilbly oor die een misdryf wat universele weersin in mense verwek? Selfs misdadigers wat nie blik of bloos om moord te pleeg nie, verafsku pedofiele. Dis met goeie rede dat baie tronke pedofiele apart aanhou. As misdadigers dit verafsku, hoekom sal priesters wat in beheer is en in staat is om dit stop te sit, niks doen nie? Hoekom dit aktief probeer toesmeer? Hoekom pedofielpriesters van gemeente tot gemeente skuif, en die probleem versprei, eerder as om ontslae te raak van die probleem?
Die enigste rede waarom die verskriklike stilswye en sameswering sin kan maak, is as dié in beheer dalk self wandaders is. Dit kan seer sekerlik nie wees omdat hulle die kerk se reputasie probeer red nie. Dit doen tog meer skade wanneer die toesmeerdery aan die lig kom. Dit kan ook nie wees omdat hulle die kerk finansieel probeer beskerm nie. Watter kerk kan in die eerste plek wins voor mense stel? En is dit nie ook goedkoper om pedofielpriesters uit die kerk te skop as om siviele eise te moet betaal nie? Hulle hoef nie eens te vrees dat die hele aaklige sage in die arbeidshof op die lappe sal kom nie. Howe dwarsoor die wêreld, ook in Suid-Afrika, het oor en oor bevestig dat die verhouding van ’n priester met sy kerk nie ’n arbeidsverhouding is nie. Die Vatikaan het sy eie hof en sy eie regstelsel. Hulle het alles tot hulle beskikking om die sake vinnig en diskreet af te handel. Dan kan die voetslepery net as krimineel nalatig beskryf word.
Tensy daar vrese bestaan dat die uitgeworpe priesters ander se name kan noem. Maar dan beteken dit dat die persone wat die proses beheer, vrese het en ander (of hulself?) probeer beskerm.
Dit beantwoord egter steeds nie die sentrale vraag nie. Hoekom is die Rooms-Katolieke Kerk so aantreklik vir pedofiele? En hoekom is dit vanuit die kerk se oogpunt ’n groter skandaal wanneer ’n priester seksuele uitlaatklep vind in ’n gewillige volwasse vrou? Dan word die priester blitsvinnig uit alle kerklike posisies onthef.
’n Gewilde, en myns insiens verkeerde, argument is dat priesters heimlik homoseksueel is, en dus die kerk gebruik om hul seksualiteit weg te steek. Seksualiteit is baie meer vasgesteld as dit. Die tipe persoonlikheid wat kinders seksueel aantreklik vind, is nie aangetrokke tot volwassenes nie. ’n Persoon wat sy seksualiteit met volwassenes kan uitleef, soek nie kinders op nie. Dis hoe eenvoudig dit is. Dis ook nie korrek om te argumenteer dat omdat priesters veronderstel is om selibaat te lewe, kinders hul enigste toeganklike uitlaatklep is nie. Hoekom dan nie gewillige volwasse vroue (of mans) nader nie? Daar is tog oorgenoeg van albei binne en buite die kerk, en oorgenoeg geleenthede om dit uit te leef.
Die enigste logiese antwoord wat oorbly, is dat die instelling van die kerk dit nie net maklik maak vir pedofiele om slagoffers te vind nie, hulle beskerm op die mees siniese wyse moontlik die oortreders ten koste van die slagoffers. Hulle bemoeilik dit doelbewus vir slagoffers om beskerming te kry, en om geregtigheid binne die konteks van die kerk te kry. Die kerk het gefaal in sy taak om moreel rigting te gee.
Kan dit dan enigsins ’n verrassing wees dat meer en meer Katolieke verkies om nie te glo nie, of om hulle geloof eerder buite die kerk uit te leef? Hoekom bly terugkeer na ’n instelling waar die mees weerlose lede van enige gemeenskap doelbewus aan gevaar blootgestel word? Hoekom terugkeer na ’n instelling wat oortreders beskerm en slagoffers uitwerp?
Is dit nie juis waarteen Jesus gewaarsku het toe hy gesê het “Wie die kleinste van hierdie laat struikel, dit sal vir hom beter wees om met ’n meulsteen om die nek in die see gewerp te word” nie?
Dalk is Pell die streep in die sand, waar die sekulêre wêreld nou die kerk se funksie as morele gesag oorneem. Kom ons hoop dis genoeg om ons kinders te beskerm.
The post Seksskandale in die Rooms-Katolieke Kerk appeared first on LitNet.