Liewe Suna,
Jy is so skielik weg. Al het van ons besef of gehoor dat dit nie meer lank so kon aangaan nie, het dit tog ’n mens tot stilstand geruk. Ongeag vele bewyse van die teendeel, klou ons ou sterflinge mos vas aan daardie ou onwaarheid dat die dood regtig net vir die grysaards onder ons wag. Jy was dan so jonk.
En tog was jy soms so veel ouer as ons. ’n Ou siel, so het ’n beter skrywer as ek dit lank gelede beskryf.
Suna, ek dink jy sou dit amusant vind dat mense jou nou ’n engel noem. Wat is dit van ons volkie dat ons heeltyd na bybelse konsepte en mites wil gryp om iets of iemand te beskryf wat ons nie andersins sou verstaan nie? ’n “Angel-child”, sê een van die mense op Facebook, iemand wat jou nooit geken het nie.
Ek weet jy sal my vergewe as ek sê jy was soveel meer as een van daardie vlekkelose wesens wat geheel aan die inisiatief ontbreek om soms darem so ’n bietjie interessant en sondig te wees. Ek is nou moedswillig, want ek weet eintlik wat hulle probeer sê, maar ek voel steeds sterk dat ’n mens daardie idee in die kiem moet smoor. Jy was tog ’n mens van soveel fasette, goed en minder goed soos ons almal, dat dit vir my ’n bittere onreg sou wees as enigiemand jou sou verdoem tot ewige een-dimensionele engelskap.
Jy kon lekker moeilik wees. Hardkoppig met sterk, dikwels onwrikbare opinies. Durf ek dit sê, soms onredelik in jou strewe na wat jou visie van perfektheid was? Dit het jou ook nie alom bemind gemaak dat jy in baie gevalle heeltemal reg was nie. Maar hoe kwaad of gefrustreerd jy mens ook al soms kon laat, was dit alles mis voor die son wanneer daardie sonskynglimlag skielik deurgebreek het.
Ek onthou so goed toe jy destyds by ons op RSG aangesluit het. Hoe vinnig jy ’n begrip getoon het vir ’n medium wat baie ander oor die jare gepootjie het. In die huldeblyke na jy weg is, maak baie mense melding van jou mooi stem. Wat hulle nie weet nie, is hoe hard jy gewerk het om daardie stem meer gesag te gee deur op ’n laer toonhoogte te praat, stadiger te praat, al die klein truuks van suksesvolle stemwerk. Baie sou weggehardloop het, nie jy nie.
Jou ou “partner in crime”, Nico Strydom, het elders ’n mooi huldeblyk aan jou gelewer, geskryf oor die dae toe julle langs mekaar in ons nuuskantoor gesit het.
Julle het my bekommer. Ek het meer as een maal vir julle gepreek oor die manier waarop julle daardie spreekwoordelike kers aan albei kante gebrand het. Dat julle besig was om ’n kredietnota aan julle lywe en gesondheid te skryf wat eendag opgeëis sou word wanneer jy dit die minste wil verwag. Hier waar ek sit en skryf, wonder ek of dit nie dalk die begin was nie?
Iemand met ambisie en sterk menings maak ook nie net vriende nie. Ons, ek en jy, het ook lekker kopgestamp. Soms was jy reg. Ek sou graag tong in die kies wou sê ek was meermale reg, maar nou is jy nie hier nie. Weg. Hoe ontsettend finaal klink daardie woord skielik.
Ek onthou toe jy die eerste reise na die Midde-Ooste aangepak het. Eers met Gift of the Givers, toe op eie onkoste Sirië toe, Egipte toe, Libië. Om getuie te wees, verslaggewer oor die onmenslikheid van mense. Die passie wat dit in jou laat ontvlam het. Die woord word tog so oorbruik, maar dit is die perfekte beskrywing vir die gedrewe liefde wat jy vir daardie streek en veral vir sy vroue en kinders ontwikkel het. Maar dit het ook afguns en selfs woede ontlok van mense wat dalk gedink het daardie streek is hulle persoonlike domein. Ook van mense wat bloot nie dieselfde inisiatief aan die dag kon lê nie en dit ook nie vir ander gun nie. Die lot van die suksesvolle joernalis. Baie van dié wat in die verlede jou probeer pootjie het, jou uiteindelik in die dae van jou nood gefaal het, is die afgelope dae van jou voorste pryssangers. Go figure, sou jy dalk effens sinies gesê het.
Oor die jare heen, toe jou gesondheid jou begin parte speel het, een dokter na die ander raaiskoot op raaiskoot gewaag het, maar niemand regtig by die waarheid kon uitkom nie, was daar een konstante anker waaraan jy in die storms kon vasklou. Foeta Krige, Monitor en Spektrum se Uitvoerende Regisseur en pa-beer. Van die begin af het hy jou aangemoedig, raad gegee, gedra wanneer jy nie meer kon nie. Jou onredelik briesend gemaak het toe hy soms jou vlerke moes knip om die druk op jou gesondheid te verminder. Foeta en die formidabele vroue in sy huisgesin. Far above and way beyond the call of duty, sou sommiges gesê het. Baie min mense sal ooit weet van die reuse-druk en spanning waaronder hulle ook almal geleef het, maar hulle het onwrikbaar voortgegaan om vir jou onderdak te gee, te help dokter, aan te moedig.
Jou dood het ’n vloedgolf van emosie onder luisteraars en lesers ontketen. Baie het nie besef presies hoe wreed jy die afgelope jaar geteister is deur skimfigure wat die skadu bo die lig verkies nie. Maar ondanks druk, pleidooie dat jy moet terugstaan, moet rus en skuil, het die skraal vrou met die afgetakelde lyf uitgestaan, voor geloop. Die bomenslike deursettingsvermoë wat jy met verlede jaar se protesoptog na die Konstitusionele Hof getoon het deur heel pad voor te loop, sal my altyd bybly. Ek het agter jou geloop en ek weet hoeveel wilskrag dit geverg het om daardie optog te voltooi.
I am Suna Venter, die enigste sin op die klein plakkaat wat jy saamgedra het. I am Suna Venter. Almal weet vandag wat daardie sin eintlik gesê het.
Met liefde,
Cobus
The post Huldeblyk aan Suna Venter appeared first on LitNet.