Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Die diepblou see deur François Loots: ’n resensie

$
0
0

Die diepblou see
François Loots
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 978-1-4152-0953-0

Ek het my ’n paar jaar gelede tydens middagete in ’n tweedehandse boekwinkel bevind en op die geskiedenisrak ’n biografie getiteld Hofmeyr ontdek. Aangesien die alombekende skrywer en liberalis Alan Paton die outeur was, het ek die biografie uit blote nuuskierigheid vir R5 aangeskaf. Ek moet bieg dat my geskiedenisopvoeding op hoërskool nie veel op Jan Frederick Hendrik Hofmeyr se rol in die Suid-Afrikaanse politiese landskap gefokus het nie. Gevolglik ontdek ek toe hierdie fassinerende figuur wat weens die nasionalistiese invloed (of eerder anti-liberalistiese invloed) deels vergete geraak het en myns insiens tydens sy leeftyd (en daarna) nooit die erkenning ontvang het wat hom toegekom het nie.

Met laasgenoemde in gedagte het ek maande lank uitgesien na die verskyning van François Loots se nuwe roman Die diepblou see. Alhoewel die roman fiksie is, was ek uiteraard nuuskierig om te sien op watter wyse Loots ’n gesiene man soos Hofmeyr in die roman sou uitbeeld.

Loots is ’n gevestigde naam in die Afrikaanse letterkunde. Hy debuteer in 2001 met Nagvoëls, ’n speurroman wat in Kaapstad afspeel. Daarna volg Lente in Beijing (2003), Die jakkalsdans (2011), Rooi Jan Alleman (2013) en In sneeu geskryf in 2015. Met sy laaste roman het Loots die tragiese Sizzlers-moorde van 2003 tot op die been oopgevlek en sodoende stemme aan onskuldige slagoffers gegee. Die één roman wat egter uitgesonder moet word is Rooi Jan Alleman wat op die lewe van Bram Fischer gebaseer is. Met hierdie roman het Loots homself bewys as ’n skrywer met wie daar rekening gehou moet word. Hierdie roman is vir die Universiteit van Johannesburg-prys benoem. (Dit is egter jammer dat Loots tot dusver deur pryskomitees oorgesien is – hy het homself al telkemale as bedrewe en gesoute romansier bewys wat romans van hoogstaande literêre gehalte lewer.)

Die diepblou see is geskoei op die lewensverhaal van Jan Frederick Hendrik Hofmeyr, ’n begaafde akademikus en politikus wat as Administrateur van Transvaal en as minister in onderskeidelik JBM Hertzog en JC Smuts se kabinet gedien het. Die roman is in drie afdelings verdeel: die eerste afdeling fokus hoofsaaklik op Hofmeyr se kinderjare en vroeë politieke loopbaan en die tweede afdeling op sy laaste jare as minister in Smuts se kabinet. In die derde en slotafdeling verras Loots sy leser deur op die nadraai van Hofmeyr se dood te fokus en die klem op die post-Smutsjare en die Nasionalistiese oorwinning van Mei 1948 te plaas.

Wat hierdie roman so boeiend maak, is nie soseer die tematiek nie. Loots beskik oor die vermoë om geskiedkundige feite en fiksie met mekaar te verweef sodat die leser selde bewus is dat hy/sy die lewensverhaal van ’n politieke figuur lees. Loots se sterk punt as romansier lê in sy vermoë om in hierdie roman deur middel van kontreitaal tesame met die mitologiese en magiese gestalte aan Hofmeyr te gee wat nie in enige skrywer se broek sit nie.

Die verskillende vertelperspektiewe bied die leser ’n insig tot Hofmeyr se persoonlikheid deur ’n verskeidenheid karakters soos sy dominerende moeder, juffrou Joy, Magriet asook sy sekretaris, Robert. Wat veral opvallend is, is wat die karakters tussen die lyne oor Jan Hofmeyr verklap. Hofmeyr se soeke na privaatheid, sy eensaamheid asook die soeke na ontvlugting van die spreekwoordelike storms wat hy daagliks moes trotseer.

Ure later, uiteindelik by die rivier, onthou hy dié lied. Toe hulle dit begin sing, het hy in sy spore gestol en geglimlag. ’n Ophef wag hom orals in. Hy wou juis wegkom van protokol en hakskene wat teen mekaar kap, maar vir hom kon hulle nie iets meer gepas sing nie. Die see, altyd die see. (47)

Water-as-motief staan sentraal in die roman. Die rivier en see word sy ontsnappingsmeganisme na ’n mitiese wêreld waar hy sy gedagtes, verlange en frustrasies kan verwoord.

Hy is ’n mens met arms en bene, maar hy is ook ’n vis met vinne. Kieue het hy nou wel nie, maar hy het longe gevul met suurstof en hier onder op die seebodem voel hy tuis. […] ’n Diep asemteug voordat hy weer afduik, ver weg van die leeukuil. (53)

Op soortgelyke wyse loop die fiksie-verhaal van juffrou Joy parallel met die van Jan Hofmeyr. Sy is op soek na iets wat nooit vir haar bestem was nie. Haar soeke na ontvlugting van die kleindorpse bestaan en die behoefte aan ’n geliefde.

Op subtiele wyse delf Loots ook dieper in die bespiegelings rondom Hofmeyr se seksualiteit. Die intieme band wat hy met sy sekretaris smee, die professionele grense wat oorskryf word en die oorheersende moederfiguur dra alles by tot die vrae rondom dié enkellopende politikus.

“Ons het gister op pad ’n prosessie gesien,” het hy vir Magriet gesê in plaas daarvan om haar vraag te beantwoord of daar ’n vrou in sy lewe is. (51)

Die misterie rondom Hofmeyr se seksualiteit sal ’n interessante navorsingsonderwerp vir ’n historikus wees. “Net ’n aanraking, een soen. Hofmeyr het geweier om sy bedanking te aanvaar. Hoe kan hy kwaad wees vir iemand wat jou veel meer as net ’n sekonde se lewe geskenk het?” (229) Alhoewel fiktief van aard, het Loots se subtiele verwysings daarin geslaag om ’n openbare figuur se (moontlike) hartsbegeertes en onvervulde wense ten opsigte van sy privaat lewe sonder ophef of aanstoot te verwoord.

Die roman word op ’n unieke wyse afgesluit met Helen Suzman wat gereed maak om haar posisie as parlementslid vir die Verenigde Party (later Progressiewe Party en Progressiewe Gereformeerde Party) in te neem. Hofmeyr se liberale denke word dus op gepaste wyse saamgevat en voortgesit deur die enigste vroulike parlementslid wat die apartheidsbeleid sedert die vyftigerjare openlik teengestaan het.

Die diep blou see is ’n fyn gestileerde roman wat die leser op ’n reis neem na ’n belangrike tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die talle vrae rondom liberalisme wat nou ook binne die amptelike opposisieparty woed, kom in die roman aan die bod – tydlose onderwerpe wat steeds in 2017 relevant is. Die magiese en mitologiese elemente word op geslaagde wyse met die narratief geïntegreer sonder dat die teks te hoogdrawend daarvan afkom. Met hierdie uitsonderlike roman bewys Loots homself weereens as gerekende romansier. Soos in sy roman Rooi Jan Alleman het ’n belangrike Suid-Afrikaanse figuur uiteindelik die erkenning verkry wat hom toekom.

Naskrif: Dit is jammer dat ’n spelfout op die agterblad deurgeglip het. Hopelik sal “Aparteid” (sic) met ’n moontlike herdruk gekorrigeer word.

The post Die diepblou see deur François Loots: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!