Die Herero-opstand 1904–1907
Gerhardus Pool
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485305941
Die eerste sendelinge het hulle in omstreeks 1840 in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) gevestig en mettertyd het die Rynse Sendinggenootskap alle sendelinge aan dié gebied voorsien. Hulle was die eerste Duitsers wat hulle in hierdie gebied gevestig het. Van die begin af het hulle die inheemse bevolkingsgroepe en hul standpunte leer ken en respekteer. Hulle kon dus as segsmanne optree vir hierdie mense wat nie bekend was met die Westerse denke en handel nie. In 1884 het Duitsland ’n Schutzgebiet (protektoraat) oor Suidwes-Afrika (SWA) uitgeroep.
Dit gaan in hierdie werk hoofsaaklik oor die Herero’s wat die tweede-grootste bevolkingsgroep was maar beslis ’n selfbewuste identiteit en kultuur besit het. Eenvoudig gestel, was hul maatstaf van rykdom en status bepaal deur hul besit van beeste. Beeste verg weiveld en water en daarom was die Herero’s genoodsaak om hulle te vestig waar daar konstante water was: langs rivierlope of konstante fonteine – aantreklike plekke in ’n land wat in die algemeen droog is. Dié feit is nie misgekyk of vergeet deur landsoekende setlaars nie.
Die Shutzverträge het meer onskuldig vertoon as wat hulle was. Hierdie verdrae het daarop neergekom dat “die inheemse volke ’n deel van hul selfbeskikkingsreg prysgegee het in ruil vir die Duitse belofte van beskerming. Grond is dus nie vervreem nie; daar was net ’n beperking ten opsigte van grondvervreemding.” ’n Nuwe onsekerheid oor die aard van die beheer van SWA uit Duitsland het ontstaan.
Die belangrikste oorsaak van wrewel tussen die Duitsers en die Herero’s was die Grondvraagstuk. Soos aangedui, Herero-grond was mooi en goeie grond met water. Grond was stambesit en is slegs aan Sendelinge “geleen” om daar te werk; dit was nie ’n besitreg nie. Die probleem het ontwikkel toe “handelaars” die Herero-gebied ingekom het en hul ware teen die hoogste pryse moontlik aangebied het maar maklik op skuld beskikbaar gestel het. Die koop-nou-betaal-later was vir die Herero’s net te aantreklik, alle waarskuwings ten spyt. Met die opeising van die skuld was beeste as betaalmiddel verkies bo kontant en die handelaars het die beeste onderwaardeer. Alle moontlike variasies op hierdie geldmaaktemas is deur beide partye gebruik en die eindresultaat was vir die Herero’s verlies en vir die handelaars wins en ook die haat van hul kliënte.
Daar was baie klagtes: die Duitsers het in die opvolging van die Herero opperhoofskap hul gunsteling Samuel Maharero tot hul eie voordeel bevorder maar dit sou hulle later berou.
Die Goewerneur Luitenant-Kolonel Theodor Leutwein se verdeel en heers beleid het niemand gehelp nie.
Die runderpes-epidemie van 1896 het verwoesting gesaai ̶ veral vir die Herero’s met hul beestekultuur.
Sake het so vinnig versleg dat Leutwein in 1903 reservate vir die Herero’s beplan het om hulle teen ontheemding en ondergang te beskerm. Die Herero’s het hierdie plan as nog ’n bydraende faktor tot hul vernietiging gesien. Daar was soveel oorsake van ongelukkigheid en ontevredenheid dat niemand ’n georganiseerde opstand verwag het nie.
Samuel Maharero het die leierskap van die opstand op homself geneem en op 11 Januarie 1904 sy mense aangespoor tot opstand teen die Duitsers. Mettertyd het dit duidelik geword dat die lewens van vroue kinders, sendelinge, boere, Engelse en persone van ander nasionaliteite sowel as lede van ander inheemse bevolkings gespaar sou word.
Dit sou puntloos wees om al die individuele gevegte te bespreek. Die groot punt wat gemaak moet word was dat Leutwein die Goewerneur, nie ’n militêre leier was nie. Die Duitsers het hul teenstanders onderskat en die stryd oor ’n uitgestrekte gebied het nie na hul sin verloop nie.
In Mei 1904 is Luitenant-Generaal Von Trotha as militêre bevelvoerder aangestel op grond van sy ondervinding as onderdrukker van opstande in Afrika en elders. Kort na sy aankoms het hy gesê dat sy doel was om die opstandige stamme te vernietig. Hy was nie onmiddellik suksesvol nie maar vanaf Augustus 1904 het hulle die vlugtende Herero’s agtervolg en die Sandveld ingedryf waar hulle en hul vee in groot getalle aan dors gesterf het.
Dit is moeilik om objektief oor Von Trotha te skryf. Sy drang tot vernietiging van instansies dmv die sinnelose uitwissing van menselewens was patologies.
Ook hy het verbygegaan en in hierdie proses het die Duitse Sendelinge ’n kernrol gespeel. Uiteindelik het hul kritiek op sy onmenslike optrede die owerhede in Duitsland genoop om in te gryp om nog te red wat te redde was.
Daar is te veel besonderhede beskikbaar oor hierdie stryd vir ’n kort resensie maar die feite is beskikbaar in hierdie volledige werk vir die belangstellende leser om met verbasing, bewondering en afsku te lees. Hierdie gebeurtenis, gekenmerk deur ongekende gewelddadigheid in ’n aangrensende gebied het betreklik onbekend onder Suid-Afrikaners gebly. ’n Artikel “Die woestynvlug van die Herero’s” deur Eugene Marais wat in 1921 in Die Brandwag verskyn het en in 1937 in Die Mielies van Nooitgedacht opgeneem is, was ’n enkele uitsondering.
Dit moet nie uit die oog verloor word dat die SA van 1904 –1908 nog vasgevang was in die herstelfase na ’n vernietigende totale oorlog wat die land, veestapel, landbougewasse en sy mense verwoes het.
Objektiewe skrywe van ’n verskrikkende werklikheid is sterker as enige fiksie. Ons is veel dank verskuldig aan die skrywer vir hierdie deeglik-nagevorsde verhaal.
The post Die Herero-opstand 1904–1907 deur Gerhardus Pool: 'n FMR-resensie appeared first on LitNet.