Vlerke vir almal
Marion Erskine
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174510
Marion Erskine se jeugroman, Vlerke vir almal, handel oor ’n tienerseun, Dewald, se konfrontasie met ’n bullebak wat sy lewe moeilik maak. Dié roman se vlerke het vinnig wyd gesprei, en lesers regoor die land hang behoorlik aan Erskine se lippe en slurp sy Vlerke-verhaal gulsig op.
Ná ’n suksesvolle boekbekendstellingstoer, gesels Marion Erskine met Daleen Venter onder andere oor die inspirasie agter Vlerke vir almal en die gewilde Facebook-groep, die Lekkerlees Boekrak.
Kan jy vir die LitNet-lesers ’n bietjie agtergrondinligting oor die verhaal en die karakters gee? Wat was jou inspirasie? Hoe het dit gebeur dat jy hierdie verhaal neergepen het?
In 2011 het ek op ’n video afgekom van Amanda Todd, ’n vyftienjarige Kanadese meisie wat haar storie oor bullebakkery op plakkate vertel. Sy vertel hoe een dom besluit haar lewe verwoes het. Amanda het die video opgelaai en daarna haar eie lewe geneem. Dit het my só ontstel. Waar was haar ouers? Waar was haar vriende? Het sy ooit vriende gehad? Waarom was selfdood haar enigste opsie? Hoe alleen moet iemand wees voor so ’n besluit? Amanda het by my gespook en ek het geweet dat ek ’n storie moes skryf om jongmense en veral ouers en onderwysers te waarsku oor die evolusie van boelies. ’n Boelie is nou nie net meer ’n groot seunskind wat jou agter die rugbyveld bykom nie. Dit is nou ’n klein, maer outjie wat agter sy selfoon skuil en grootbek is. My siel het eers tot rus gekom nadat ek met Hoofstuk 1 begin het.
Skrywers kan jou vertel dat karakters soms in hulle harte bly voordat hulle ’n boekhuis kry. Nicola in Vlerke vir Almal was so ’n karakter. Ek was my lewe lank lief vir haar en het gewag vir die perfekte storie vir haar. Met die boekbeplanning het ek geweet dat lesers, net soos ek, vir haar sou lief raak. Sy is die persoon wat gaan maak dat mense luister en dink voordat hulle praat. Sy en haar skoenlapper-simbool het reeds sedert Mei baie mense se lewens geraak.
Hierdie roman verskil nogal van jou vorige chicklit-pennevrug, Donatello en Volksie. Hoekom het jy op hierdie genre-skuif besluit?
Humor is een van die moeilikste dinge om te skryf en skrywers regoor die wêreld sal saamstem. Dis definitief makliker om iemand te laat huil as om hulle te laat lag. Met Donatello en Volksie wou ek lesers ’n bietjie laat ontspan en wegkom van al die swaar temas en seerkry daarbuite. Ongelukkig is daar soms ook ’n idee daarbuite dat mense wat lig skryf, maklik skryf. Dit is definitief nie die geval nie. Ek sal graag weer in die toekoms ’n humoristiese boek wil skryf. Ek verstaan dat lesers graag hulle skrywers by ’n bepaalde genre wil hê, maar ek het heeltemal te veel genres en stories in my kop om by een tipe te hou vir nou. Ek wil vir lesers wys ek kan verskillende temas en genres aanpak. Iets wat jy wel in al my boeke gaan optel, is dat ek jou dwing tot introspeksie en dat jy gaan vóél en nie net lees nie.
Jy raak belangrike temas, soos boelies en seksualiteit, in Vlerke vir almal aan. Hoekom juis hierdie temas? Het jy uit eie ervaring geput vir Dewald se verhaal?
Wanneer tieners begin sin maak van die lewe, begin hulle ook besef dat hulle aangetrokke is tot ’n sekere geslag. Gelukkig is dié tieners wat outomaties net aangetrokke voel tot die teenoorgestelde geslag. Ongelukkig vir diegene wat besef dat hulle hulself moet forseer om te hou van iets wat die samelewing voorskryf. In die boek probeer ek regtig net ’n boodskap oorbring: Op watter dag en datum besluit jy jy is straight? Gebeur dit oornag? Wanneer dink jy besluit ’n gay tiener om ’n lewe te kies waar hulle deur geliefdes, die kerk en die gemeenskap verwerp word? Ek probeer ook stereotipes breek dat gay seuns net van skaak en musiek hou en dat elke lesbiese vrou butch is. ’n Lesbiese vriendin van my het eendag iets baie hartseer met my gedeel: “Marion, dis asof die samelewing gay mans begin aanvaar, al is dit vir humor in ’n fliek nou en dan. Maar wat van lesbiërs?”
Boelies kom al van Adam en Eva se tyd, of hoe? Was die slang nie maar ’n boelie nie? Het Eva maar nie vir Adam geboelie om te byt ook nie? Bullebakkery het nou net ’n nuwe platform gekry – sosiale media. Dis so maklik om nou op ’n tamatiekissie te klim en jou opinie vanuit die veiligheid van jou huis te gee. En dis nóg makliker om so ’n kuberboelie se kommentaar te like en saam te lag wanneer daar nie vir jóú gelag word nie. My ma het my egter een ding geleer: ’n Grap is ’n grap wanneer albei partye lag.
Dewald is vir my ’n inspirasie. Ek is self op skool geboelie en ek wens soms ek het sy guts gehad om daardie tyd teen hulle op te staan. Dewald is alles behalwe die perfekte tiener. Hy het ook maar sy probleme en maak ook soms foute, en ek dink die leser sal maklik met hom kan identifiseer en van hom hou.
Jy het waarskynlik al die Netflix-reeks 13 Reasons Why onder oë gekry. Wat is jou gevoel oor die temas in hierdie reeks en hoe sluit dit by jou eie roman aan?
In hierdie industrie gebeur dinge maar stadig. Vlerke vir almal was al reeds in 2014 klaar geskryf. Toe was daar nog nie ’n teken van die 13 Reasons Why Netflix-reeks nie. Die dag toe ek hoor die reeks en die boek kom albei rondom dieselfde tyd uit, het my hart amper gaan staan. Ek wou nie hê mense moes dink die reeks het my inspireer nie om die storie te vertel nie. Ek’t onmiddellik Hannah se storie begin kyk en was só dankbaar om te leer dat ek en die oorspronklike skrywer dieselfde droom gehad het om hierdie ernstige tema by mense uit te bring. Die twee komplimenteer mekaar meer as wat hulle dinge gemeen het. Kyk dit gerus indien jy dit nog nie gesien het nie. Elkeen van ons het die krag om wind onder iemand se vlerke te wees of om hul drome en vlerke te kraak. Ons moet mooi dink voordat ons praat.
Jy is nie net ’n bedrewe skrywer wat nie skroom om sensitiewe onderwerpe aan te raak nie, maar jy is ook die stigter en hoofseun van die Facebook-groep, die Lekkerlees Boekrak. Hoekom het jy besluit om hierdie groep te stig?
Ek het Lekkerlees Boekrak in 2007 gestig terwyl ek in Taiwan gebly het. Ek het half begin voel ek weet nie meer wat in Afrikaans aangaan nie en ek het nie geweet watter nuwe boeke beskikbaar was nie. Boonop het ek gevoel die gemiddelde Afrikaner weet net van ’n paar van die skrywers en ek het hier en daar ’n stukkie goud raakgevat. Gou het ’n paar lede (of Rakkers soos ons hulle noem) aangesluit en skielik het my horisonne verbreed in veral genres wat ek nie geken het nie. My volgende projek was om met skrywers kontak te maak en te vra dat hulle met hul lesers moet begin praat. Vandag is meer as 90% van Afrikaans se top skrywers op die Rak. As ’n nuwe lid op die groep vra in watter volgorde hulle Chanette Paul se Gys-reeks moet lees, antwoord Chanette sommer dadelik terug. Dís heerlik om te sien. Nou kan lesers en skrywers met mekaar gesels en die lesers waardeer dit ongelooflik baie. Al die groot boekwinkels en al die uitgewers is daar. Hulle kry hulle marknavorsing sommer so uit die perd se bek.
Hoekom dink jy het ledetal van hierdie groep oor die afgelope paar jaar só drasties gegroei? Is daar nog genoeg ywerige lesers daar buite wat kan sorg dat die boekbedryf floreer?
Daar is talle ywerige lesers oor. Iets wat gereeld genoem word, is die prys van boeke. Die middelklas kan nie meer drie tot vyf boeke ’n maand bekostig nie. Ek dink die rede waarom die Rak só floreer is omdat mense eerlike opinies by lesers kan kry en dan ’n slim besluit kan maak oor watter boeke hulle moet koop. Dalk koop hulle net 12 boeke ’n jaar, maar al 12 gaan goeie boeke wees. Ek’t ’n paar mense op die Rak wat dieselfde smaak as ek het, so wanneer hulle ’n nuwe skrywer ontdek, hou ek gewoonlik ook daarvan.
Daar was seker menigte Lekkerlees Boekrak-vriende wat na jou boekbekendstellings in Suid-Afrika gestroom het, of hoe? Vertel ons gerus hoe jou boektoer afgeloop het.
Ek bly al hierdie jaar vir 16 jaar oorsee. Ek het soveel maats in die boekbedryf gemaak, maar nog nooit eers 10 van hulle in lewende lywe ontmoet nie. Dus was hierdie toer in Suid-Afrika een groot hoogtepunt van my lewe. Martelize Brink van RSG het vir my gekook. Fanie Viljoen het my na sy stilwordplekkie in Bloemfontein gevat. Ek en Irma Venter het in ’n kerkkombuis ’n drukkie gedeel. Trisa Hugo het my haar see in Kleinmond gewys. Ek en Kristel Loots het grappe vertel oor koek in haar eie kombuis. Ek’t blad geskud met Rudie van Rensburg en al die engele by NB-Uitgewers wat al vir jare die wind onder my vlerke was. Die lys is lank en almal was ’n hoogtepunt.
Die Vlerke-skrywerstoer was ’n reuse-sukses. Ek het TV- en radio-onderhoude gehad, koerantmense ontmoet vir koffie en almal was só vriendelik. Een van my hoogtepunte was die skoolbesoeke. Ek het met tieners gaan gesels oor die metamorfose in hulle eie lewens en almal kon daarmee identifiseer. My eie alma mater, Hoërskool Westonaria, het my hoofseun vir die dag gemaak toe ek die skool besoek het. Ek het een boodskap vir die leerders gehad: “Moenie omdat jy uit ’n klein myndorpie kom, toelaat dat mense vir jou sê jy mag nie groot droom nie. Leef jou drome. Doen wat jy nog altyd wou doen.”
In Vlerke vir Almal gebruik Dewald en sy vriende ’n skoenlapper-simbool om boelies te beveg en dié ding versprei oor die hele wêreld. Mense van alle lande, gelowe, politieke oortuigings en seksuele oriëntasies kom saam vir een doel: Almal verdien om te mag vlieg.
August Schmiedeskamp is ’n besonderse jong man met serebrale verlamming en hy wou ook deel wees van die video-projek wat ek begin het.
Ek het die geleentheid gehad om vir August by ’n Boek-en-koek-geleentheid in Pretoria te ontmoet en dit was regtig ’n hoogtepunt. Julle kan die video hier sien:
Ek het ook die goeie nuus gekry dat Vicky Davids Vlerke volgende jaar verhoog toe neem by die Woordfees 2018. Dis ’n reuse-eer dat toptalent in hierdie storie glo. Resensies is positief. Lesers hou van die storie en almal voel geraak deur die video. Ek dink die rede hiervoor is dat almal van ons al ’n gebreekte vlerk gehad het en almal van ons droom daarvan om te vlieg.
Kan Marion Erskine-aanhangers uitsien na ’n nuwe boek wat binnekort uit jou skrywerspen vloei? En kan ons nog ’n opwindende genre-skuif verwag?
Ek werk aan ’n interessante onderwerp en ek hoop die storie sal die lig kan sien. Op die oomblik is dit nog ’n groot geheim. Daar sal altyd iets opwindends uit my pen kom, anders het ek geen rede oor om te skryf nie.
Lees ook:
Vlerke vir almal deur Marion Erskine: ’n resensie Dewald Koen "Vlerke vir almal is een van daardie jeugromans wat nie slegs deur tieners gelees moet (en sal) word nie. Almal moet dit lees. Veral ouers van tieners, en onderwysers, móét hierdie roman lees." |
The post Vlerke vir almal deur Marion Erskine: ’n onderhoud appeared first on LitNet.